ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

 

IMG_2139

Soos ‘n bejaarde dame met ‘n Zimmerraam staan sy daar met haar swaar takke gestut. Daar is talle ouer dinge op aarde, dit gee ek toe. Maar bitter min van hulle lewe vandag nog.

 

Die inligting op ‘n bord by die boom dui die ouderdom aan as ongeveer 1150 jaar. Dit is oud!

IMG_2143

Toe Jan van Riebeeck voet aan wal in Suid-Afrika gesit het, was die boom reeds 800 jaar oud. Daar word vertel dat Robin Hood en sy manne skuiling onder hierdie boom gesoek het – daar in die bekende Sherwood Forest.

IMG_0580

Volgens oorlewering was Robin Hood ‘n vrygewige misdadiger, vernuftige swaardvegter en boogskutter wat met sy “Merry Men” in Sherwood Forest gebly het. Die term “merry men” was aanvanklik ‘n algemene omskrywing vir volgelinge van ‘n misdadiger, ‘n ridder of soortgelyke leiers.

IMG_0579

Daar is talle weergawes van Robin Hood se verhaal en oor die eeue heen is baie kinkels en stertjies bygevoeg. Hollywood het ook ‘n swaar hand gehad met die byvoeg van ekstra kleur en geur en dramas. Daar word, byvoorbeeld, in geen historiese bron melding gemaak van die skone “Maid Marion” nie en Errol Flynn, geklee in ‘n pikante groen kostuum, het ‘n bepaalde beeld geskep van die held wat van die rykes gebuit het om vir die armes te gee.

IMG_0581

Die eerste verwysing na Robin Hood en sy manskappe, was in 1377 en die Sloane manuskrip beskryf bepaalde gebeure wat aandui dat Robin in 1160 gebore is.

Hoe dit ook al sy, die man met sy boog en pyle het oor die eeue heen talle mense se verbeelding op sleeptou geneem.

IMG_0575

Hy en sy bende het in die Sherwood Forest geskuil – ‘n enorme, boomryke area.

IMG_2159

Bewyse van flintgereedskap verklap dat die woud deur prehistoriese jagters gebruik is. Later, tydens die laat Ystertydperk en Romeinse bewind, was die woud bewoon en boerdery was algemeen. Teen die negende eeu het die boerderygemeenskap hulle merk op die Sherwood-landskap begin maak en talle van daardie gemeenskappe bestaan vandag nog. Plekname wat met “by” eindig, soos Thoresby, het ‘n Skandinawiese oorsprong, “thorp”, soos in Gleadthorpe is Deens en “feld” (“field”), soos Mansfield is Romeins.

IMG_2155

Die naam, Sherwood, is die eerste keer in 958 aangeteken toe dit “Sciryuda” (“die woud behoort aan die landheer – “shire”) genoem is. Na die Normandiese inval in 1066, is die woud as koninklike jagveld gebruik. Die ruïnes van Koning Johannes se jaghuis kan vandag nog naby die dorpie, King Clipstone gesien word.

IMG_2152

Ons besoek die afgelope naweek was in die vroeë lente met die bome wat nog relatief blaarloos staan. Maar die atmosfeer van duisende jare was nogtans teenwoordig.

IMG_2158

As daar nou ooit ‘n tyd was dat ek gewens het om iemand se lewensverhaal te hoor, dan was dit gister by dáárdie boom – Major Oak, soos hy bekend staan. Dink net as jy ‘n toestel aan hierdie pragboom kon koppel om grepe uit sy millennium-oue bestaan op ‘n skerm te kon sien!IMG_2148

Advertisements

15 thoughts on “ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

    • Ek het lank gelede met ‘n vername man op die Kovsiekampus gestap toe hulle die plein tussen die Regsfakulteit en die Van der Merwe-Scholtzsaal verander het. Talle bome het in die slag gebly en ek het vir die man genoem dat dit vir my so hartseer is. Hy merk toe op dat hy geen gevoel vir ‘n boom het nie. Vir hom is dit brandhout of meubels. Eina!!

  1. Hierdie is werklik betowerend. Hier moet ek nog eendag gaan kuier. Ek verloor myself so tussen hierdie pragtige idee van Robin Hood, die bome en die mooi natuurskoon. Baie interessante skrywe.

    • Dit was vir my ook ongelooflik betowerend – hier waar natuur en duisende jare se menslike geskiedenis bymekaar kom. Jy het gister van die pragtige dele in SA geskryf – wat mens elke keer oorweldig. Baie mense dink Londen is Engeland – rye en rye huise en rooi busse – maar besef nie die pragtige natuurskoon wat hierdie land ook bied nie.

    • Ha-ha, ja Hester, ek kon nie mooi besluit of die boom ‘n ou vader of ‘n ou moeder is nie en daarom praat ek aan die begin van die “ou dame” en eindig met “hy”. Dalk het die naam wat hulle aan die boom gegee het (Major Oak) my hier na die einde toe beinvloed. Toe ek die stutte onder die boom se takke sien, toe kom die beeld van ‘n waardige ou tannie met krukke (of iets) by my op.

  2. Ag, dan se die mense feetjies en kabouters bestaan nie…..met sulke ou bome wil ek my ampers verbeel dat hulle ook daarvan deel is, stem saam met die kommentare, die foto’s is pragtig!!!

    • Annette, ek is so baie bly jy noem dit, want ek het dieselfde gevoel gehad, maar wou dit nie noem nie – netnou dink die mense die ou man word nou kens. Maar daar is beslis ‘n wonderlike atmosfeer, iets magies, nie net by die boom nie, maar sommer deur die hele woud. Dit neem werklik baie min verbeelding om jou in die wonderwereld van “die onsienbare, die onbekende” te begewe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s