Foute

 

Ek lees onlangs van ‘n woord wat jy nooit wil hoor as jou hare gesny word of as die tandarts in jou mond met daai boor van hom besig is nie.

“Oeps”.

Persoonlik kan ek aan baie gevalle dink waar ek nie “Oeps” wil hoor nie. Ek wil dit nie oor die interkom van ‘n passasiersvliegtuig hoor nie. Ek sou dit ook nie van die dokter wou hoor toe my kinders gebore is nie. En ek sou dit beslis ook nie wou  hoor toe daai vreeslike Hadron-reaktor in Switserland aangeskakel is nie.

Ja, daar is gevalle waar jy nie wil hê mense foute moet maak nie. Eintlik hou ons glad nie van foute nie. En tog is dit iets wat so deel van die lewe is as asemhaal. Ons weet dat die enigste mense wat nie foute maak nie, dooie mense is. Ons maak almal foute – dis nou terwyl ons lewe.

Maar is foute noodwendig sleg?

Alexander Flemming was ‘n Skotse bioloog en farmakoloog. Tydens sy navorsing oor bakteriee het hierdie briljante navorser ‘n foutjie gemaak. Sy laboratorium was altyd ‘n bietjie deurmekaar en slordig. In 1928 was hy ‘n ruklank met vakansie by vriende. Voordat hy gaan kuier het, het hy al sy bakkies met verskillende bakteriee en kulture waarmee hy geëksperimenteer het, op ‘n bankie so in die hoek van sy laboratorium gelos. Sommer so deurmekaar op mekaar gestapel. Groot fout – of was dit? Met sy terugkoms op 3 September, sien hy toe van die bakkies het fungus op gehad – die klomp ou bakkies het daar vol muf gestaan. Hy let toe op dat sommige van die bakterieë dood was en by nadere ondersoek sien hy toe dat dit die einste muf was wat die bakteriee doodgemaak het. Hy begin toe bietjie verder navorsing doen en  hierdie navorsing lei toe tot die ontdekking van penisillin, ‘n baie belangrike antibiotika in die stryd teen baie siektes. Hiervoor het hy die Nobel-prys vir medisyne gekry en is ook in 1999 aangewys as een van die top 100 invloedrykste mense van die 20ste eeu. Sy fout om die klomp bakkies sommer so op ‘n hoop in die hoek van sy laboratorium te gelos het, het toe ‘n baie suksesvolle einde gehad.

Ons almal weet dat Thomas Edison die gloeilamp ontwerp het. Hy het op ‘n stadium die wereldrekord gehou vir die meeste patente soos die outomatiese telegraaf, elektriese veligheidslamp vir myners, fluoresent ligte en die rolprentkamera. Terwyl hy gesukkel het met die ontwerp van die gloeilamp, het hy eendag aan ‘n groep joernaliste vertel:

Ek was nie sewehonderd keer onsuksesvol nie. Ek sien dit nie as mislukkings of foute nie. Ek was suksesvol om te bewys dat daardie sewehonderd maniere nie sal werk nie. En nadat ek die sewehonderd maniere wat nie sou werk nie uitgeskakel het, het ek die een manier gekry wat werk”.

Wilber was ‘n seun wie se voortande gedurende ‘n yshokkiewedstryd in die winter van 1855 uitgeslaan is. Vóór hierdie insident was hy ‘n lewendige, atletiese kind en, alhoewel sy besering nie so ernstig was nie, het dit veroorsaak dat hy homself so van die buitewereld onttrek, dat hy ná skool nie eers universtiteit toe is nie. Hy het maar tuis gebly en na sy siek moeder omgesien en ook baie begin lees. Sy jonger broer, Orville, is vroeg uit die skool uit om ‘n drukkersbesigheid te open. Die twee broers het self hulle drukkerspers ontwerp en gebou. Die besigheid het Wilbur uit sy depressie gehelp en gou het hulle besigheid floreer. Gedurende hierdie tyd het fietse hoogmode begin raak en die twee broers het begin fietse bou en later hulle eie fietsbesigheid gehad. Die geld wat hulle uit die fietsbesigheid gemaak het, het hulle gebruik om hulle nuutgevonde belangstelling in vlieg te finansier. In 1899 begin hulle te eksperimenteer met hulle meganiese planne vir ‘n sweeftuig. Ná baie probeerslae en mislukkings, het hulle uiteindelik sukses behaal. Die Wright-broers, Wilbur en Orville, word erken as die uitvinders en bouers van die eerste suksesvolle vliegtuig. Hulle het ook die eerste beheerde, aangedrewe en volgehoue swaarder-as-lug vlug op 17 Desember 1903 gedoen.

As daar nie fout gekom het gedurende daardie yshokkiewedstryd toe Wilber se tande uitgeslaan is nie, wonder mens hoe sake sou verloop het.

Almal wat sukses in die lewe behaal het, het die leer na daardie boonste trappie moes klim. En so met die klimslag na bo het hulle talle foute gemaak. Hierdie foute was egter die boustene van hulle sukses, dit was die sportjies van die leer. Dit is die foute wat hulle sterk gemaak het. En dit gaan heel waarskynlik weer ‘n fout of twee wees wat hulle grond toe gaan bring.

Solank ons leer uit ons foute en ook uit die foute van ander mense, is foute egter baie nuttig.

By die Harvard Business School in Amerika is hulle ‘n sterk voorstander daarvan dat foute nie altyd sleg is nie. Hulle glo dat mens baie meer uit mislukkings – of dan foute – leer as uit sukses. Die sleutelwoord is egter leer.

Leer uit jou foute uit! Leer uit ander se foute uit. Slegs dan sal jy met meer kennis die leer na uiteindelike sukses kan klim.

Advertisements

2 thoughts on “Foute

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s