PASNAWEEK

PASNAWEEK

volstruise

(ALLE FOTO’S SLEGS TER ILLUSTRASIE)

Laat Oktober breek die eerste pasnaweek aan. Abrie se planne is lankal gereed om Somerset-Wes toe te ryloop. Annelien toe.

Vroeg Saterdagoggend kry hy ‘n geleentheid met die Bedford wat ontbyt van die hoofbasis op Oudtshoorn na die tentdorp op Kansas bring. Een van die kokke uit die basis, ‘n ouman, het hom beduie hoe hy moet maak.

“Kry ‘n lift met die kostrok terug Oudtshoorn toe en laat hy jou by die Hartenbospad aflaai. Daar sal jy gou opgelaai word, want dis ‘n besige pad. Vra die mense om jou net ‘n ent te vat tot by die pad wat De Hoop toe gaan. Daai pad vat jou reguit Kaap toe. Jy sal middagete al daar wees.”

Agterna was Abrie nie seker of die kok hom ‘n streep wou trek en of daar werklik goeie bedoelings agter die advies was nie.

karoopad

Die Bedford laai hom langs die pad na Hartenbos af waar hy nie lank wag voordat ‘n melkboer hom oplaai nie. Net soos die ouman gesê het. By die kruising met die “pad reguit Kaap toe” word Abrie afgelaai. En daar staan hy, sonder kos en water, vir twee ure. Nie ‘n kar in sig nie. Hy besluit dat hy nie dáár kan staan en wag vir ‘n geleentheid nie. Vorentoe is daar dalk besiger kruisings. Swetend in sy step-outs takel hy die roete, verby landerye, plaaswerkerhuise, beeste, skape, maar niks besige kruisings nie. Die son het sy visier op hom.son

Heelwat kilometers later hoor hy iets. Eers dink hy dis sy verbeelding, die hitte laat hom nou al stemme hoor. Weer hoor hy dit, vaagweg kom dit op die Karoo-windjie aangesweef:

“Boetieee, boetieee…!” So ‘n hoë stemmetjie, amper soos ‘n voël se roep.

Honderd meter of wat van hom af sien hy die figuurtjie, ‘n ou kleurlingvroutjie met ‘n wit kappie op die kop. Sy staan in die middel van haar groentetuin, hande rustend op ‘n tuinvurk.

karoo

“Boetie, ko’hier jong, die son gaat vi’jou doodbrand,” skreeu sy.

Abrie dink, Tannie, ek het nog ‘n ver pad, ek kan nie nou afdraaipaaie loop nie. Die vroutjie sien sy huiwerigheid.

“Ko lat’k eers vi’ jou ‘n ou koeligeitjie gee.”

Die koeligeitjie oorreed hom. Hy klim sommer deur die doringdraad en kies kortpad deur die kniehoogte bossies na waar sy haar tuinvurk in die grond gesteek het.

“Môre, Tannie.” Die “tannie” kom verstommend maklik oor sy lippe.

“Dja, môre jong. Julle army-outjies wat so hitchhike, jong julle moe ve’sigtig wees. Ek sie’julle mannetjies hie verbykom en ’an din’ ek by my selwers, wieet daarie kjind se ma-goed wa loep hy.”

“Ja-nee, ek sal versigtig wees,” antwoord Abrie.

“Waa’s jy ô’pad’een?”

“Somerset toe… Tannie.”

“Hoooe, jinne maa jy’t nogge vêr pad om te gan. Wag, lat’k daai koeldrienk gang kry. Ko’sit hier op die bankie lat jou se biene ka rus.”

Sy beduie vir Abrie na so ‘n afgeskilferde houtbankie op die agterstoep onder die sinkafdakkie, net so langs die agterdeur, voordat sy in die effens donkerige kombuisie gaan “koeldrienk” kry. Hy hou sy oog op die pad, gespitste ore vir aankomende verkeer. Niks. ‘n Rukkie later kom sy met twee glase rooi koeldrank by die agterdeur uit.

“Ek’t nou wragtag nie eerse ou koekdingetjie om jou aan te biede nie. Is jy honger?”

Met die “vêr pad om te gan” in sy agterkop, antwoord hy dat hy darem op die brekfistrok homself aan ‘n klompie snye brood en hardgekookte eiers gehelp het. “Ek’s orraait, dankie Tannie.”

En so sit hy en die kleurlingtannie saam op die bankie, op haar agterstoepie en koeldrienk drink.

“Lat’k jou nou mooi beduie. Sie’ jy daai boom net so annekant’ie hek, daai hoge een annekant’ie pad? Jy ga loop staa’nou daa by hom en lat’k jou nou vertel, dáá gat jy’e lift kry. Somme nou-nou”

Abrie dink, Tannie, ek loop nou al hóé lank. Hier kom nie eers ‘n kar verby nie, wat nog te sê iemand wat my gaan oplaai.

Met die groetslag stop sy hom twee varsgeplukte somerrooi tamaties in die hand.

Die plan is om maar vir so ‘n rukkie by die boom te gaan staan totdat sy weer in die huisie gaan. Hy wil haar darem nou nie in die gesig vat nie, nie ná haar gasvryheid nie. Ja, hy sal so ‘n rukkie staan en dan maar weer aanstap. Hoe op aarde sal dit nou ‘n verskil maak of hy nou hier onder die boom staan of… of…

Die bande wat oor die teer aangerol kom, die wind wat voor die sierrooster uitgestoot word… onmiskenbaar die verblydende geluid van ‘n naderende kar. Abrie staan vinnig vorentoe, onder die koelte uit in die helder sonlig. En toe verdoesel hy ‘n ding wat hulle nie mag doen nie. Hulle mag nie duimgooi nie.

Maar hulle mag klippies skiet.

Abrie tel ‘n klippie op en knyp hom tussen sy duimnael en die kant van sy wysvinger vas. Die kar is so tweehonderd meter van hom af toe hy sy arm met die klippie op sy duimnael reguit voor hom uithou. En toe hy nou dink dat hy sigbaar genoeg vir die bestuurder is, skiet hy sy duim reguit sodat die klippie so links voor hom verby spat. Abrie hoor hoe die klippie oor die teerpad hop, gevolg deur die mooiste geluid van die dag. Die geluid van ‘n enjin wat revolusies verminder, spoed verminder, remme wat aangeslaan word. ‘n Student in ‘n klein Renault 5 stop reg langs hom.

Abrie loer oor die dak en sien die tannie regop in haar tuintjie staan. Uitbundig waai sy vir hom. Sy skreeu iets, maar hy kan nie hoor wat dit was nie.

Sy engel langs die Karoopad.

“Waantoe is jy op pad?”

“Somerset toe.”

“Mooi man, hop in. Ek’s op pad Gordonsbaai toe.” Hy steek sy hand uit. “Leon.”

“Ek’s Abrie. Dankie ou, jy’s a life-saver.”

Laatmiddag laai Leon hom in Somerset-Wes se hoofstraat af. Annelien weet van niks. Hy wou nie verwagtinge skep en dan realiseer dit nie. Soos amper wel gebeur het, was dit nie vir Leon en sy Karoo-engel nie.

Voor ‘n klein supermarkie is ‘n telefoonhokkie. Sê nou hulle is nie hier nie. Hy het nooit daaraan gedink nie.

Toe sy antwoord, stoot hy die muntstuk in.

Die lang pad was die moeite werd. Annelien se ouers ontvang hom gul  en dra hom op die hande.

Annelien is soos ‘n kind op kersoggend. Haar ma leen haar geel Escortjie vir hulle om die aand mee uit te gaan.

Abrie is niks moeg nie.

Vroeg soggens, donkertyd, word die soldate deur die korporaal se fluitjie en geskreeu uit die slaap geruk. In die kakie tent, omring deur ander kakietente tussen die vaal Karoobossies van Oudtshoorn en ongeskeerde, deur-die-mik-geslaapte troepe word die manne nooit wakker nie. Hulle skrik wakker.

Dáárdie Sondag by Annelien is egter anders.

Abrie ontwaak in die hemel. ‘n Beweging in die kamer laat hom sy oë oopmaak. Die son skyn reeds deur die wit kantgordyne en hul die kamer in wasigheid. Annelien het die nag by haar suster geslaap sodat Abrie in háár kamer kon slaap. Sy staan in ‘n wit rok langs die bed met ontbyt op ‘n skinkbord. En haar glimlag en goeiemôre-soen is ligjare verwyder van korporaal Kriel se fluitjie.

Korporaal Kriel ruik ook nie so lekker soos sy nie.

Kamer

LEES GERUS VERDER OMTRENT DIE BOEK: MONOCHROOM REENBEEG

Poster (foto)

11 thoughts on “PASNAWEEK

    • Dankie, mater! Die boek is twee jaar gelede uitgereik en blykbaar is hy nie meer so oral beskikbaar by boekhandelaars nie. Hier is verdere inligting (goedkoopste is om die “Desiré-opsie” te volg).

      INTERNASIONAAL: Beskikbaar as e-boek en slapband by Amazon, Smashwords en Createspace

      SUID-AFRIKA: Doen navraag by enige boekhandel en vra dat die boek bestel word as dit nie in voorraad is nie. Ook as e-boek beskikbaar by (onthou om die deelteken op Reënboog te sit of tik net Monochroom) Kwarts Uitgewers en Takealot (Kalahari.com).

      KONTAK DESIRÉ HURST AS JY NIE REGKOM NIE. Sy kan vir jou ‘n boek na ‘n adres in Suid-Afrika pos (R200 insluitend posgeld). Sel: 082 871 8028. Tel: (012) 345-5541. E-pos: mikedes@mweb.co.za

  1. Het al jou boek gelees,na die uittreksel is ek sommer weer lus om weer die boek te lees,ek hoop van harte dat die wat nog nie jou boek gelees het nie, dit wel te lese sal kry. ‘n Skitterende boek en die skryfstyl en eerlikheid van die skrywer maak dit gewis ‘n MOET lees ervaring.

    • Ja mater, sal ek daai trippie saam met jou ooit vergeet. Daai stuk het ongelukkig uit die boek geval, want die hoofstuk het te lank geraak en ek wou die weermaggedeelte nie nog langer maak met ‘n ekstra hoofstuk nie. Ek sal vir jou daardie stuk per e-pos stuur.

Leave a reply to seegogga Cancel reply