KONDENSMELK VIR ‘N KRAALOOG-SEUNTJIE

KONDENSMELK VIR ‘N KRAALOOG-SEUNTJIE

(ALLE FOTO’S SLEGS TER ILLUSTRASIE)

BOSKRAAL

Met dagbreek vertrek ‘n peloton agterop Bedfords uit die basis. ‘n Sein is ontvang dat die groep insurgente met kinders gewaar is. Die Bedfords sal die groep soldate so ongemerk moontlik aflaai naby die plek waar die vlugtende groep laaste gewaar is, want die choppers sal hulle teenwoordigheid met teveel van ‘n gedruis aankondig.BEDFORD

Benecke sit oorkant Abrie. Die atmosfeer is byna soos die dag in die Dak[1]  voor hulle eerste sprong. Dit voel so lank terug. Wat die atmosfeer vandag anders maak, is ‘n vreemde opgewondenheid, byna soos die rit Hartenbos toe vir ‘n langverwagte seevakansie. Die Bedford se seile is af en die oggendson steek. Langs die pad wei donkies en bokke. PB’s[2] steek wonderend vas en staar die voertuie agterna. Groepies stowwerige kinders met verslete klere waai huiwerig met klein handjies vir die soldate. Party is heeltemal kaal.

KRAAL

Daar is geen teken van die insurgente toe hulle by die kraal opdaag nie. Die intelligensie wat ontvang is, is foutief – gedeeltelik, minstens. Die hoofman vertel vir hulle dat die insurgente met die ontvoerde kinders drie dae gelede op ‘n nabygeleë kraal toegeslaan het vir kos en water. Dáárdie kraal se hoofman het besef wat die lot van die groepie verskrikte kinders saam met die insurgente was en het ‘n kind van sý kraal gestuur om alarm te maak. Hiervoor het hy met sy lewe geboet en die kraal is geplunder. ‘n Groep inwoners het na die kraal waar hulle nou is, gevlug. Alles hier is op die oog af vreedsaam.

‘n Seuntjie van so drie of vier jaar oud klou skaambang aan sy ma se been. Groot bruin oë volg wantrouig Abrie se bewegings.OWAMBO KINDERS

Die vrou het net ‘n bont romp aan met ‘n string heldergeel krale om haar nek. ‘n Tipiese poskaartprentjie. Abrie wil die seuntjie en sy ma gerusstel, maar kan nie hulle taal praat nie.

Saam met hulle ratpacks[3] kry die troepe ‘n buisie kosbare kondensmelk. Dit is eintlik vir die tee bedoel, maar Abrie druk syne altyd op die dog biscuits uit. Hy besluit dat hy darem ‘n dag daarsonder kan klaarkom en hou hurkend die buisie na die seuntjie uit. Nie eers onder aanmoediging van sy ma wil die kind dit neem nie. Toe gee Abrie dit vir haar. Met albei hande en ‘n glimlag wat die mooiste wit tande wys, neem sy dit. Op haar voorarm is ‘n vars brandmerk wat begin ontsteek. Abrie roep die mediese ordonnans nader en beduie vir die kralevrou dat die man na haar wond sal omsien.GEE LEKKER

Terwyl hy haar wond behandel, staan twee mans ook nader. Die een, met ‘n blinkgeswelde wang, is tevrede met ‘n handvol pynpille vir sy mondontsteking . Die ander man se linkerhand is af. Morsaf, net bokant die pols en die wond lyk erg septies. Hy is van die nabygeleë kraal. Die dag toe Swapo hulle hoofman vermoor het, wou hy ingryp en was gelukkig om net sy hand te verloor het. Met die wond skoongemaak en verbind, ekstra verbande en medisyne onder die blad vasgeknyp, skud hy eers die medic se hand dankbaar  en draai toe na Abrie. Sy handdruk is innig, sy Afrikaans opreg: “Dankie, my baas.”

Op pad Bedfords toe, draai Abrie om en kyk terug. Die seuntjie staan langs sy ma uitbundig en waai. Sy waai ook en wys weer daardie glimlag.

Abrie waai terug.OWAMBOVROU

Die insurgente het hulle bly ontwyk. Die gevolge sou talle lewens omkeer.

[1] Dakota (Douglas DC-3)

[2] Plaaslike bevolking (dikwels Ovambo’s’)

[3] Rantsoenpakkies met kos wat op patrollies saamgeneem is.

LEES GERUS MEER OOR DIE BOEK: MONOCHROOM REENBOOG

Poster (foto)

Advertisements