VAN GRONDBOONTJIEBOTTER EN DIE MAU MAU’S

VAN GRONDBOONTJIEBOTTER EN DIE MAU MAU’S

Die brein van ‘n kind is braakland – wees versigtig wat daar gesaai word…

VUUR

WINTER – 1970

Een van my take was om gedurende die wintermaande die antrasietstoof in die sitkamer brand te hou. Dit was ‘n ewige gemors as ek vergeet het om die antrasiet op te vul en die vuur laat vrek het. Want dan moes die stofie afkoel voordat ek al die as kon uitkrap en van vooraf pak – eers ‘n bolletjie koerantpapier of twee, dan ‘n paar droë houtjies en heel bo-op ‘n klompie swart antrasiet-kole. Die geur van die brandende papier en hout het ‘n so ‘n aardse, huislike bekoring gehad. Sodra die vlammende hout die antrasiet aangesteek en rooi laat gloei het, word die houer tot bo met die swart kole gevul. Nou moes ek die stofie net gereeld opvul en die warm chroom-stafie aan die kant met ‘n haak vorentoe en agtertoe pluk sodat die as in die onderste bak kon val om leeggemaak te word.

antrasietverwarmer

Die stofie in die sitkamer se hitte het hele huis warm gehou. Maar, van tyd tot tyd het dit gebeur dat iets – baiekeer my geheue – my verhoed het om die opvulwerk betyds te doen. En dan het die vuur gevrek met die gevolglike skoonmaak en oorpak.

Soos die keer toe die diaken, oom Jan Augustyn sy maandelikse kollekteerbesoek gebring  het.

Ek het laatmiddag van rugby-oefening af teruggekom en was net besig om die laaste assies uit die hoekies van die stofie te vee, toe die voordeurklokkie lui. Gewoonlik het Ma en die oom alleen in die sitkamer sit en gesels, maar daardie dag moes ek noodgedwonge hul gesprek aanhoor terwyl die vuur weer aan die gang moes kom.  Vóór dit te laat en donker raak.

En dáárdie dag het ek gesnap hoekom Pa draaie om die man geloop het. Hy het ‘n negatiwiteit uitgestraal en sy praat, sy liggaamstaal en optrede het nie gemaklik op my lyf kom lê nie.

“Weet Mevrou,” Ma was altyd Mevrou in die gesprek. “Vandag se kinders het darem geen benul waar geld vandaan kom nie.”

Ma het net geglimlag.

“Ek weet nie of dit hier by Mevrou-hulle dieselfde is, maar as ek nou na daardie twee seuns van my kyk… vanoggend hou ek hulle dop terwyl hulle toebroodjies vir skool maak. Hulle smeer eers botter” sê hy met opgestote wenkbroue terwyl hy sy linkerpinkie in sy regterhand toevou, “dan grondboontjiebotter,” ringvinger word by die pinkie gevoeg, “ en dan nog stroop ook.” Die middelvinger word saam met die ander twee vingers vasgevat terwyl hy met ‘n verposing sy blik op Ma vasnael om te sien wat haar reaksie is.

Die drie vingers word weer vrygelaat en in die lug gehou. “Drie smeergoed. En dan word dit sommer nog so dik opgeplak.”

grondboonbotter

Ek het stilweg met die stofie aangegaan terwyl ek die gesprek gevolg het. In ons huis was daar moeilikheid wanneer daar met kos gemors is, maar ons is nooit gerantsoeneer nie. Ons kon enige iets op die brood gesit het. Debbie het selfs al met stroop op polonie geëksperimenteer en daarvan gehou. Pa wou ook proe.

Oom Jan het voortgegaan: “Met vandag se kospryse kan dit mos nie geduld word nie. Wat kos ‘n bottel grondboonbotter? Vyf-en-twintig sent? Dalk al meer. En dan steel die swart goed jou ook nog rot en kaal. Net verlede week vang ek ons bediende weer met suiker wat sy wou huis toe dra. Mens weet nie wat gebeur agter jou rug as jy nie daar is nie.”

25c

Ma het haar bene andersom gekruis en vinnig na die horlosie teen die muur gekyk. Oom Jan was egter nie op liggaamstaal ingestel nie. En toe beweeg die gesprek in ‘n rigting wat selde, indien ooit,  in ons huis gehoor is. Pa het ons geleer om alle mense te respekteer en woorde soos “swart goed” en “k-ff—s” is nooit in ons huis gebruik nie. Groot dele van oom Jan se gesprek het hier in my agterkop lêplek kom kry sodat ek snags daaroor gelê en wonder het.

“Mevrou weet, ons staar ernstige probleme met hierdie klomp k-ff—s in die gesig, laat ék Mevrou vandag vertel. Die goed dink mos nie. Kyk hoe teel hulle aan. Daar is geen verantwoordelikheidsin onder hulle nie. Nee, die baas moet maar sorg as daar nie kos is nie. Of anders roof en moor hulle. Dis mos maklik. Óns werk vir ons goed en húlle kom vat dit net. Kyk hoe gaan dit hier op in Afrika.”

lokasie

Ek het doelbewus my werkpas vertraag. As veertienjarige seun was ek nie regtig op politieke gesprekke ingestel nie, maar om die een af ander rede het hierdie gesprek my aandag gevang. Dit kon die woord “oorlog” gewees het.

Oom Jan het voortborduur. “Dié mense is meesters as dit kom by stamgevegte en oorlog en die aanmoediging van politieke onrus. Plaas dat hulle eerder hul energie spandeer op persoonlike ontwikkeling of gemeenskapsontwikkeling of die aanleer van vaardighede of enige iets opbouend. Maar nee, nou saai hulle net verwoesting en onstabiliteit. Kyk nou byvoorbeeld na die onlangse gemors daar in die Kongo en wat die Mau Mau’s destyds daar in Kenia aangevang het. Weet Mevrou waar kom die woord Mau Mau vandaan?”

mau mau

“E-em, is mos ‘n bergreeks of ‘n rivier daar in Kenia, is dit nie?” antwoord Ma, maar ek kan aanvoel dat hy nie saamstem nie.

“Jaaa, baie mense dink so. Maar eintlik is dit ‘n nabootsing van die geluid wat hiënas maak wanneer hulle vreet, nè.” Hy knik sy kop ‘n paar keer.

“Oo, is dit so?” sê Ma.

“Ja, min mense weet dit. Hiënas, aasdiere, lafhartige diere wat aas op die kos waarvoor ander diere hard moes werk. Of hulle sal klein of swak weerlose diere aanval. Dis wat hiënas doen. En daai spul in Kenia kies toe vir hulle só ‘n naam. Hulle erken dus hulle is soos hiënas.”

“O, maar het húlle die naam gekies of… ek verbeel my ek het iewers gelees dat hulle eintlik ‘n ander naam het en dat dit die blankes is wat hulle Mau Mau’s begin noem het.”

“Néé,” sê Oom Jan met sy stem beterweterig hoër, “hulle het sélf die naam gekies. Want hulle is soos diere. Die dinge wat daar aangegaan het is genoeg om nagmerries van te kry. Weet Mevrou van die onnoembare dade wat gepleeg is tydens allerlei rituele? Eedafleggings waar diere geoffer is en die bloed dan gedrink is? Selfs kannibalisme! Daar was selfs orgies waar…” en hy loer na my, maar ek maak of ek geen belangstelling by die gesprek het nie terwyl ek die koerantpapier in bolle druk om in die stofie te steek.

Hy gaan in effe gedempte toon voort.  “…orgies waar perverse dade met diere gepleeg is. En orgies waar hulle hulself met die ingewande en oë van die diere versier het en ede afgelê het van beloftes hoe die blankes vermoor, uitmekaar geskeur en verbrand gaan word.”

Ma stu net ‘n geskokte geluid uit haar keel. Ek dink by myself, “bliksem!” maar gaan voort om die houtjies op die koerantbolle te rangskik.

“Dis hoekom die Britte toe versterkings moes instuur. Om die blankes te beskerm. En die ding beweeg nader aan ons, hoor! In Rhodesië is dinge nie lekker nie. Daar broei iets. En in Suidwes en Angola ook. Die regering vertel ons niks, maar ‘n vriend van my se broer was daar, in Suidwes. Hy vertel van soldate, ons eie soldate, wat diep in Angola in was. Vir wat? Hoekom sal ons soldate Angola toe stuur as daar nie iets aan die broei is nie. En ek sê vir Mevrou een ding, luister na wat ek vandag sê, dis nie lank voordat ‘n land soos Amerika val nie. Daai Luther King-ou – moeilikheid, moei-lik-heid, sê ek vir Mevrou. Hy moes vroeër al stilgemaak gewees het. Hulle het dalk bietjie lank gewag. Die swartes word nou al klaar daar toegelaat om saam met die wittes bus te ry. Vandag busse, môre hospitale en skole en as jy weer sien het hulle oorgeneem. En hulle doen dit met hulle getalle. Hulle wéét dis al hoe hulle die oorhand kan kry. Met geweld en getalle.”

“Haai weet jy, Meneer Augustyn, ek wil nou nie ongeskik klink nie, maar my kos brand al op die stoof,” kry Ma uiteindelik ‘n woord in.

“Ja, haai kyk waar loop die tyd heen. Ek het nog ‘n paar huise om aan te doen.” Hy kry sy kollekteboekie. “Die goed kan my so opwen.”

Die kollekteboekie word by ons naam oopgemaak. “Dieselfde bedrag as verlede maand, Mevrou?”

“Ja, wag laat ek net gou die koevertjie gaan haal.”

En toe steek ek die vuur aan.

LEES GERUS VERDER IN  MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

Advertisements

9 thoughts on “VAN GRONDBOONTJIEBOTTER EN DIE MAU MAU’S

  1. Dan wonder mens waar het Oom Jan al sy wysheid opgedoen? En hoekom het ons nou eintlik sulke ernstige probleme opgedioen in hierdie land? Nee wag, laat ek sjarrap. Ek lees lekker hier by jou, want jy kan die emosies laat woel!

    • Noudat jy die boek gekoop het, sal jy sien daar is ‘n verskeidenheid van emosies. En jy is reg, destyds se handelinge het ‘n groot impak op die huidige situasie in die land. Dankie vir jou opmerking.

  2. Met die lees van die paar uittreksels van Monochroom Reenboog, besef ek weereens dat die skrywer ‘n uitstekende boek uitgereik het en dit is definitief die moeite werd om die boek vir ‘n tweede maal te lees. Sekere boeke is net die moeite werd om twee of drie keer weer te lees, soos vermelde boek weer bevestig het. Die stories bly lewendig en interessant met die menslikheid faktor altyd teenwoordig.

  3. Ons het ook so ‘n stofie gehad.Daardie soort gesprekke was aan die orde van die dag,maar my ouers het ook nie toegelaat dat ons disrespekvol teenoor swart mense optree nie.Baie goed geskryf.Ek lees lekker hier!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s