JA SWAER, SO GAAN DIT HIER IN ENGELAND

pall mall

Onlangs ontvang ek ‘n e-pos met ‘n lys wat ‘n Amerikaner opgestel het oor sy observasies van die Engelse (in Engeland). Dit het my laat dink dat ek mos ook my eie lys kan maak. Ná dertien jaar op haar majesteit se eiland, het ek die Ingelse al goed dopgehou.

  • Aandete word “tea” genoem – redelik vroegaand. Kort nadat ons hier aangeland het, word jongste (toe ses jaar oud) genooi om ná skool by ‘n maat te gaan kuier. Maat se ma wil by my weet wat hy vir “tea” sal geniet. Wetende dat die Engelse nie van beskuit weet nie, stel ek voor dat sy hom sommer ‘n koekie gee. Dis wat ons teetyd eet wanneer hulle peuselrig ná skool (so vieruur se koers) tuis kom – aandete by ons is heelwat later wanneer almal van die werk af is. Die uitdrukking op die ma se gesig het my in my spore gestuit. “A what?”. Afgesien daarvan dat die Engelse ‘n “cookie” ‘n “biscuit” noem, kon ek kindermishandeling agter die vraagtekens in haar oë lees.
  • Ertjies, baked beans, visvingers en varkworsies is stapelvoedsel tydens “tea”.
  • Die Engelse het verleer hoe om met ‘n mes en vurk te eet. Die vurk word altyd onderstebo gehou en die mes vroetel lomp tussen die kos op die bord deur.
  • Bouers smul graag soggens aan ‘n “bacon butty” – ‘n rolletjie met spek in.
  • Ná vis en chips is kerrie die gewildste wegneemete.
  • Die Engelse ken net een soort pap – hawermout. Dit is onmoontlik om aan hulle te verduidelik wat mieliepap, krummelpap of stywepap is.
  • Soetpatats, soetwortels, enige iets soets vir ete, behalwe nagereg, is “revolting”. Maar hulle hou van ons manier van groenboontjies kook.
  • “Tart” roep beelde van sedelose meisies op. ‘n Melktert of appeltert is dus ‘n “pie”.
  • Hier is ‘n groot geveg aan: Sê jy skon of skoun vir “scone”?
  • Ons huis hier is die helfte kleiner as die een in Suid-Afrika – en drie keer duurder.
  • Alles is oor die algemeen ouer, kleiner en korter.
  • ‘n Tuimeldroër is ‘n noodsaaklikheid.
  • Ek moes hier leer van ‘n “boiler”, “central heating”, “double glazing” en ‘n “airing cupboard”.
  • Die badkamer se ligskakelaar is ‘n toutjie.
  • Enkele huise het alarms, maar geen huis het diefwering of veiligheidshekke nie.
  • Garages is meestal stoorkamers vir allerhande gemors terwyl ‘n duur kar in die oprit of straat staan.
  • Baie deurknoppe, geboue en gereedskap is ouer as Suid-Afrika.
  • Wanneer daar op die bordjie staan “Built in 824” is die een voor die agt nie gesteel nie.
  • Badkamers het handdoekverwarmers in.
  • Kinders mag NOOIT alleen gelaat word nie
  • Jy mag nie ‘n knipmes by jou hê nie
  • Niemand het ‘n vuurwapen nie – behalwe jagters en enkele kroeks.
  • Polisie loop in pare rond – meestal ‘n man en ‘n vrou en hulle glimlag gewoonlik (wat weet hulle wat ek nie weet nie?).
  • Swartes en Moslems kla dat daar teen hulle gediskrimineer word omdat hulle altyd eerste gestop en ondervra word (hoekom sou dit wees?).
  • Messtekery begin toeneem in die buitewyke van Londen en ek gaan nie sê wie is ALTYD daarby betrokke nie.
  • Alle voertuie ouer as drie jaar moet jaarliks vir padwaardigheid getoets word.
  • Pubs is nie kroeë nie – dit is gemeenskaplike sitkamers. Die Engelse weet nie wat ‘n bar is nie.
  • In Suid-Afrika word net gestap as jy nie ‘n kar het nie. Stap is die Engelse se nasionale tydverdryf. Saans met ‘n hond in sonskyn, sneeu of reën. Oumense stap, jongmense stap. Almal stap (as jy nie ‘n “mobility scooter” van “welfare” af kry nie).
  • Honde is goedgemanierd en sommige restourante het selfs bakkies kos en water vir die vierpootvriende.
  • ‘n Kat is die buurt se troeteldier en kuier van huis tot huis.
  • Bedel word nie toegelaat nie, maar as jy bedel met ‘n hond by jou, verdubbel jou kanse om simpatie te ontlok.
  • Saans word oorskietkos vir die jakkalse en “badgers” (ek noem hulle sommer ratels) uitgesit.
  • Sokker, ekskuus – “football” – is ‘n godsdiens.
  • Daar word gefrons wanneer jy oor jou godsdienstige of politieke voorkeur praat.
  • Niemand praat oor godsdiens nie, ten spyte daarvan dat al die seremonies wat op TV uitgesaai word ‘n godsdienstige grondslag het.
  • Christene kan afgedank word oor ‘n kruisie om die nek, maar enige ander godsdiensgroep mag met kopdoeke, of sluiers of maskers werk toe gaan.
  • Die gesondheidstelsel (NHS) is uitstekend, maar almal kla daaroor.
  • Tydens die winterseisoen sien jy selde jou bure – ná hibernasie in Maart, wanneer die velde geel vol affodille staan, gesels julle weer oor alles en die weer.
  • Sommige skole laat meisies toe om met grimering en juwele skool toe te gaan, met los hare by hul skooluniform se nou, kort rompies en dit het al gebeur dat ek nie seker was of dit ‘n “school girl” of ‘n “call girl” is nie.
  • Die weer is altyd ‘n aanknopingspunt.
  • Na honderde jare van reënweer, word die meeste Engelse steeds sonder sambrele deur die reën betrap.
  • Die meeste mense wat in Londen werk, trek swart aan.
  • In die somer sien jy baie witborsmans sonder hemp in die strate, op die stasie, in die winkels, oral.
  • Enige iets oor 15 grade word as matige hitte beskou. Van 25 grade af begin die koerante teen hittegolwe waarsku waar oumense en troeteldiere dopgehou moet word.
  • Meisies sal op wintersaande bibberend in ‘n bandjiesrok en hoëhakskoene uitgaan.
  • ‘n Broek is “trousers”, nie “pants” nie! “Pants” is onderklere en ‘n sweetpak is ‘n “jumper”.
  • Die Engelse weet nie wat ‘n “jersey” is nie. Glo my. Toe ek destyds vir die kinders skooltruie moes gaan koop het, is ek vraend aangekyk totdat die lig aangegaan het toe ek beduie het waarna ek soek. “Oh, you mean cardigan” – met knope vir die meisies en ‘n “jumper” sonder knope vir die seuns.
  • My Engelsonderwyser sal in sy graf rondspin as hy die Engelse hier in hul vaderland moet hoor praat. “We was” en “them yobs” en “you should of been” is algemeen.
  • Dit lyk soos ‘n gesigtrekkompetisie wanneer (baie van) die Engelse ‘n R moet uitspreek en wanneer ‘n TH voor die R kom (soos in three) is daar moeilikheid – hulle kan nie THem, en THink sê nie en “Three drinks” klink soos gratis drankies.
  • Met “Cheers” word jy gegroet of bedank.
  • Hier is meer Engelse aksente as wat Zuma vrouens het. En dan frons hulle vir my aksent!
  • Baie van die strate is nouer as die sypaadjies in Suid-Afrika.
  • Met die huidige wisselkoers, kos petrol so R23 per liter, wat darem goedkoper is as verlede jaar.
  • Wanneer jy te vinnig ry, SAL jy beboet word. Spoedkameras is heldergeel op ‘n paal en borde gewaarsku jou betyds dat jy afgeneem kan word.
  • Jy kan in Engeland op ‘n bus klim en kafee toe, of na die volgende dorp, of Duitsland toe ry.
  • Die treine werk en mense raak geïrriteerd as ‘n trein drie minute laat is.
  • Mense oor sestig kry ‘n gratis bus- en treinkaartjie.
  • Hier is meer “mobility scooters” en stootkarretjies as taxi’s in Suid-Afrika.
  • Die “white van drivers” se nakom van padreëls is oor die algemeen net so ‘n klein trappie beter as die taxidrywers in Suid-Afrika s’n. (Terloops, hulle is die ouens wat met Ford Transits, of Mercedes Vivo’s – sulke tipe voertuie – bouwerk of aflewerings of tuindienste doen.)
  • So 5,000 jaar gelede het iemand ‘n klomp klippe hier kom rangskik en tot vandag toe is niemand nog seker hoekom nie.
  • Onthou tog, Skotland, Engeland, Wallis en Ierland is verskillende lande. En Engeland is nie net Londen nie.
  • Brittanje, Die Britse Eilande, die Verenigde Koninkryk en Engeland is verskillende goed.
  • Die Engelse se kennis van geskiedenis is nie sleg nie, maar hulle weet niks van aardrykskunde af nie.
  • Niemand weet egter iets van die Boereoorlog af nie, maar hulle ken al die koning Henry’s en Charlese en Edwards se vrouens en kinders en dié se geboortedatums.
  • Engeland mag so groot soos die Vrystaat wees, maar om die een of ander onverklaarbare rede is dit veilig om maar vir slaapplek en genoeg padkos vir ‘n rit verder as 200 kilometer te reël.
  • My Engelse buurvrou is in 1932 in ons dorpie gebore en woon nog al die jare hier. Baie Engelse was nog nooit in Londen nie, wat nog te sê in Skotland.
  • Die Engelse is nie baie gewild in Europa nie.
  • Die Pond is ‘n indrukwekkende geldeenheid en die geld hier laat die Suid-Afrikaanse banknote en munte na Monopoly-geld lyk.
  • Baie van die paaie se toestand is nie veel beter as paaie in Suid-Afrika nie. Is dit omdat die Engelse saam met die Amerikaners so baie op oorlog in ander lande bestee en biljoene aan mense wat nie wil werk nie uitbetaal?
  • Die Engelse stort miljoene Ponde in die bodemlose put van Afrika, Indië, en ander lande al weet hulle van Nkandla, Zumajet en Indië se duur ruimteprogram.