SLOTHOOFSTUK

SLOTHOOFSTUK

Kadetorkes

Johan, links agter as beuelblaser in die kadetorkes. Leon Schuster, regs voor, was ons jong onderwyser en mede-afrigter van die orkes.

Vandag is my hart seer. Die slothoofstuk van ‘n vriendskap wat meer as 43 jaar gelede begin het,  is vroegoggend geskryf.

Ons was nooit boesemvriende nie. Tog het die lewe ons oor die jare heen telkemale bymekaar gegooi sodat ‘n hegte vriendskap gevorm het.

In standerd 9 het ons paaie vir die eerste keer gekruis. Ons was ‘n lekker groep klasmaats, ‘n groot groep sonder enige klieks. Almal was vriende. Johan Noordman was in my biologieklas en die ondeunde outjie met die wakker oë het vanaf dag een my aandag getrek met sy kwinkslae. Nooit een vir doekies omdraai of skynheiligheid nie – skiet uit die heup uit, sê ‘n ding soos dit is met heelwat kruie in sy woordeskat. Top intelligent met ‘n sjarme wat die meisies laat swymel het.

As my span se losskakel het sy energieke teenwoordigheid die res van ons aangespoor. In die kadetorkes moes ek hom leer beuel blaas en het ons uiteindelik saam ons skool by die provinsiale kompetisie verteenwoordig.

Ná skool het ons lewens in verskillende rigtings koers gekies. Ek het kontak met die meerderheid van my klasmaats verloor en gedink dat Johan ook deel van my verlede was. Die lewe het egter ander planne gehad.

Nie lank nadat ek uit die weermag geklaar het nie, het ek met ‘n meisie begin uitgaan en kom toe op ons tweede date, tot my groot verbasing, agter dat haar suster kort tevore met Johan getroud is. Heelwat double dates en gesellige langnaweke later, het die vriendskap weer dik bande gesmee. Hy het ‘n ou Renault gekoop en die dak afgesny. Ons het ure se pret  op die plaas se grondpaaie gehad – met daardie Renault het ek geleer drift.

Enkele jare later het ons paaie weer geskei totdat ek op ‘n dag uitvind dat hy ook in Engeland woon. Dit was ‘n blye weersiens en gesellige ekskursies Londen toe, oor en weer braai en kuier ná rugbywedstryde het sommer vinnig weer die ou vriendskapsbande styf getrek.

Enkele weke gelede, in Maart,  is hy en sy vrou Suid-Afrika toe waar hy sy verjaarsdag saam met familie en vriende gevier het. Ná ‘n potjie gholf het hy ‘n knaende stywe gevoel  en ongemak met pynstillers gedokter. Terug by die huis in Engeland, bel hy my:

“F—-t Pellie, ek het pyn jong. Ek kom nou van die werk af, kon nie eers my toolbox uit die van laai nie. Oudword is wragtag nie vir sissies nie. Dink is rumatiek wat my nou ingehaal het.” Johan was ‘n meesterbouer wat later in Engeland op teëlwerk gekonsentreer het. Sy puik werk het gesorg dat hy nooit sonder werk was nie.

Ek is op datum gehou en die dokters het verskillende pynstillers voorgeskryf – niks het die pyn verlig nie.

Op 14 April lui my foon weer: “Pellie, ek het moeilikheid jong. Dokter het longkanker gediagnoseer.”

Soos dikwels wanneer ek omgekrap is, gaan sit ek op die toilet met die deksel afgeslaan. Ek bekyk die teëls wat hy nie lank gelede nie vir my kom lê het. Natuurlik wou hy niks weet van geld nie: “Terwyl ek teël, dan kry jy vir ons ‘n vuur aan die gang. Ek soek net ‘n dop en ‘n lekker steak – soos jy dit kan braai”.

Hy sal moet gaan vir ‘n tweede opinie, dink ek op die toilet. Iemand met sy lus vir lewe en energie kan mos nou nie…

Ek gaan kuier vir hom in die hospitaal en is geskok om te sien hoe hy in so ‘n kort rukkie agteruitgegaan het.

Laat gisteraand sit ek langs sy bed. Hy is in ‘n koma. Met sy growwe, sterk hand in myne luister ek na sy roggelende asemhaling. Vertel vir hom staaltjies wat ek uit ‘n diep onthouput trek. Ek weet nie eers of hy kan hoor nie, maar daar is tog soms ‘n verandering in sy asemhaling.

Vroegoggend neem hy vir oulaas ‘n asemteug.

En meld aan vir ‘n potjie golf saam met gholfpelle wat ons vooruitgegaan het.

Rus in vrede, Pellie. Jou aardse werk is klaar. Ek sit juis nou hier agter ‘n toe deur en kyk na jou teëlwerk, so presies en netjies – een van jou talle monumente. Dit lyk nou bietjie dof – my oë fokus nie so lekker nie…

Advertisements

BRITSE MEISIE SKILDER PRETORIA – IN 1911

IMG_1115

DIE JONG SALLY ROGERS TUSSEN HAAR PA EN MA – ROBERTS HEIGHTS, PRETORIA 1911

Na aanleiding van die opmerking in my vorige plasing oor Benfleet, asook navrae wat ek ontvang het, plaas ek graag die onderstaande foto’s. Ek het genoem van die 84-jarige Paddy oorkant die straat wie se ma as jong meisie tydens en ná die Boereoorlog saam met haar ouers in Pretoria gewoon het. Haar pa was ‘n Engelse soldaat en was op die destydse Roberts Heights (later  Voortrekkerhoogte en vandag Thaba Tswane) gestasioneer. Paddy het vandag nog foto’s en selfs twee kieries uit Suid-Afrika wat aan haar oupa behoort het.

Die jong Engelse meisie het sketse en waterverfskilderye van haar omgewing gemaak. Ek plaas graag enkeles met ‘n moderne foto om ‘n aanduiding te gee van die (moontlike) omgewing.

IMG_1106

FONTEINE, PRETORIA

IMG_1111

Fountains Valley Resort DLP

FONTEINE, PRETORIA

Fountains_valley

GROENKLOOF NATUURRESERVAAT, PRETORIA

IMG_1107

PRETORIA-OOS VANAF ROBERTS HEIGHTS

UNISA

UNISA, PRETORIA-OOS

IMG_1108

WES VAN ROBERTS HEIGHTS

IMG_1110

283748995-union-buildings-pretoria-jardin-ciel-bleu - Copy

PRETORIA

‘N VRYSTATER IN BENFLEET

Byna elf jaar gelede het ons van ‘n naburige dorpie (village) na Benfleet, Engeland verhuis – ons eie huis. Niemand sal Benfleet as ‘n toeristedorpie beskryf nie, die hoofstraat is maar bra vervelig met die gewone winkels en wegneemeetplekke en hier is, op die oog af nie werklik enige besienswaardighede nie.  Die hele dorp is omtrent die grootte van ‘n gemiddelde voorstad in Pretoria.

Uitsig van watertoring

UITSIG OOR BENFLEET VANAF DIE WATERTORING MET ‘N PLAAS OP LINKS EN DIE HOOFDORP IN DIE VERTE. DIE HUISE OP REGS IS NA DIE INGANG VAN BEFLEET

Delf mens egter so effens dieper, ontvou ‘n heel interessante geskiedenis.

Benfleet is in Essex, reg oos (so 40 kilometer tot in die buitewyke) van Londen langs die Teemsrivier waar hierdie bekende rivier in die Noordsee uitmond. Die naam kom van die Saksiese setlaars wat in die vyfde eeu hier kom nesskop het. Hulle het die gebied Beamfleote genoem – boomryke stroom. Oor die jare heen het die naam verdraai geraak tot die stasie met die koms van die spoorweg in 1855 amptelik Benfleet genoem is. Die stroom is ‘n vertakking van die Teems en het vir baie jare handelskepe met ware van Europa en elders na die gebied gebring. Onder die parkeerterrein van die ou Hoy and Helmet pub, wat teenaan die stroom is, is daar ‘n doolhof van tonnels wat baie jare gelede gebruik is om alkohol (belastingvry) van die skepe af in te smokkel.

hoyandhelmetpubsouthbenfleet

DIE EEUE OUE HOY AND HELMET PUB

Die naam, Hoy and Helmet verwys ook na die dorpie  se verbintenis met skeepsvaart, waar Hoy ‘n tipe skip was en Helmet die versterkte boeg van die skip om in laagwater te kan vaar. Vandag is dit meestal net seiljagte, huisbote en motorbote wat in die getystroom gesien word.

Church_Corner_0028

‘N OU FOTO VAN BENFLEET SE HIGH STREET MET NOG ‘N OU PUB, DIE ANCHOR INN OP REGS EN DIE OU KERK WAT AGTER DIE BOOMTOPPE UITSTEEK.

Net langs die Hoy and Helmet is daar ‘n monument om die Slag van Benfleet tussen die Vikings en die Saksers in 894 te herdenk. Tydens opgrawings met die bou van die treinstasie, is op talle uitgebrande Vikingbote en geraamtes uit die veldslag afgekom. Om die oorwinning oor die Vikings te vier, het die Saksers destyds ‘n houtkerk nie ver van die slagveld af nie gebou. Die fondasies is later gebruik om ‘n permanente klipkerk te bou – ‘n gebou (met uitbreidings oor die jare heen) wat vandag, na 1 100 jaar steeds staan en as kerk gebruik word.

stmaryschurchsouthbenfleet

ST MARY’S CHURCH, BENFLEET WAT AL MEER AS ‘N 1000 JAAR OUD IS.

Een van die voetslaanpaaie waar ek gereeld my gemoed gaan skoonmaak, lei na die Hadleigh Country Park – ‘n enorme park met woude en selfs die ruïnes van die ou Hadleigh-kasteel waar die onbeperkte uitsig vir myle ‘n blik gee op die Teems, Noordsee en omgewing. Hierdie einste park het ook ‘n moderne bergfietsbaan – ‘n nalatenskap van die 2012 Olimpiese spele toe wyle Burry Stander Suid-Afrika se naam tydens die kompetisie hoog gehou het.

So van kastele gepraat. Benfleet se watertoring, wat in 1903 voltooi is, waak as ‘n indrukwekkende 90 meter hoë baken oor die dorpie. Mense wat weet, vertel dat dit spook in hierdie swierige toring wat gebou is in die Romaanse styl om soos ‘n kasteel te lyk. Maar dis blykbaar ‘n vriendelike, ondeunde spook.

Watertoring

BENFLEET SE WATERTORING

Benfleet was in 1952 in die nuus toe ‘n Meteor vegvliegtuig hier neergestort het. Wonder bo wonder is niemand beseer nie, maar ‘n hele klompie huise is beskadig en blykbaar het iemand se hoenderhok met die inhoud daarvan oor ‘n groot gebied gesaai gelê. Talle huise dra ook nog letsels van Duitse bomme uit die Tweede Wêreldoorlog. Die meeste huise is oor die jare heen herstel, maar sommige hou die letsels as herinnering aan ‘n vergange era. John en Paddy oorkant die straat is nou al in hulle tagtigs en het hier grootgeword. As jonggetroude paartjie het hulle in 1956 die nuutgeboude huis betrek en dra elke somer vir ons vrugte van die ou vyeboom in hulle tuin aan. Die huis is op ‘n bult met ‘n ver uitsig oor die omgewing. Dit verklaar hoekom daar vandag nog ‘n platform is waar daar ‘n kanon en soeklig tydens die oorlogtyd was. Paddy vertel hoe die soldate vir hulle, as klein kindertjies, die pad met daardie yslike lig verlig het wanneer hulle met ‘n slee in die sneeu teen die helling af pret gehad het.

Laerskool

BENFLEET LAERSKOOL

Terloops, einste Paddy het ‘n waterverfskildery wat haar ma as jong Britse meisie in Pretoria tydens die Boereoorlog geverf het. Haar pa was as soldaat daar gestasioneer. Die skildery gee ‘n pragtige beeld van Meintjieskop en die Groenkloofarea (sonder enige huise) van die gebied waar die Voortrekkermonument later gebou sou word, af.

TOE EK TWEE JAAR OUD WAS …

groote schuur kleur

Dis tog interessant hoe vlietende belewenisse by plekke, of saam met iemand, blywende indrukke kan laat.

Ek was nog nie heeltemal twee jaar oud nie toe ons in Groote Schuur-woonstelle daar in Aliwalstraat, Bloemfontein ingetrek het. Reg oorkant die statige bekende ou Klipkerk. Wat verder interessant is, is hoedat die brein sulke herinneringe kan stoor sodat dit byna 60 jaar later nog uitgepak kan word – veral as in ag geneem  word dat ons maar enkele maande daar gewoon het. Dit was ek en Pa en Ma wat daar in nommer 10 ingetrek het en toe ons daar wegtrek, was ons vier mense – met Babasussie wat intussen bygekom het.

Groote Schuur 10, Bfn 1958

Ek en Ma op die balkon van Groote Schuur-woonstel 10.

Ma vertel graag hoe ek haar opgewonde kom roep het om vir haar die eier te wys – tot groot vermaak (alles van oudste babas is mos vermaaklik en slim en oulik) besef sy toe dat die nul van nommer 10 op die voordeur my eier is. Wat minder vermaaklik was, was toe ek en my buurmaat, klein Billy ‘n swaar deurstop oor die balkonmuur  deur ‘n geparkeerde motor se voorruit gegooi het. Ter verdediging moet ek darem meld dat ons nie oor die balkonmuurtjie kon sien nie (dit lyk my die balkonmuur is later jare met tralies vervang). Ek onthou die uitleg van die woonstel, die rakke in die kombuis en die ou roomkleur Bell-radio op die yskas. Die radio bring krakerige herinneringe van Pa wat na sportuitsendings luister en Ma na U Eie Keuse en Springbokradio se middagvervolgverhale.

Ma vertel ook dat ek as tweejarige, sonder dat ek oor die muurtjie kon sien, karre onder in die straat slegs aan die enjingeluide kon identifiseer. By nabetragting moet ek toegee dat dit dalk tog nie so moeilik was nie. Destyds het die karre verskillend geklink. Daar was die Ford V8’s (wat anders geklink het as ‘n Packard “straight eight”) en die kenmerkende tweeslagenjin van die DKW’s en wie ken nou nie die geluid van ‘n Kewertjie nie.

Die parkeervierkant in die woonstel se agterplaas is die agtergrond van ‘n nagmerrie wat ek as peutertjie gehad het. In my droom is ek net so teen skemertyd alleen in die agterplaas toe ek ‘n kat gewaar. Nie sommer enige kat nie! Hierdie kat loop op sy agterpote, voorpote uitgestrek met ontblote naels en met so ‘n dreigende, onheilspellende uitdrukking op sy gesig. Gloeiende oë en ontblote slagtande. Hy staan tussen my en die trappe en probeer my in ‘n hoek vaskeer. Ag, ek was al in die hoërskool toe voel ek steeds nie gemaklik om alleen met ‘n kat gelaat te word nie.

Kat

Vanaf die balkon het ons ‘n goeie uitsig op die ou Klipkerk, net oorkant die straat, gehad. Die gemeente is in 1919 gestig, Nuwe babasussie is in 1958 daar gedoop. Drie druppels water op die klein voorkoppie. Ten spyte van ons baie kort verblyf en my brose ouderdom destyds, het die kerkgebou ‘n blywende indruk gelaat.

Klipkerk

Ek was nog nie drie nie toe ons daar weggetrek het – na ‘n huis in Dan Pienaar.

Jare later het my pad weer met die ou kerk gekruis toe my toekomstige bruid en haar ma in daardie gemeente was – NG gemeente Bloemfontein-noord. Ons het, as jong verliefdes, dikwels Sondagaande nuwe herinneringe daar geskep.

En toe, op een heerlike herfsoggend in 1983, is ons daar getroud. Die prentjie van die pragtige bruid wat in die paadjie van die Klipkerk na my toe aangeloop kom en die stuwende note van die troumars wat die gebou vul, sal nooit uitgewis word nie.

Op die trappe van die blou-grys ysterklipgebou is ons toegevou in ʼn confetti-wolk. Sy was by my ingehaak en ek het vlugtig na die woonstelgebou oorkant die straat geloer.

Na die balkon van nommer 10. En ek kon nie help om die kat raak te sien nie – die een wat in die sonnetjie op ʼn vensterbank gelê en slaap het.

Klipkerk 1983