MADIBA

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

Die Breaking News op Sky het my aandag getrek toe ek in my Engelandse bed besig was met e-posse en ander wat-nog-allesse op die rekenaar: Nelson Mandela dies.

Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner, meer spesifiek Afrikaner  – daardie groep mense wat so deur die internasionale media verguis en in dieselfde asem as Hitler en Amin en ander verskrikkers genoem word. Uitvaagsels.

Soms, as ek kyk hoe mede-(Suid-)Afrikaners optree en ek sien videogrepe van ‘n vergange Suid-Afrika, dan krimp my hart ineen. Wanneer ek die taalgebruik sien as mede-Suid-Afrikaners mekaar uitskel en beledig, dan wil ek huil. En dan kan ek verstaan hoekom die media ons voorstel soos hulle doen.

Maar dis dan wanneer ek wil uitroep: Ons is en was nie almal so nie!

Soos die Duitsers letsels het van ‘n Nazi-verlede waaraan hulle nie herinner wil word nie, dra ons Afrikaners swaar aan bagasie uit ons Apartheidsverlede. Uit ‘n tyd toe waardige mense onwaardig by agterdeure van besighede moes ingaan (of gladnie kon ingaan nie) en pasboeke moes hê om soos indringers in hulle eie land te kon woon en leef en werk. ‘n Tyd toe hulle Afrikaner-kerke kon skoonmaak, maar nie daar kon aanbid nie. Bloot omdat hulle velkleur anders was.

Ek dink ek is skaamkwaad wanneer die internasionale media ons Afrikaners uitbeeld as skurke. ‘n Deel van my is skaam omdat dit ‘n waarheidsnaar tokkel. ‘n Ander deel van my is kwaad, want dis nie hoe alle Afrikaners is nie, hoe ek as Afrikaner in my hart voel nie.

Nelson Mandela het die volle impak van die Afrikaner-beheerde Nasionale Party se wette gevoel. Hy wou iets doen om daardie deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, sý mense, wat nie kon deel in alles wat ons pragtige land bied nie, ten minste ‘n regverdige happie van die koek te gee. En hiervoor het hy ‘n dure prys betaal. Hy is gelukkig dat hy darem met ‘n gedeelte van sy lewe daarvan afgekom het toe ‘n derde daarvan  van hom weggeneem is. Sewe-en-twintig jaar!

Ná die aankondiging dat hy vrygelaat gaan word, het baie mense geskarrel om voorbereid te wees  op die hel wat gaan losbars wanneer ons die skerpkant van sy wraak en woede gaan voel. Ek glo baie van hierdie mense het geredeneer dat dít is hoe húlle sou optree as hulle in sy posisie was. En toe gebeur daar niks. Alles verloop vreedsaam, behalwe vir ‘n groep Regse Afrikaners wat hulle naam krater gemaak het toe hulle die KODESA-samesprekings wou ontspoor het.  Mandela stel ‘n Afrikaanse blanke vrou as sy persoonlike assistent aan en verskyn voor die hele wêreld in die Groen-en-Goud, die einste gesogte kleure wat vir so baie jare net vir blankes gereserveer  was. Kort hierna besoek hy Orania om ‘n hand van versoening aan Mev. Betsie Verwoerd te bied. Betsie Verwoerd! Die eggenote van die man wat aan bewind was toe sy beste jare van hom weggeneem is. En hy woon ‘n Sinode-sitting van die NG-kerk by – die einste kerk wat sy mense nie wou toelaat om saam met Afrikaners te aanbid nie.

Vandag wonder ek hoe Suid-Afrika sou gelyk as hy vroeër die leisels kon gevat het. Sê nou maar net voor die Soweto-onluste. Sou daar nou ‘n geslag gewees het wat minder  onverdraagsaam teenoor ander bevolkingsgroepe in ons wonderlike land is?

Ons sal nooit weet nie. Daardie kans het ons Afrikaners deur ons vingers laat glip. Madiba het probeer, maar sy tyd was te min. Sy beste jare lê tussen die fyngekapte kalkklippe op Robbeneiland.

Mag sy gees voortlewe en saad van versoening oor ons wonderlike land strooi.

Advertisements

2 thoughts on “MADIBA

  1. Wat van die Engelse mense wat gedurende die Apartheid era groot geword het? Ons het ook bygestaan en gesien hoe miljoene mede mense gesukkel het net omdat hulle donker velle gehad het. :(.

    • Jy is heeltemal reg, Neil. Die hele land met al sy mense was in die apartheid-maalkolk ingetrek. Ek het hierdie stuk egter vanuit my eie beskouing, dit wat ek as Afrikaner beleef het, geskryf. Ek beleef dit tot vandag toe dat Afrikaners heel dikwels nog die juk van apartheid dra. Maar ek is seker dat Engelse (en Portugese, Grieke, Jode, ens) almal ‘n ervaring het om te deel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s