‘N VRYSTATER IN BENFLEET

Byna elf jaar gelede het ons van ‘n naburige dorpie (village) na Benfleet, Engeland verhuis – ons eie huis. Niemand sal Benfleet as ‘n toeristedorpie beskryf nie, die hoofstraat is maar bra vervelig met die gewone winkels en wegneemeetplekke en hier is, op die oog af nie werklik enige besienswaardighede nie.  Die hele dorp is omtrent die grootte van ‘n gemiddelde voorstad in Pretoria.

Uitsig van watertoring

UITSIG OOR BENFLEET VANAF DIE WATERTORING MET ‘N PLAAS OP LINKS EN DIE HOOFDORP IN DIE VERTE. DIE HUISE OP REGS IS NA DIE INGANG VAN BEFLEET

Delf mens egter so effens dieper, ontvou ‘n heel interessante geskiedenis.

Benfleet is in Essex, reg oos (so 40 kilometer tot in die buitewyke) van Londen langs die Teemsrivier waar hierdie bekende rivier in die Noordsee uitmond. Die naam kom van die Saksiese setlaars wat in die vyfde eeu hier kom nesskop het. Hulle het die gebied Beamfleote genoem – boomryke stroom. Oor die jare heen het die naam verdraai geraak tot die stasie met die koms van die spoorweg in 1855 amptelik Benfleet genoem is. Die stroom is ‘n vertakking van die Teems en het vir baie jare handelskepe met ware van Europa en elders na die gebied gebring. Onder die parkeerterrein van die ou Hoy and Helmet pub, wat teenaan die stroom is, is daar ‘n doolhof van tonnels wat baie jare gelede gebruik is om alkohol (belastingvry) van die skepe af in te smokkel.

hoyandhelmetpubsouthbenfleet

DIE EEUE OUE HOY AND HELMET PUB

Die naam, Hoy and Helmet verwys ook na die dorpie  se verbintenis met skeepsvaart, waar Hoy ‘n tipe skip was en Helmet die versterkte boeg van die skip om in laagwater te kan vaar. Vandag is dit meestal net seiljagte, huisbote en motorbote wat in die getystroom gesien word.

Church_Corner_0028

‘N OU FOTO VAN BENFLEET SE HIGH STREET MET NOG ‘N OU PUB, DIE ANCHOR INN OP REGS EN DIE OU KERK WAT AGTER DIE BOOMTOPPE UITSTEEK.

Net langs die Hoy and Helmet is daar ‘n monument om die Slag van Benfleet tussen die Vikings en die Saksers in 894 te herdenk. Tydens opgrawings met die bou van die treinstasie, is op talle uitgebrande Vikingbote en geraamtes uit die veldslag afgekom. Om die oorwinning oor die Vikings te vier, het die Saksers destyds ‘n houtkerk nie ver van die slagveld af nie gebou. Die fondasies is later gebruik om ‘n permanente klipkerk te bou – ‘n gebou (met uitbreidings oor die jare heen) wat vandag, na 1 100 jaar steeds staan en as kerk gebruik word.

stmaryschurchsouthbenfleet

ST MARY’S CHURCH, BENFLEET WAT AL MEER AS ‘N 1000 JAAR OUD IS.

Een van die voetslaanpaaie waar ek gereeld my gemoed gaan skoonmaak, lei na die Hadleigh Country Park – ‘n enorme park met woude en selfs die ruïnes van die ou Hadleigh-kasteel waar die onbeperkte uitsig vir myle ‘n blik gee op die Teems, Noordsee en omgewing. Hierdie einste park het ook ‘n moderne bergfietsbaan – ‘n nalatenskap van die 2012 Olimpiese spele toe wyle Burry Stander Suid-Afrika se naam tydens die kompetisie hoog gehou het.

So van kastele gepraat. Benfleet se watertoring, wat in 1903 voltooi is, waak as ‘n indrukwekkende 90 meter hoë baken oor die dorpie. Mense wat weet, vertel dat dit spook in hierdie swierige toring wat gebou is in die Romaanse styl om soos ‘n kasteel te lyk. Maar dis blykbaar ‘n vriendelike, ondeunde spook.

Watertoring

BENFLEET SE WATERTORING

Benfleet was in 1952 in die nuus toe ‘n Meteor vegvliegtuig hier neergestort het. Wonder bo wonder is niemand beseer nie, maar ‘n hele klompie huise is beskadig en blykbaar het iemand se hoenderhok met die inhoud daarvan oor ‘n groot gebied gesaai gelê. Talle huise dra ook nog letsels van Duitse bomme uit die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste huise is oor die jare heen herstel, maar sommige hou die letsels as herinnering aan ‘n vergange era. John en Paddy oorkant die straat is nou al in hulle tagtigs en het hier grootgeword. As jonggetroude paartjie het hulle in 1956 die nuutgeboude huis betrek en dra elke somer vir ons vrugte van die ou vyeboom in hulle tuin aan. Die huis is op ‘n bult met ‘n ver uitsig oor die omgewing. Dit verklaar hoekom daar vandag nog ‘n platform is waar daar ‘n kanon en soeklig tydens die oorlogtyd was. Paddy vertel hoe die soldate vir hulle, as klein kindertjies, die pad met daardie yslike lig verlig het wanneer hulle met ‘n slee in die sneeu teen die helling af pret gehad het.

Laerskool

BENFLEET LAERSKOOL

Terloops, einste Paddy het ‘n waterverfskildery wat haar ma as jong Britse meisie in Pretoria tydens die Boereoorlog geverf het. Haar pa was as soldaat daar gestasioneer. Die skildery gee ‘n pragtige beeld van Meintjieskop en die Groenkloofarea (sonder enige huise) van die gebied waar die Voortrekkermonument later gebou sou word, af.

Advertisements

9 thoughts on “‘N VRYSTATER IN BENFLEET

  1. Jo, ‘n mens besef eers hoe kort jou tyd op die aarde is wanneer jy gekonfronteer word met geboue en ‘n dorp waarvan die geskiedenis meer as ‘n 1000 oud is. Dit is ‘n interessante bydrae en ek het lekker gelees, dankie.

    • Dit is werklik so. Wanneer ek oor ‘n ingemesselde klip streel, dan kan ek nie help om te wonder oor die omstandighede en die lewe van die messelaar wat honderde jare tevore gestaan het waar ek nou staan nie (en wat deur sy kop sou gaan as hy ‘n toekomsblik kon kry van die moderne omgewing waarin sy handewerk nou is). Dankie vir jou mooi opmerking.

  2. Dit was nou lekker om so bietjie meer oor die plek te lees waar julle bly……natuurlik het jou skryfstyl my gebind om tot die einde te lees. As dit moontlik is …..sal jy seblief ‘n foto kan plaas van daai skildery?

    • Dankie vir die saamkuier ou Flitsliggiie! Jy is reg. Soms is dit tog ook lekker om so op jou eie te verken en uit te vind (soos ek in hierdie geval gedoen het). Natuurlik was dit ook lekker om my “ontdekkings” aan te vul met eerstehandse vertellings van langgevestigde inwoners.

    • Dit is so, Perdebytjie. Ons was ‘n tydjie gelede in die kusdorpie Rye waar die gemeente ook hulle 1000ste bestaansjaar gevier het. Maar, nog iets wat mens tref is al die bloedvergieting wat so oor die eeue heen plaasgevind het.

      • Ja die ewige bloedvergieting,wat vandag nog orals plaasvind…sal dit ooit ophou?Nogmaals dankie vir jou interessante blog..ek hou van oud en lank gelede.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s