PRETBEDERWERS OF SEDEBEWAKERS?

halloween

Nou met halloween (ja, ek weet daar is ‘n erkende Afrikaanse woord) in die lug, hol my gedagtes terug na doerie jare toe ek nog op hoërskool was. ‘n Jongman het ons eendag in die skoolsaal kom toespreek. Hy het oor klomp goed gepraat en ons gewaarsku teen allerhande gevare en verskuilde boodskappe in popmusiek en demoniese boodskappe wanneer jy musiek op jou platespeler in trurat gooi. Natuurlik ook die gewraakte vredesteken wat almal op hulle tasse geteken het (it was the groovy thing to do!).

Wat niemand van ons egter geweet het nie, is hoe goddeloos dit vir ‘n meisie is om enige iets met ‘n skoenlapper op te dra. ‘n Rok met skoenlappermotiewe op, of skoenlapperoorbelletjies, of  ‘n hangertjie – enige iets met ‘n skoenlapper op – verkondig die boodskap van vrye liefde. Dat jy ‘n los meisie is wat soos ‘n skoenlapper van blom na blom vlieg. “Die Bybel,” so het hy destyds swaaiend met die Bybel in die lug geskreeu, “die Bybel noem sulke meisies hoere!”  Ek onthou die skuldige stilte wat oor die meisies toegesak het en hoe Gerda tranerig die volgende dag vertel het dat sy haar gunstelinghangertjie, die goue skoenlappertjie wat sy vir haar sestiende verjaarsdag by haar ouers gekry het, met ‘n hamer stukkend gekap het en in die asblik gegooi het.

Anderdag sien ek vir die eerste keer hoe ‘n onskuldige duif baie verskillende betekenisse  in verskeie (veral antieke) kulture kan hê. Wat vir Christene die simbool van vrede en die Heilige Gees is, is vir ander kulture, onder andere, die simbool van die godin Tanit wat onder meer gekoppel word aan rituele waar kinders geoffer is.

Paasfees (Easter) word deur Christene wêreldwyd gevier. In die noordelike halfrond val Paastyd in die lente.  Baie mense glo dat die woord “Easter” afgelei is van Ēostre , die naam van ‘n Germaanse paganistiese godin van vrugbaarheid. Lentefeeste is ter ere van hierdie godin gehou waar hase en eiers as simbole van vrugbaarheid sentraal was.

Baie kulture en gelowe het hul eie tradisies, rituele en feeste, soos die Christene se Paasfees (afkomstig van pasga). Die meeste Christene wat ek ken weet dat Jesus nie regtig op 25 Desember gebore is nie en dat hase en eiers en paasbolletjies (hot cross buns) so min iets met pasga te doen het as wat Kersvader, geskenke en Kerskouse iets met Jesus se geboorte te doen het. Maar hulle gee nie om nie, want hulle weet dat godsdiens nie stagnant is nie. Dit groei en ontwikkel en verander en dit is goed, nie sleg nie. Die feit dat alles ontwikkel en groei , verander egter nie ‘n enkele druppel van hulle geloof nie, want geloof gaan nie oor sin en redenasie nie. Geloof gaan oor vertroue in ‘n standhoudende, ewige God – ‘n God van liefde, genade en vergifnis.

Ons het nie werklik iets van halloween af geweet in Suid-Afrika nie. Die kinders was nog klein toe ons Engeland toe gekom het. By die skool was daar groot opgewondenheid oor die groot aand en die jongste twee het aangesteek. Daardie aand het hulle saam met ‘n groot groep maatjies, almal met opgemaakte gesigte en uitspattige kostuums onder toesig van ouers die strate ingevaar. Die blink kinderogies en prettige atmosfeer was so in kontras met die boodskappe en preke wat waarsku teen satanistiese gebruike en duiwelsaanbidding. Oor die jare heen het ek vir baie kinders gevra wat halloween vir hulle beteken. Ek moet nog ‘n antwoord kry wat enigsins in die rigting neig waarteen hulle van preekstoele af gewaarsku word.

Nou, as volwassenes, ken my kinders die verskil tussen pret en satanistiese gebruike. Hulle weet ook dat die paashaas en Kersvader niks met die kern van hul geloof te doen het nie. Hulle eet paasbolletjies en gee Kersgeskenke met ‘n oortuiging in hul harte: ‘n Geloof in die ewige God. ‘n Onveranderlike God in ‘n veranderlike wêreld. ‘n God van liefde.

Wanneer mense beuselagtige onderwerpe onder hulle neuse kom vryf, tree hulle waardig en respekvol toe tot die debat en verdedig hul geloof  soos ‘n moderne Christen – rasioneel, oopkop sonder om  tot ‘n vlak van persoonlike aanvalle te daal.

Soms met ‘n uitspattige kostuum aan, of ‘n Paaseier in die hand, of rondom ‘n feesmaal met die geknal van krismisklappers.

Ek sou tog so teleurgesteld gewees het as ‘n koue pampoen (met ‘n kersie in) hulle van stryk af gebring het op die pad waarop ek hulle geplaas het.

Die pad met nog ‘n simbool – die kruis op Golgota.

Advertisements

5 thoughts on “PRETBEDERWERS OF SEDEBEWAKERS?

  1. Ek weet selfs van mense wat hul Persiese matte verbrand het,omdat dit kwansuis van heidense afkoms is.In ons jongdae was daar soveel ag geslaan op al hierdie sg duiwelse goed,dat mens naderhand heeltemal vreesbevange was.Gelukkig was ek rebels en het dit alles afgelag.Goed geskryf!

    • Ek glo dat daar gesag en riglyne en respek en sulke goed moet wees (ons sien vandag teveel die gevolge van ‘n gebrek daaraan!) maar, wraggies, daar kan ook oorboord gegaan word met dit. Dankie vir jou inset.

  2. Ja, sy naam was mos, nou is ek nie seker nie, Rodney, iemand. Jy het die appel, met die hap in vergeet. Ja, eintlik is ons destyds mooi geleer om nie vir ons self te dink nie. Goed geskryf.

  3. Andre, wil graan ‘n lang relaas gee oor die onderwerp en tydperk wat ons as kinders gedurende moes deurgaan onder die wakende oe van almal waarmee ons in kontak gekom het. Net sodra ek die tyd vind doen ek dit dalk. Ek hou al die jare, as ‘n rebel, vir klippe in die bos. Geniet julle winter.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s