EERSTE SKOOLDAG

EERSTE SKOOLDAG

My geheue is nogal nie te vrot nie – gegewe die feit dat ek laaaankal nie meer ‘n tiener is nie. Maar om die een of ander rede kan ek nie veel van my eerste skooldag onthou nie.

Doerie jare is ons nie gereed gemaak, voorberei op skool nie. Baie min kinders het “crèche” toe gegaan. Daar was dus nie ‘n grootskool nie – net skóól. Ek dink daai eerste dag was vir my nogal oorweldigend en ek het ‘n informasie-oorlading gehad. Nuwe klere, nuwe boeke, boeksak, vriende. En om nie eers te praat van die nuwe ondervinding en onderwysers nie.

Juffrou Pratt was jonk – en mooi en het ‘n blou Standard 8 gery (heelwat donkerder as die een in die foto).standard-8

Later daardie jaar is sy getroud en het toe mevrou Viljoen geword. Ek het baie belangrik gevoel toe sy my eendag gevra het om haar te help om goed na haar kar toe te dra. En erg gekrenk toe sy vir my en Jannie, enkele maande later, met haar rooi stokkie op die hande geslaan het omdat ons aan’t strye gegaan het oor iets terwyl ons moes inkleur.

Dit was die heel eerste keer dat ek tussen so baie kinders was. Party het gehuil en ek het gewonder wat weet hulle – moes ek ook huil? Ek was dan so opgewonde. Maar tog ook onseker oor die nuwe episode in my lewe. Ek het groot in my skoolklere gevoel – soos ‘n skoolseun. My bruin leerrugsak het ‘n reuk van belofte gehad. Binne-in was my nuwe vetkryt en boeke – Sus en Daan. En, baie belangrik, my eerste kosblik en  ‘n plastiek Hart-waterbottel met rooi aanmaakkoeldrank in. In my kosblik was daar varsgebakte brood met tamatie op, ‘n klompie rosyne en ‘n piesang. Fanie het ‘n hardgekookte eier en toebroodjies in syne gehad.

Daardie middag het Allan saam met my huis toe gekom. Ma het met haar bokskamera ‘n foto van ons twee geneem waar ons met stowwerige skoene, skewe pet en das langs die huis staan. Ek was heel opgewonde om die volgende dag weer terug skool toe te gaan.

Andre en Allan

Min het ek geweet dat ek eintlik nie vir skool in die wieg gelê is nie.

Advertisements

One thought on “EERSTE SKOOLDAG

  1. Is dit nou nie die oulikste twee seuntjies nie!!!!! Daardie eerste skooldag…dink ons almal kan daardie dag onthou, onthou ek het gehuil en aan my ma se rokspante vasgeklou, VREESLIK gewees.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s