UIT: DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (No.4)

4 : MOENIE AAN ONS AFRIKANERS RAAK NIE!

Kom ons beweeg eers bietjie weg van die advertensies af.

Hierdie uitgawe van die Huisgenoot, onder redaksie van J. M. H. Viljoen het verskyn ʼn jaar nadat die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans verskyn het. Die redaksie was hewig ontsteld oor ʼn brief wat ʼn Hollandse Afrikaner oor Afrikaners aan ʼn Nederlandse blad, De Standaard, geskryf het en wou die saak eers daar laat. Maar is “daartoe verplig” om die saak verder te voer toe daar al hoe meer klagtes van ontevrede lesers begin instroom het.

Die verontwaardiging is aangevuur deurdat “De Standaard die orgaan van die Geref. Kerke in Nederland is – dus van ʼn groep van wie ʼn mens eerder simpatieke houding teenoor die Afrikaner sou verwag as die teendeel”.

Nou wat skryf hierdie Hollandse Afrikaner toe wat die volk so omkrap? Kom ons kyk.

“Die beskuldigings teen die Afrikaners kan as volg saamgevat word: Hulle hou nie veel van die Hollanders nie en sal hulle by die eerste die beste geleentheid uitsmyt. Die geestelike lewe van die Afrikaner is oppervlakkig; almal speel kaart, dans, drink, en Sondag is ʼn uitgangsdag. Die sedelike lewe staan op ʼn laer pyl as in Nederland. ʼn Verlowing vind net voor die huwelik plaas, maar voor die tyd kan enige jong man by ʼn meisie kom kuier ‘en bij een kaars tot ‘s nachts drie uur opzitten… De gevolgen blijven niet uit…’ Hieroor wei die Hollander breed uit, terwyl hy ook melding maak van ʼn “naaktkamp” wat naby Johannesburg opgerig is.”

De Standaard haal ook blykbaar koerantuitknipsels, wat die Hollander aan sy brief geheg het, aan en maak ondermeer melding van “mense wat beswaar maak teen die vertaling van die Bybel in Afrikaans”.

My maskas!

Die Huisgenoot voel toe dat die saak nie daar gelaat kan word nie en kap ter verdediging van die Afrikaners terug.

Hulle erken tog:  “Dat daar by ʼn paar van die ouer mense beswaar was teen die oorsetting van die Bybel in Afrikaans , spreek vanself. Maar wat nie genoem word nie, is dat daar gedurende die afgelope twaalf maande sowat 250 000 Afrikaanse Bybels deur die drukkers afgelewer is, en byna almal verkoop is.”

Verder erken hulle ook dat “…die Hollander haat, waarvan die korrespondent melding maak, het op een tydstip wel in Transvaal bestaan. Dit was te wyte aan die feit dat dat die Hollanders uit hoofde van hul beter geleerdheid, feitlik ʼn monopolie van al die vernaamste betrekkings in die staatsdiens gehad het. Baie van hulle wou van die Suid-Afrikaanse Republiek “ (nogal!) “…’n klein Holland maak en het neergesien op die ou baanbrekers. Dit spreek vanself dat daar in sulke omstandighede wrywing moes ontstaan.

En wat van die ander beskuldigings? Die Huisgenoot verdedig (ook maar nie baie oortuigend nie!) hulle lesers:

“ Daar bestaan byvoorbeeld ʼn vereniging” (klink darem beter as ‘n naaktkamp”) “… in Johannesburg wat die s.g. naakt-kultuur” (weer eens beter) “… beoefen, maar ons betwyfel dit sterk of ʼn enkele Afrikaner lid daarvan is.” (NOOOOIT!!) “Hier word wel gedrink, kaart gespeel en gedans, maar onder die Afrikaners seker minder as onder enige ander rassegroep in die land” (Maar natuurlik! Wonder nou net hoe weet hulle dat daar wel gedrink en ander sondes gepleeg word?).

Verder: “ ’n Neiging tot oppervlakkigheid is daar seker, maar waar word dit nie vandag in hierdie dae van na-oorlogse verwildering en vervlakking van die geestelike lewe aangetref nie? Dat ʼn aantal Suid-Afrikaanse geleerdes egter tydens die onlangse wêreldkonferensie van onderwysdeskundiges in Suid-Afrika op gelyke voet kon optree met die afgevaardigdes van oorsee, skyn te bewys dat ons, ondanks ons oordrewe sportliefde en ʼn klimaat wat nie juis bevorderlik is vir ernstige studie nie, nie so oppervlakkig is as wat sommige mense meen nie”.

Ai man, wens ek het hierdie artikel destyds gehad sodat ek vir my ma kon wys dat ons klimaat nie juis bevorderlik vir ernstige studie is nie. My pleidooie het op dowe oor geval toe ek haar bly vertel het, daardie somer van my matriekeindeksamen, dat dit hopeloos te warm is om agter die boeke te sit.

Advertisements

UIT: DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (N0.2)

2 : LYDENDE VROUENS EN NAARHEID IN DIE KOP

‘n Advertensie wat mens laat wonder wat die sonde was vir hierdie “natuurlike straf” (en wie die vertaalwerk gedoen het).

Bring u u beste jare in ellendige siekte deur terwyl u al die tyd deur middel van ʼn kort gespesialiseerde behandeling met SEKERHEID herstel kan word?

 Tientalle vroue getroos hulself gewis so ʼn onnodige opoffering. Waarom? Niemand weet beslis nie. In die ou tye het vrouens geglo dat liggaamlike lyding die natuurlike straf vir die vroulikegeslag was. Maar daardie dae was dae toe die geneeskundige wetenskap nog ondoeltreffend was en daardie geloof was soos ʼn berg voor vrouens.

 Het u rede om te vermoed dat die funksionele gestel nie heeltemal gesond is en gereeld werk nie?

 Ons beveel FELUNA sonder aarseling aan. Eenvoudig omdat FELUNA ‘n skitterende suksesvolle geskiedenis het en ons, om die beurt, het vertroue wat tereg op sy oorsprong uit daardie geskiedenis het

Huh?

Geen wonder Johnson’s Powder het op dieselfde bladsy ʼn advertensiewedstryd van stapel gestuur nie (was daar dan nog nie reklameagentskappe nie?).

£105 AAN PRYSE!

En nou wil ons ʼn goeie idee van ʼn advertensie hê. Sommige mense besit die gawe om advertensies uit te skryf en te ontwerp – of om goeie advertensie-idees uit te dink. Miskien is u een van hulle!

Aspro het ʼn byna volbladadvertensie en gebruik getuigskrifte van gebruikers om die lof van hierdie wondertabletjies te adverteer. So skryf Mej. S D van Staden van Hoogestraat, Dewetsdorp, O.V.S. :

Waarde Here, – Baie hartlik dank vir die ontvangs van die waardevolle tablette. Ek het nog nie iets beter vir hoofpyn gebruik nie. Daar ek erg lydende was aan ʼn vreeslike naarheid in my kop en gevoel het of ek wou mal word, voel ek nou sommer weer ʼn mens.

 Phil Medley & Kie. gebruik ʼn skitterende woord wat ek nog nooit voorheen gehoor het nie.

 

 Wie ken die woord suigbesem vir ʼn stofsuier? Ek sien dit kom wel in woordeboeke voor.

KAN EK WERKLIK ‘N VERSKIL IN SUID-AFRIKA MAAK?

Rainbow Nation

Gedurende ons leeftyd kom ons voor keuses te staan, om dinge beter te maak, of slegter. Of om dit soos skape maar te verduur. Ek kies om dinge beter te maak, sover ek kan.”

― Mercedes Lackey

Ek sit die dinge in Suid-Afrika hier van ʼn afstand af in Engeland en beskou (en beleef!) en my hart bloei. Dit krap my om en my gedagtes bly daarheen beweeg. Gewoonlik kan ek gaan sit en dinge rasioneel uitpluis. Ek is ʼn emosie-gedrewe mens en daarom hou ek van drama – dramatiese musiek, dramatiese stories en dramatiese flieks. Verder is ek ’n geweldige sentimentele mens wat waarde heg aan al die goed wat my lewe gebeitel het. En dan het ek ook nog hierdie geweldige lojale streep wat soms ʼn ergernis kan wees. Almal wat my ken weet wat my gevoel oor Afrikaans, Suid-Afrika, die Vrystaat, Bloemfontein en Kovsies is. En natuurlik my span, die Cheetahs! Dis waar my sentiment en lojaliteit lê.

Wanneer besluite geneem moet word, dan kry ek dit nogal reg om die emosies opsy te skuif. Dan skop my rasionele denke in wat my verstand die oorhand gee.

Maar die gebeure in Suid-Afrika laat  my sukkel. My kop beduie my dié kant toe en my hart trek ander kant toe. Ek is van nature ʼn optimis en probeer positiewe gedagtes en boodskappe plant. Maar ek is ook ʼn realis en dis waar die stryd tussen my hart en verstand vandaan kom.

My verstand vertel vir my dat ʼn klappery erg is, maar die groot moeilikheid gaan begin wanneer daar oor en weer begin geklap word. My verstand vertel ook vir my van die talle positiewe gebare wat uit die chaos voortspruit van wit en swart wat saam bid en mekaar ondersteun. En my verstand onthou ook van ʼn bende AWB-manne wat destyds vol testosteroon gepomp met bakkies en ʼn ou Mercedes na Bophuthatswana opgeruk het met tragiese gevolge. My verstand herinner my ook aan waarhede in die Bybel. Soos die keer toe Jesus gevange geneem is en Malgus se oor deur Petrus afgekap het. Toe ruk Jesus mos los en begin Malgus te skop en slaan en die ander dissipels spring ook in en gou was daar een helse fight waar die oormag Romeinse soldate omtrent al die dissipels doodgemaak het. En so sneuwel Christendom toe sommer voor dit nog kon begin het. Of onthou ek nou verkeerd?

Maar dan kom my hart en vertel vir my van die vernietiging van so baie goed wat vir my dierbaar is. En van barbaarse skobbejakke wat net ontwrig, plunder en leed saai. En dat ons mos nie stilswyend kan toekyk dat dit gebeur nie. Kriminele soos hulle word wêreldwyd gestraf, vir eeue al, maar die Suid-Afrikaanse regering laat oënskynlik hierdie dinge ongestraf toe. Wie moet dan die strafwerk doen?

Hoe maak mens?

Destyds, met die referendum, toe ons moes ja of nee stem, het my emosionele kant my gewaarsku dat dinge kan verander as ons ja stem. En dat die veranderings dalk nie altyd gunstig uit ʼn blanke oogpunt sal wees nie. Daai emosies het my ook vertel van bloed, sweet en trane op die grens waar talle van my vriende dood of gewond is ter verdediging van juis dit wat ons toe wou deel met die “vyand”.

My rasionele kant het egter geredeneer dat dat dit nie reg is dat die oorgrote meerderheid inwoners uitgesluit word van so baie voordele wat deur die minderheid in ons pragland geniet word nie. En nie net is dit verkeerd nie, maar dit is ’n tydbom waarvan die lont een of ander tyd tot by die bom gaan brand. En as daai bom ontplof, gaan dit die grensoorlog na ʼn cowboys en kroeks-speletjie in die agterplaas laat lyk. Dit was dus nie vir my moeilik om ja te stem nie.

Nou sukkel ek egter. ʼn Gedeelte van my voel byna of ek verraai is. In die tande geskop is. Ek sien hoe word die goed waaraan ek waarde heg vernietig en verbrand. Ek luister hoe minagtend daar met my taal omgegaan word. Ek sien hoe die standbeeld van ʼn waardige, geliefde staatspresident deur skobbejakke vernietig word. En ek wil huil daaroor.

Maar dan sien ek ook die foto’s en video’s waar jongmense van alle kleure hand om die lyf staan en bid. Ek sien swart jongmense wat in afgryse saam met hul wit vriende toekyk hoe barbaarse groepe alles wil verwoes en skeurings veroorsaak. Ek sien jong mense van al die bevolkingsgroepe wat skouer aan skouer opruim waar die molesmakers vernietig en gemors het. En ek weet ook dat daar miljoene swart mense soos Johannes is, Johannes wat nou al vir meer as twintig jaar na ons tuin daar in Pretoria omsien. Johannes wat ek met my lewe sal vertrou.

Ek dink by myself, as iemand by my huis inbreek en my gesin en eiendom bedreig, gaan ek hom nie nooi om ’n dop saam met my te drink en dan gesels ons oor alles voordat ek hom die sleutels van my kar en ander goed gee nie. Nee, ek gaan beslis optree.

Nou worstel ek met die vraag: Hoe tree mens teen hierdie barbare op sonder om ’n bloedbad te ontketen?

My hart bal vuis en wil net donder en bliksem, maar my verstand vra: En dan? Hoe gaan 4 miljoen wittes hulself teen 40 miljoen swartes verdedig? Wat gaan gebeur as die geweld en onluste na die woonbuurte oorspoel? Waar begin jy jou frustrasies uitpak – by mense soos Johannes en die vrou agter die kasregister by Checkers?

My opportunistiese, positiewe aard glo daar sal ’n oplossing wees. En die oplossing, na my mening, lê in die gesindheid van daardie (meerderheid!) swart mense wat saam met ons wittes in afgryse kyk hoe die afbrekers verwoes. Die Johannese en die baie swart studente soos die wat in die foto’s op Facebook is. Maar dan moet ons hulle nie verder vervreem nie. Ons moet ʼn eenheid met hulle vorm. Eendrag maak mag sodat die “ons” en “hulle” nie meer swart en wit is nie, maar ʼn eendragtige Suid-Afrika teen die verwoesters wat ʼn enkele gifdruppel in ʼn glas helderskoon water is. Saam bied ons dan weerstand teen die mense wat die meerderheid landsburgers se geluk wil steel.

Kan jy dit doen? Deins jy terug voor die uitdaging? Luister dan weer na die bekende storie van ʼn ou man wat elke oggend vroeg op die strand gaan stap het.

Een oggend tydens sy strandstappie sien hy ʼn vreemde figuur wat lyk of hy danspassies uitvoer so ʼn ent voor hom. Die ou man glimlag by die gedagte aan iemand wat die dag so indans en loop vinniger om by die persoon te kom. Soos wat hy nader kom, besef hy dat dit ʼn jong man is en dat hy eintlik nie dans nie. Die jong man buk kort-kort af, tel goed van die strand af op en gooi dit dan in die see.

Toe die ou man naby genoeg is, groet hy vriendelik met “Goeiemore, mag ek vra waarmee jy besig is?”

Die jong man stop en kyk op: “More, nee ek gooi sommer die seesterre terug in die see.”

“Ooo,” antwoord die ou man half verbaas. “Nou’s ek nuuskierig, hoekom doen jy dit?”

“Die son is uit en die gety trek terug,” antwoord die jong man. “As ek dit nie doen nie, sal almal van hulle doodgaan”.

Die ou man frons. “Maar jongman, besef jy hoe ver hierdie strand sterk en dat die seesterre kilometers ver op die strand uitgespoel lê! Jy gaan werklik geen verskil maak nie.”

Die jong man buk af, tel nog ʼn seester op en gooi dit in die see. Terwyl die seester in die water wegsak, antwoord die jongman:

“Ek het ʼn verskil in daai een se lewe gemaak, het ek nie?”

Herhaaldelik sien ons hoe God die mees onwaarskynlikste, mees onvoorbereide individue (insluitend onsself) gebruik om die diepste impak op die wêreld te maak.” ― Dillon Burroughs

O almagtige God, seën Suid-Afrika!

Opruim

STUDENTE RUIM OP (FOTO: Chanelle Robbetze, NWU-PUKKE)

WINDE VAN VERANDERING?

 

SA unitedOoeee, maar onse president het hierdie keer ‘n groot kat tussen die duiwe gaan ingooi. Die duiwe  gaan nog lank vat om al die vere weer plat te kry. Kyk, teen hierdie tyd behoort ons al gewoond te wees aan die verrassings wat hy op ons loslaat, maar steeds vang hy ons en sommer die hele wêreld onkant met nuwe stommiteite.

Sommer met die wegspring moet ek verduidelik dat ek dalk net op ‘n toon of twee kan trap en dat my beskeie (sommige mag dink naïewe) mening van joune mag verskil.

Hier, baie kilometers van Suid-Afrika af, is ek aangewese op die media om my in te lig oor die stand van sake in my geliefde land. Ek lees hoofsaaklik Suid-Afrikaanse koerante om nuus uit daardie kontrei te kry en dit is dan ook daar waar ek gebombardeer word met die lief, maar merendeels die leed van my ou volkie. En dis ook daar, in die kommentare onderaan die berigte, waar ek sien hoe my volksgenote mekaar aan die keel gryp, in tale op mekaar skreeu, en vriende mekaar goed toesnou  wat normaalweg vir vyande uitgepak word. Wat my laat wonder het of ons nie ons eie grootste vyand is nie. As ons mekaar, mense wat dieselfde taal as ons praat, so wil verrinneweer, hoe kan ons ooit hoop om saam te trek met karperde wat anders as ons geteel is. Ek wou egter weet hoe dit werklik gaan en het onlangs vir ‘n groep Suid-Afrikaanse vriende gevra om vir my te vertel.

Baie respondente het vir my gevra watter beeld word van Suid-Afrika in die buiteland geskilder. Dit is wel so dat die ekonomiese markte heftig gereageer het, maar verder het die opskudding in Suid-Afrika nie werklik noemenswaardige rimpels buite die landsgrense gemaak nie. Oscar Pistorius het baie meer aandag in die media gekry. Baie mense weet nie eers waar Suid-Afrika is nie (glo dit nou of nie!). Maar dink nou so bietjie, in die tye waarin ons leef waar elke ou maar vir homself veg vir ‘n sonkol, hoeveel weet jy van wat in ander lande aangaan? Weet jy van Brasilië se politieke probleme en uitdagings en dat hulle pas ‘n nuwe president gekry het? Die verontwaardiging word met groot fanfare in Brasilië uitgebasuin dat die uittredende president geweier het om die inhuldiging van die nuwe man, Maricio Marci (ken jy die naam?) by te woon. Die res van die wêreld gee nie werklik om nie – elke ou keer net vir sy eie kolletjie onder die son. Suid-Afrika moet dus nie wag vir een of ander internasionale helpende hand om te kom red nie. Die inwoners sal dit self moet doen.

Daar is egter hoop. En nou wonder ek of dit dalk nog te vroeg is om dit te voorspel (nie dat ek en Nostradamus enige iets in gemeen het nie) maar ek glo vas dat Zuma se nuutste manewales dalk net moontlik ‘n keerpunt was, ‘n bedekte seën. Die laaste strooihalm op die kameel se rug. ‘n Wind wat verandering gaan bring  is besig om op te steek (en dan wag ons nou net vir nog ‘n wind om ‘n einde aan die droogte te maak!)

Vier dinge is egter nodig om die winde van verandering momentum te gee.

Ons vertrekpunt moet wees, geloof – dieselfde geloof (nie noodwendig dieselfde taktiek nie) waarmee ons voorvaders die talle uitdagings van die verlede die hoof gebied het. Geloof in jouself (jy kán – moenie vir iemand anders wag nie), geloof in God (Hy kán – en Hy het al) en geloof in jou land – ons kán – en het al erger uitdagings oorkom).

Tweedens moet ons aanvaar dat ons in Afrika bly. Dinge in Afrika word totaal anders gedoen as in Duitsland, Amerika of Japan. Die kulture verskil heeltemal van die tradisies en gewoontes van Europa, Asië en Hawaii. Is dit PW Botha wat dit gesê het? “Adapt or die.”

Die derde ding wat moet gebeur, is dat die massas ingelig moet word. Die oorgrote meerderheid van die mense in Suid-Afrika – mense met stemreg – het nie die vaagste benul van wat die afgelope week (of enige ander tyd) gebeur het nie. Die hoofrede hiervoor is dat hulle nie toegang tot sosiale media of enige ander media het nie. Hulle kry verdraaide inligting so via die bostelegram. Die regering gaan hulle nie inlig nie, hulle bure kan nie en dus stem hulle volgende keer weer vir “Madiba se party” al is die meeste van die huidige lot nie werd om Madiba se skoenveters vas te maak nie. Ons, ek en jy, moet hulle dus inlig. Ons moet uit ons gemaksones kom en planne maak om die massas wat nie toegang tot moderne kommunikasie het nie, te vertel wat in die land aangaan. Op ‘n rasionele, kalm manier wat hulle nie gaan laat voel dat die enigste keuse die ANC of oorheersing deur die blankes is nie.

Wat my by die vierde voorvereiste bring – die regering. Oor die wêreld heen is daar baie min uitsonderings waar die inwoners tevrede is met die politieke party aan bewind. Politiek op sy beste is ‘n morsige ding. Dit maak dus nie saak wie aan bewind is nie, daar sal altyd probleme wees. Wat wel saak maak, is die gesindheid van die regeerders en hoe hulle op die probleme reageer. Dit was een van die ligpunte die afgelope tyd – die wyse waarop die lede (nou wel net ‘n klein groepie wat nie deur die hele opskudding geslaap het nie) gereageer het op hul leier se absurde besluite. In die agtergrond huiwer daar egter steeds, ala Mugabe en talle ander Afrikaleiers se styl – die magneet wat Zuma se trop bymekaar hou. En dis beslis nie lojaliteit nie. Almal weet dat dit die heuningpot is, die soustrein, beloftes van tenders en duur karre. (Ek het al gewonder of ek self nie ook ‘n Zuma-aanhanger sal word as hy my in die heuning en sous en dinge sal laat deel nie.) Suid-Afrika sal dus ‘n leier met integriteit, ‘n leier wat die belang van die hele land en al sy mense op die hart dra, moet identifiseer en vorentoe stoot. In Suid-Afrika skiet die moderne media by verre te kort om so ‘n leier se deugde onder die aandag van die bevolking te bring nie. Daar sal dus deur intelligente mense, soos jy, maniere gevind moet word om doeltreffend met die massas te kommunikeer.

Ons moet saamblaas en hard blaas om ‘n sterk wind te laat waai, ‘n wind van verandering. Die Zuma-asem moet weggeblaas word – tensy hy sy streke verander en sy asem agter die hele Suid-Afrika gooi.

Is dit wensdenkery? Ek dink nie so nie. Nie as ek kyk na die reaksie wat ek van vriende in Suid-Afrika gekry het juis op ‘n tyd toe ‘n Zuma-bom die land getref het nie. Die realiteite word in die oë gestaar, die vrese word erken. Maar daar is ‘n borrelende optimisme en geloof – dieselfde eienskappe wat ons in die verlede deur diep waters gehelp het. Hou in gedagte dat persoonlike omstandighede en situasies van persoon tot persoon verskil en dat dit die huidige uitkyk van individue op sake mag beïnvloed. Kom ons kyk na sommige reaksies:

(Elke kolletjie is een persoon se reaksie.)

  • “Ek kan vir jou vertel dat dit wat jy in die koerant lees die waarheid is, maar ek kan ook vir jou vertel dat God se genade steeds baie groot is”.
  • “Ek is ‘n Suid-Afrikaner in murg en been. My wortels is diep geplant in ons land, my siel sal nooit oorleef as die ou boom verplant moet word uit die Afrika-son nie. Maar, ons land het ‘n hartseerland geraak. Jy leef elke dag met ‘n bangheid en hartseer in jou hart, in die land waarvoor jy so lief is. Is ek ‘n pessimis? Nee, was nog nooit, maar op die oomblik is daar nie juis iets in ons land wat ‘n mens kan optimisties maak nie”.
  • “Ons gewone mense wat nie heeldag met die vrot politiek omgaan nie, neem soms kennis van wat aangaan in die land. Ons koop nie meer koerante nie, want dis net bloed en derms en bedrog en diefstal en korrupsie en lieg en bedrieg en onmin en al die gemors van die aarde.wat daarin geskryf staan. Dis al die goed waaraan ons individue niks aan kan doen nie. Ons kan net daaroor bid…en dis wat ons doen.”
  • “Om te sê dat die situasie nie kommerwekkend is nie, sal ‘n leuen wees. Ekonomies is dit natuurlik ‘n groot issue en sal dit op ons gewone mense impakteer. Geen kwessie daaroor nie. Vir my en Jan Alleman om nou na pille te gryp is nie ‘n opsie nie. Ek glo ons moet onsself eenvoudig omring deur al die positiewe dinge wat daar nog is en dit “misbruik”. Ek het ‘n keuse en my keuse is dat daar waar ek nog ‘n verskil kan maak, dit doen ek. Die sirkus kan ons op hierdie stadium niks aan doen nie.”
  • “Dan hoor ‘n ou dat by ‘n plek soos Mr Price Home, een tak R800 000 per dag maak… skrikwekkend. Mense dink die winkels gaan nooit weer oopmaak nie.”
  • “Maar ons moet positief bly en dit afvryf op ons mede-landsburgers.”
  • “Verder gaan dit goed, ons besigheid maak wins en betaal bonusse uit, mense koop Kersgeskenke asof geld volop is, ek draf 6 dae ‘n week, voel veilig in my woongebied (ons het nie ekstremiste wat rondloop en mense skiet nie) Die gewone huisbrake en diefstalle vind steeds plaas, maar mens neem maar nodige voorsorg. Xxxx sal egter nou die land verlaat as dit moontlik was.”
  • “Hier gaan die lewe voort, Kersfees gaan voort, die binnelanders ry strande toe en daar word gebraai en gerumoer.

Die ouens wat toi-toi, brand daagliks hul klompie buitebande in die townships en treiter ’n burgemeester of twee vir die lekkerte.”

  • “Ek vermoed my gevoel en die meeste van RSA s’n is dalk iets wat tussen neerslagtigheid en paniek bly wissel. Ek glo dat dit eers baie slegter sal gaan, voor dit verbeter, maar mens is bekommerd…

Mense soos Xxxx noem gister dat sy bekommerd raak oor haarself, want mens begin jouself isoleer van alles en raak “dood” van binne.  Die hoop vir ‘n toekoms vir jouself vervaag en mens is paniekerig oor die toekoms van jou kinders.”

  • “Jy lees die atmosfeer van ver af reg, maar daar is meer…

Dit gesê, kom die ou Afrikanergees na die oppervlakte. Ons gaan oorleef. Ons moet. Ons twee, Xxxx en ek, beweeg ook in die geselskap en ondernemings van jong Bloemfonteinse kunstenaar-volwassenes.  GEEN wanhoop nie, net planne, a-politiese saamwerk, netwerk, na die maan met die magte wat roekeloos voortgaan.

Die groter prentjie, die een van die wêreld, Europa, VSA, Australië ens., is nog erger as die prentjie in Suid-Afrika.  Ons hou die prentjie al maande lank dop.”

  • “As ek jonk was sou ek sekerlik emigrasie oorweeg het.

Die Afrikaners oor die algemeen het nie meer ‘n sterk nasionale stem nie en dit verg aanpassing. In die Vrystaat sal jy gou agterkom dat mense vasgevang is in tyd. Die toekoms beweeg by baie verby sonder dat hulle enige poging aanwend om te verander. Vasgevang in ‘n bedorwe lewenstyl wat nie meer geregverdig kan word nie. Ek vind dit hartseer as ek jong mense hoor en sien wat die rassisme en vrese van hulle ouers voortdra soos ‘n vaandel van geregtigheid. Ek wil so graag vir hulle skree: “Gooi af daai bagasie en pas aan by jou nuwe omstandighede. Wys ‘n vinger na elke wit rassistiese tannie wat haar neus tussen haar oë vastrek omdat jy ‘n swart meisie aan jou sy het wat verder gekwalifiseerd is as wat meeste van jou familielede is maar wat deur ‘n wit menigte verag word op grond van haar velkleur.”

My buurman aan die linkerkant is Sotho. My buurman aan die regterkant is Zulu. My buurman oorkant die straat is Engels. Die homogene bewustheid van ons jonkwees-dae verdwyn vinnig. In my erf is ek ‘n Afrikaner in murg en been maar as ek my hek oopmaak word ek ‘n Suid-Afrikaner wat almal se regte respekteer soos in enige internasionale situasie. My interaksie met al die mense is gemaklik.”

  • “Daar word elke dag witmense vermoor en dit haal nie eers meer die nuus nie – een van die redes dat ek Van 2007 af nie meer nuus op TV kyk nie. Ek lees gladnie koerante nie, want ek word te woedend kwaad en weet ek is magteloos! Ek kan jou sê hoe voel ek – ek is baie bang – ons witmense word gehaat met ‘n passie en die lot wat so huil en ander opsweep.”
  • “Dus glo ek dat alles wel sal regkom soos Jan Brand gesê het. Ons moet net van die kriminele en onwettige buitelanders ontslae raak. Die res gee nog ’n lied vir die lewe.”
  • “Daar was al rowwer  tye in ons geskiedenis (Boereoorlog, donker dae van apartheid – Kerkstraat- bom). Die huidige regering is vinnig besig om n groot gat vir homself te grawe. Ek is positief dat volgende jaar se plaaslike verkiesings ‘n draaipunt gaan wees.

Ons bly positief – die een-op-een-verhoudinge is S.A. is nog baie goed. Lekker gesellige mense – wit, swart en bruin (meeste van ons het mos so bietjie van alles – ons voorvaders moes deel in die begin, daar was min Europese vrouens en die slawe was geredelik beskikbaar).”Lewe!

PRETORIA WAS GOED VIR MY

11226051_10206786952410922_759259504811044360_nDSC_4051DSC_4107DSC_4101DSC_4067DSC_4115DSC_4111

Wie sou nou kon dink dat Land van die Blou Bul ‘n Cheetah-man so hartlik kan ontvang!
Na die euforiese belewenis in Bloemfontein het ek nie kon dink dat dit beter kon gaan nie. Ek was verkeerd – gedeeltelik. Pretoria het die Rosestad geëwenaar.
In die knus lapa van Krygkor, net so naby die veelbesproke Erusmuskasteel (waar dit glo spook!) het ons gekuier rondom Monochroom Reënboog. Familie, skoolvriende, weermagvriende en nuwe vriende het glasies kom klink op… MY! Wat ‘n eer! Die pragtige tweeling, Martinique en Clariece, het boekverkope woema gegee en neef Johan het sy aktrise-vrou aan my kom voorstel. Uiteindelik kon ek vir Karen ontmoet. Thys, ou skool- en weermagvriend wat ek in 1983 laas gesien het, was ook daar om sy vrou aan my voor te stel. Ek kon skrywersvriende en Facebook-vriende in lewende lywe ontmoet.
As Christine en die kinders nie in Engeland agtergebly het nie, sou Engeland my heel waarskynlik nie weer gesien het nie.
Dankie Suid-Afrika!
(En ‘n baie groot dankie aan almal wat dit vir my moontlik gemaak het. Ek wil graag vir Desiré en Jacolien uitsonder.)

MADIBA

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

Die Breaking News op Sky het my aandag getrek toe ek in my Engelandse bed besig was met e-posse en ander wat-nog-allesse op die rekenaar: Nelson Mandela dies.

Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner, meer spesifiek Afrikaner  – daardie groep mense wat so deur die internasionale media verguis en in dieselfde asem as Hitler en Amin en ander verskrikkers genoem word. Uitvaagsels.

Soms, as ek kyk hoe mede-(Suid-)Afrikaners optree en ek sien videogrepe van ‘n vergange Suid-Afrika, dan krimp my hart ineen. Wanneer ek die taalgebruik sien as mede-Suid-Afrikaners mekaar uitskel en beledig, dan wil ek huil. En dan kan ek verstaan hoekom die media ons voorstel soos hulle doen.

Maar dis dan wanneer ek wil uitroep: Ons is en was nie almal so nie!

Soos die Duitsers letsels het van ‘n Nazi-verlede waaraan hulle nie herinner wil word nie, dra ons Afrikaners swaar aan bagasie uit ons Apartheidsverlede. Uit ‘n tyd toe waardige mense onwaardig by agterdeure van besighede moes ingaan (of gladnie kon ingaan nie) en pasboeke moes hê om soos indringers in hulle eie land te kon woon en leef en werk. ‘n Tyd toe hulle Afrikaner-kerke kon skoonmaak, maar nie daar kon aanbid nie. Bloot omdat hulle velkleur anders was.

Ek dink ek is skaamkwaad wanneer die internasionale media ons Afrikaners uitbeeld as skurke. ‘n Deel van my is skaam omdat dit ‘n waarheidsnaar tokkel. ‘n Ander deel van my is kwaad, want dis nie hoe alle Afrikaners is nie, hoe ek as Afrikaner in my hart voel nie.

Nelson Mandela het die volle impak van die Afrikaner-beheerde Nasionale Party se wette gevoel. Hy wou iets doen om daardie deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, sý mense, wat nie kon deel in alles wat ons pragtige land bied nie, ten minste ‘n regverdige happie van die koek te gee. En hiervoor het hy ‘n dure prys betaal. Hy is gelukkig dat hy darem met ‘n gedeelte van sy lewe daarvan afgekom het toe ‘n derde daarvan  van hom weggeneem is. Sewe-en-twintig jaar!

Ná die aankondiging dat hy vrygelaat gaan word, het baie mense geskarrel om voorbereid te wees  op die hel wat gaan losbars wanneer ons die skerpkant van sy wraak en woede gaan voel. Ek glo baie van hierdie mense het geredeneer dat dít is hoe húlle sou optree as hulle in sy posisie was. En toe gebeur daar niks. Alles verloop vreedsaam, behalwe vir ‘n groep Regse Afrikaners wat hulle naam krater gemaak het toe hulle die KODESA-samesprekings wou ontspoor het.  Mandela stel ‘n Afrikaanse blanke vrou as sy persoonlike assistent aan en verskyn voor die hele wêreld in die Groen-en-Goud, die einste gesogte kleure wat vir so baie jare net vir blankes gereserveer  was. Kort hierna besoek hy Orania om ‘n hand van versoening aan Mev. Betsie Verwoerd te bied. Betsie Verwoerd! Die eggenote van die man wat aan bewind was toe sy beste jare van hom weggeneem is. En hy woon ‘n Sinode-sitting van die NG-kerk by – die einste kerk wat sy mense nie wou toelaat om saam met Afrikaners te aanbid nie.

Vandag wonder ek hoe Suid-Afrika sou gelyk as hy vroeër die leisels kon gevat het. Sê nou maar net voor die Soweto-onluste. Sou daar nou ‘n geslag gewees het wat minder  onverdraagsaam teenoor ander bevolkingsgroepe in ons wonderlike land is?

Ons sal nooit weet nie. Daardie kans het ons Afrikaners deur ons vingers laat glip. Madiba het probeer, maar sy tyd was te min. Sy beste jare lê tussen die fyngekapte kalkklippe op Robbeneiland.

Mag sy gees voortlewe en saad van versoening oor ons wonderlike land strooi.

EK BID VIR ‘N LEIER

 (Geskryf in 2010)

In die kar op pad Southend toe vou ‘n vreemde hartseer om my. Dit kon dalk heimwee ook gewees het. Of verlange. Deesdae verwar baie emosies my en voel dit soos hartseer. In stereo pleit Bok dat De la Rey die Boere moet kom lei. Ek en my tienerseun neurie saam.

Laat gisteraand het Sky se geel “Breaking News” my regop in die bed gebring. Ek het gekyk of sy dalk wakker is, maar haar rustige asemhaling hier langs my het my eers vanoggend vir haar die nuus laat bring: Eugene Terre’Blanche is gister op sy plaas vermoor.

Ons woon in Engeland, nie ver van Southend-on-Sea af nie, waar die Teems in die Noordsee uitmond. Wat aanvanklik net ‘n jaar sou wees, ‘n jaar van wondelek nadat ek my werk verloor het, het na agt lange jare uitgerek. Misdaad, korrupsie of verlepte verwagtinge was nie op ons agenda toe ons besluit het om Engeland toe te kom nie. Dit sou bloot ‘n familie-avontuur wees. Die kinders sou nuwe horisonne in vreemde skole verken; ons sou skouers skuur met die nasate van ons Europese voorvaders. Ons wou vir ‘n jaar – goed dan, ‘n jaar of so – net bietjie wegbreek. Ná honderd-en-tagtig plus onsuksesvolle CV’s het ek nie veel aanmoediging nodig gehad nie.

Ons het niks in Suid-Afrika verkoop het nie, nie eers die honde nie. Die huis met alles is net so gelaat. Ons kom mos terug.

Eugene was nie De la Rey nie. Ek het hom net van TV af geken en, soos baie ander, ook heel dikwels vir sy kaskenades gegiggel. En baiekeer ineengekrimp by die aanhoor van sy stellings en uitsprake, want dit het ‘n stigma om my Afrikaner-nek kom hang wat ‘n stuk van my nie wou dra nie. Soos die Duitsers nog steeds die Nazi-rowe salf, het my Afrikanerlyf ook seerplekke wat brand wanneer ongevoelige hande sout daarin vryf. Hande van mense wat nie die pad ken wat my voorvaders honderde jare gelede uit Europa begin loop het om my te bring waar ek vandag is nie. Weer in Europa?

Die metamorfose van my voorouer-Europeer tot Euro-Afrikaan wat ek vandag is, maak my onherkenbaar vir die hedendaagse Europeers. Getransformeer deur die Groot Trek, twee Boere-oorloë, twee wêreldoorloë, twee grensoorloë, ‘n taalstryd, onderwerping aan die Britse Ryk, waterskeiding referendums en kulturele kruisbestuiwing, is ek nou… wat? ‘n Boer? Afrikaner? Afrikaanse? Suid-Afrikaner?

De la Rey het die Boere gelei. Eugene het vas geglo dat hy die Boere lei. Afrikaner Weerstand. Boeremag. Sy ideologie en ideale het van myne verskil. Wat ons egter in gemeen gehad het, was ons patriotiese liefde vir Afrikaans en ons onrealistiese drome van ‘n eie kultuur in ‘n reënboognasie. Ons het saamgestem oor die eerbetoon aan die veggees, opofferings en  deursettingsvermoë van ons voorvaders. Ons sou dalk oor meer dinge kon saamstem as hy een van die ou Boereleiers se raad gevolg het deur die goeie uit die verlede te haal en die toekoms daarop te bou.

Die evolusieproses wat in 1652 begin het en geleidelik in ‘n tipe Afrikaner-diaspora verander het, rol voort. John Vorster het destyds al gesê ons moet aanpas of sterf. ‘n Deel van my is besig om te sterf. Die ander deel probeer aanpas. Soos P J Schoeman se twee harte herinner my een hart my aan my seuntjie-dae by die Vrouemonument en die Voortrekkermonument waar ek met diepe deernis die lot van talle Suid-Afrikaners kon sien. Dieselfde hart praat met my oor die skok en hartseer na die sluipmoord op ons Eerste Minister en vertel vir my van trotse prestasies van Suid-Afrikaners uit ‘n vergange era: Sasol, Yskor, Krygkor, Pelindaba, Groote Schuur… Daai hart onthou ook van respek vir die landsvlag en volkslied en van skoon hospitale, strate en ‘n gerespekteerde polisie- en weermag. “Ons sal lewe, ons sal sterwe. Ons vir jou, Suid-Afrika!”

My ander hart praat met my oor die nag toe die einste gerespekteerde polisie Hester se man uit die buitekamer kom sleep het bloot omdat hy nie toestemming gehad het om by sy eie vrou in ‘n wit woonbuurt te slaap nie. Hierdie hart herinner my aan Prins wat vir Ma gevra het om vir sy gesin vleis te bestel want “die baas by die slaghuis gee ons net scraps by die side-door”. Ek onthou ook ons altwee se aanvanklike ongemak die dag toe my goeie ou vriend-van-die-werk, die bode Pieter April, die eerste keer by my ouerhuis kom kuier het. Ongemak omdat hy ‘n Kleurling was. Ek kon die hunkering in sy oë sien om ook in so ‘n woonbuurt te woon en het skuldig gevoel daaroor. Hierdie hart leef nie net in die verlede nie. Hy pomp voort en bring varser herinneringe na vore oor die dag toe Nelson Mandela vrygelaat is. Die emosies wat die ontbanning van die ANC by die verskillende bevolkingsgroepe gebaar het was beslis nie beperk tot spesifieke groepe nie. Saam met die vrese en onsekerheid by blankes was daar ook die verligte jukafwerping van apartheid en die hoop op en verwagtinge van ‘n nuwe, beter toekoms vir ‘n totale Suid-Afrika. Dieselfde emosies is deur baie mense van ander bevolkingsgroepe gevoel. Blye verwagting van ‘n beter toekoms. Kommer oor die onbekende. Johannes, ons tuinjong se onsekerheid was duidelik toe hy by mý wou hoor vir watter party hy moes stem. Ons gesprek het ander inligtinghonger mense met dieselfde agtergrond as Johannes nader gelok. Hulle was opgewonde oor beloftes van huise en werk met goeie inkomste. Maar daar was ook vrese. Was hulle vrese destyds dalk op ervaring gegrond? Vrese gebaseer op voorbeelde uit talle lande noord van Suid-Afrika waar gewone mense soos hulle se drome met bloed, korrupsie en onderdrukking uitgewis is?

Johannes is vandag nog steeds huisloos en ‘n tuinjong ten spyte van matriek en ‘n naskoolse kursus in spyseniering.

“Man, jy’s ‘n Boerseun,” moedig ek dikwels my seuns aan as die lewe soms druk. “Wys hierdie klomp Engelse van watter soort staal jy gemaak is!” So soortvan ‘n erewapentjie soos wat ek myne deur die jare met trots gedra het. Boer, Vrystater van Suid-Afrika. Met my hele wese.

Maar ek is ook ‘n hedendaagse Suid-Afrikaner wat geleenthede aangryp – selfs al is dit ver van my erfgrond. Soos ek, het my kinders ook twee harte. Een hart wat smag na braaivleis, rugby, sonneskyn en… Suid-Afrika. En ‘n ander hart wat die beste maak van wat die lewe opdis.

Ek soek ‘n leier. Iemand met twee harte: Een wat die goeie uit die verlede kan haal en ‘n ander een wat ‘n hele nasie daarmee die toekoms in kan inspireer en lei.

Ek bid vir so ‘n leier. Ek sien uit na die lewe se volgende dis vir my en my gesin – in Suid-Afrika?

Nkosi Sikelel’ iAfrika.