EK EN ELVIS IN ‘N VOLKSIE

Nou andernag droom ek mos ek en Elvis is in ‘n Volla op pad Suid-Afrika toe, hier van Engeland af. Ek bestuur en hy sit langs my, kompleet met glinsterpak, donkerbril, wit skoene en als en hy neurie Are You Lonesome Tonight.

Vreemde droom gewees en soos dit nou maar in drome gaan, werk ons daai Volla sommer luglangs hier oor Afrika, net so oor die boomtoppe. Maar dis nou nog nie die vreemde deel nie.

Op ‘n stadium ontwikkel Elvis ‘n nood en ek sê vir hom hy moet sommer die deur oopskuif (ja ek weet, ‘n Volksie met ‘n skuifdeur!) en sommer hier van bo af sy besigheid doen; ek dink nie die mense sal kyk nie. En toe gebeur ‘n wonderlike ding – alhoewel dit steeds nie dié vreemde deel van die droom is nie. Elvis staan in die deur en… wel, hy spuit. Maar nie die gewone straal wat mens sou dink hy spuit nie. Hy spuit geld. Sulke blink-goue munte wat met ‘n boog aarde toe val. En die mense op die grond hol agter die Volla aan en skep geld. Groot nood gewees, daai een wat Elvis verlig het.

Ja, mens kan lekker nonsens droom. Wonner wat die droomkenners van hierdie een sal maak.

Toe ek nog jonger was – dalk nou nog – het my ma altyd gesê: “Elke huis het sy kruis”. Vir my het dit nie altyd so gelyk nie. Daar was tye gewees dat net ek en so ‘n paar ander ouens met ons kruise geswoeg het – ons klompie en ook daai honger kinders daar van Biafra en nog so ‘n paar ander mense. Die res van die ouens het nie kruise gehad nie, so het dit vir my gelyk. Nie met die karre wat hulle gery het of die vakansies wat hulle kon bekostig of die baie paarties wat hulle gehou het nie. Party ouens se hele houding projekteer mos sommer sukses. Geen moeilikheid nie. Hy is die lewe se witbroodjie. Sy kinders doen ewe goed op akademiese vlak as op sportgebied en dan is die ou se kind, net soos sy pa, ook nog die middelpunt waarom die sosiale lewe van sy ouderdomsgroep draai. Hy – die pa – het so ‘n plat leerbundeltjie in sy gatsak waaruit hy note met ‘n indrukwekkende kleur by die slaghuis trek as daai groot steaks vir vanaand se braai gekoop word, of by die kafee, of sommer as Kind kom geld vra om uit te gaan. En dan, terwyl hy skuins lê om by sy gatsak uit te kom, is hy gemaak-kwaad: “Jong, julle kinners dink mos geld groei op my rug,” terwyl die kind se hand om die groot noot vou wat sy pa uithou.

Nee, besluit jy, hier’s nie moeilikheid nie.

Sondae in die kerk, voor dominee begin praat, hou ek die mense dop wat inkom. Almal gemasker en mooi aangetrek. Ons maskers smaail die smaail van “goed-dankie” en ons klere verklap niks van ons kruis nie. Ons drink saam tee na die diens en gesels oor rugby en die weer. En dan gaan ons elkeen terug na ons kruise toe.

Soos die Britse egpaar, Peter en Penelope Duff. Skatryk filantrope met ‘n duur woonplek in Bath se gegoede area. Peter borg klassieke konserte en operas as’t ware sommer so uit sy gatsak. En gaste wat daarheen uitgenooi word, word voor die tyd op ‘n ete in voorste restourante getrakteer.

In Desember verlede jaar het hulle veertig gaste, meestal uit die filantropiese kant van die plaaslike kunstewêreld, na hulle huis genooi. Die gaste was onder die indruk dat die egpaar hulle gaste wou bedank vir nog ‘n suksesvolle borgjaar.

In werklikheid het die egpaar totsiens gesê. Maar die gaste het dit nie geweet nie, nie toe nie.

Enkele dae na die onthaal het die egpaar hulle tasse gepak, die wit hortjies voor die vensters van hulle vyfverdieping-huis toegemaak en na hulle kleiner huis iewers in die platteland vertrek. Nie een van die gaste het geweet dat die egpaar terminaal siek was nie. Dokters het die twee meegedeel dat hulle kankers versprei het en ongeneeslik is. Nie al hulle geld, nie al hulle vriende, nie al hulle goeie werk kon hulle kruis wegneem nie.

Kort daarna, terwyl hulle nog sterk genoeg was, het hulle ‘n vliegtuig Zürich, Switserland toe geneem waar hulle in die selfhelp selfmoordkliniek, Dignitas, ingeboek en ‘n einde aan hulle lewens gemaak het.

Daar’s ook my ou buurman, ook ‘n Peter. Waardige, ordentlike argitek van ‘n Engelsman. Mooi huis, Mercedes, reis die wêreld vol agter projekte aan – Dubai, Rusland, Kaapstad. Hy het self hulle huis met die mooi uitsig oor die Teemsmonding ontwerp en woon al sedert die vroeë sewentigs hier. Bedags sien ek hom agter sy masker, geen teken van ‘n kruis nie. Groet vriendelik, verneem na mekaar se welstand. Met nabetragting onthou ek die donker kringe onder sy oë en sy vrou se al hoe krommer wordende skouers.

So ‘n week voor Kersfees het die balju hulle uit hulle huis kom sit. Van hulle duur meubels is in my beskeie garage gestoor. Sy projekte in Amerika en Duitsland het gevou en die gebeure voor Kersfees was maar die kulminasie van baie nagte se rondrol.

Ek staar my nie meer blind teen ander mense se karre of beursies of glimlagte nie. Ek het geleer om Mammie se woorde ernstig op te neem: “Elke huis het sy kruis.” Of, soos ek dikwels vir die kinders sê: As iets van iemand vir jou so aanloklik lyk dat jy dit graag sal wil hê, moet jy bereid wees om daardie persoon se hele pakkie te vat – nie net die stukkie wat vir jou aanloklik lyk nie.

O ja, nou het ek nog nie vertel wat die vreemde deel van my droom was nie. Nee, Elvis weet toe mos te vertelle dat dit vir hom lyk of die Cheetahs hierdie jaar so effe swaar trek. Maar waar vererg ek my bloedig vir die man en skop hom amper by die skuifdeur van die Kewertjie uit. Dis ‘n teer puntjie vir my daai; dis so goed hy kom trap met daai wit skoen van hom hier op ‘n liddoring. Ek meen, hy, Amerikaanse sanger, boonop nie meer met ons nie, weet nie dat die Cheetahs niks het om te bewys nie. Hulle het tog  die afgelope tyd gewys hulle kan die Curriebeker wen, hulle is ‘n topspan en vat nou so bietjie van ‘n ruskans om die ander spanne weer ‘n beurt te gee. (Dit kan dalk taktiek ook wees – so bietjie later in die seisoen kom hulle met ‘n formidabele eindpoging en laat die ander spanne weer in snot en trane. Ons ken mos die storie.)

Ek sê toe vir hom: “Luister hier Elvis my maat, hou jy maar eerder by jou singery. Wat weet julle Yanks in elk’geval van rugby af? En as ek dit nou nie mis het, moes jy eintlik nie eers hier gewees het nie. So, sing of bly stil.”

ElvisEn toe word ek wakker.

Advertisements

6 thoughts on “EK EN ELVIS IN ‘N VOLKSIE

    • Ja Johan, hy en Bruce Lee kon my anderdag ook nie flous nie toe hulle agter donkerbrille in ‘n koffiewinkel gesit en gesels het. Oor sy rugbykennis? Ons sal binne die volgende twee weke weet. Dankie vir jou bydrae.

  1. Jy skryf so lekker, Andre! Moet sê die Cheetahs kan ‘n man uit jou vel uit laat spring en ‘n riel laat dans in jou blue suede shoes van pure lekkerkry, maar dan laat voel hulle ‘n mens ook dikwels “lonesome tonight”. Om nie te praat nie van die kere wat ek ver gery het om hulle te gaan ondersteun (soos 1973 se eindstryd op Loftus) … en dan sit ‘n man daardie aand en treur in die heartbreak hotel.

      • Het die afgelope tyd effe entoesiasme verloor, maar sal nou weer beter gaan. My skoonseun, Daan Human, is nou ook betrokke by die afrigtingspan. So, kom ons hoop dit gaan vanjaar, baie beter.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s