DIE LEEU EN DIE LAM ONDER ONS LUKWARTBOOM?

DIE LEEU EN DIE LAM ONDER ONS LUKWARTBOOM?

LEEU EN LAMMETJIE

Ek onthou toe ek ’n kind was, het ons Kinderbybel die allermooiste prente gehad, lewensgetrou en in volkleur. Die hitte waar Elia op die goue perdekar met die spierwit perde gesit het toe hy hemel toe is, het uit die bladsy gevlam. Ek onthou ook hoe my hande altyd begin sweet het as ek die angs op die Egiptenare se gesigte gesien het toe die watermuur hulle met perde, strydwaens en al verswelg het.

Elanie was ses, het net so begin lees en kon haar verlustig in die stories en prente van hierdie pragboek. Met ‘n handvol lekkergoed en die Kinderbybel onder die arm vasgeknyp, het sy op die klipwalletjie onder die lukwartboom gaan sit en vir Gabriël, ons tuinman, geroep.

“Laat ek gou die water skuif,” het hy gretig die uitnodiging aanvaar en die vurk in die grond gesteek. Alles is net so gelos en dan het hy styf langs haar kom sit met die een kant van die oop Bybel op sy skoot en die ander kant op Elanie se skoot. En dan, terwyl hulle na die prente kyk, gee sy vir hom haar weergawe van die verhaal.

Al kouende aan ‘n toffie of ‘n Fruit Gum, werk  hulle dan deur ‘n paar Kinderbybelstories. Soms het Spottie met ‘n wappertong ook by die twee kom lê, teenaan hulle voete. Die toneel het ‘n gewyde effek gehad, ‘n prentjie, so reg uit die Kinderbybel. Groot swart Gabriël langs die klein blonde dogtertjie in die skadu van die lowergroen boom in diepe gesprek voor ‘n oop Bybel.

Daar het dalk net ‘n lammetjie gekort, aangenestel teen Spottie wat soos ‘n klein leeutjie voor hulle voete gelê het.

Advertisements