‘N MAAND MAAK ‘N GROOT VERSKIL

Talisa Soto

Talle sangers het al vir ons gesing What a difference a day makes . Ek ken nie ‘n lied wat vertel hoe groot verskil ‘n maand kan maak nie, maar iemand hoef dit egter na dese nie vir my te sing nie – ek wéét dit.

Verlede maand het ek my misnoë met die vertoning van die verlepte Proteas teen ons bure baie duidelik gestel. ‘n Maand later sluk ek al daai woorde met ‘n koue Charles Glass-drankie af. Nee kyk, dit was ‘n kragvertoning deur onse magte Protea-sterre. Ek kon nie die hele wedstryd kyk nie, maar verstaan dat Amla glad geskeer was toe hy begin kolf het. Nou vir die tweede toets en die reeks!

Ek was ‘n klein seuntjie toe Ursula Andress as Honey Ryder met twee skulpe in die hand en ‘n wit bikini uit die see gestap het.

Agterna het talle Bond-meisies die oog gevang. ‘n Goud-geverfde Shirley Eaton,

Jane Seymour se bene,

en die smeulende skoonheid van Taliso Soto.

Niemand sou egter ‘n maand gelede geld verwed het dat die koningin van Engeland haar rolprentdebuut as die nuwe Bond-meisie sou maak nie. Met corgi’s en al! Was dít nou skouspelagtig of wat?

Nog al die jare het ek twee herinneringe aan Vangelis se Chariots of Fire  gehad. Die een herinnering bring beelde van ‘n jong Bruce Fordyce wat met blonde, wapperende hare oor die wenstreep van die Comrades-wedloop hardloop. Terwyl die lied se inspirerende akkoorde deur die stadion spoel, verklap niks aan die merkwaardige atleet se houding dat hy pas byna 90 kilometer gehardloop het nie. Ek het die lied ook altyd  met my en vroulief se eerste date  ge-assosieer – die eerste fliek wat ons saam gesien het. Terwyl die manne in wit so in stadige aksie op die strand hardloop, het die pragtige meisie aan my sy my hart en hormone in overdrive  gegooi.

Mr Bean het egter vir altyd al hierdie herinneringe met ‘n sambreel uitgewis. Hoe sal ek nou voortaan anders na die lied kan luister?

Ek gaan dit nie noem nie – netnou word ek van dinge beskuldig – want  twee maande in ‘n ry het ek melding gemaak van buitengewone nuusberigte die laaste tyd oor ons manne se goete en so aan. (Wragtag, anderdag sien ek van daai welbedeelde ou in Amerika wat op die lughawe voorgekeer is omdat daar ‘n vermoede was dat hy dalk iets in sy broek wou deursmokkel…)

Maar ek sal nie daaroor skryf nie.

Kom ons braai eerder. So ‘n lekker stuk Boerewors saam met pap of Mrs. Balls. Ek sien rolletjies  met regte egte Engelse Boerewors het vir  £6.50 op Lords verkoop! Iewers moes die Engelse darem score.

Advertisements

BOEREWORS EN SJOE SIE!

Vreugde in Zimbabwe

Nou ja, wat sal ‘n mens van die afgelope rugby-wintertoere sê? Miskien so min as moontlik.  Ek sien ons het darem ons derde plek op die ranglys behou ná Australië (2de) en die skrikwekkende manne-in-swart heel gemaklik bo-aan.

En as mens liewer niks oor die rugby wil sê nie, dan wil ‘n mens nie eers gedagtes hê oor krieket nie. Zimbabwe? Hoe is dit moontlik dat een van die versukkelste lande ter wêreld twee wedstryde teen Suid-Afrika wen? Volgens die een of ander opname wat kyk hoe gelukkig die verskillende lande se mense is, blyk Mugabe se mense oor die algemeen gelukkiger te wees as hul suidelike bure. Hoe verklaar dit dan dat hulle hul lewens in gevaar stel om riviere vol krokodille oor te steek, deur leeugebied te trek, oor elektriese heinings te klouter  en dan nog die moontlikheid van xenofobiese aanvalle te trotseer wanneer hulle in groot getalle die grens na Suid-Afrika oorsteek?

Op ‘n heel ander noot.

Ons manne se gereedskap haal die nuus die laaste tyd om heel onwaarskynlike redes. Kyk nou maar vir onse Prez Zuma en DAARDIE skildery.

En dan is daar daai ou in Japan wat sy kroonjuwele chirurgies laat verwyder en gevries het. Enkele maande later kry hy toe ‘n blink plan. Gedagtig aan die Oosterse smaak vir eksotiese cuisine  sien hy toe ‘n gaping om geld te maak. Tydens ‘n openbare geleentheid omskep hy  toe sy (bestand)dele in ‘n liplekker gereg. Vyf kliënte het elk sowat $250 ‘n worsie, ek bedoel porsie betaal. Wonder wat het hy die gereg genoem – dalk Sjoe Sie!

Hoe groot is ‘n porsie?

Nee wat, noem my oudmodies, maar gee my eerder ‘n lekker stuk boerewors met gebakte hoendereiers. Saam met pap en sous is dit net so lekker. Of sommer met enige iets.

Regte egte boerewors

Nou wat laat my nou skielik dink aan daai ingelegde worsies wat ons destyds op die grens gekry het?

Wat het ons dit nou weer genoem…?

Maar dit het beslis nie $250 gekos nie.