OUKERSAAND 1942

VENSTER

‘n Ware verhaal deur André Fourie

Die tweetjies drentel laatmiddag deur die sneeubedekte hoofstraat van ‘n dorpie in Noord-Engeland, die dogtertjie en haar boetie. Dis reeds donker, winterdonker. Oukersaand 1942. Mense skarrel om laaste inkopies voor Kersfees te doen. Hierdie jaar is daar ‘n atmosfeer van hoop in die lug – die oorlog het ‘n draaipunt bereik, so glo baie. Deur die sneeuvlokkies en koue beur ‘n groep jongmense se stemme daar van die stasie se kant af met die melodieë van Kersliedere. Die twee kinders is koud; by die huis is dit ook maar koud en alleen met Pa iewers in Noord-Afrika  en Ma wat nog werk. Ma was en stryk klere vir ‘n inkomste en kom meestal eers laataand huis toe.

“Hy sál huis toe kom,” troos Ma elke aand wanneer sy in die vraende, donker oë kyk terwyl sy hom in sy bed toevou. Hy weet sy troos eintlik haarself, want hy kan sien hoe haar oë soms opwel, al probeer sy dit wegsteek. Die vorige aand het haar traan ‘n kolletjie op sy kussing gemaak toe sy afbuk om hom te soen. Later, lank nadat die lig afgeskakel is, was die kussing baie natter, want hy wou nie hê dat sy ma en sussie moes hoor hy huil nie. Hy was vier toe sy pa vir hom gesê het: “Seun, van more af is jy die man in die huis”. Hy het toe nog nie geweet dat sy pa nooit weer huis toe sou kom nie.

Die seuntjie se hand is in sy ousus s’n; hulle skoene maak knarsend twee rye spore in die sneeu al in die hoofstraat af. Winkelvensters lok met blink versierings. Hulle is al honger. Ma sal vir vanaand kos bring. Hulle sien uit na more, want Ma het lankal gesê dat sy sal kyk of hulle vir Kersfees spek en eier kan eet. Met handjies teen die groot venster van ‘n speelgoedwinkel staar hulle in verwondering. Die kinderasems maak wolke teen die glas. Agter die venster speel ‘n bliksoldaatjie trom en ‘n wolbeertjie slaan simbale. ‘n Babapop staar grootoog terug na die dogtertjie. Seuntjie-oë volg ‘n treintjie, al in die rondte. Droom, net droom – daar is skaars genoeg geld vir kos, wat nog te sê speelgoed.

“Hoekom gaan julle tweetjies nie in nie?” bring ‘n stem hulle terug van Wonderland af. ‘n Deftige vrou met ‘n pelsjas aan glimlag vriendelik.

Hulle is te skaam, byna verbouereerd om te antwoord.

“Toe, gaan in. Dis koud hier buite,” moedig die vrou hulle aan.

“Ons mag nie ingaan nie, Tannie.” Die seuntjie trek aan sy sussie dat hulle moet loop.

“En hoekom nie?” wil sy weet.

“Die oom jaag ons uit, hy sê ons gaan sy goed steel.”

“Nonsens. Speelgoedwinkels is vir kinders, kom ek vat julle in.”

Hulle volg haar huiwerig. Binne is dit warm. Speelgoedland!

Die vrou hou hulle dop, kyk hoe die dogtertjie versigtig aan ‘n babapop raak. Sy sug ‘n hunkersug en haal ‘n kantsakdoek uit haar handsak om haar oë te klad. Later koop sy vir hulle warm sjokolade en neem hulle in ‘n duur swart motor huis toe.

Kersoggend is daar ‘n klop aan die deur. Die kinders hol agter hulle ma aan om te kyk wie dit is. ‘n Man met ‘n chauffeer-uniform staan voor die deur – sy arms vol geskenke. Ma dink die man is by die verkeerde adres. In die straat staan ‘n deftige swart motor.

“More Mevrou en ‘n baie geseënde Kersfees vir u. Die kinders sal weet van wie die pakkies kom. O, en as dit reg is met u, wil Mevrou Mountjoy u graag uitnooi om vandag by haar te kom eet. Sy en haar man is alleen… hulle seun het verlede jaar saam met die HMS Hood ondergegaan. Ek kan later vir Mevrou en die kinders kom oplaai. Sal 12-uur u pas?

Eer aan God in die hoogste hemel

En vrede op aarde

Vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s