SAAI OM TE OES?

SAAI OM TE OES?

STADSAAL10

Woensdagaand, met die foto’s van ’n brandende Bloemfonteinse stadsaal wat soos ’n veldbrand deur die internet versprei is, het iets diep binnekant in my meegegee.

Ons skoolleuse was, SAAI OM TE OES. Die aand met my matriekafskeid, was die tema vir die aand deur ons skoolwapen geïnspireer en die skoolhoof het ʼn aangrypende toespraak gelewer aan die vooraand van ons groep jongmense se volwasse lewens. Sy boodskap was gebaseer op die skoolleuse: Saai om te oes. Wat jy vandag saai, maai jy in die toekoms. Ons matriekafskeid was, ironies genoeg, in die Bloemfonteinse stadsaal.STADSAAL 1

As laerskoolseun het ek baie ure in daardie gebou deurgebring. Dis daar waar kleinsus Elmarie ‘n A-Plus vir voordrag gekry het. Dis ook daar waar ek elke jaar albei my sussies met balletkompetisies gaan ondersteun het, nie altyd noodwendig besonder vrywillig nie. In die hoërskool was dit minder teësinnig, so met die klompie tienerballerinas wat ontluikende hormone op aandag laat spring het (nè Santie?). Een Saterdagaand, egter, het ek en Pa genoeg ballet vir die jaar gesien en besluit toe om eerder inry toe te gaan – net ons twee. ʼn Regte manne-aand met cowboy-fliek, hamburgers, tjips en al.

In daardie saal het ek en Willie, as skoolseuns, talle optredes gaan kyk. Met ons kerkpakke aan, want Pa het gesê as ʼn man in die aand uitgaan, dan trek hy ordentlik aan – en buitendien, dis die stadsaal. Al Debbo, Joe Dolan en nog vele ander. Later jare die Claxons en andere. Die laaste keer wat ek in hierdie besondere saal was, was met ʼn matriekreünie toe jarelange vriendin, Alice en haar kroos die gehoor met hul musiektalent vermaak het.STADSAAL 9

ʼn Onthaal of enige funksie in die stadsaal was ʼn deftige affêre. Daar is vertel dat die dansvloer een van die bestes in land was. STADSAAL 7Destyds, toe die stadsaal net so na die depressiejare gebou is, is kiaat uit Birma en marmer uit Italië vir die afwerking ingevoer. Sandsteen is gebruik vir die buitekant om aan te pas by die ander historiese geboue in President Brandstraat. Die Raadsaal waar die indrukwekkende standbeeld van generaal De Wet op sy perd, Fleur, net so oorkant die stadsaal aandag trek. Die Appèlhof, van waar heelwat internasionale uitsendings van opspraakwekkende hofsake al gebeeldsend is, net so langs die stadsaal.STADSAAL 10

In 1947 is die Britse koninklikes hier onthaal.stadsaal12

Nou is daar ‘n uitgebrande ruïne in ‘n spogstraat. ‘n Swartverbrande karkas van goeie herinneringe.STADSAAL 11

Al hierdie dinge flits toe deur my kop toe ek die foto’s van die saal in ligte laaie sien. En daar knak toe iets. Wat dit presies was, weet ek nie. Skielik het ek kwaad geword vir die ewige baklei in Suid-Afrika. Tot in my murg hartseer om te sien hoe so baie dinge wat vir my waarde het, verwoes word.  Siek en sat en moeg om my velkleur te verdedig en heeltyd die ander wang te draai – ter wille van politieke korrektheid, vrede en welwillendheid.

En ek het gewens daardie oproeriges (ek kan ander woorde ook hier gebruik) kon na die toespraak luister wat ons skoolhoof destyds met die matriekafskeid gelewer het.

Saai om te oes.

Want Woensdagaand is daar niks behalwe verwoesting gesaai nie.

Daar kan mos nie ‘n oes wees nie!

(EK WIL BENADRUK DAT GEEN VAN DIE FOTO’S IN HIERDIE ARTIKEL MYNE IS NIE – DIT IS VAN ORAL GELEEN)

Advertisements

8 thoughts on “SAAI OM TE OES?

  1. Ja, daar, was ons matriekafskeid ook. Ook so ‘n besielende toespraak, aangehoor, deur die prinsipaal, mnr DJ Viljoen, wat later, die sekretaris van die FAK sou word. Tragies, maar heeltemal voorspelbaar. Dit is nog maar die begin. Ou pessimis, sal ek seker geskel word.

    • Ek glo nie iemand sal jou skel nie,maar vir ons wat hier woon,is dit angswekkend om te hoor…in jou woorde:”dis maar net die begin”.Ons moet vasbyt aan die positiewe dinge anders gaan ons geestelik ten gronde.

  2. Ek voel net soos jy…iewers het iets in my ook geknak.Ek bly egter steeds positief en konsentreer op die duisende goeie mense van alle rasse,wat steeds probeer om in hierdie land op hul eie manier wondere te verrig.

  3. Ek moet eerder stilbly, maar ongelukkig is stilbly nie altyd die antwoord nie. Ek stem met almal saam dat dit ‘n goeie skrywe is,dat ‘n geskiedkundige gebou,wat seer sekerlik vir die van julle wat die herinneringe van die stadsaal onthou ontstellend is, maar en dit is die groot MAAR, elke liewe dag word ons boere, “ou” mense (ek geld ook nou onder die “ou”), kinders, jong mense vermoor en somiges ook aan die brand gesteek, kan dit ooit opweeg teenoor ‘n geskiedkundige gebou? Geen melding word ooit daaroor gemaak nie, ek weet die skrywe van die skrywer gaan oor die gebou en die onthou daarvan, maar Suid Afrika is kompleks deesdae, ons wittes is die teiken, so ook historiese geboue van die witman in die apartheids jare, ons moet saamstaan en glo en vertrou dat elke witmens in die land nie ook op die einde van die dag “afgebrand” word nie……….POSITIEF en glo aan ‘n HAND van BO wat ons soos altyd sal beskerm.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s