LIEFDE IS ‘N PAASEIER


(Foto uit Sarie se kortverhaal met dieselfde titel)

Een Saterdag, ná ‘n rugbywedstryd, stop Abrie voor die kombuisvenster en maak sy fiets teen die vensterbank staan. Sy knieë is vol bloed en modder. Windverwaaid en stram klim hy van die fiets af, sportsak oor die skouer. Sy rugbystewels klink hard op die sementblad voor die kombuisdeur. Die kombuis is gevul met geure wat vyftienjarige seuns rasend maak. Kos. Varsgebakte vetkoek. Saterdae bak Sarie baiekeer vetkoek vir middagete. Partykeer met wors, partykeer met kerriemins, partykeer as bykos saam met iets anders. Die vetkoek is dan sommer nagereg ook. Met stroop of waatlemoenstukke en lekker soet koffie.

“Hallo, Ma, ek’s terug!”

“My seun, kyk hoe lyk jy. Het julle gewen?”

“Hoe dink Ma dan? Ons gaan nie in vir verloor nie. Wanneer eet ons?” Hy soen sy ma en neem ‘n vetkoek uit die bak op die tafel. Die vetkoek is warm en hy lek vinnig sy vingers as dit brand.

“Nou-nou. Ek wil net gou hierdie tert klaarmaak … en moenie daai worsies eet nie, dis vir vanmiddag. Gaan kry jy solank vir jou klaar. As die meisiekinders kom, moet jy gereed wees.”

“Aag Ma, ek het Ma mooi gevra. Ek sal vir Ma wys hoe werk die kamera, dan kan Ma mos maar die foto’s neem.”

“En wat van die musiek? Jou pa het gesê jy en jý alleen werk met die kamera en hi-fi. As daardie klomp partytjiemeisies onder jou pa se goed invaar en dit kom iets oor, wil ek nie vanaand hier wees as hy terugkom nie.”

“Maar Ma, toe ék dertien was…”

“Basta nou en loop bad vir jou!” Sarie steek die tert in die oond. “Hoekom vra jy nie vir Jaco hy moet jou kom help nie? Dan het jy darem ‘n maat.”

“Hoe laat kom Pa?”

“So hier by sesuur se koers.”

“So ek is al mansmens hier vemiddag. Nottedêm.”

“Hei, hei, jy praat nie so nie…”

“Maar…”

Niks ge-maar nie. Ek sê mos, vra vir Jaco. My liewe mens, dis jou suster se dertiende verjaarsdag, ‘n dag waarna sy nou al lank uitsien. Moet dit nou nie vir haar onaangenaam maak nie. Toe, ‘seblief.”

Vir ‘n oomblik dink hy oor die ding na en hol toe gou langsaan na Jaco toe.

Halfdrie lui die voordeurklokkie vir die eerste keer. Debbie ontvang haar vriendinne en al kletsend en giggelend raak die groepie vrolike dertienjarige meisies in die tuin groter. Drie tafels staan prettig gedek met glase en pons en lekkernye. Die wit tafeldoeke hang roerloos, so asof Sarie tot die wind opdrag gegee het om hom te gedra. Die servette en blomme is pienk. Vir Debbie is die lewe pienk en wit. Die stoele is wit. Drie sambrele is pienk en twee is wit.

Twee luidsprekers teen die muur in die koelte borrel die jongste popklanke uit. Rose Garden, Knock Three Times, Looky Looky… Die drade loop van die luidsprekers by Abrie se kamervenster in. Hier is hy en Jaco in beheer van die musiek. Die twee loer grootoog deur die kantgordyn en bespreek die uitsig. Vir hulle is dit ‘n vreemde ervaring. Hulle het die meeste van die meisies al gesien. By die skool, by die kerk en selfs al hier by Debbie. Maar vandag lyk hulle anders. So, so … anders. Groter of iets.

“Check ou Liena. Wie sou nou kon dink …” Jaco bedink homself vóórdat hy meer van sy gedagtes verklap. Abrie het ook nogal gedink dat sy nie te onaardig lyk nie.

“Oë links, tienuur. Wie’s daai ene met die wit?” vra Abrie.

Jaco kyk. “Nee, ken haar nie. Dink ek’t haar al iewers gesien, maar weet nie wie sy is’ie.”

Die getik-tik van die naald in die laaste groefies van die plaat bring hulle weer terug by hulle taak vir die middag. Abrie haal die plaat af en sit ‘n seven single van Neil Diamond op die draaitafel, Cracklin’ Rosie.

“Ek hoop ons kry ook van daai kos. Ek meen, ‘n man moet darem eet ook,” skimp Jaco.

“Ons kan gaan kry as ons die foto’s gaan neem.” Abrie se oë is vasgenael op die enetjie-met-die-wit. Sy dra ‘n wit kuitlengte katoenrokkie met bruin Josefsandale. Haar donkerbruin hare hang los oor haar skouers. Sy is pragtig. Klein, met so ‘n parmantige houding. ‘n Goue kruisie hang aan ‘n fyn kettinkie om haar nek. Die son raak aan haar lipglans.

“Het jy gesien sy’t kissing gloss aan!” merk Jaco op. So hy’t haar ook gesien.

“Wie?”

“Daai een met die wit rok vir wie jy so kyk.”

“Aag, voetsek jy man. Wat weet jy buitendien van sulke goed soos kissing gloss?”

“Man, my suster smeer ook die goed aan. Ek sien mos.”

Abrie kyk. Ja, haar lippies blink. Haar mondjie. Mondjie. Sy’t g’n ‘n mond of ‘n bek nie. Haar lippies is rooi, sommer so vanself. Sy het niks behalwe daai blink goed op haar gesig nie. Haar wange lyk sag. Sy hart versnel effens. Iets klop hier agter sy oë. Die son blink in haar hare. Sy eet ‘n koeksister. En drink Cream Soda. Sy vat nog ‘n happie en lek die stroop van haar lippies af. Abrie lek ook sonder dat hy ‘n koeksister eet. Met haar pinkie vee sy ‘n repie hare uit haar gesig. Daar’s ‘n drukking in sy ore. Hy haal deur sy mond asem.

“Wanneer gaan julle twee kêrels die foto’s neem,” verbreek Sarie die stilte.

“Ag Ma-a. Is dit nou nodig om so op mens af te sluip.” Abrie weet nie regtig waarom hy geskrik het nie. Maar hy voel betrap.

“Ek het nie op julle afgesluip nie. Die deur staan dan oop. Kom kry vir julle eetgoed, dan neem jy sommer ‘n paar foto’s.”

Met ‘n onwilligheid om tussen die spul meisiekinders in te loop, neem Abrie die kamera van die boekrak af.

“Sê Ma net vir hulle hoe om te staan. Ek praat nie met hulle nie. Ek druk net daai knoppie en klaar.”

“Abrie, stadig nou.” Sarie se kyk het eintlik nie woorde nodig nie.

Abrie stap agter sy ma tussen die klomp meisies in met Jaco op sy hakke. Jaco kies koers eetgoed toe. Abrie kyk nie rond nie. Netnou kyk hy in die gesiggie met die wit rokkie vas. As hy net kan weet waar sy is sodat hy dié kol kan vermy. Hy probeer so onopsigtelik as moontlik wees. Sy hande is nat.

“Meisies, dis nou Debbie se broer, Abrie en sy vriend Jaco. Abrie gaan gou ‘n paar foto’s neem.”

Deksels, Ma! flits dit deur sy brein. Hoekom maak sy nie ‘n rooi vlag op my kop vas nie! Sy ma se woorde suis deur sy ore. Stilweg beny hy haar vir die gemak waarmee sy met die meisies praat. Hy lig sy wenkbroue ongeërg sodat sy voorkop kreukel en kyk na die nok van die dak, dan na die venster en dan na die bondel meisies hier voor hom sonder om ‘n enkeling raak te sien. Hy probeer verveeld lyk.

“Abrie, neem sommer so ‘n paar ongeposeerde foto’s. Waar’s Debbie? O, daar is sy, neem sommer een van haar by daardie groepie.”

Giggel. Effe geskarrel. Party probeer uit die kameraoog se pad kom. Ander trek klere reg. Gooi hare agteroor. Hy sien egter net vir Debbie. Doelbewus. Hy durf nie na die ander gesigte kyk nie. Mik, fokus en flits. Twee keer, drie keer. Nou een van die koektafel waar Jaco nog steeds staan. Toe hy omdraai, is die gesiggie voor die lens, met die mooiste glimlag. Hy verstar. En toe kyk sy weg.

“Wat van ma en dogter saam?” stel Petro voor. Dadelik ‘n goedkeurende koor. Fokus en flits.

“Ek wil graag een van my en Debbie hê.”

“Ek ook!”

Flits. Flits.

Waar is Witrokkie nou? Is sy al op een van die foto’s?

“Hoeveel foto’s kan jy nog neem? “ vra Debbie.

Hy kyk op die metertjie. “Nog agt.” Sy eerste woorde hier buite.

“Neem so een of twee van ons hele groep saam.”

Terug in die kamer is hy omgekrap omdat Jaco nie vir hom eetgoed gekry het nie.

“Man jy dink ook net aan jouself. Staan lekker by die tafel jouself en dik vreet en ek moet al die werk doen.”

“Wie’t op jóú stert getrap?” vra Jaco.

“Niemand het op my stert getrap nie. Net gedink dat my vriend darem vir my eetgoed sou kry.” Abrie draai die plaat om en voel sommer vies vir homself. Waarom moes hy so onbeholpe daar buite gewees het? Hy het soos ‘n kleuter op sy eerste skooldag gevoel. Dalk lag die spul meisies nou vir hom. Hy weet nie eers of Witrokkie op een van die foto’s is nie. En nou haal hy dit op ou Jaco uit.

Voetstappe kom die gang af.

“Mamma sê ons moet vir julle eetgoed bring.”

Abrie laat die naald op die plaat sak en draai om. Debbie en Witrokkie is in die kamer, Debbie met twee bordjies eetgoed en Witrokkie met twee glase pons. Hy gryp die bordjies by sy suster. Jaco neem die glase by Witrokkie. Haar oë dwaal deur die kamer, oor die prente van Piet Visagie en Dawie en Mannetjies en ander sporthelde. Oor die veerpyltjiebord, die deurmekaar bed, die twee modelvliegtuie op die boekrak en die bak met tropiese visse in die hoek. Dan stop haar oë op Abrie. ‘n Sekonde lank – of is dit langer? In dié tyd glimlag sy effens, skaam. Hy versteen. Sy hart mis ‘n slag en begin toe onbedaarlik in sy keel te klop. Hy voel die klop agter sy oë, in sy ore. Sy mond raak droog en hy kyk weg.

Toe stap die meisies uit.

Abrie staar hulle agterna totdat die twee buite sig is en trek dan sy gesig soos een wat ‘n kramp kry.

“Blikskottel, maar sy’s mooi. Het jy gesien hoe check sy my? Oei!”

Hy sit die twee bordjies eetgoed op sy lessenaar neer en bly staan asof hy ‘n hou in die maag gekry het. Vir ‘n oomblik roerloos. Herleef weer daai sekonde. Dan blaas hy sy ingehoue asem hard uit terwyl hy sy hande vinnig agteroor deur sy hare vee en agter sy kop vou. Hy kyk af, staar, na niks. Jaco is al met sy tweede tertjie besig. Hy skud net sy kop en grinnik.

“Jong, sy’t vir die visse gekyk, sy’t vir alles gekyk.” Sy mond is vol vleispastei terwyl hy praat.

“Man, sy’t vir mý gekyk. Sy’t my in die oë gekyk. So.” Abrie wys hoe hy gekyk is. By die venster soek hy haar deur die kantgordyn. Hy sien haar dadelik.

“Ek wonder wat’s haar naam. Gaan vra jy gou vir Debbie,” steek hy vir Jaco op.

“Is jy mal! Doen jou eie vrywerk. Netnou dink sy ék’s agter haar aan.”

Later die aand, toe dit al sterk skemer is, is Debbie in haar kamer saam met haar ma besig om die geskenke te bewonder wat sy die middag gekry het. Peet sal enige tyd hier wees. Ouma en Oupa sal ook netnou oorkom.

Abrie lê op sy bed in die donker na die dak en staar. ‘n Plaat met romantiese liedjies speel sag op die draaitafel wat al gebêre moes gewees het. Hy het ‘n lam gevoel. Iewers is seer, maar hy weet nie presies waar nie. En dis nie van die rugby nie. Sy nek? Nee, sy maag? Ook nie. Dis hier binne. Sy longe. Ja, sy longe. Waar sit ‘n mens se hart? Hy voel. Die klop is hewiger as ander tye. Hy voel geïrriteerd. En sweterig. Wat is haar naam?

Hy hoor sy ma kombuis toe stap. Op die ingewing van die oomblik spring hy op en stap na sy suster se kamer waar sy steeds met haar geskenke doenig is.

“Het jy mooi goed gekry,” vra hy om die gesprek aan die gang te kry.

“Ja, kyk net hierdie mooi armband.”

“By wie kry jy dit?” Dalk, net dalk is dit van Witrokkie.

“By Lizelle.”

“Wie’ sy?”

“So enetjie met kort ligte hare. Sy’t vanmiddag so ‘n wit-en-rooi rok aangehad.”

“Nee, ken haar nie.”

“En hiérdie boek?”

“By Hettie.”

Hy besef dat hy nie oor al die geskenke kan uitvra nie. Hier was vanmiddag seker maklik twintig meisies.

“Is almal wat hier was in jou klas?” pols hy.

“Hmm, meestal. Party van die ballet.” Debbie draai die prop van ‘n bottel badskuim af en ruik daaraan. Sy oog vang haar album met skoolfoto’s op die boekrak. Ongeërg en so belangeloos moontlik begin hy daardeur blaai. By ‘n klasfoto van verlede jaar steek hy vas. Sy oë soek. Ry op, ry af. Hier’s sy sowaar! Dit móét sy wees. Weer sit sy hart in sy keel. Kalm nou. Hy  kies ‘n donkerkoppie met kort hare in die boonste ry.

“Was dié een ook hier?”

Debbie kyk. “Ja, hoekom?” Sy kyk hom vraend aan.

“Vra maar net. En dié een?” ‘n Ligtekoppie.

Sy kyk. “Ja.”

“Mens herken hulle nie eers so met ander klere aan nie.” Hy huiwer, kyk na die gesiggie. Die glimlag is onmiskenbaar.

“En dié een?” Belangeloos.

“Wie? O, ja, maar jy het haar mos gesien. Sy’t my gehelp toe ons vir julle eetgoed gevat het. Sy’t so ‘n wit rok aangehad. Mooi gesiggie.”

Hy staan roerloos. Te bang enige beweging of iets wat hy sê, verklap iets.

“Sy sê jy’s oulik.” Debbie kyk op om te sien watse reaksie haar woorde ontlok.

Hy voel hoe iets oor hom spoel. Hy weet nie of dit koud of warm is nie, maar dit verswelg hom. Die vertrek is skielik heeltemal te klein. Dit voel of hy onder ‘n skrum lê, maar hy probeer niks wys nie.

“Wie?” vra hy net om iets te sê.

“Bianca, die meisie met die wit rok vanmiddag. Daai een op die foto.”

Bianca! Nou is die vertrek régtig te klein.

“Aag!” Hy stap halfpad deur toe, maar steek vas. “Hoekom sê sy so?” vra hy.

“Ek weet nie. Sy like jou seker. En in daai kyk wat jy haar vanmiddag gegee het, kan ek net een ding sien.”

“Wat?”

“Daai outjie met die pyle het jou getref.”

“Watter ou is dit?”

“Die liefde, ou broer, die liefde.”

“Man, wragtag, jy’s sommer heeltemal simpel. Jy’s sommer … mal!” Hy storm kamer toe waar hy die hi-fi begin ontkoppel om dit te gaan bêre.

Bianca. Bianca. Hmm…dit pas by haar. Bianca…

Oe, dis mooi. Bi-an-ca…

Later die aand toe Debbie by die grootmense in die sitkamer sit, sluip Abrie na haar kamer toe. Die bedlampie is aangeskakel. Op haar bed is al haar geskenke uitgestal met die kaartjie van die skenker daarby. Koorsagtig bestudeer hy die kaartjies. Die derde een wat hy raak vat, is Bianca s’n. Sy hande bewe. Hy lees die boodskappie in standerd ses-meisiehandskrif, netjiese letters met kringetjies op die i’s en j’s. Hy ruik aan die kaartjie. Dit ruik na … papier. Nee, tog nie. Spesiale papier. Hy ruik weer. Hy soek na iets anders as papier. Dit bly ruik na papier. Bianca-papier. Hy tel die houer met ‘n stelletjie seep, badskuim en goete op. Bianca se geskenk. Versigtig. Hoekom bewe sy hande? Daar’s weer daai kol op sy maag. Hy voel weer soos vanmiddag. Daai drukking, dis definitief ‘n drukking hier in sy kop. Amper soos voor ‘n wedstryd. Háár hande het hier geraak. Sý het dit vasgehou. Hy streel saggies daaroor. Sy hande bewe liggies as hy die bottel badskuim uit die houer haal en die prop afdraai. Hy ruik aan die inhoud. Sou sy so ruik? Dis lekker. Vars. Skoon. Soos ná ‘n reënbui.

“Jy like haar, nè?”

Blitsig draai hy die prop op en probeer dit onder die kussing inskuif, maar besef dat dit te laat is. Verleë sit hy maar en wag vir die ergste. Debbie bly vir hom deur die skrefie aan die skarnierkant van haar slaapkamerdeur loer. Half met ‘n magsgevoel. Het jou!

“Oupa-hulle is hier. Hy roep jou,” sê sy, draai om en stap sitkamer toe.

Hy voel of hy in ‘n seepbel gesit het en toe bars dit. Meisies!

Maandag by die skool dwaal sy oë oor die speelgrond. Hy sien haar nêrens nie. Ook nie vir Debbie nie.

Ná skool, aan die etenstafel, vind hy uit dat die standerd ses-meisies van tienuur af na ‘n praatjie oor weerbaarheid in die skoolsaal geluister het. Hy luister fyn of daar nie dalk iets gesê word wat hy dalk sal wil hoor nie. Niks. Debbie praat net oor die praatjie, haar fiets se pap wiel en eet haar kos. Hy sluk sy melk weg en gaan na sy kamer.

Later die middag stap hy met sy rugbyklere die gang af om te gaan oefen. Debbie roep hom vanuit haar kamer. Sonder om te gretig te lyk, loer hy in.

“Wats’it?” vra hy.

“Vrydagaand wys daar ‘n oulike fliek in die skoolsaal. Hoekom vra jy nie vir Bianca nie en dan gaan ek saam met Jaco,” stel sy voor. Hy besef dat dit nie soseer oor hom of Bianca gaan nie. Hy weet mos. Maar die voorstel maak nogtans dinge in hom wakker. Iewers spring ‘n hormoon op aandag. Maar hy hou hom in.

“Aag jong, ek weet nie, ek het nog nooit eens ‘n woord met haar gepraat nie. Ek ken haar nie eers nie.

Ek … ek weet nie eers wat haar van is nie.”

“Grové.”

“Wat?”

“Haar van is Grové.”

Hy het die eerste keer gehoor, maar sy brein moet dit eers verwerk. Dit neem ‘n rukkie. Baie dinge is nou gesê. Groot dinge. Grové. Fliek …

Fliek!

“Ag toe man. Oukei, ‘k sê jou wat, ék sal vir Bianca vra en dan vra jy vir Jaco,” pols Debbie.

Hy dink kliphard. ‘n Geweldige opgewondenheid pak hom beet. Hy sien homself in die skoolsaal langs die meisie met die wit rok en lang bruin hare. Opgewondenheid maak plek vir huiwering. Hy wil ook nou nie van homself a fool gaan staan en maak nie. Wat gaan sy pelle sê? Aag, Schalk was al met ‘n meisie by die skoolfliek. Niemand het juis iets gesê nie. Die ander het hom eerder bewonder. Hy hoef wraggies nie vir dié meisie skaam te wees nie. Sy’s pragtig. Hy gaan ‘n posisie hê. Dis nie sommer elkeen wat ‘n meisie skoolfliek toe vat nie. Behalwe nou natuurlik die groot seuns.

“Jong, maak maar soos jy wil. Ek moet rugby toe gaan.”

“Sal jy vir Jaco vra?”

“Sal sien.”

Hy bedink hom. Sê nou sy vra nie vir Bianca nie.

“Ja, goed, ek sal hom vra.”

Vrydagmiddag is hy soos ‘n leeu in ‘n hok. Lê op die bed, staan op, staan voor die venster, gaan lê weer. Daai lammigheid is terug. Eintlik was dit nooit weg nie. Hy het gloede. Só moet iemand in die dodesel voel, dink hy by homself. Miskien is dit tog nie so ‘n goeie idee nie, hierdie fliekding vanaand. Hy dink hy is siek. Ja, beslis. Hy voel half warm. Hy kyk in die spieël en oortuig homself dat hy selfs bleek lyk. Móét siekte wees. Terug op die bed. Hande agter die kop gevou lê hy na die plafon en staar. Wat praat hy met haar? Ja, wat sê hy vir haar? Hoe moet hy weet waarvan sy hou? Sy lag dalk nog vir hom.

Ingedagte het hy intussen van die bed af opgestaan en voor die venster gaan staan en uitkyk. Die tuin lyk heel anders as verlede week toe die klomp meisies hier was.

Op daardie stoel het sy gesit.

Hy gaan uit en kyk of iemand hom nie dalk sien nie. Dan gaan sit hy versigtig op die tuinstoel. Net hier, met haar wit rok en blink lippies. Hy streel oor die armlening. Hy sien die gesiggie wat vir ‘n oomblik in die lens was. Die glimlag daar in sy kamer.

Is dít hoe liefde voel? Maar dit sal ‘n ou mos mal maak! Tog is dit nogal lekker. So amper soos ‘n droom. Maar jy is wakker. So half in ‘n ander wêreld, maar jy gaan steeds skool toe en als.

Dis herfs. Die blare lê bont onder die bome. Herfs is eintlik mooi. Herfs ruik na appels en hot-cross-buns. En eerste koue. Ja, hy hou nogal baie van die herfs met sy baie kleure. Paastyd. Volgende week sluit die skole. Dan is dit Paasnaweek. Hy wonder of Bianca vir die vakansie weggaan? Hy móét ‘n foto van haar kry. Een met daai glimlag van Saterdag. Dalk kan hy vir haar ‘n Paaseier gee. Jaaa, een van daai groot hase in goue papier. Nee, dalk nie, sy’s darem nie meer ‘n kind nie. Eerder een van daai’s wat so ‘n halwe eier is en met tjoklits volgemaak is.

Hy kyk op sy horlosie. Amper vieruur. Moet hy of moet hy nie? Voetstappe op die droë blare laat hom opkyk.

“En as jy so alleen hier buite sit?”

“Aag, ek sit sommer, Ma.”

“Ek hoor jy gaan vanaand fliek.” Sy ma trek ‘n stoel langs syne en gaan sit.

“Ja-a, miskien. Ek sal nog sien.”

“Met ‘n meisie?”

“Waar hoor Ma dit?”

“Ek vra!”

Vir ‘n oomblik is dit stil. Hy dink. Sy ma word met al sy geheime vertrou. Op ‘n manier verstaan sy altyd. Maar, sjoe, meisies!

“Ma, wat sê ek vir haar?” Hy voel hy bloos. Sy bene is teen sy bors opgetrek terwyl hy sy een skoenveter los- en dan weer vasmaak. Staar dan net na sy skoenpunte. “Waaroor praat ons?”

Met sy ken op sy knieë gestut, druk hy die plastiese punte van sy skoenveters in die vetergaatjies in. Trek dit uit en druk dit by ‘n volgende gaatjie in. Amper soos ‘n outydse skakelbord.

“Jy praat met haar oor enige iets. Gesels met haar oor dieselfde goed as waaroor jy en Jaco gesels. Net waaroor jy wil. Sy’s ‘n mens. Sy’s ‘n gewone meisie soos jou suster. Moet dit nie ingewikkeld maak nie.”

“En wat doen ons?” Vir ‘n vlugtige oomblik kyk hy op en gaan dan weer met sy skakelbord aan.

“Julle kyk die fliek. Gaan koop vir haar koeldrank en lekkers. Gesels. Wat sou jy en Jaco gedoen het?”

Hy dink so ‘n rukkie en voel hoe die duiweltjies nader storm. “Ons sou die meisies met popcorn in die donker gegooi het en kyk wie ‘n glas koeldrank die vinnigste kan down.” Hy bars uit van die lag. Sy ma gluur hom deur haar wenkbroue aan en glimlag.

Kwart voor sewe is hy en Jaco by die skoolsaal. Hulle het vooruit geloop om solank in die kaartjiery te staan.

Elkeen koop twee kaartjies. Toe gaan staan hulle so half agter een van die pilare voor die skoolsaal die paadjie na die straat en dophou. Abrie het intussen albei sy kaartjies in ‘n baie, baie klein rolletjie opgerol. Hy kom agter wat hy gedoen het en probeer dit weer plat kry.

“Gee my een van jou kaartjies, dan vat jy hierdie een,” beveel hy vir Jaco.

“Hoekom?”

“Ek kan nie so ‘n kaartjie vir die meisiekind gee nie. Kyk hoe lyk die ding!”

“Jaco lag en gee vir Abrie een van sy kaartjies.

“Maar joune is dan sopnat! Wat gaan met jou aan, is jy senuweeagtig?” vra Abrie vies omdat die kaartjies natgesweet is, maar terselfdertyd verlig omdat die skynbare komkommerkoel Jaco ook tog iets hier binne voel.

“Man…”

Maar verder kom hy nie met sy sin nie. Die twee meisies kom die paadjie afgestap. Albei het bont blomrokke aan.

Abrie voel hy moet dringend by die toilet uitkom, maar sy bene is traag. Die meisies kom nader, op met die trappies tot op die saalstoep. Ongemaklik skuif die twee seuns agter die pilaar uit.

Debbie groet eerste. “Hallo, Jaco…”

“Hallo, hier’s julle kaartjies, ons kry julle daar binne.” Abrie weet nie hoekom hy dit gesê het nie en is dadelik spyt.

Debbie kom tot die redding. “Nee man, ons gaan saam met julle in, maar laat ek julle nou eers amptelik voorstel. Bianca, jy het my broer, Abrie, mos gesien. Abrie, ontmoet vir Bianca.”

Abrie weet hy bloos, maar gelukkig is dit half donker hier op die saalstoep. Hy steek sy hand uit en trek dit vinnig terug – groet ‘n ou ‘n meisie ooit met die hand? Hy gaan haar beslis nie soen nie.

“Aangename kennis, Bianca. Moet ek jou hand skud?” Hy steek weer sy hand uit. Iewers kruip daar so ‘n kriesel selfvertroue uit. Hy is wragtag darem ouer as sy.

Bianca glimlag verleë en neem sy hand. “Hello, Abrie.” Jaco gee sy tipiese snorklag.

Die twee seuns stap agter die meisies die saal binne.

“Waar wil julle sit?” vra Debbie.

Abrie kyk rond. Agter is dit reeds vol. “Sommer daar langs oom Blackie,” Hy wys na oop stoele langs die muur waar foto’s van die land se staatspresidente hang.

By die sitplekke gaan die twee meisies sit, maar die seuns  talm. “Wil julle iets van die snoepie af hê?” vra Abrie.

Die meisies konfereer, dan die bestelling. Die twee seuns loop snoepie toe.

Toe die ligte begin dowwer raak vir die fliek om te begin, daag hulle op, elkeen met twee koeldranke in die hande en lekkergoed wat by hulle hempsakke uitsteek. Twee sitplekke is oop aan weerskante van die twee meisies wat langs mekaar sit. Debbie sit naaste aan die paadjie. Abrie plak homself sommer langs sy suster neer en laat Jaco gestrand in die paadjie staan.

“Skuif op jong”, sê Jaco terwyl hy vir Abrie in die ribbes pomp.

“Skuif op. Jaco moet ook nog sit,” beveel Abrie sy suster.

In die harwar skuif Bianca op. Die fliek begin en Debbie knyp haar broer in die ribbes. Abrie besef sy fout en klim oor sy suster om vir Jaco plek te maak. En toe gaan sit hy tussen die twee meisies. Langs Bianca. Doodstil, kyk hy na die skerm, maar sien niks. Sy ruik lekker. Later vind hy uit dis Debbie wat so ruik. Maar Bianca ruik ook lekker. Die fliek is al ‘n ent weg toe hy besef dat hy met twee halfgedrinkte glase koeldrank sit.

“Soek jy koeldrank?” fluister hy vir Bianca.

“Oukei,” sê sy sag. Dis tog wat sy bestel het toe hy bestellings geneem het.

“Hy’s so bietjie half…” sê Abrie en gee die een glas vir haar. Haar hand raak aan syne. Waaroor sou die fliek gaan, wonder hy.

Hy onthou ook van die lekkergoed in sy hempsak. “Hier’s jou tjoklit.” Die sjokolade voel pap soos dit al begin smelt het.

Pouse gaan die ligte aan. Dit voel of die hele saal se oë op hom brand. Hy voel so groot soos ‘n lugballon. Moet hy opstaan of hier bly sit?

“Speel jy wedstryd môre?” vra Bianca.

“Ja… e… ja, ek en Jaco.”

“Hier op ons veld?”

“Ja.”

“Ek sal bietjie kom kyk hoe speel julle. Tommy, my broer speel ook.”

“O.”

Stilte.

“Is jy lus vir nog koeldrank?” durf hy die stilte aan, maar soek ook rede om te ontsnap. Hy het egter nie nodig om te ontsnap nie. Debbie red weer. Sy leun oor hom na Bianca toe.

“Wil jy dalk saam met my kom?” vra sy.

“Ja, goed,” antwoord Bianca. Sy skuif verby Abrie agter Debbie aan. Haar bene raak aan syne.

“Seker gou gaan neuse poeier,” sê Jaco toe die twee meisies buite hoorafstand is.

“Hoekom?” vra Abrie.

“Man, meisies doen dit.”

Neuse poeier? Dit lyk nie of sy poeier op het nie. Hy weet sy ma poeier haar gesig, maar nie Debbie nie. Nee, Jaco dink verkeerd, sy’t beslis nie poeier aan nie. Dis weer net daai blink goed op haar mond. Mondjie.

Dan kyk hy in die saal rond. Hy waai vir Herman agter in die saal. Herman maak goedkeurend grootoog, duim in die lug. Abrie se bors swel van trots. Hy wonder wie het nog almal gesien. Hy het ‘n meisie!

In sy bed, laatnag, herleef hy die aand. Hy kan nie slaap nie. Waaroor was die fliek? Hy weet op een plek was daar ‘n ou in ‘n sportmotor. Haar oë, sy’t die mooiste oë. En daai mondjie! Môre gaan sy by die rugby wees. Miskien kan hy dan vir haar ietsie gee. Daai Paaseier! Hulle speel eers tienuur. Daar sal genoeg tyd wees om gou by die winkel aan te ry…

Gedurende die wedstryd dwaal sy oë kort-kort oor die toeskouers. Waar is sy?

Hy hol roboties bloot agter die bal aan. Sy het tog gesê sy sal hier wees. Hy het haar al vóór die wedstryd verwag. Sy aandag is glad nie by die spel nie. Daar staan Debbie, maar waar is Bianca?

Ná halftyd sien hy haar. Sy staan heel intiem en gesels met twee groter seuns van die skool teen wie hulle vandag speel. Verraaier!

Vlermuis, hulle breier, is rasend langs die veld. “Cronje, wil jy eerder gaan netbal speel? Los die meisies! My magtag, wat gaan aan met jou?”

Die spel kom genadiglik tot ‘n einde. Abrie kook. Daai een ou het haar wragtag om die lyf gevat! En sy’t nie onwillig gelyk nie. Wie dink sy miskien is sy! Nee, o hel, so laat hy nie met hom mors nie. En dit ná gisteraand! Hy pluk sy stewels uit en prop dit by die pragtige paaseier in die sportsak. Die groot halwe sjokolade-eier, gevul met kleiner blokkies sjokolade, het hy vroegoggend, vóór rugby, gaan koop. Hy klim op sy fiets en laat die ketting kraak. Iemand roep hier agter hom, maar hy trap dat die wiele sulke wit strepe in die gruis spin.

Jaco kom ‘n paar minute ná Abrie by die huis aan waar hy op die bed die paaseier sit en afskil. Die halwe eier het in die sportsak gebreek.

“Kry vir jou,” bied Abrie aan.

Jaco laat hom nie twee keer nooi nie. “Wat het vandag in jou in gevaar?” wil hy met ‘n mond vol sjokolade-eier weet.

“Bianca het gesê dat sy sou kom kyk as ons speel.”

“Maar sy het mos.”

“Ja, maar watter tyd daag sy daar op! Ek kyk die hele tyd uit vir haar, tot vir haar ‘n paaseier gaan koop. Selfs ou Vlermuis was geïrriteerd met my. Eers hier ná halftyd daag sy op en gaan staan by daai HTS-ouens. En sy laat so wragtag daai een ou haar om die lyf vat. Ek sweer dit was om my op te wen.”

Jaco het homself intussen aan die kleiner blokkies begin help. “Wie’s die ou?”

“Weet nie, hy’t HTS-klere aangehad.”

“Is dalk familie, man,” probeer Jaco troos.

“Hoe sal mens nou weet. Gee ok’ie om nie. Ek’s klaar met meisies.”

Jaco steek nog ‘n sjokolade in sy mond. “Ja, ek sê ook daai ding. Meisies maak in elk geval net ‘n ou se kop deurmekaar. Kyk net hoe vrot het jy vandag gespeel.”

“Ja, het ek nie vrot gespeel nie. Vlermuis gaan my seker nog drop ook vir die volgende wedstryd. Hy sê ‘is my skuld dat ons verloor het.

Abrie gaan staan by sy kamervenster en uitstaar. Hy dink hoe lomp hy gisteraand gevoel het. Oor ‘n simpel standerd sesmeisiekind! Sy suster se maat. Die herfsblare maak ‘n mat onder die perskebome. Wat ‘n gemors. Herfs is eintlik ‘n simpel tyd met al die blare wat so val en rondwaai en somer wat op ‘n end is en als.

En wie moet al die blare optel. Hy, hy wat Abrie is.

Hy steek die laaste blokkie sjokolade in sy mond en sê: “Ek sien daar wys ‘n karate-fliek in die stad. Is jy lus? Net ek en jy?”

“Ek’s game.

“Nou ja toe, laat ons klaarkry.”

Abrie krap die lekkergoedpapiere, wat oor die bed gestrooi lê, bymekaar en gooi dit in die snippermandjie. Die kaartjies van gisteraand se fliek lê onderin. Vir ‘n oomblik staar hy daarna. Dan buk hy af en haal dit uit. Sonder dat Jaco sien, bêre hy dit in sy Bybel. Hy loop saam met Jaco uit en groet tot later.

Op pad stort toe vat hy vir hom ‘n warm vetkoek uit die bak in die kombuis.

Later, nádat hulle van die fliek af by die huis gekom het, spring Debbie op hom.

“Wat het vanoggend met jou aangegaan? Bianca roep en ek roep, maar jy jaag daar weg of die duiwel agter jou is. Dis net stofwolke en klippe!”

“Sê jy maar vir jou ou maatjie hierdie man is niemand se robbies nie. Ek is klaar met meisies.”

“Aag foeitog, ook maar goed so, want haar pa sê buitendien dat sy te jonk is om met seuns uit te gaan.”

“O, gaaf.”

Stilte.

Sy probeer weer. “Maar waaroor het jy jou nou eintlik so ge-strip ?”

“Oor sy laat was en toe gaan staan sy nog by die vyand.”

“Die vyand? Wie’s dit?” vra sy verbaas.

“Daai HTS-ouens met wie sy so lovy-dovy staan en gesels het,” antwoord Abrie.

“Dis haar broer, Tommy, my jimmel. Hy speel vir HTS se eerstespan wat eers ná julle gespeel het. Haar pa wou ook kom rugby kyk as Tommy speel en wou nie so vroeg ry om net vir haar te bring nie. Simpel!”

“Aag, lyk dit of dit my worry. Ek… ek…” maar hy kry nie woorde vir ‘n teenargument nie. Hy stap kamer toe en slaan die deur agter hom toe.

Vandag het hy sy naam behoorlik krater gemaak.

Lees verder in MONOCHROOM REËNBOOG

Poster (foto)

10 thoughts on “LIEFDE IS ‘N PAASEIER

    • Ja ou Toortsie, soos ek op een plek noem: Soms klou ons aan herinneringe, ander maak ons huiwerig oop en dan is daar daardie herinneringe wat ons nooit oopmaak nie. Dankie vir jou kompliment. (Het jy toe die boek gelees?)

      • Ek is hard besig met hom. Ek lees so stuk-stuk want so tussendeur is ek nog met ‘n ander ‘ernstige’ boek ook besig. Ek geniet elke woord!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s