AAAAH…. CHEETAAAH!!!

Kyk, daar kom ‘n tyd in enige Blou Bul-ondersteuner (of enige rugbyondersteuner vir sover dit aangaan) se lewe dat hy wens hy was eerder ‘n Cheetah-ondersteuner.

Daai nuwejaarsvoorneme van my om hierdie jaar my sport net te geniet en nie weer sulke hoë verwagtinge te hê nie – “om teleurstellings te voorkom” – lê lankal iewers en vrot. Nee wat, sommer met die eerste afskop toe vertrek daai ou voornemensie saam met die bal en die Kings se drome. Ek het nogal gedink om hierdie jaar rugby te kyk soos ek na ‘n fliek kyk: Sit rustig, kry ‘n verversinkie of twee en ontspan. Lewer kommentaar indien nodig en wanneer die wedstryd klaar is, sien dan uit na die volgende een – of die Cheetahs nou wen of verloor. Dis tog net ‘n game.

Sê wie? Saterdagaand het die skeidsregter toe seker sy kramp gekry op die plek waar ek dit vir hom toegewens het en moes my huisgenote my aftrek grond toe ná die Cheetahs se pragoorwinning. Vrystaaaaat!!

Met ‘n kookwater Cheetah-span wat vriend en vyand (behalwe stoere ondersteuners soos die uwe, natuurlik) verras, kan g’n mens onbetrokke wees nie. Hier in die vreemde ondersteun ek mos enige span met ‘n Suid-Afrikaanse klankie – selfs Saracens en die Sharks. Ja, en selfs die Bulls, maar dan moet daai verversing minstens  vier vingers hoog wees.

Manne (en vroue!) kyk, daai magtige Cheetahs se laaste paar vertonings laat hierdie Engelse verskoninkie vir ‘n lente sommer sonnig lyk. Ek moes die kalender die afgelope naweek tuin toe vat en vir ons affodille gaan wys dat dit lankal lente is, want hulle wag toe nog heel geduldig vir die blomseisoen om aan te breek. Maar nou kan ek hulle nie kwalik neem dat hulle so effe verward voorgekom het nie, want as ek nou ‘n blom was met ‘n dik sneeulaag wat my blomknop grond toe druk, sou ek ook nie kon raai dat ek al moes kleur wys nie.

Dit smaak my dat dit nie net die Britse blomme is wat totaal en al in die war is nie. Moeder Natuur het wêreldwyd fauna en flora (insluitend ons regoplopers) se kalenders herskryf. Mammie daar in Pretoria vertel vir my hoe die hitte hulle na die winter laat verlang en my ou vriend, Jooste van Bloemfontein, vryf dit onder my hunkerende neus hoe hy in sy dertig-grade-swembadwater ontspan. In die herfs!

Warm Vrystaat-groete uit ‘n sneeubedekte (lente-)Engeland.

Advertisements

Hoe meer haas, hoe minder spoed

Dit mag die ouderdom wees wat inskop, maar die laaste tyd kry ek myself knaend aan’t dinke oor my kinderjare doer in die vorige eeu. Dinge was anders en ten spyte van  al die slim goete wat die mensdom sedertdien uitgedink het, wonder ek of die eenvoudiger leefwyse nie beter was nie. Ek sien selfs die veraf hunkering in my eie kinders se oë as ek van daardie tye vertel (soms ook ‘n bejammerende kyk by die gedagte aan geen Playstations of rekenaars nie). Daai ou spreekwoord van “hoe meer haas, hoe minder spoed” beskryf die moderne leefstyl perfek. Ons het alles gedoen en, glo ek, meer as wat ons vandag doen sonder geprogammeerde wasmasjiene, mikrogolwe, kitskos en vooraf verpakte aandetes, afstandbeheerde TV’s en natuurlik selfone.

Nou lees ek van die einste selfone en meer spesifiek die meer gevorderdes soos die  I-Phone en Blackberry wat mense se stresvlakke so opstoot. Ons het so afhanklik van hierdie apparaatjies geword, dat ons hele lewe as’t ware daarom geweef word. Daar is mense wat kompulsief byna elke minuut net móét kyk  vir boodskappe of ander inligting. Dit word gebruik om fliekkaartjies te koop, te navigeer, met vreemde, gesiglose mense op ‘n ander vasteland te kommunikeer of speletjies te speel en boeke te lees. Die stresvlakke begin klim sodra jy nie kan bybly met die druk wat hierdie klein toestelletjie op jou plaas nie. Sodra jy nie by al jou e-posse, Facebook-vriende, koerante, sportuitslae en al die dinge wat jy nou en dadelik moet doen, kan uitkom nie, begin die son vir jou te sak. Of nog erger, as die battery begin pap raak. Die ergste is natuurlik wanneer jou vriend die nuwer model onder jou neus kom hou.

Aggenee wat, gee vir my ‘n lekker stukkie boerewors en ‘n tjoppie wat ek op ‘n houtvuur gooi met ‘n musiekie in die agtergrond en ‘n skuimkoppie in die hand.

 

Wag net gou, daar lui my foon…