SUPERMARK-RILLERS

Ek’s ‘n dapper man, kyk hoe stap ek deur die mark …
Vanoggend kry ek hulle weer daar – sommer vroegdag al. Hulle is altyd daar, in die supermark.
 
Ek sê en doen (gewoonlik) niks, maar vroulief ken al, na vele sakke sout, my liggaamstaal. “Bedaar, André, bedaar.”
 
Daar is ‘n spiertjie in my wang wat dadelik spring wanneer ek hulle teëkom. Die intensiteit en frekwensie van die spierspringery hang net af van watter een van die mense ek raakloop. Gewoonlik is hulle egter almal daar en teen die tyd dat ons by die kassiere kom, lyk ek soos Chief Inspector Dreyfus in die Pink Panther-flieks.
 
Ek verwys natuurlik na daardie mense wat ‘n vinnige besoek aan die supermark tot kort voor ‘n beroerte kan laat draai.
 
Vanoggend gryp ek ‘n klein trollie, want ek is (dalk altyd?) haastig en het min goedjies om te kry. Die spiertjie spring liggies en net een keer toe ek sien hoe ‘n oorgewig ou – middeljarig – gebukkend oor sy trollie hang met sy arms gesteun op die handvatsel. Ek sê niks, maar ek dink: “Nee man, loop regop – mens is nie so lamlendig nie,” veral toe hy heel behendig rek om ‘n 24-pak bier in sy trollie te laai.
 
In die katkosgang af hoor ek nog ‘n ou sommer van ver af en Wangspier spring sommer twee keer. Sjloef-sjloef kom hy agter sy trollie aan geskuifel. Die sleepvoet-geluid laat my ore suis en my vel vol knoppies uitslaan soos die meisies s’n, destyds, in die klas wanneer juffrou Coetzee se lang naels per ongeluk oor die swartbord geskuur het. Of soos vroulief wanneer sy die roomys se houtstokkie aflek. “Tel op jou voete, tel tog net jou voete op!”
 
Die spiertjie begin warm raak toe ek die ouer man, met sy trollie dwars in die middel van die gang, sien. Hy staan daar voor die koekierak soos iemand wat verdwaal is, besluiteloos, met ‘n uitdrukking van pyn op sy gesig – mond oopgesper, skrefiesoë gly oor die pakkies voor hom. Kry ‘n ander bril, Oom – daai bifocals werk nie meer vir jou nie.
 
Terwyl ek ewe geduldig (mos) wag dat hy sy trollie uit die pad kry, spring wangspier in overdrive toe die vyfjarige klein blikskottel, wat luidkeels aandring om die trollie te stoot, my hakskene vir die derde keer stamp. “Be carefull,” kom dit vir ‘n derde keer van sy ma af terwyl haar kyk in my rigting insinueer dat ek dalk te stadig beweeg. Ek beduie na die trollie voor my en in my kop begin woorde vorm wat ek net-nou, wanneer ek alleen in die kar is, sal uitlaat.
 
Behalwe ook vir die ouens wat ‘n appel loop en eet en die stronk op ‘n blikkie ingelegde worsies gaan wegsteek, die rakpakkers wat die gang blokkeer, die gillende kinders, die koffie wat na ‘n ander rak verskuif is, die twee ou tannies wat in die middel van die gangetjie resepte uitruil …(spiertrek!) … is daar niks waarvoor ek in ‘n supermark skrik nie.
 
Ek dink ek word ‘n grumpy ou man.

2 thoughts on “SUPERMARK-RILLERS

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s