Mors

Mors. Mmmm….wat is mors?

Het jy geweet by Denemarke is ‘n klein eilandjie genaamd MORS?

Hierdie klein eilandjie is bekend vir ‘n wit poeier wat diatomiet genoem word. En wat diatomiet so interessant maak is dat dit gebruik word in die maak van dinamiet. Dit is egter nie net dinamiet wat hiervan gemaak word nie. Baie ander produkte soos filters, insekgif en die sand wat ons in katbakke sit word ook van diatomiet gemaak. So, as jou kat dalk eendag met ‘n yslike slag deur die plafon geskiet word, moet jy weet op die eiland Mors het hulle ‘n foutjie met die verpakking gemaak.

In Frankryk was daar baie jare gelede ‘n motorfabriek wat die MORS-motor gemaak het. Mors was een van die eerste motors in die wêreld wat aan ‘n amptelike motorreisies deelgeneem het en wat die bekende V-enjin gehad het. In 1925 het Meneer André Citroën die fabriek gekoop en besluit om nie meer die Mors te maak nie. Hy het die fabriek gebruik om sy eie motor, die bekende Citroën te bou.

In die Romeinse mitologie was MORS die god van dood. In ‘n bekende storie het die sterke Hercules teen hierdie Mors-outjie geveg om die lewe van sy vriend se vrou te red. Ek weet nou nie of hy gewen het nie, maar ek is seker dat hy vir hom ‘n paar Latynse woorde gesê het wat ek liewers nie hier sal herhaal nie. Mors is die Latynse woord vir dood. Selfs in Engels kan ons sien waar woorde soos “mortal” en “mortality” vandaan kom.

Dit het my aan die dink gesit. In Afrikaans is mors ook amper soos dood.

As ons aan mors dink, dink ons nooit regtig aan iets wat goed is nie. Woorde soos “morsig” en “gemors” en “misbruik” kom in mens se kop. En hierdie woorde, net soos “dood”, is nie regtig vrolike woorde nie.

In die Bybel lees ons dat God alles op aarde gemaak het en dat Hy tevrede was met sy handewerk. Alles was perfek en goed en mooi. En toe maak Hy die mens om mooi te kyk na alles wat hy gemaak het. Ons moes dit oppas, geniet en ons kon dit gebruik. Let wel: GE-bruik.

Maar toe gebeur ‘n slegte ding. Gebruik word toe misbruik. Die wonderlike goed waarmee God ons vertrou het, word toe nie meer gebruik soos Hy dit wou gehad het nie. Mense het daarmee begin mors.

Vandag sien, beleef en doen ons dit elke minuut van die dag: Ons MORS.

Ons mors met die suurstoffabriek van die aarde – die bosse van die Amesone en ander reënwoude. Dit word afgekap en uitgekap om plek te maak vir goed wat sommige mense ryk maak.

Ons mors met die natuurlike hulpbronne wat God hier op aarde vir ons gegee het. Elke keer as ons onnodig met die kar ry of ‘n lig onnodig aanlos, dan mors ons. Daar is kommer oor die seelewe wat deur ons mense uitgeroei word. Dolfyne, walwisse, skaars visse, seeskilpaaie en ander seebewoners word op groot skaal doodgemaak en die see word besoedel deur afval wat ons mense mors.

Ons mors met kos en water wat vir ons gegee word. As ek op TV sien hoeveel honger mense daar op aarde is, dan krimp ek ineen as ek die hoeveelheid kos sien wat ons elke dag weggooi. En ook nie altyd weggooi nie. Ons eet partykeer tot ons wil bars. Ons mors dus met ons liggame, die tempel van God. Ons prop ons lywe vol met allerhande onnodige eet- en drinkgoed wat ons nie regtig nodig het nie. En as ons vet of siek word, dan is ons ongelukkig daaroor.

Maar die ding wat ons seker die meeste mee mors, is liefde. Ons ontvang liefde in so ‘n oorvloed. Van God, van ons familie en vriende, van ons ouers en kinders… Maar ons doen niks daarmee nie. In plaas daarvan dat ons dit uitdeel, beswadder ons eerder mekaar en wys ons medemens se foute en verskille uit. In hierdie pragtige land van ons met sy wonderlike mense praat ons lelik van mekaar rondom braaivleisvure, by die skool en by die werk. Mense maak mekaar dood en steel mekaar se goed.

Daardie liefde wat ons so by die emmersvol ontvang word vermors. Ons deel dit nie met mekaar nie.

Ons wens mekaar van die aarde af. Ons wens mekaar dood.

Ons mors die aarde dood.

Advertisements

2 thoughts on “Mors

  1. As ek so op TV en in die daaglikse omgang met mense hoor en sien hoe daar met ons dierbare Moederaarde omgegaan word, skaam ek my MORSDOOD dat ek deel van die morskultuur is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s