‘N SPOOKSTORIE? WIE SAL WEET

‘N SPOOKSTORIE? WIE SAL WEET

Miskien was hulle te moeg, daardie eerste nag in die huis. Te moeg om enige iets op te let. Abrie het ook nie regtig geweet dat daar iets is om op te let nie. Die ou Victoriaanse huis in Lime Avenue was hulle eerste tuiste in die nuwe land – vir hom en Stiena. Sodra die skole en vervoer en wat nog alles uitgesorteer is, sal die kinders ook kom.

Die nuwe bure is so Engels as kan kom, stoere Pommies, Allan en Mary Gifford. Nuuskierig oor die buitelandse bure, vra hulle uit:

“Nou wat bring julle uit sonnige Suid-Afrika na ‘n nat land soos Engeland?” Praat Engels, natuurlik.

“Aag, ons het net bietjie kom verken, ʼn gesinsavontuur,” antwoord Abrie – ook natuurlik in (Vrystaatse) Engels, met die ratte van Haar Majesteit se taal wat maar sleg gekrap word. Gooi die rooitaal sommer so sonder clutch.

Enkele weke later…

Stiena is besig om te pak vir ʼn vinnige besoek aan Suid-Afrika. Oudste word dertien daar in die vaderland en heelwat moet nog gereël word vir die kinders se koms na Engeland. Abrie sou graag wou saamgaan, maar hierdie kant is daar ook nog een en ander te doen vóór die gesin voltallig is. Reënwolke pak saam en hy jaag teen tyd met die grassnyer in die agtertuin voordat hy vir Stiena lughawe toe moet neem. Hy wonder wat die groot, dooie kol op die grasperk veroorsaak het. Dit lyk amper asof iets hier gebrand het. In een van die beddings het hy anderdag ‘n half-uitgebrande polisiekenteken opgetel.

Op die boonste verdieping swaai die kamervenster oop: “Was jy nou hier in die huis?” Stiena moet hard skreeu om sy aandag te kry.

“Nee, hoekom?”

Sy trek haar kop weer by die venster in. “Aag, sommer niks. Gedog ek hoor iemand hier.”

‘n Onrustigheid knaag al ‘n paar dae lank aan hom. Hy kan nie sy vinger daarop plaas nie en het dit nog met niemand bespreek nie, maar daar is iets aan die huis. Iets… onsigbaars.

Laataand, alleen terug ná die afskeid op die lughawe, kry ʼn grillerige gevoelte vir Abrie die eerste keer ernstig beet. ‘n Vreemde reuk hang al heelaand in die lug, amper soos Vicks of iets. Uitgestrek op die bank, met die koerant op sy bors, skud hy die gevoel af en skryf dit toe aan die alleenheid in die leë huis en die verlange na Suid-Afrika. Die vyf jaar oue bottel KWV wat hy saamgebring en vanaand oopgemaak het, het ook bygedra om sy gemoed broos te maak.

Dis kort voor middernag toe hy met sy KWV-verlanglyf teen die trappe op slaapkamer se kant toe staan. Hier so op die vierde, vyfde trap rond kruip daar ʼn ongemaklikheid in sy gebeente in – daardie kriewelrige gevoel wanneer jy oortuig is dat iemand vir jou kyk, maar daar’s niemand nie. Hy draai om. Niks, niemand nie. Die wind is onrustig en waai jong akkertjies van die groot ou boom af op die sinkdak. Onwillekeurig trek hy sy skouers op as ʼn tinteling agter sy nek afrol en sy arms hoendervleis uitslaan. Hy is bly die kinders is nie hier om hulle sterk, dapper pa se onrustige koueknoppies te sien nie.

Diep die nag in skrik hy wakker. Iemand huil. Dit kón ‘n droom gewees het. Verbeel hy hom of ruik hy rook?

Die huis brand dalk!

Die ou verskoninkie vir ‘n flits wat hy by Poundsavers gekoop het se straal sukkel om deur die donker te sny. Abrie beweeg behoedsaam van vertrek tot vertrek. Alles lyk egter normaal, rustig. Daar is niks, die rookreuk is ook weg. Dis net die verdomde trap… die trap wat bly kraak lank nadat hy van die laaste trappie af is.

Die res van die nag rol hy onrustig in die bed rond. Die trap bly kraak asof iemand daar op en af beweeg.

Teen dagbreek staan hy soos ‘n ou koei uit bed uit op, gatkant eerste. Suf en moerig gaan sit hy met ‘n beker koffie op die stoep, oë op skrefies teen die skerp oggendlig. Later die oggend in die tuin, met ‘n snoeiskêr in die hand en die helder son op sy skouers, skuif hy die slegte nagrus op die agtergrond. Allan wink hom heining toe en nooi hom vir tee.

Mary se skons met aarbeikonfyt en dik room dryf die laaste tamheid uit sy lyf  en hy huiwer nie toe sy die bord vir ‘n tweede keer voor hom hou nie.

“Dit moet ook maar sleg wees om so alleen in die huis te wees. Jy mis seker vir Stiena en die kinders,” pols sy.

“Ja, ek mis hulle baie, maar ek is nie so seker dat ek alleen in die huis is nie,” grap Abrie. Sy grappie gaan sit egter vinnig op ‘n stokkie toe hy sien hoe Allan en Mary vir mekaar kyk. Heel betekenisvol.

“Wat?” vra hy.

“Neeee… nee-nee daar’s niks,” gooi Allan wal.

Hy oortuig Abrie nie.

“Allaaan, dit was ‘n kyk met betekenis wat jy en Mary vir mekaar gegee het. Vertel.”

Hulle kyk weer na mekaar, so met sulke sal-ons-of-sal-ons-nie-gesigte.

“Toe…” por Abrie. “Ek kom van Suid-Afrika af, ons kan enige iets vat.” Hy vat ‘n groot hap van die skon en lek die room van sy lippe af.

Allan sug, pers sy lippe en kyk eers ‘n lang ruk deur die venster na die huis langsaan. Sy woorde skok Abrie in ‘n koustilstand in. “Die mense wat voor julle in die huis gebly het, het… het selfmoord gepleeg.”

Abrie sit bewegingloos met ‘n mondvol skon, loer dan vinnig na hulle huis anderkant die heining en vra: “Binne-in die huis?” Skielik is hy nie meer so seker of “ons Suid-Afrikaners álles kan vat nie”.

“Ja, sy was ‘n pragtige mens – Emily, ‘n verpleegster. George was ‘n polisieman. Sy’t hom altyd Georgie genoem enne… toe vind sy uit dat hy haar verneuk. Saans kon ons hoor hoe hulle baklei. George het baie aande laat gewerk. Een middag het sy al sy goed in die agtertuin uitgedra en dit daar op die grasperk aan die brand gesteek. Dieselfde aand het sy ‘n oordosis pille geneem.”

Mary neem oor. “Ons dink sy het herbesin, want dit wil voorkom asof sy, bo uit die slaapkamer, trappe toe geloop en in ‘n bedwelmde toestand daar afgeval het. George moes laataand by die huis gekom het en… ja, hulle het hom in die bad gekry, met gesnyde polse.

Abrie het intussen weer begin kou en die skon, wat nou bietjie droog vir sy keel geword het, met tee afgesluk. Hy besef sy mond hang oop. “En Emily?” vra hy.

“Emily is dood by die onderpunt van die trap aangetref”.

Ná tee stap Allan saam met Abrie tot by die huis. “Jy moet praat as jy ons nodig het… jy weet.” Hy talm by die deur terwyl Abrie oopsluit, staar ‘n oomblik na die trappe en draai om. ‘n Tikkie huiwering om die deur agter hom toe te maak, kom sit in Abrie se lyf.

“Aag kom nou!” praat hy met homself. “Jy was in die bosoorlog man, grensvegter. Uitgevrete lummel van ‘n man, jou kinders se held. Watse banggatgeit is dit nou!”

Vroegaand maak hy homself voor die TV tuis. Met ʼn advertensiebreek gaan skink hy gou ʼn vars KWV’tjie. Skoon, sonder ys. Terug in die sitkamer steek hy vas. Die TV is dan nou afgeskakel.

“Koos Wye Voete, moet jy nou nie vanaand kom staan en moleste maak nie! Hoekom sou ek die TV afgeskakel het?”

Onrustigheid en daardie beklemmende gevoel wat hom nou nooit los nie, maak dat Abrie sommer in die sitkamer slaap, met al die ligte aan. In die gemakstoel veg hy teen die vaak en die intimiderende stilte – ʼn stilte wat soos dik rook in die huis hang. Elke geluidjie word donderend versterk. Hy beur regop en kyk vlugtig om hom rond. Sê nou ʼn vrou in ʼn lang, wit rok met skuimbolle om die mond kom die sitkamer ingestap. Of ʼn meisie met lang, swart hare kruip hier uit die kaggel uit, amper soos in daai fliek wat hy anderdag gesien h…

Hy spring orent. Wat was dit? Daar was beslis iets bo in die slaapkamer. Of dalk die badkamer. ʼn Duidelike gestamp.

Twee katte gryp mekaar skellend buite voor die sitkamervenster. Die wind waai die akkertjies weer op die dak rond.

Met dagbreek is Abrie skaamkwaad vir homself. Hoe pateties kán mens wees! Gelukkig was hier niemand om dit te aanskou nie. Dis ʼn helder, sonnige somersdag.

Abrie en die apostel Tomas het iets in gemeen. Soos die apostel wil hy ook ʼn ding sien voordat hy dit glo – daar is ‘n rasionele verklaring vir alles. So glo hy.

Buite sing die voëls ‘n somerlied terwyl hy soekend deur die huis dwaal. In die slaapkamer maak hy homself ontvanklik vir enige sensasie. ʼn Geluid, ʼn tinteling – enige iets. In die flieks maak ‘n ou se asem mos sulke wolkies wanneer daar ‘n rustelose gees in die omgewing is. Gewoonlik het die gees ‘n gat in die kop of grys-blou lippe en donker kringe om die oë. Abrie voel en sien egter niks. Heel waaghalsig en dapper met die helder daglig wat deur die vensters skyn, gaan hy in die badkamer op die toilet sit. Ingedagte staar hy na die witgeskropte bad wat geen leidrade gee van die treurspel wat hier afgespeel het nie. Hy luister, voel, kyk rond. Niks. Stadig klim hy die trappe af, tot by die onderpunt en staar ‘n ruk na die houtvloer voor die eerste trap waar Emily blykbaar gelê.

Dan draai hy om en bekyk die stel trappe. Die trap lyk maar soos enige trap in helder daglig. Hoekom sal “iets” nou net saans, wanneer dit donker is, begin rondloop? Soos in die grilflieks. Hy gooi sy arms wyd oop, kop agteroor met sy oë toe om optimaal “ontvanklik” vir enige iets te wees. ‘n Sagte briesie vee oor hom, kompleet soos iemand wat in sy nek blaas. Die Vicks-reuk wat hy so dikwels kry, bereik hom weer.  Die trap kraak. Sy een oog is dadelik oop, soekend. Die ander oog wonder nog of hy wil sien, maar spring onmiddellik wyd gesper in fokus. Aan die bopunt van die trap, gehul in  ‘n stralekrans van skerp sonlig deur die badkamervenster, is die silhoeët van ‘n vrou duidelik sigbaar. Agter haar is lopende water uit die badkamer hoorbaar. Badwater…

Die dapper grensvegter se moed begewe hom. Twee kombuisstoele word op pad agterdeur toe platgehol. Buite in die tuin jaag sy asem soos ‘n oorywerige blaasbalk. Sy hart bons soos ‘n Lister waterpomp op steroïede terwyl sy oë van venster tot venster swiep. Hy oorweeg dit om by Allan te gaan tee drink. Om sommer dalk daar te bly. Tot Stiena terug is. Die lopende water in die badkamer pla hom egter. As die prop in die bad is en die huis oorstroom… hoe gaan hy dit verduidelik?

Wat sê hy vir die kinders? “Pa was bang vir ‘n spook, toe hol hy by die huis uit.”

Nee! Hy haal diep asem en sluip weer die huis binne, op die met trap. Hy praat met homself:

“Miskien is sy vriendelik. My magtag, ek meen, ék het haar niks gemaak nie… ek was nog in Suid-Afrika toe hier moeilikheid was”.

Daar’s nie water wat loop nie. Alles lyk normaal.

Dis sterk skemer toe Abrie vir hom ʼn knertsie sonder ys skink en voor die TV stelling inneem. Vanaand gaan hy beslis nie weer in die stoel slaap nie. Die boonste verdieping se ligte is reeds aanskakel. Die TV se klank is hard gestel; hy wil niks anders as die TV hoor nie.

Só verdiep in ‘n opname van ʼn ou Muhammad Ali geveg raak hy, dat dit eers met ʼn tweede oogopslag tot hom deurdring. Die stoel oorkant hom in die hoek se kussing is ingeduik, so asof iemand daar sit. Abrie staar snaarstyf na die groen kussing. As daardie kussing die geringste beweging gaan maak, maak hy vanaand ʼn nuwe deuropening hier in die vertrek. Die ander stoelkussings is glad. Hy maak sy glas leeg en vra met so ‘n dunnerige stemmetjie:

“Emily, soek jy iets? Moet ek vir jou iets doen?” Hy voel belaglik. Lank staar hy so na die kussing, maar niks gebeur nie.

“Ag jong, dit is seker maar soos jyself nog laas daar gesit het,” probeer hy homself gerusstel. Sy gerustheid verbrokkel egter soos  ʼn rotsstorting.

Veraf, fluisterend soos die nagwind, styg dit duidelik hoorbaar bo die TV-klanke uit:

“Geooorgiiiie…, Geooorgiiiie…”

Abrie stel vinnig die TV sagter en luister. Sy hele lyf slaan hoenderknoppies uit, die hare op sy arms staan regop. Dit lyk asof die armhaar-volkslied gespeel word. Die twee op sy kop lê plat, dalk te bang om regop te kom.

Miskien was dit oor die TV, want nou is dit doodstil. Té stil en hy stel die klank summier harder. Ook dit maak hom onrustig, want nou kan hy nie hoor as iets rondom hom gebeur nie. Hy is skielik so bang, dat sy klere klam voel. Bang waarvoor? Hy weet nie. Dit is juis die probleem. Hier is niks konkreet, tasbaar, sigbaar nie, maar tog… Hier is iets, iets onbekends. onheilspellends. Die hele vertrek ruik skielik so medisynerig.

Die stoelkussing is nie meer ingeduik nie. Abrie se asem maak wasemwolkies. Hy wéét sommer iemand staan agter hom, hy kan haar ruik.

Sonder om enige ligte af te skakel, hardloop hy die trappe drie-drie op. Slaaptyd is sommer nóú.

‘n Sielsverdrywende kreet onder uit die sitkamer laat elke greintjie weerstand in hom verbrokkel. Met een beweging gooi hy die deur in die opening en duik onder die lakens in. Sy hart ruk sy borskas aan flarde. Hy ken nie sulke vrees nie en weet nie wat mens in so ‘n situasie doen nie. Hoe verdedig jy jouself? Dis nie ‘n terroris in Angola wat jy kan sien en aanvat nie.

Iemand haal in die vertrek asem, hier by hom op die bed. ‘n Verlammende vrees verhoed hom om sy oë oop te maak. Hy kan voel hoe sy are toetrek… die bed kraak, iemand beweeg en laat die lakens ritsel. Sy asem fluit soos ‘n konsertina wat wind sluk. Vingers van ‘n sagte hand vou om sy arm.

“Hei, jy skreeu in jou slaap…”

Abrie se oë fokus nie dadelik nie.

“Stiena! Hoe… wanneer het jy teruggekom?”

“Teruggekom, van waar af?”

“Van Suid-Afrika af!”

“Huh? Hou op nonsens praat en gaan maak eerder vir ons lekker koffie.”

Op pad terug slaapkamer toe, nou helder wakker met twee koppies koffie in die hande, steek Abrie voor die sitkamerdeur vas. Sy brein fladder deur al die koplêers op soek na leidrade.

Wat is droom en wat is werklikheid? Op die koffietafeltjie staan die halwe bottel KWV en die bordjie skons wat Mary gister saamgestuur het. Wie sou die bankkussings op die groen stoel in die hoek so opgestapel het?

Versigtig om nie koffie te mors nie, klim hy die trap op slaapkamer toe.

“Stiena, weet jy iets van die kussings in die…”

Sy woorde stol.

Niemand is in die kamer nie. Die bed is netjies opgemaak. Abrie se baadjie lê op die bed soos hy dit die vorige aand daar gelos het.

Sy selfoon, onder in die sitkamer, kondig ʼn boodskap aan. Hy gaan ondertoe om dit te lees:

“Hi, mis jou. Koud in Pretoria. Kinders stuur groete en drukkies. Lief vir jou! Stiena.”

Abrie let nie die figuur op wat agter hom teen die trap af beweeg nie…

SPOOK

GELEEN VAN DIE INTERNET AF.

Advertisements

19 thoughts on “‘N SPOOKSTORIE? WIE SAL WEET

    • Baie dankie ou perdebytjie. Alhoewel ons werklik kriewelrig in daardie huis gevoel het (almal van ons) het ek ook maar lekker aangedik. Die vorige inwoners het wel selfmoord daar gepleeg en ek het dit geweet, maar ek het eers lank nadat ons daar uitgetrek het vir vroulief en kinders daarvan vertel. Ek wou sommer weet wat hulle beleef het dat hulle so ongemaklik gevoel het, want daar was niks snaaks aan die huis self nie. Vreemde goed het toe uitgekom.

  1. O hoe yskoud gril ek nou hier in die heerlike namiddaghitte. By ons ou huis in Bloemfontein het dit heerlik gespook en my seun (toe sowat 4 jaar oud) het knaend gepraat van die “oom” in sy kamer. Ons destydse buurman, toevallig ook Allen, het ons toe eers ingelig dat die vorige eienaar homself daar geskiet het. Dankie vir die lekker vertel.

    • Dis nou interessant. Waar in Bloemfontein was julle huis? (Teen hierdie tyd weet jy ook seker dat ek ‘n oud-Bloemfonteiner is en enige iets van Bloemfontein het dadelik my aandag. Ek het in Hospitaalpark grootgeword en na my troue in Langenhovenpark gebly, Vriende van ons daar teen Naval Hill het ook beweer dinge is nie pluis in hulle huis nie.)

      • Ons was in Benaderylaan naby die Pick n Pay en ook later in Hospitaalpark. My kinders was in die Fichardtpark-skole. Ek het in die middestad gewerk. Wat praat ek tog nou? Ek het my lewe lank in die middel van baie stede gewerk – my man was ‘n staatsamptenaar en ons het baie getrek.

  2. Ek het lekker gelees, baie goed geskryf. Maar nou is “spoke” in my wakker en hulle is nou-net tot stilte gedwing… oi, nou wonder ek van voor oor al die “dinge” in ons nuwe huis…. *sug*

  3. Well written Andre, I could visualise Abrie, having a double KWV to help him getting rid of the jitters, and there is nothing like a real English tea with scones and cream for comfort eating.
    The lasting legacy of enjoying Abrie’s experience is, now I’m spooked and listening to the floor boards creaking!

  4. Ek is een van die wat die vloek het om ‘hulle’ te kan sien. In die losieshuis waar ek aan die begin gebly het het daar ‘n meisie geloop wat vreeslik netjies was. Ek sluit die deur met ‘n slot-sper ook op Sondag oggend en as ek 70 minute later terug is van die kerk is sy daar besig om die laaste van Saterdagaand se glase en bekers wat sy gewas het af te droog.
    Ek vra toe een aand met die predikant se besoek hoe mens sulke goed moet verstaan . Hy vertel my dat ek my verbeel en dat daar niks van die aard is nie
    Ek vra haar toe om vir hom ‘n glas aan te gee en toe die glas so tee van die toonbank is is hy vinniger as Fiasconaro by die deur uit.

    Snaaks genoeg het hy my nooit weer kom besoek nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s