JY IS MY HELE HART

Enkele jare gelede, vyftien om presies te wees, moes ons ‘n baie moeilike besluit neem. Christine het ‘n werksaanbod uit Duitsland van die Daimler-Benz Aerospace-maatskappy gekry. Ek was heel gelukkig in my werk ingegrawe en omdat die kontrak in Duitsland net vir ses maande was, was dit buite die kwessie dat ek my werk bedank en ons as gesin Duitsland toe gaan. Dit was egter so ‘n gulde geleentheid en finansieel gunstig, dat dit werklik dwaas sou wees om dit nie aan te gryp nie. Familie en vriende het grootoog gewaarsku teen die moontlike gevare wat dit vir ons huwelik en gesinslewe kon inhou, maar ons het biddend die besluit geneem dat sy moes gaan. Op ’n koelerige herfsaand is sy toe alleen Duitsland toe met drie jong kindertjies – die jongste twee jaar oud –  in hul pa se sorg.

Duitsland is ver van Pretoria af en ons sien mekaar net so een keer per maand. Ek kry, as bonus, egter ook die geleentheid om ‘n keer of wat in Duitsland te kom. Die kinders gaan met een kuier saam, maar bly by Oupa en Ouma tydens my ander besoeke.

Een heerlike soel somersaand drentel ons, ewige verliefdes, by mekaar ingehaak deur die steenstraatjies van ‘n eeue-oue dorpie, Lindau, toe Franz Lehár se musiek na ons toe aangesweef kom. Op een van die hotelle se groot buitelugstoepe is ‘n groep musikante en sangers besig om ‘n waarderende gehoor na Glimlagland weg te voer. Ons kry nogal sitplek en met haar sagtheid teen my aangenestel, is ons weer die wittebroodspaar van ouds, met geluk in die harte en sterre in die oë. Die groep sluit heel gepas af met een van my groot gunstelinge – Dein ist mein ganzes Hertz (Jy is my hele hart) uit Land des Lächelns.

Die laaste dag van my besoek breek aan en ek loop die plek plat agter ‘n kaartjie aan vir haar. Ek soek ‘n kaartjie met baie spesifieke woorde  –  woorde wat ek, so glo ek toe, net dáár sal kry. Uiteindelik kry ek dit. Met ‘n bos blomme. Ek steek dit weg in haar huis met die asemrowende uitsig oor die Bodensee en die Switserse Alpe in die verte.

Met haar linkerstuur-motor ry ons in stilte lughawe toe. Afskeid is nooit lekker nie.

Laataand, alleen terug in haar kamer, ontdek sy die blomme en kaartjie.

Christine, Dein ist mein ganzes Herz – für immer!

Advertisements