JY IS MY HELE HART

Enkele jare gelede, vyftien om presies te wees, moes ons ‘n baie moeilike besluit neem. Christine het ‘n werksaanbod uit Duitsland van die Daimler-Benz Aerospace-maatskappy gekry. Ek was heel gelukkig in my werk ingegrawe en omdat die kontrak in Duitsland net vir ses maande was, was dit buite die kwessie dat ek my werk bedank en ons as gesin Duitsland toe gaan. Dit was egter so ‘n gulde geleentheid en finansieel gunstig, dat dit werklik dwaas sou wees om dit nie aan te gryp nie. Familie en vriende het grootoog gewaarsku teen die moontlike gevare wat dit vir ons huwelik en gesinslewe kon inhou, maar ons het biddend die besluit geneem dat sy moes gaan. Op ’n koelerige herfsaand is sy toe alleen Duitsland toe met drie jong kindertjies – die jongste twee jaar oud –  in hul pa se sorg.

Duitsland is ver van Pretoria af en ons sien mekaar net so een keer per maand. Ek kry, as bonus, egter ook die geleentheid om ‘n keer of wat in Duitsland te kom. Die kinders gaan met een kuier saam, maar bly by Oupa en Ouma tydens my ander besoeke.

Een heerlike soel somersaand drentel ons, ewige verliefdes, by mekaar ingehaak deur die steenstraatjies van ‘n eeue-oue dorpie, Lindau, toe Franz Lehár se musiek na ons toe aangesweef kom. Op een van die hotelle se groot buitelugstoepe is ‘n groep musikante en sangers besig om ‘n waarderende gehoor na Glimlagland weg te voer. Ons kry nogal sitplek en met haar sagtheid teen my aangenestel, is ons weer die wittebroodspaar van ouds, met geluk in die harte en sterre in die oë. Die groep sluit heel gepas af met een van my groot gunstelinge – Dein ist mein ganzes Hertz (Jy is my hele hart) uit Land des Lächelns.

Die laaste dag van my besoek breek aan en ek loop die plek plat agter ‘n kaartjie aan vir haar. Ek soek ‘n kaartjie met baie spesifieke woorde  –  woorde wat ek, so glo ek toe, net dáár sal kry. Uiteindelik kry ek dit. Met ‘n bos blomme. Ek steek dit weg in haar huis met die asemrowende uitsig oor die Bodensee en die Switserse Alpe in die verte.

Met haar linkerstuur-motor ry ons in stilte lughawe toe. Afskeid is nooit lekker nie.

Laataand, alleen terug in haar kamer, ontdek sy die blomme en kaartjie.

Christine, Dein ist mein ganzes Herz – für immer!

MADIBA

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

Die Breaking News op Sky het my aandag getrek toe ek in my Engelandse bed besig was met e-posse en ander wat-nog-allesse op die rekenaar: Nelson Mandela dies.

Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner, meer spesifiek Afrikaner  – daardie groep mense wat so deur die internasionale media verguis en in dieselfde asem as Hitler en Amin en ander verskrikkers genoem word. Uitvaagsels.

Soms, as ek kyk hoe mede-(Suid-)Afrikaners optree en ek sien videogrepe van ‘n vergange Suid-Afrika, dan krimp my hart ineen. Wanneer ek die taalgebruik sien as mede-Suid-Afrikaners mekaar uitskel en beledig, dan wil ek huil. En dan kan ek verstaan hoekom die media ons voorstel soos hulle doen.

Maar dis dan wanneer ek wil uitroep: Ons is en was nie almal so nie!

Soos die Duitsers letsels het van ‘n Nazi-verlede waaraan hulle nie herinner wil word nie, dra ons Afrikaners swaar aan bagasie uit ons Apartheidsverlede. Uit ‘n tyd toe waardige mense onwaardig by agterdeure van besighede moes ingaan (of gladnie kon ingaan nie) en pasboeke moes hê om soos indringers in hulle eie land te kon woon en leef en werk. ‘n Tyd toe hulle Afrikaner-kerke kon skoonmaak, maar nie daar kon aanbid nie. Bloot omdat hulle velkleur anders was.

Ek dink ek is skaamkwaad wanneer die internasionale media ons Afrikaners uitbeeld as skurke. ‘n Deel van my is skaam omdat dit ‘n waarheidsnaar tokkel. ‘n Ander deel van my is kwaad, want dis nie hoe alle Afrikaners is nie, hoe ek as Afrikaner in my hart voel nie.

Nelson Mandela het die volle impak van die Afrikaner-beheerde Nasionale Party se wette gevoel. Hy wou iets doen om daardie deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, sý mense, wat nie kon deel in alles wat ons pragtige land bied nie, ten minste ‘n regverdige happie van die koek te gee. En hiervoor het hy ‘n dure prys betaal. Hy is gelukkig dat hy darem met ‘n gedeelte van sy lewe daarvan afgekom het toe ‘n derde daarvan  van hom weggeneem is. Sewe-en-twintig jaar!

Ná die aankondiging dat hy vrygelaat gaan word, het baie mense geskarrel om voorbereid te wees  op die hel wat gaan losbars wanneer ons die skerpkant van sy wraak en woede gaan voel. Ek glo baie van hierdie mense het geredeneer dat dít is hoe húlle sou optree as hulle in sy posisie was. En toe gebeur daar niks. Alles verloop vreedsaam, behalwe vir ‘n groep Regse Afrikaners wat hulle naam krater gemaak het toe hulle die KODESA-samesprekings wou ontspoor het.  Mandela stel ‘n Afrikaanse blanke vrou as sy persoonlike assistent aan en verskyn voor die hele wêreld in die Groen-en-Goud, die einste gesogte kleure wat vir so baie jare net vir blankes gereserveer  was. Kort hierna besoek hy Orania om ‘n hand van versoening aan Mev. Betsie Verwoerd te bied. Betsie Verwoerd! Die eggenote van die man wat aan bewind was toe sy beste jare van hom weggeneem is. En hy woon ‘n Sinode-sitting van die NG-kerk by – die einste kerk wat sy mense nie wou toelaat om saam met Afrikaners te aanbid nie.

Vandag wonder ek hoe Suid-Afrika sou gelyk as hy vroeër die leisels kon gevat het. Sê nou maar net voor die Soweto-onluste. Sou daar nou ‘n geslag gewees het wat minder  onverdraagsaam teenoor ander bevolkingsgroepe in ons wonderlike land is?

Ons sal nooit weet nie. Daardie kans het ons Afrikaners deur ons vingers laat glip. Madiba het probeer, maar sy tyd was te min. Sy beste jare lê tussen die fyngekapte kalkklippe op Robbeneiland.

Mag sy gees voortlewe en saad van versoening oor ons wonderlike land strooi.

‘N DAG VIR ONTHOU

 

 

Remenbrance Day

 

 

 

 

 

 

Hierdie tyd van die jaar, hier in Engeland, hol my emosies mos met my in rigtings in waar ek nie wil wees nie. En dit nogal heel dikwels voor die kinders. Toe Etienne nou anderdag my waterige oë sien, het hy heel begripvol (nogal vir ‘n jongman van sy ouderdom) stilgebly en my lomp aan die arm en later om die lyf gevat.

 

Hier in Engeland maak hulle ‘n groot ophef van Remembrance Day (11 November) waar hulde gebring word aan soldate. Emosiebelaaide geleenthede word op TV gewys, by skole aangebied en in die koerante vertel in aanloop tot die dag.

 

My Oupa Chris was ‘n bombardier in die Tweede Wêreldoorlog en as kind het ek aan sy lippe gehang wanneer hy van sy tyd in Noord-Afrika vertel het. Ek was baie trots op dié oupa van my. Van kleins af het my seun, Etienne ‘n geweldig fassinasie vir alles wat met soldate te make het. Rolprente, foto’s, militêre musiek, wapens en vliegtuie. En so besluit hy destyds as dertienjarige om by die plaaslike tak van die Army Cadets aan te sluit. Ook in daardie jaar by kleinboet Stephan se skool is ‘n week afgestaan om die kinders bewus te maak van hoe lewe tydens die oorlog was en is die kinders aangemoedig om enige iets van die huis af saam te bring wat uit daardie era dateer. Hulle moes ‘n opstel skryf waar die storie vertel word uit die oogpunt van ‘n kind uit die negentienveertigs en die Vrydag het hulle toe ‘n ope dag gehou waar al hierdie dinge uitgestal word en die kinders aangetrek is soos destydse kindertjies. Die Sondag is Etienne deel van ‘n gedenkparade, kompleet met militêre orkes, uitgedos in sy uniform. En toe tref dit my, so saam met die knop in die keel en die waterigheid by die oëlangs: Hierdie twee Suid-Afrikaanse boeties neem in hierdie dae hier in die verre vreemde ‘n groot ding op hulle skouers. Hulle verteenwoordig nie net hulle soldaat-oupagrootjie nie, maar al die Suid-Afrikaanse soldate wat oor die jare heen opofferings gemaak en die hoogste prys betaal het. Ek wou ontplof van trots!

 

Op TV was daar so ‘n aangrypende reeks. Hulle het gepraat met (nou al ou) mense wat kinders was tydens die Eerste  Wêreldoorlog. Daar het stories uitgekom wat die hartsnare gepluk het. Maar ook een van die wonderlikste stories wat ek ooit gehoor het.

 

Die ou tannie vertel dat sy so sewe en haar boetie vyf was. Haar pa, die broodwinner, is kort tevore op die slagveld doodgeskiet en  hulle het werklik swaar getrek. Haar ma het wasgoed vir mense gewas om die karige weermagpensioen wat haar pa nagelaat het, aan te vul. Die aand voor kersfees het haar ma nog gewerk en sy en haar boetie het in die dorpie se sneeubedekte hoofstraat na die versierings in die winkelvensters gaan kyk. Hulle was baie opgewonde oor die volgende dag, want hulle ma het gesê dat hulle “bacon and egg for christmas dinner” kan kry. Terwyl hulle van die een winkelvenster na die volgende gedrentel het, het hulle by ‘n speelgoedwinkel vasgesteek en hulle verstom aan die pragtige speelgoed wat uitgestal is. ‘n Vrou het langs hulle kom staan en gevra hoekom hulle nie ingaan nie, want dit is snerpend koud buite (kersfees in die noordelike halfrond!). Hulle was huiwerig, want, omdat hulle nie geld gehad het nie, was die winkeliers altyd kwaai met kinders wat in die winkels rondgedrentel het. Hulle het vir die vrou gesê dat hulle nie mag ingaan nie.

 

“Maar natuurlik mag julle. Kinders is altyd welkom in ‘n speelgoedwinkel”. En met dié neem sy hulle aan die hand en lei hulle die speelgoedwinkel binne.  Dit was vir hulle ‘n wonderlike oomblik en hulle kon  nie genoeg kyk nie. Hier het hulle ‘n ding bewonderend opgetel en daar verlangend oor iets gestreel, min wetende dat hulle fyn dopgehou word. Toe hulle wou loop, keer die vrou hulle en sê hulle moet net ‘n rukkie wag. En daar koop sy vir hulle elke ding waaraan hulle in die winkel geraak het. Hulle wou dit eers nie neem nie, want hulle ma sou wonder.

 

Maar die vrou sê toe vir hulle: “Take these presents from me and tell your mother that tonight you have met Mother Christmas”.

 

En dan was daar ook die vertelling van die ou oom wat na al die jare steeds in trane uitgebars het toe hy vertel van sy ma wat nooit weer getrou het nadat sy pa doodgeskiet is nie. Sy was te lief vir haar man gewees en het tot met haar dood swart gedra. Elke keer wanneer sy vir haar ‘n nuwe rok gemaak het, het sy die ou rok se knope afgesny en aan die nuwe rok gewerk.

 

Want dit was die swart knope van sy pa se uniform.

 

En ook die ou tannie, Gertrude, wat vertel hoe haar pa, na maande se oorlewing in die loopgrawe, met verlof huis toe gestuur is. Haar pa het gely aan, wat vandag bekend staan as posttroumatiese stres as gevolg van sy ontberinge. Vandag kry soldate behandeling, maar destyds was dit onbekend.

 

Gedurende sy hele verlof het hy meestal in die kamer gebly, baie gehuil, selfs snags in sy slaap, en byna niks geëet nie. Volgens foto’s was hy ‘n baie aantreklike, forse man. Aan die einde van sy verlof wou hy nie weer terug slagveld toe gaan nie en het soos ‘n bang kind in die kamer gehuil en weggekruip. Na vele dreigemente van sy bevelvoerders, is ‘n sersant met ‘n groep soldate gestuur om hom te gaan haal. Die tannie vertel hoe sy as dogtertjie in die bure se tuin gaan wegkruip het om nie te aanskou hoe haar pa skoppend en skreeuend deur die soldate daar weggesleep is nie. Wat haar tot vandag toe bybly, is die gevloek van die sersant wat elke sin met die f-woord gelaai het. Die laaste wat sy kan onthou, is toe haar pa toegesnou is: “I’ll shoot your f****n head off!”

 

Dieselfde middag het hy voor ‘n krygsraad verskyn en is skuldig bevind aan lafhartigheid. Die volgende oggend teen dagbreek is hy deur ‘n vuurpeleton tereggestel. En daar bly sy en haar ma toe agter met die vernederende geskinder en kyke en gefluister van die gemeenskap. Haar pa is as lafaard tereggestel, en dit staan ook so op sy graf. Sy weermagpensioen, hulle enigste inkomste, is twee maande later gestop en toe die landlady, by wie hulle die huis huur, dit hoor, het sy hulle beveel om die huis dadelik te ontruim. Hulle was platgeslaan en verneder. ‘n Ruk later het ‘n ryk plattelandse gesin haar ma werk aangebied en hulle het by hierdie gesin ingetrek. Die mense was geweldig goed vir hulle gewees en die klein Gertrude is soos een van die gesin se kinders grootgemaak. Haar ma het tot haar dood toe geveg om haar pa se naam skoon te kry en ná haar dood het Gertrude daarmee aangehou.

 

Onlangs (Gertrude, destydse klein dogtertjie, is nou in haar laat negentigs) het hulle na ‘n lang hofsaak, ‘n sertifikaat gekry waarin haar pa en meer as 300 ander soldate wat dieselfde lot gehad het, se name in ere herstel is. Haar pa het nou ‘n ander grafsteen.

 

Ná Remembrance Sunday se landswye parades en herdenkingsdienste is elke oorlogsmonument in elke dorpie getooi in kranse van rooi poppies. Een van die monumente het ‘n nuwe inskripsie: Private Henry Farr. Sy trotse dogter, Gertrude, het  broos en kromgetrek vir die eerste keer ‘n krans by hierdie monument gelê. Haar pa was haar held en uiteindelik saam met miljoene ander soldate, ‘n held in die groter geheel.

 

Ek glo dis belangrik om alle aspekte van die geskiedenis te onthou. Party om oor jubel en ander om ons te herinner aan foute wat gemaak is.

EK EN ELVIS IN ‘N VOLKSIE

Nou andernag droom ek mos ek en Elvis is in ‘n Volla op pad Suid-Afrika toe, hier van Engeland af. Ek bestuur en hy sit langs my, kompleet met glinsterpak, donkerbril, wit skoene en als en hy neurie Are You Lonesome Tonight.

Vreemde droom gewees en soos dit nou maar in drome gaan, werk ons daai Volla sommer luglangs hier oor Afrika, net so oor die boomtoppe. Maar dis nou nog nie die vreemde deel nie.

Op ‘n stadium ontwikkel Elvis ‘n nood en ek sê vir hom hy moet sommer die deur oopskuif (ja ek weet, ‘n Volksie met ‘n skuifdeur!) en sommer hier van bo af sy besigheid doen; ek dink nie die mense sal kyk nie. En toe gebeur ‘n wonderlike ding – alhoewel dit steeds nie dié vreemde deel van die droom is nie. Elvis staan in die deur en… wel, hy spuit. Maar nie die gewone straal wat mens sou dink hy spuit nie. Hy spuit geld. Sulke blink-goue munte wat met ‘n boog aarde toe val. En die mense op die grond hol agter die Volla aan en skep geld. Groot nood gewees, daai een wat Elvis verlig het.

Ja, mens kan lekker nonsens droom. Wonner wat die droomkenners van hierdie een sal maak.

Toe ek nog jonger was – dalk nou nog – het my ma altyd gesê: “Elke huis het sy kruis”. Vir my het dit nie altyd so gelyk nie. Daar was tye gewees dat net ek en so ‘n paar ander ouens met ons kruise geswoeg het – ons klompie en ook daai honger kinders daar van Biafra en nog so ‘n paar ander mense. Die res van die ouens het nie kruise gehad nie, so het dit vir my gelyk. Nie met die karre wat hulle gery het of die vakansies wat hulle kon bekostig of die baie paarties wat hulle gehou het nie. Party ouens se hele houding projekteer mos sommer sukses. Geen moeilikheid nie. Hy is die lewe se witbroodjie. Sy kinders doen ewe goed op akademiese vlak as op sportgebied en dan is die ou se kind, net soos sy pa, ook nog die middelpunt waarom die sosiale lewe van sy ouderdomsgroep draai. Hy – die pa – het so ‘n plat leerbundeltjie in sy gatsak waaruit hy note met ‘n indrukwekkende kleur by die slaghuis trek as daai groot steaks vir vanaand se braai gekoop word, of by die kafee, of sommer as Kind kom geld vra om uit te gaan. En dan, terwyl hy skuins lê om by sy gatsak uit te kom, is hy gemaak-kwaad: “Jong, julle kinners dink mos geld groei op my rug,” terwyl die kind se hand om die groot noot vou wat sy pa uithou.

Nee, besluit jy, hier’s nie moeilikheid nie.

Sondae in die kerk, voor dominee begin praat, hou ek die mense dop wat inkom. Almal gemasker en mooi aangetrek. Ons maskers smaail die smaail van “goed-dankie” en ons klere verklap niks van ons kruis nie. Ons drink saam tee na die diens en gesels oor rugby en die weer. En dan gaan ons elkeen terug na ons kruise toe.

Soos die Britse egpaar, Peter en Penelope Duff. Skatryk filantrope met ‘n duur woonplek in Bath se gegoede area. Peter borg klassieke konserte en operas as’t ware sommer so uit sy gatsak. En gaste wat daarheen uitgenooi word, word voor die tyd op ‘n ete in voorste restourante getrakteer.

In Desember verlede jaar het hulle veertig gaste, meestal uit die filantropiese kant van die plaaslike kunstewêreld, na hulle huis genooi. Die gaste was onder die indruk dat die egpaar hulle gaste wou bedank vir nog ‘n suksesvolle borgjaar.

In werklikheid het die egpaar totsiens gesê. Maar die gaste het dit nie geweet nie, nie toe nie.

Enkele dae na die onthaal het die egpaar hulle tasse gepak, die wit hortjies voor die vensters van hulle vyfverdieping-huis toegemaak en na hulle kleiner huis iewers in die platteland vertrek. Nie een van die gaste het geweet dat die egpaar terminaal siek was nie. Dokters het die twee meegedeel dat hulle kankers versprei het en ongeneeslik is. Nie al hulle geld, nie al hulle vriende, nie al hulle goeie werk kon hulle kruis wegneem nie.

Kort daarna, terwyl hulle nog sterk genoeg was, het hulle ‘n vliegtuig Zürich, Switserland toe geneem waar hulle in die selfhelp selfmoordkliniek, Dignitas, ingeboek en ‘n einde aan hulle lewens gemaak het.

Daar’s ook my ou buurman, ook ‘n Peter. Waardige, ordentlike argitek van ‘n Engelsman. Mooi huis, Mercedes, reis die wêreld vol agter projekte aan – Dubai, Rusland, Kaapstad. Hy het self hulle huis met die mooi uitsig oor die Teemsmonding ontwerp en woon al sedert die vroeë sewentigs hier. Bedags sien ek hom agter sy masker, geen teken van ‘n kruis nie. Groet vriendelik, verneem na mekaar se welstand. Met nabetragting onthou ek die donker kringe onder sy oë en sy vrou se al hoe krommer wordende skouers.

So ‘n week voor Kersfees het die balju hulle uit hulle huis kom sit. Van hulle duur meubels is in my beskeie garage gestoor. Sy projekte in Amerika en Duitsland het gevou en die gebeure voor Kersfees was maar die kulminasie van baie nagte se rondrol.

Ek staar my nie meer blind teen ander mense se karre of beursies of glimlagte nie. Ek het geleer om Mammie se woorde ernstig op te neem: “Elke huis het sy kruis.” Of, soos ek dikwels vir die kinders sê: As iets van iemand vir jou so aanloklik lyk dat jy dit graag sal wil hê, moet jy bereid wees om daardie persoon se hele pakkie te vat – nie net die stukkie wat vir jou aanloklik lyk nie.

O ja, nou het ek nog nie vertel wat die vreemde deel van my droom was nie. Nee, Elvis weet toe mos te vertelle dat dit vir hom lyk of die Cheetahs hierdie jaar so effe swaar trek. Maar waar vererg ek my bloedig vir die man en skop hom amper by die skuifdeur van die Kewertjie uit. Dis ‘n teer puntjie vir my daai; dis so goed hy kom trap met daai wit skoen van hom hier op ‘n liddoring. Ek meen, hy, Amerikaanse sanger, boonop nie meer met ons nie, weet nie dat die Cheetahs niks het om te bewys nie. Hulle het tog  die afgelope tyd gewys hulle kan die Curriebeker wen, hulle is ‘n topspan en vat nou so bietjie van ‘n ruskans om die ander spanne weer ‘n beurt te gee. (Dit kan dalk taktiek ook wees – so bietjie later in die seisoen kom hulle met ‘n formidabele eindpoging en laat die ander spanne weer in snot en trane. Ons ken mos die storie.)

Ek sê toe vir hom: “Luister hier Elvis my maat, hou jy maar eerder by jou singery. Wat weet julle Yanks in elk’geval van rugby af? En as ek dit nou nie mis het, moes jy eintlik nie eers hier gewees het nie. So, sing of bly stil.”

ElvisEn toe word ek wakker.

GALOP KINDERS NOG?

Galop kinders nog? So wonder ek anderdag toe ek die drietjies, gehul in ‘n selfoonkokon, sien loop.

Lank terug was ek ook vyftien met splinternuwe hormone. Die meisies het oornag anders gelyk.

Die laaste Vrydagaand van die maand was debat. Ek glo daar is wel kinders wat vir die debat ook gekom het. Mense soos Hannes en Gerda wie se rapporte altyd onder die eerste lot was wat uitgedeel is – van goed na swak na myne na nog swakker. Dis egter nie vir die debat dat ek en my vriende die skoolsaal saam met ander opgewonde tieners volgepak het nie. Die meerderheid van ons het skoolsaal toe opgeruk vir die nagereg aan die einde van die debat wanneer die seuns stoele uitgedra het en die swart vleuelklavier na die middel van die verhoog geskuif is.

Die meisies het begin terugkom van die kleedkamers af in vars parfuumwolke en op die stoele teen die muur stelling gaan inneem. Nie almal het sitplek gehad nie. Teen die oorkantse muur het ons manne senuweeagtig met ons dasse gevroetel en kuiwe platgedruk.

“Stink my asem?” Gert het ‘n Mint Imperial-walm in my gesig geblaas.

My volle aandag was egter nie by sy asem nie. My blik was op Marina teen die oorkantse muur.

Meneer Viljoen was op die verhoog. “Nou ja toe, kry vir julle elkeen ‘n maat. En onthou meisies, die manne is maar skaam, moenie wag dat hy jóú kom vra nie. Ons maak dit sommer ‘n skrikkeljaar.” Giggelrimpels deur die saal.

Ek het my asem vir moed bymekaarkry ingetrek, vir Marina geloer en gesien hoe sy vinnig wegkyk… en weer kyk. Met die uitblaasslag het ek net-net genoeg selfvertroue bymekaar geskraap om na haar toe te stap. Vinnig, voordat iemand anders haar vra.

Halfpad het Dina-met-die-simpel-lag  my aan die arm gegryp: “Jy’s mý maat vanaand.” Sy het daai simpel lag met ‘n kreukelneus gelag.

Dina, Dina. Dina-verdomp! Sy het stewig tussen my en die oorkantse muur gestaan. Oor haar skouers kon ek sien hoe Tommy op Marina toesak. Sy het vinnig na my geloer en toe Tommy se hand gevat.

Juffrou Cilliers was reeds agter die klavier. Die opgewonde paartjies, met een nou-nie-meer-so-opgewonde-seun, het in ‘n groot kring gestaan. Een of twee manne wat nie genoeg moed bymekaar kon skraap nie het op die stoele bly sit. Teen die oorkantse muur het altyd baie meisies agtergebly. Die twee manne het opgestaan en huis toe gegaan. Party van die meisies teen die muur het hande gevat en in die kring kom staan. Ander het die twee manne se voorbeeld gevolg.

Die eerste klaviernote van Jan Pierewiet het die kring in beweging gebring. Nagereg is bedien – volkspele het begin. Sommer met skooldrag. Niks veelkleurige rokke en geborduurde onderbaadjies nie.

Selfs die skaamste manne het ‘n verskoning gehad om ‘n meisie te vra. Die nuwe hormone kon vir ‘n test drive  gevat word. Wals, tiekiedraai en polka. Draai en swaai met haar meisielyf teen joune. Maats word omgeruil. Marina, waar is jy? “Daar kom die wa, die vier perdewa…” Die klavier gee my nie kans om te soek nie.

Die laaste dans. Nee. ‘n Malse verspottigheid. Plesierigheid met agtergrondmusiek. Die temamusiek van my ontwaking.

Marina se hand was sag. Haar gesig was rooi gedans. ‘n Haarsliert het teen haar voorkop geplak. Blosend, pragtig. Aan my sy.

Suikerbos ek wil jou hê…

Die Galop! Juffrou Cilliers het Suikerbos so half Russ Conway-styl gespeel, met ekstra ritme.

Twee-twee, seun-meisie het ons deur die saal galop, al in die rondte, vinniger, vinniger totdat die saal te klein was. By die sydeur uit, al met die stoep langs by die ander sydeur in. Uitbundig.

Dan loop ons so onderdeur die maan… Onderdeur die boog hande.

Op pad huis toe het haar parfuumgeur vaag aan my skoolhemp gehang. Ma het die hemp Maandagoggend kom soek om te was, maar ek het hom weer aangehad.

Galop vandag se kinders nog?

AAAAH…. CHEETAAAH!!!

Kyk, daar kom ‘n tyd in enige Blou Bul-ondersteuner (of enige rugbyondersteuner vir sover dit aangaan) se lewe dat hy wens hy was eerder ‘n Cheetah-ondersteuner.

Daai nuwejaarsvoorneme van my om hierdie jaar my sport net te geniet en nie weer sulke hoë verwagtinge te hê nie – “om teleurstellings te voorkom” – lê lankal iewers en vrot. Nee wat, sommer met die eerste afskop toe vertrek daai ou voornemensie saam met die bal en die Kings se drome. Ek het nogal gedink om hierdie jaar rugby te kyk soos ek na ‘n fliek kyk: Sit rustig, kry ‘n verversinkie of twee en ontspan. Lewer kommentaar indien nodig en wanneer die wedstryd klaar is, sien dan uit na die volgende een – of die Cheetahs nou wen of verloor. Dis tog net ‘n game.

Sê wie? Saterdagaand het die skeidsregter toe seker sy kramp gekry op die plek waar ek dit vir hom toegewens het en moes my huisgenote my aftrek grond toe ná die Cheetahs se pragoorwinning. Vrystaaaaat!!

Met ‘n kookwater Cheetah-span wat vriend en vyand (behalwe stoere ondersteuners soos die uwe, natuurlik) verras, kan g’n mens onbetrokke wees nie. Hier in die vreemde ondersteun ek mos enige span met ‘n Suid-Afrikaanse klankie – selfs Saracens en die Sharks. Ja, en selfs die Bulls, maar dan moet daai verversing minstens  vier vingers hoog wees.

Manne (en vroue!) kyk, daai magtige Cheetahs se laaste paar vertonings laat hierdie Engelse verskoninkie vir ‘n lente sommer sonnig lyk. Ek moes die kalender die afgelope naweek tuin toe vat en vir ons affodille gaan wys dat dit lankal lente is, want hulle wag toe nog heel geduldig vir die blomseisoen om aan te breek. Maar nou kan ek hulle nie kwalik neem dat hulle so effe verward voorgekom het nie, want as ek nou ‘n blom was met ‘n dik sneeulaag wat my blomknop grond toe druk, sou ek ook nie kon raai dat ek al moes kleur wys nie.

Dit smaak my dat dit nie net die Britse blomme is wat totaal en al in die war is nie. Moeder Natuur het wêreldwyd fauna en flora (insluitend ons regoplopers) se kalenders herskryf. Mammie daar in Pretoria vertel vir my hoe die hitte hulle na die winter laat verlang en my ou vriend, Jooste van Bloemfontein, vryf dit onder my hunkerende neus hoe hy in sy dertig-grade-swembadwater ontspan. In die herfs!

Warm Vrystaat-groete uit ‘n sneeubedekte (lente-)Engeland.

NOU VIR 2013!

AFRIKA KERSFEES

(Foto met erkenning aan NG-gemeente Somerstrand)

Een of ander slim wetenskaplike moet sekerlik vir my kan bevestig dat ‘n jaar korter is as ‘n klompie jare gelede. Toe ek ‘n kind was, het dit ‘n leeftyd gevoel van een verjaarsdag of Kersfees na die ander.

In Suid-Afrika het ons in Pretoria gewoon en skoonma in Gonubi naby Oos-Londen. Vir die kinders was daar destyds geen bestemming verder as Ouma se huis nie.

Toe ons die eerste keer oorsee gevlieg het, Duitsland toe, was die eerste vraag: Is dit verder as Oos-Londen? My antwoord is met ongeloof ontvang. Niks kan verder as Oos-Londen wees nie!

Van Pretoria af suidwaarts is die dorpe ver uit mekaar wat die hele rit nog langer laat voel. Hier in Engeland voel dit soms of die dorpe sommer so teen mekaar sit. Jy  ry dikwels uit een village uit sommer in die volgende een in.

Net so voel die jare ook deesdae vir my.

Destyds was een Kersfees na die volgende so ver soos Pretoria na skoonma se huis in Gonubi. Deesdae voel dit sommer soos die dorpies hier in Engeland. Ek sit nog moedeloos geëet na die oorskiet Kerspoeding en staar, dan begin die radio al Kersliedjies vir volgende Kersfees te speel.

My ou maat, Willie, het een jaar vir my die volgende wense gestuur (ek gee dit nou vir jou):

Ons trap baie spore in die sandduine van die lewe, maar in die oggend het die nagwind dit weggewaai. Alles is verganklik behalwe die omgee vir mekaar en elke dag se genade van God. ‘n Geseënde Kersfees vir jou.

Ek onthou die Pinksterbidure in ‘n koue Bloemfontein so saam met Pa en Ma. Dan sing ons liedjies soos “Tel jou seëninge, tel hul een vir een…”

Laat ons terugkyk op 2012 en op die positiewe dinge konsenteer – al ons seëninge. Gebruik dit as boustene vir vir die nuwe jaar.

Bou vir jou ‘n wonderlike 2013 of soos sus Elmarie se Griekwawense aan my:

Mag die Jirre jouse binneste roer en mag suffel goedgeit jou slat lat jy eintlik loop skaamkry oor allie genade.

 Tjorts!

Die sketse deur Liz Lemon Swindle wat by my gunsteling Kerslied geplaas is, is vir my so aangrypemd goed gedoen).