AI-JA-JAI. GODSDIENS!

AI-JA-JAI. GODSDIENS!

great-fire-of-london

Laat ek sommer met die afskop dit duidelik stel: My geloof is ononderhandelbaar. Ek het ‘n diepgevestigde geloof in ‘n almagtige God wat alles geskape het. Die Bybel vertel dat ons moet glo soos ‘n kind. Dis hoe ek glo. Sonder enige fieterjasies. Ek glo net. Party sal reken soos ‘n skaap . Of dalk erger, want ‘n skaap volg darem dit wat hy kan sien. My geloof is in ‘n Entiteit wat nie gesien of aangeraak kan word nie. Tog beleef ek Hom en sien Hom in alles rondom my. En wanneer ek stil raak, dan “hoor” ek Hom, “voel” ek Hom. (Hom? Daarmee het baie mense ook ‘n probleem. Ek verkies Hom – soos in die Bybel.) Ek kan sy Hand soos ‘n goue draad deur my lewe sien – deur goeie, maar ook deur baie donker tye. My geloof rus op twee pilare: Liefde vir my God en liefde vir my medemens. Ek glo. Dis al.

Maar godsdiens – dis nou egter vir my ‘n heel ander saak , deesdae. Ek verstaan daar is ongeveer ‘n geraamde 10 000 verskillende gelowe op onse aarde. Soos my ou pel eendag gesê het: En elkeen dink sy bende is die beste.

Hierdie artikel gaan eintlik nie om geloof nie. Ek het bloot aan die dink gegaan toe ek verlede week daar by die monument vir die Groot Brand in Londen gestaan het. Vóór ek aangaan met waaraan ek toe staan en dink het, eers bietjie agtergrond.

Toe Thomas Farriner,’n Londense bakker, die Sateragaand, 1 September 1666 doodmoeg tussen die lakens in sy huis daar in Pudding Lane, inkruip, het hy nie kon droom watse skade sy oond daardie nag sou aanrig nie. Hier by 1-uur die nag ontdek Farriner se huiskneg die rookwolke wat uit die kombuis borrel en teen Woensdag van die daaropvolgende week was 70 000 mense dakloos.

Londen het pas ‘n warm, droë somer agter die rug gehad en ‘n sterk oostewind het die vuur vinnig tussen die houthuise deurgestoot. Trae optrede deur amptenare, wat aanvanklik nie die omvang van die vuur besef het nie, het die vuur verder aangeblaas, by wyse van spreke. Om die kroon te span (verskoon die woordspeling) was die afgelope burgeroorlog nog vars in die geheue en het talle oud-soldate van die weermag nog gewere met buskruit in hulle huise gehad – nie ‘n goeie idee wanneer ‘n groot brand ontstaan nie.

Baie mense het hulle kosbare besittings in die St Pauls Katedraal gaan stoor in die geloof dat dit veilig daar sou wees. Maar teen Dinsdag het die vuur ook hierdie 11de eeuse katedraal bereik. Die vuur was teen daardie tyd so intens (tot 1250˚ Celsius) dat die looddak begin smelt het en die hele katedraal in vlamme opgegaan het.

Toe die vuur uiteindelik teen Woensdag geblus is, was 87 kerke, 13 000 huise en talle historiese geboue verwoes. Alhoewel die amptelike dodetal  tussen 6 en 8 mense gewissel het, was dit waarskynlik eerder honderde aangesien daar destyds nie forensiese kundiges was wat die as kon ontleed nie. Dit was eintlik maar net die vooraanstaande mense wie se dood aangemeld is. Tienduisende mense het daardie Woensdagaand kamp opgeslaan in Moorfields, Hampstead en Islington.

Winter was op hande.

Die brand was nou wel geblus, maar gerugte het vlam gevat. Stories is onder die dakloses daar in die kamp versprei dat ‘n lig kort voor die brand in die lug gesien is. Hierdie lig sou ‘n teken vir die 50 000 Franse en Hollandse immigrante in die stad wees om in opstand te kom en al die Engelse mans te vermoor en die vroue te verkrag.

Daardie Donderdag het Koning Charles ‘n bevel uitgevaardig dat die mense eerder die vuur moet blus as om vreemdelinge aan te val, want die vuur was ‘n natuurramp (Act of God) en nie ‘n Paapse (Papist) komplot nie. (“Papist” was ‘n neerhalende term wat gebruik is om Katolieke mee te beskryf, m.a.w. mense wat nie trou aan die “Church of England” was nie.)

Die Engelse was waarskynlik nie verniet agterdogtig nie en het dalk ook ‘n skuldige gewete gehad. Engeland was op daardie stadium in so ‘n aan-af-oorlog met Frankryk en Nederland gewikkel en net twee weke voor die brand het hulle die Nederlandse hawe in Westerschelde afgebrand.

En sowaar, ‘n Fransman, Robert Hubert, daag op en erken dat hy, as ‘n agent van die Pous, die brand begin het (al is dit na sy dood bevind dat hy ten tye van die brand iewers in die Noordsee was). Ten spyte van die hoofregter se bevinding dat die man se verklaring verdraaid is en dat hy nie skuldig kon wees wees nie, is hy op 29 Oktober gehang.

Daardie Franse en Hollandse opstand het natuurlik toe nooit plaasgevind nie en ‘n ander sondebok moes gevind word. ‘n Regeringskomitee is byeen gebring en elke Jan Rap en sy maat is aangemoedig om voor die komitee te kom getuig. Stories wat meestal in die kroeg gehoor is, is oorvertel – stories van ‘n Katolieke komplot. Die komitee het egter uiteindelik beslis dat daar geen gronde vir hierdie gerugte was nie en dat daar geen bewyse van ‘n plan van bose agente, Pape of Franse om die stad af te brand, gevind kon word nie.

Dit het egter nie saak gemaak nie. Die volgende jaar het ‘n boek verskyn – “Pyrotechnica Loyolana Ignatian fire-works”. Die skrywer het aangevoer dat die Katolieke die vuur begin het en dat die Vereniging van Jesus (verbonde aan die Katolieke kerk) deskundiges was in die gebruik van vuurwerke. Die woorde “vuur”, “vlamme” en “buskruit” is deurgaans in die boek uitgelig.

Toe ‘n gedenkplaat in 1681 op die plek waar die vuur ontstaan het, opgerig is, het dit gelees: “Here, by the permission of Heaven, Hell broke loose upon this Protestant city from the malicious hearts of barbarous Papists, by the hand of their agent Hubert, who confessed”. Hier in die 1700’s rond is die plaat egter verwyder, bloot omdat mense in die pad van verkeer gekom het.

Maar ‘n soortgelyke inskripsie op die monument, wat in die 1670’s opgerig is, is eers in 1830 uitgebeitel.

Die monument, ‘n indrukwekkende kolom in Doriese styl, staan vandag nog op dieselfde plek – 62 meter hoog en presies 62 meter van waar Farriner se oond die brand laat ontstaan het. Ontwerp deur die bekende Christopher Wren en Robert Hooke.

edf

Daar word graag aan begeleide toeriste vertel dat daar meer mense gesterf het nadat hulle van die gedenktoring afgeval of gespring het as wat daar in die brand dood is. Wat eintlik nie waar is nie – gegewe die feit dat daar nie van al die mense wat in die brand omgekom het, rekenskap gegee kon word nie.edf

edf

Ja, so staan ek toe die dag daar by die monument en dink. Ai tog, godsdiens!

Hoeveel geweld en verlies aan menselewens was daar nou nie al in die naam van godsdiens nie!

Die Hervorming wat tot verskeie oorloë gelei het en uiteindelik in die Dertigjaar-oorlog gekulmineer het met verlies van duisende lewens regoor Europa.

Die Inkwisisie.

Die voortslepende onrustigheid in die Midde-Ooste.

Die terroristeaanvalle deur Moslem ekstremiste.

Die Bosniese oorlog.

Die geweld in Ierland.

En so kan die lys my rekenaar se stoorplek volmaak.

Godsdiens, so glo ek, is inherent goed, met goeie bedoelings …

… totdat godsdiens ‘n god word.

 

 

Advertisements

11 thoughts on “AI-JA-JAI. GODSDIENS!

  1. Goeie skrywe en altyd ‘n moeilike onderwerp, soos ook politiek, maar dit moet ook aangeraak word, so dankie. My persoonlike filosofie wat ek altyd probeer toepas:”Glo soos ‘n kind” en “elke ding in jou lewe gebeur met ‘n doel”. Solank ons net kan glo in onse Vader, ons het Hom nou in vandag se deurmekaar lewe so nodig. GELOOF !!!!!

    • Ek kon (en wou) byvoeg – maar die stuk het bietjie lank begin word: Geloof, hoop en liefde. Ons bly hoop op vrede en verdraagsaamheid. Deesdae kry ek myself dat ek ek John Lennon nie meer so kras beoordeel nie. Hy het lankal mos gesing:
      “Imagine there’s no countries
      It isn’t hard to do
      Nothing to kill or die for
      And no religion, too
      Imagine all the people living life in peace…”

  2. André, as jy skryf, kan ‘n mens maar lees. Baie dankie. Ja, ek glo ook soos ‘n kindjie klein… Godsdiens het skeefgeloop, want dit het in egodiens ontaard. As ons tog net die groot gebod en die tweede wat gelyk daarmee is, in ere kon herstel en daagliks uitleef.

  3. Baie interessante geskiedenis.. snaaks hoe liefdeloos “gelowiges” kan wees, selfs in moderne tyd, bv Katolieke en protestante in Ierland nie te lank gelede nie

  4. The great fire of London. Ek onthou hierdie so goed van my dae op skool, maar jy vertel dit baie beter en meer volledig as wat die Juffrou het. Baie interessant en ek het gesit en wonder Godsdiens en Vuur – wat is die konneksie, toe begin ek besef en sien waarheen jy gaan. Ek voel soos jy daaroor, mense verloor die `plot` in soveel opsigte as dit by geloof kom. Ek weet daar is iets baie groter as ek, sonder hom sou ek nie hier wees of oorleef het nie. Maar hy is nie `n gebou, `n kolleksie boks, `n beeld nie, Lieflike vertelling. en goeie denke.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s