SENTIMENT IS ‘N MOEILIKE DING

SENTIMENT IS ‘N MOEILIKE DING

Van my kleintyd af is ek maar sentimenteel oor goete. Ek het nou nog ‘n klompie bendebriefies en die geheime skrifkode van my en Willie se bende uit ons laerskooldae. Die Perderuiters – al het ons nie perde gehad nie. Ons wou Die Kavaliers gewees het – na aanleiding van destydse rolprent – maar ‘n ander bende het ons voorgespring.

‘n Mens dra swaar aan hierdie sentimentaliteit, veral as jou ander helfte nie dieselfde as jy oor dinge voel nie. Die huis moet nie ge-clutter wees nie, waarmee ek saamstem. My saamstem skop veral in wanneer die vertrekke skoongemaak en afgestof moet word.

Op die grens, terwyl ons op patrollie in die bos was, het ek eendag  tydens ‘n ruskans iets skerps gesoek om ‘n gat in my webbing se bandjie te steek. My ou maat, Doepie, sien toe ‘n geroeste spyker raak en gee dit vir my aan. Die spyker maak die gat toe perfek en ek bêre hom ingedagte in my sak toe ons opstaan om verder te stap. Twee  dae later tref ‘n stuk skrapnel vir Doepie in die bors. Die medic ruk Doepie se flenterhemp oop in ‘n poging om die bloeding te stop, maar ons makker sterf voor ons oë. Toe hy weggedra word, bly twee van sy hempsknope in die sand agter.

Dae later ontdek ek die weer die spyker en die twee knope – wat ek (natuurlik) opgetel en in my sak gesit het, daardie noodlottige dag.

Terug by die huis word die spyker en twee knope in my kas gehou, in ‘n asbakkie wat ek saam met ‘n bierbeker as verjaarsdaggeskenk by my troepe op Ondangwa gekry het. Die stelletjie het saamgetrek nadat ek getroud is – niemand het geweet van die waarde wat ek daaraan heg nie. Een Saterdag terwyl ek by die rugby was, het vroulief besluit dit is tyd vir opruim. Daardie aand, toe ek my kasdeur oopmaak, is die asbakkie leeg.

“Dit was net twee ou knope en ‘n geroeste spyker!” was haar verweer.

Verlede maand in Suid-Afrika moes ons stoor leeggemaak word. Na byna 17 jaar in die buiteland lyk dit nie of ons daardie goed meer gaan gebruik nie. Ons het buitendien alles wat ons in Engeland nodig het, reeds gekoop. Pakplek in die heelwat kleiner huise is ‘n luukse, dus moes daar van die meeste van die goed ontslae geraak word. Die familie kom neem wat hulle kan gebruik en Helpende Hand kom ry die res weg. Dit is nou nadat ons ‘n paar sentimentele goedjies eenkant gehou het.

Kom ek toe af op twee items wat my baie ver terugneem.

Destyds was daar ‘n tienertydskrif wat ek graag gelees het. Patrys. Die tydskrif het ook ‘n klub gehad, die Patrys-speurderklub – so reg in elke skoolseun se kraal. Ek was ‘n Patrys-speurder met lidmaatskapkaart en al. “Gemagtig tot samewerking met die S.A.P.” – so staan dit op my kaart. Ek het soos James Bond gevoel die dag toe ek my kaart ontvang het en was heeltyd op die uitkyk vir iets waarmee ek die Suid-Afrikaanse Polisie mee kon “help”. Ek hoef toe egter nie lank vir die geleentheid te gewag het nie.cof

Ek was dertien toe daar vir die soveelste keer by ons ingebreek word. Ek sien vir ta oor die heining spring toe ons in die oprit stop. Ma wou nog keer, maar ek is agter die man oor die heining aan en jaag hom deur ons woonbuurt se strate. Ek was fikser as hy en kort voor lank duik ek hom soos ons in rugby geleer is.

Die polisie was so beïndruk, dat ek na ‘n seremonie by Parkwegpolisiestasie in Bloemfontein genooi is. Daar is ek toe deur ‘n baie belangrike polisieman geprys en bedank vir my “dapperheid” en het selfs ‘n beloning – ‘n volle R20 gekry. So in ‘n bruin amptelike koevert met ‘n brief in. 

KOERANT

Met my R20 het ek by die OK Bazaars vir my ‘n grênd Timex horlosie gekoop. Die horlosie het talle bandjies oorleef in sy omswerwinge saam met my – skoolvakansies op die plaas, my matriekeksamen, my dienspligjare en tye op die grens om enkeles te noem. Kort nadat ek begin werk het, het my getroue metgesel ‘n welverdiende rus gekry toe hy met ‘n spoggerige digitale horlosie vervang is. Een met ‘n liggie wat aangaan wanneer een van ses knoppies gedruk is. Ek weet nie wat later van hierdie horlosie met die baie knoppies geword het nie.

Maar, terwyl ek die stoor leegmaak, kom ek op ou Timex af – nog met sy laaste bandjie wat ek op die grens gedra het. Ek wen hom op en maak hom om my pols vas. Vir die hele drie weke wat ons in Suid-Afrika gekuier het, het daardie horlosie nie ‘n enkele minuut van die regte tyd afgewyk nie.

My speurderkaart en Timex is nou in Engeland.

Jaaa, noem my maar ‘n sentimentele ou man …

cof

Advertisements

3 thoughts on “SENTIMENT IS ‘N MOEILIKE DING

  1. Goeie herinneringe vir jou. Toe ons SA verlaat het, het ek besef, dat sentiment, daar moet bly, ander, sal ons nooit wegkom nie. Ongeveer 7 jaar gelede, het ons verder, van alles wat oorbodig is, ontslae geraak en dit was ‘n groot las minder. Ons is baie bly daaroor.

Leave a Reply to coetzee2014 Cancel reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s