LETSELS VAN OORLOG

LETSELS VAN OORLOG

(KLIEK OP DIE FOTO’S OM DIT GROTER TE MAAK EN BYSKRIFTE TE SIEN)

OP PATROLLIE

Op patrollie

In die vliegtuig terug Bloemfontein toe, drie dae later, skyn die son helder deur die klein venstertjies. Ek kyk na die ander passasiers. Mans met aktetasse, kinders saam met hulle ma’s, studente, almal so… so ongekompliseerd. Sonder bagasie.

Ek beny hulle. Wie is ek met al my bagasie? Ek wat verlede week nog terrs geskiet het. Ek wat nou, net soos die ander passasiers, skynbaar ongestoord op die vliegtuig sit. Ek wat volgende week met ‘n glimlag agter die toonbank by die bank gaan staan – “Môre Mevrou, waarmee help ek vandag? Het u geweet ek het verlede week ‘n man geskiet? En anderdag het ek ‘n vrou in die kop geskiet. Ja Mevrou, haar lippe en borste was afgesny…”

BUFFEL IN DIE BOS

Buffel in die bos

My belewenis van die werklikheid het byna skisofrenies geword: ’n Rasionele ervaring wat presies verstaan wat gebeur het en waarom. En ’n emosionele ervaring wat dit moeilik maak om dit hier, ver van waar dit gebeur het, te hanteer.

Op die grens het die oumanne hieroor gepraat. Van die nagte waar jy depressief rondrol, sleg slaap, sweet en angsaanvalle kry wat in drome begin waar jy in ‘n bos vol landmyne verdwaal en mense hoor skreeu en huil.

En dan skrik jy telkens vervaard wakker. Gillend, natgesweet.

BESOEK AAN 'N KRAAL

Besoek aan ‘n kraal

Heel dikwels klou ons vas aan herinneringe uit “die goeie ou dae”. Maar dan is daar ook herinneringe wat ons diep wegpak en huiwerig oopmaak.

Of vir altyd probeer toehou. Herinneringe wat met niemand gedeel word nie.

Ek het ‘n plekkie wat ek koester, ‘n stil plekkie waar ek min mense toelaat. Ek treur en lag daar tussen herinneringe deur wat nooit uitgewis sal word nie. Herinneringe aan vriendskap, liefde en omgee vir broers saam met wie ek geskerts, gehuil en gesweet het. Broers saam met wie ek met laaste lig ‘n sigaret of pakkie Super C gedeel het. Broers wie se verminkte liggame ek vasgehou het terwyl die lewe, rooi gevlek, in die wit sand weggesyfer het – saam met my jeug.

Daardie dae raak weg in gister, maar bly vlak in my wese.

LEES GERUS VERDER IN MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

Advertisements