TOE EK TWEE JAAR OUD WAS …

groote schuur kleur

Dis tog interessant hoe vlietende belewenisse by plekke, of saam met iemand, blywende indrukke kan laat.

Ek was nog nie heeltemal twee jaar oud nie toe ons in Groote Schuur-woonstelle daar in Aliwalstraat, Bloemfontein ingetrek het. Reg oorkant die statige bekende ou Klipkerk. Wat verder interessant is, is hoedat die brein sulke herinneringe kan stoor sodat dit byna 60 jaar later nog uitgepak kan word – veral as in ag geneem  word dat ons maar enkele maande daar gewoon het. Dit was ek en Pa en Ma wat daar in nommer 10 ingetrek het en toe ons daar wegtrek, was ons vier mense – met Babasussie wat intussen bygekom het.

Groote Schuur 10, Bfn 1958

Ek en Ma op die balkon van Groote Schuur-woonstel 10.

Ma vertel graag hoe ek haar opgewonde kom roep het om vir haar die eier te wys – tot groot vermaak (alles van oudste babas is mos vermaaklik en slim en oulik) besef sy toe dat die nul van nommer 10 op die voordeur my eier is. Wat minder vermaaklik was, was toe ek en my buurmaat, klein Billy ‘n swaar deurstop oor die balkonmuur  deur ‘n geparkeerde motor se voorruit gegooi het. Ter verdediging moet ek darem meld dat ons nie oor die balkonmuurtjie kon sien nie (dit lyk my die balkonmuur is later jare met tralies vervang). Ek onthou die uitleg van die woonstel, die rakke in die kombuis en die ou roomkleur Bell-radio op die yskas. Die radio bring krakerige herinneringe van Pa wat na sportuitsendings luister en Ma na U Eie Keuse en Springbokradio se middagvervolgverhale.

Ma vertel ook dat ek as tweejarige, sonder dat ek oor die muurtjie kon sien, karre onder in die straat slegs aan die enjingeluide kon identifiseer. By nabetragting moet ek toegee dat dit dalk tog nie so moeilik was nie. Destyds het die karre verskillend geklink. Daar was die Ford V8’s (wat anders geklink het as ‘n Packard “straight eight”) en die kenmerkende tweeslagenjin van die DKW’s en wie ken nou nie die geluid van ‘n Kewertjie nie.

Die parkeervierkant in die woonstel se agterplaas is die agtergrond van ‘n nagmerrie wat ek as peutertjie gehad het. In my droom is ek net so teen skemertyd alleen in die agterplaas toe ek ‘n kat gewaar. Nie sommer enige kat nie! Hierdie kat loop op sy agterpote, voorpote uitgestrek met ontblote naels en met so ‘n dreigende, onheilspellende uitdrukking op sy gesig. Gloeiende oë en ontblote slagtande. Hy staan tussen my en die trappe en probeer my in ‘n hoek vaskeer. Ag, ek was al in die hoërskool toe voel ek steeds nie gemaklik om alleen met ‘n kat gelaat te word nie.

Kat

Vanaf die balkon het ons ‘n goeie uitsig op die ou Klipkerk, net oorkant die straat, gehad. Die gemeente is in 1919 gestig, Nuwe babasussie is in 1958 daar gedoop. Drie druppels water op die klein voorkoppie. Ten spyte van ons baie kort verblyf en my brose ouderdom destyds, het die kerkgebou ‘n blywende indruk gelaat.

Klipkerk

Ek was nog nie drie nie toe ons daar weggetrek het – na ‘n huis in Dan Pienaar.

Jare later het my pad weer met die ou kerk gekruis toe my toekomstige bruid en haar ma in daardie gemeente was – NG gemeente Bloemfontein-noord. Ons het, as jong verliefdes, dikwels Sondagaande nuwe herinneringe daar geskep.

En toe, op een heerlike herfsoggend in 1983, is ons daar getroud. Die prentjie van die pragtige bruid wat in die paadjie van die Klipkerk na my toe aangeloop kom en die stuwende note van die troumars wat die gebou vul, sal nooit uitgewis word nie.

Op die trappe van die blou-grys ysterklipgebou is ons toegevou in ʼn confetti-wolk. Sy was by my ingehaak en ek het vlugtig na die woonstelgebou oorkant die straat geloer.

Na die balkon van nommer 10. En ek kon nie help om die kat raak te sien nie – die een wat in die sonnetjie op ʼn vensterbank gelê en slaap het.

Klipkerk 1983

Advertisements