STILTE

STILTE

cathedral-winchester-1

Die watergevulde kelder in Winchester katedraal

Daar’s mos baie soorte stiltes.

Kyk, jy kan vir enige pa van ‘n tienerdogter vra oor wakkerlê-stiltes. Dis nou wanneer die pa wakkerlê en wonder hoekom dit so  stil is daar waar daai einste dogter met haar kêrel in die sitkamer is. Veral wanneer die pa nog kan onthou van die dae, baie lank gelede, toe hy ook so saam met ‘n ander pa se dogter in die sitkamer gesit het.pa-in-bed

Dan kry jy katedraalstiltes wanneer jy ‘n gebou soos die Notre Dame binnestap en die swaar houtdeur sluit die buitegeluide agter jou uit. Sulke stiltes het  ‘n reuk ook. En dis ook nie heeltemal stil nie, want mense fluister en neem foto’s.paris_notre-dame

Die stilte voor ‘n storm, enige storm, kan senutergend raak. Dis nóú stil, maar iets gaan gebeur, dit broei. Jou maag voel dit en jou nekspiere raak styf. Hierdie stilte hoef ook nie regtig iets met die weer te doen hê nie.stilte-voor-die-storm

Daardie stilte onder die sterre van ‘n Karoonag – ‘n stilte wat jy in jou gebeente voel, deur jou are voel pomp. ‘n Dankbare, lofliedstilte. Nou en dan is daar die geluid van ‘n nagdier, verder niks behalwe jou asemhaling en hartklop nie.karoo

Vir my is die ergste stilte egter daardie koue stilte. Stilte wat jy met ‘n mes kan sny.

Byvoorbeeld.

Jy ry in die kar, dalk effens te naby aan die padprop voor jou. Jy weet wie sy nommerplaat gemaak het, want jy kan duidelik die plakker in klein lettertjies sien. Maar dit pla jou nie. Hoekom beweeg hy nie oor na die stadige baan nie!  Jy’s haastig, want julle is laat. Eintlik is dit jou blom wat langs jou sit se skuld, want vroumense draai mos altyd. (Amper altyd. Oukei … soms.) Maar jy sê niks, konsentreer op die pad, probeer tyd wen.tailgating-banner

Jy flits ligte, praat en beduie: “Beweeg oor na die ander baan, jou uil!” (Goed, ek skryf uil ter wille van wie ook al hier lees, maar dit is nie werklik wat gesê word nie.) Jy weet voor jou siel jy moenie so naby die ou ry nie. Jy weet dis gevaarlik en waarskynlik die oorsaak van die meeste ongelukke. Maar jy is die beste bestuurder in die wêreld. Mos. Jy kan vinnig rem as daar gerem moet word. Buitendien, dis die uil (sien verduideliking hierbo) hier voor jou wat verkeerd is. Hy moet bietjie ‘n les geleer word. Mos. Jou ligteflits het geen effek op hom nie.

Blom kom in beweging. “Bedaar, bedaar!  Jy kan nie so op die man se stert sit nie, my maggies. Jy maak hom senuweeagtig.” Sy trap rem, maar daar is geen pedale waar sy sit nie.

Al die goed wat sy sê, weet jy, maar iewers spring ‘n spiertjie.

“Wil jy bestuur?” vra jy met jou kalmste stemtoon. Sy ken egter al jou stemtone, almal van hulle.

“Jy gaan ons verongeluk. Ry net stadiger.”

“Luister, as jy nie so gedraai het nie, dan hoef ek nie nou so te gejaag het nie.” Effens ander stemtoon.

Jy wéét eintlik dat dit nie die werklike rede vir die gejaag is nie, want jy ry altyd te vinnig. Die duike in die vloer aan die passasierskant waar Blom altyd vastrap, getuig daarvan.

“Ek… ag, jy…” probeer sy, maar sy is nou te warm om behoorlik te dink. “Reg, ry soos jy wil. Ek maak nie weer my mond oop nie, maar…”paartjie-in-kar

En met daardie “maar” pak sy ‘n gevaarlike wapen uit.

Stilte.

‘n Ysige stilte sak oor jou toe. Daai een wat wat rillings teen jou ruggraat laat afgly, wat die sweetdruppels in jou nek laat vries. Jy besef jou fout en probeer haar hand vat om dinge in trurat te gooi.  Jy ry selfs stadiger en beweeg oor na die middelbaan. Maar dis te laat. Sy gooi haar gewig op haar linkerboud, trek haar hand weg en kyk by die venster aan haar kant uit.

Stilte. Dit kom lê soos ‘n sak mielies op jou bors, kom vou soos ‘n nat mus om jou kop.couple-after-argument2

Julle bereik jul bestemming veilig. So tussen die groetery en glimlagte probeer jy weer, maar haar hand is weer te vinnig vir jou. Jy vat haar om die lyf. Sy glimlag vir die gasvrou en kners vir jou. Jy hou jou greep om haar middel.

Soos die aand aanstap, begin die ys so staaadigaan te smelt. Die stiltegordyn maak op ‘n skrefie oop. Haar hand word stadiger weggeruk.

Ssjjjjjjt… Versigtig nou.

dagwood

Advertisements

12 thoughts on “STILTE

  1. Hierdie blom wat sulke duike kan trap, is nou regtig my soort dame. Moet sê, ek hou van die idee dat die sweet in ‘n man se nekhare kan vries. Die stille krag van ‘n vrou. Formidabel.
    Ek het lekker gelees, André!

    • Alice, daar is net ‘n paar dinge wat ‘n man banger maak as hierdie stilstuipe. Een daarvan is as julle meisies so saamspan, “saamkonkel” en mekaar begin ondersteun. Oeee, my hare begin sommer regop staan – al twee van hulle.

  2. Pingback: Bereid om toegevingen te maak vir jouself en vir ‘n ander | From guestwriters

  3. Pingback: De stilte is niet leeg maar vol antwoorden | From guestwriters

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s