‘N BASIS IN OWAMBOLAND

‘N BASIS IN OWAMBOLAND

(KLIEK OP DIE FOTO’S OM DIT GROTER TE MAAK EN BYSKRIFTE TE SIEN)

OKATOPI

Okatopi

Iewers laat ‘n kassetspeler Rodriguez se musiek deur die basis sweef. I wonder… Onbewustelik neurie baie van die manne saam, wonder saam oor die trane in kinders se oë en soldate wat sterf. Wonder wanneer die wêreld van haat verlos sal wees. Wonder, wonder, wonder…

OWAMBO

Ek lê uitgestrek op my bed en luister met net my swart PT-broek aan. Die manne is opgewonde, baie van hulle. Ons het pos gekry. En pakkies. Benecke kom sit met sy oopgemaakte pakkie by my op die bed.

“Waar’s jou pakkie?” vra hy.

“In my trommel, hoekom?”

“Nee, ‘k wonner maar net. Gedog jy’t dalk niks gekry nie. Pieterse het niks gekry nie. En ek dink Harmse het ‘n Dear Johnny gekry.” Benecke steek ‘n stukkie droëwors in sy mond en hou die pak na my uit. “My oom het dié gemaak. Hy maak die beste wors. Proe bietjie.”

“Harmse? Hoe weet jy dit?” vra ek terwyl ek ‘n stukkie van die-beste-wors afbreek.

“Nee, hy’t sy brief begin lees en f*k, f*k gesê. Toe frommel hy die brief op en prop dit in sy sak. Hy sit nou al vir ‘n halfuur daar op die toilet.” Benecke delf verder in sy boks eetgoed rond.

“My bliksem, hulle gaan al van standerd agt af uit. Hy wás so bang dit gaan gebeur. Ons sal maar ons support moet gaan gee, jong.”

Du Toit kom van buite af in. “Hei boys, Harmse sit op die pot en tjank oor sy meisie. Ons sal moet gaan help daar.”

NATUUR ROEP IN DIE BOS

Natuur roep in die bos

Dit is so ‘n uur voor klaarstaan. Drukkend warm. Vier manne sit in ‘n geïmproviseerde swembad – ‘n gat in die grond met ‘n grondseil uitgevoer, halfvol met water uit die waterkar. Elkeen met ‘n Coke in die hand.

Iemand het intussen vir Harmse uit die toilethokkie gekry. Met dikgeswelde oë leun hy teen ‘n wasbak, teugend aan ‘n Kasteel met Kersop se arm vertroostend om sy nek.

“Ek is só lief vir daai meisiekind,” sê Harmse gebroke in ‘n hoë stemmetjie. “Ek wou met haar trou. Sy sê niks nie, hoekom, wat… F****l. Ek verstaan nie…”

“Kry vir jou ‘n Kameel,” skud Benecke ‘n sigaret uit die pakkie met Neethling wat dadelik sy aansteker se vlam aanbied. Terwyl hy die sigaret tussen Harmse se lippe aansteek, gee hy raad: “Pel, ek voel saam met jou, genuine. Maar luister nou, vanaand gaan ons lekker gesuip raak, ons drown ons sorrows en dan môre gee ek jou die adres van ‘n smart girl. Sy was saam met my op skool… genuine ‘n smart girl. Move on, man, daar’s baie visse in die see.” Hy mik speels twee, drie vuishoue na Harmse se maag en gaan voort. “Luister my ou, laat jou pa nou vir jou raad gee,” hy maak sy stem so ‘n oktaaf dieper, “’n man is nie ‘n windpomp nie. Jy kan nie so lank op een gat bly staan en pomp nie.”

OSHIVELLO

Oshivello

Later die aand, terwyl ons Harmse se sorrows in die kantien drown, bars ‘n troep uitasem by die deur in.

“Hei , f****t boys, daai ouman-tiffie wie se buddy verlede week die landmyn afgetrap het, het bossies geraak. Sy mind het gegaan. Hy sit hier buite in die donker met sy ma en praat.”

Dit is laataand, pikdonker. Buite sit die man onder ‘n boom en praat. ‘n Leë bierblikkie is sy telefoon. Sy ander hand klem om ‘n bierbottel. Die woorde is anders as dié van ‘n dronk man. Hartverskeurend, deur snikke lê hy die wonde van die afgelope klompie maande bloot.

“Ma, Hennie is dood Ma, moer toe geskiet. Sy voet het my in die gesig getref. Ek kon niks doen nie Ma. Dis die f****n terrs Ma, húlle’t hom doodgemaak. Ek haat die wetters, ek haat hulle, haat hulle, háát hulleeee…”

Die manne wil nader staan, maar Staf Gerber keer.

“Los die man dat hy die k*k uitkry. Maak net seker dat hy nie ‘n wapen by hom het nie.”

Agterna sou daar nog ‘n hele paar geknakte siele so opbreek. Eens opgewonde, lewenslustige jong manne vol bravade wat dan met gesonke oë deur die basis strompel, gestroop van menswees. Soos daai een ou, ‘n Noddy-kardrywer[1], wat een oggend poedelkaal deur die basis gedwaal het met ‘n R1. Vreemd genoeg, hý het ook heeltyd met sy ma gepraat. Eintlik meer gemompel, met oë wat niks sien nie. Toe gaan sit hy met die geweer tussen sy bene en skiet homself deur die kop vóórdat enige iemand kon keer. En dan is daar daai luitenant wat soms snags so in sy slaap huil…

[1]  Eland  pantserkar

LEES GERUS VERDER IN MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

Advertisements