CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

Olieberging

‘n Blik oor die Teems op die gasaanlegte.

Min skrywers kon nog presies verwoord wat daardie noodlottige nag in 1953 op Canvey gebeur het. Ek sal dit ook nie kan doen nie – ek kan ook maar slegs die feite weergee.

Ter agtergrond:

voelpark bome

Een van die natuurbewaringsgebiede op Canvey in laat herfs.

Canvey Island is een van ons buurdorpies hier in Engeland en word gesien as ‘n eiland omdat dit van die res van die land afgesny is deur vleilande, moerasgedeeltes en vertakkings van die Teemsrivier in die riviermonding,. Daar is tans slegs twee roetes van die eiland af en wanneer een van hierdie paaie deur padwerke of ‘n ongeluk versper word, is dit verkeerschaos. Vandag woon daar ongeveer 38 000 mense op hierdie minder gegoede eiland wat heelwat industrieë huisves en bekend is vir sy petrochemiese berging- en verskepingfasiliteite.

Ou pier

‘n Vervalle vasmeerplek vir bote met oorblyfsels van ‘n skip in die modder.

Vondste tydens opgrawings toon bewyse van nedersettings tydens die steen-, brons- en ystertydperk. Jare gelede is die eiland hoofsaaklik as weiding gebruik vir veral skaap. Sedert die Romeinse tye tot in die Middeleeue is soutwinning, teel van skulpvis en graanverbouing op die eiland beoefen met markte vir surplusprodukte in Londen asook die naburige Colchester (wat die oudste aangetekende dorp in Brittanje is en op ‘n stadium die hoofstad van die Romeinse provinsie, Brittanje, was) en Chelmsford. (Terloops, in Chelmsford het die befaamde Marconi die wêreld se eerste radiofabriek gebou en die eerste toetsradio-uitsendings gedoen – met ‘n opname van Nellie Melba – wat gelei tot tot die totstandkoming van die BBC).

Die Hollandse invloed op die eiland is vandag nog sigbaar in straatname en enkele Hollandse styl huise. In 1622 is daar besluit om met Hollandse kennis van landherwinning ‘n seemuur rondom Canvey te bou en land te herwin. Nagenoeg 15 km² is herwin en ná voltooiing van die projek het talle van die Hollandse werkers agtergebly.

Canvey is besonder plat en lê gemiddeld 3 meter onder die hoogwatermerk. Die hoogste punt op die eiland is ongeveer ‘n halwe meter bo seevlak wat die gebied geweldig kwesbaar teen oorstromings maak.

Op Saterdag, 31 Januarie 1953 het mense laatmiddag van sportgebeurtenisse, die fliek en kuierplekke by die huis gekom om vir aandete aan te sit. Regoor Engeland het dinge stadigaan beter begin gaan ná die verwoestende effek van die Tweede Wêreldoorlog. Op Canvey het 11 000 mense gewoon.

Andrew Manser was een van hulle, destyds ses jaar oud en onthou die aand soos gister:

“Ons gesin het aan tafel oor die middag se fliek gesit en gesels en die res van die aand bordspeletjies gespeel terwyl ons radio geluister het. Buite het die wind erg gewaai. Dit was winter en snerpend koud. Soos gewoonlik is ons kinders teen negeuur almal bed toe gestuur. Ons was ses kinders en het twee-twee in ‘n bed geslaap.

‘n Geweldige storm uit die noorde het in die Noordsee af beweeg en kusgedeeltes noord van Canvey, België en Nederland reeds met volle geweld getref. Wat die storm ongewoon gemaak het, is dat dit gepaardgegaan het met ‘n buitengewone hoë gety. Twee uur die nag het die storm Canvey getref met water wat by plekke reeds twee myl land-in gestroom het. Daar was weinig vooraf waarskuwing, hoofsaaklik as gevolg van swak kommunikasiestelsels en ook omdat daar nie werklik ‘n enkele beheerliggaam verantwoordelik was om waarskuwings van hierdie aard uit te stuur nie.

Water het teen ‘n geweldige tempo huise begin oorstroom. Mense in tweeverdiepinghuise het almal na die boonste verdieping geskarrel. Ander in enkelverdiepinghuise is geforseer om in die ysige nagtemperatuur op hul huise se dakke te klim, wagtend op hulp. Karavaanhuise met angsbevange, gillende mense in het die strate begin afdryf. My pa het besef dat ons sou verkluim en het ‘n gat in die plafon van ons enkelverdiepinghuis gemaak. Een vir een het hy ons kinders deur die gat gestoot en beveel om styf aan die balke vas te hou. My ma kon nie opklim nie en het met die twee jongstes in ‘n stootkarretjie in die kombuis gebly terwyl my pa en die laaste kind deur die gat geklim het. Om ons kalm te hou, het Ma ons liedjies laat sing. Ons was koud en bang.

Op een stadium moes my boetie aan die slaap geraak het en het deur die plafon tot op die kombuisvloer geval. Die water was toe seker so heuphoogte. Op pad ondertoe het hy sy kop teen die gietyster koolstoof gestamp. My ander broer het sonder om twee keer te dink, agterna gespring en hom uit die water op die kombuistafel getel. Bloed het oor sy gesig gestroom.  Hy het ‘n paar keer geroggel en het toe stil geraak. Ek kon sien hy’s dood. My ma het van skok, angs en paniek in soort van ‘n droewige beswyming geraak. Sy het die stootkarretjie heeltyd sussend gewieg – vorentoe, agtertoe tot ek besef het dat die water te diep is, die water kom oor die rante van die stoorkarretjie. Albei die kinders het in die stootkarretjie verdrink.

Niks in ons hegte gesin was daarna ooit weer dieselfde nie.”

huis en wal

Opruim na die groot vloed

Nog ‘n oorlewende onthou:

“Ek is seker een van min mense wat die hele aaklige gebeurtenis sien ontvou het. Ek was 20 en het saam met my pa en ma op ‘n boothuis gewoon. Ons ken die see en kon daardie oggend al sien dat die gety anders as gewoonlik was. Vanaf ons boothuis kon ons gedurende die nag sien hoe die keerwalle meegee en water land-in begin stroom het. Ons kon die hulpkrete hoor en ek het met groot gesukkel my roeiboot oor die seemuur getrek. Dit was bitterlik koud. Die toneel van verwoesting anderkant die muur was absoluut onbeskryflik en die hulpkrete sal vir altyd by my spook.

Ek het dadelik begin roei en verby ‘n huis met ‘n paniekerige man op die dak gevaar. Ek wou hom help, maar hy het my gesmeek om eerder vir sy vrou te soek – hy weet nie waar sy is nie. Ek het om die huis geroei en ‘n vrou in haar nagklere verstrengel in boomtakke gesien. Sy was dood. Verderaan was daar nog hulpkrete en ek het daarheen geroei. Ek het heen en weer geroei en kon 11 mense daardie nag red. Vier van hulle is later as gevolg van blootstelling dood. Teen daardie tyd was ek al totaal uitgeput en my hande het gebloei van die roeiery. Ná ‘n warm drankie by ‘n tydelike sorgsentrum, droë klere en verbande om my hande, het ek weer na die man op die dak gaan soek. Hy was egter dood toe ek daar aankom en tot vandag toe voel ek skuldig dat ek hom nie kon oorreed om in die boot te klim nie. Al die emosies van die afgelope nag het my skielik oorweldig en teen dagbreek het ek handdoek ingegooi toe die hulpkrete begin kwyn en slegs ‘n  grieselrige stilte oor die eiland neergedaal het.”

Met sonop  het 58 mense op Canvey hul lewens verloor. Talle het op die dakke van huise verkluim terwyl ander deur water in hul huise vasgekeer was – terwyl hulle geslaap het. Al langs die kus van Engeland het 307 mense gesterf, 24 000 huise is verwoes of beskadig en 40 000 mense is na veiligheid gebring.

canvey thameside

Toe en nou in Thameside

canvey northavenue

Toe en nou in North Avenue.

straattoneel

Verslae mense aanskou die storm- en vloedskade die volgende oggend.

redding uit huis

Mense word die oggend na die ramp uit huise ontruim.

In Holland en Belgie was die tragedie selfs groter met meer as 1 800 mense dood. In die Noordsee is ongeveer 230 mense op veerbote, skuite en visserbote dood. Meer as ‘n 1 600 kilometer van die Britse kuslyn is deur die storm geraak.

Ná die opruiming op Canvey is dadelik begin met die bou van ‘n nuwe, versterkte beton seemuur. Die muur, wat 23 kilometer lank is, is in 1983 voltooi en in 1993 met ‘n verdere twee meter verhoog.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die seemuur op Canvey Island met ‘n uitbeelding van die noodlottige nag in 1953 op geskilder.

Canvey-Island hoofstraat

Canvey Island se hoofstraat vandag.

Advertisements

9 thoughts on “CANVEY ISLAND SE NAG VAN SMART

  1. Tragedies gebeur, die storie het my nou onwillekeurig laat dink aan die Laingsburg-vloed, sulke menslike tragedies en rampe bly by mens. Goeie en menslike oorvertelling.

    • Dit is waar, Annette – Laingsburg kom dadelik in mens se gedagtes op (in ander lande gaan mense weer ander herinneringe hê). Wat hierdie gebeurtenis verder tragies maak, is dat – soos met die Boereoorlog – nie baie mense daaroor praat nie. Mense het nog aan bomskok gely na die Tweede Wêreldoorlog en was onrustig oor die broeiende koue oorlog en die oorlog in Korea wat dalk weer erge gevolge kon hê. Verder was almal so keelvol vir slegte nuus en het die regering en ander instansies met die opbou van die land, alles in hul vermoë gedoen om die moreel van die volk hoog te hou. Nasionale media het dus nie veel hieroor berig nie.

      Dankie vir jou besoek en kommentaar!

  2. Baie interessant! Die natuur kan woes wees en sulke rampe slaan vinnig op die niks vermoedendes toe. Hoop nie jy besit eiendom in Canvey (of Nederland) nie, nie die plek om te wees as mens lees wat aardverwarming aan die see vlakke gaan doen nie.

  3. Jy kan nie help om te wonder hoe mense so ‘n tragedie kan verwerk dat hulle tog maar weer met hulle lewens kan aangaan nie. Natuurlik sal daar wonde wees wat nie genees nie.

    • Dis baie waar. Wonde en letsels bly baie lank – soos gesien kan word in die onlangse vertelling van die man wat destyds ‘n seuntjie was. Tydens die vertelling kon hy na al die jare nie sy trane terughou nie. Vandag, meer as 60 jaar later is daar egter byna geen teken van die vloed nie – behalwe die monument en grafte.

  4. André, dit is ‘n boeiende weergawe van die tragiese gebeure.
    Jan het my vertel watter skade en lewensverlies hierdie selfde storm in Nederland aangerig het. Ongeveer 1000 mense het omgekom.

  5. Ja, sulke tragedies speel hulle gereeld oor die wêreld af. Deur die TV en internet is ons nou baie meer bewus daarvan. Dankie vir die interessante vertelling.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s