SEWE DAE IN DIE WOESTYN (DEEL 4)

Ná die vorige dag se prag en praal, besluit ons om te sien hoe die ouer Dubai lyk.

Ons eerste stop is egter nog in nuwe Dubai, by die Emirates Mall – kleiner as die Dubai  Mall, maar staan nie ‘n tree terug wanneer dit by vertoon en verrassings kom nie. Weelde en glans, van die parkeerterrein tot die toilette. Normaalweg voel ek ongemaklik in so ‘n omgewing – dit is net nie ek nie, ek pas nie lekker nie. Ek sit lekkerder langs ‘n vuurtjie met ‘n klompie vriende iets en drink. Maar, vreemd genoeg, ek voel nie ongemaklik nie. Ek verstom my aan alles met dieselfde verwondering as die dag in Buckingham Paleis of die keer in Louis XIV se Versailles. Dis mooi en alles, maar ek kyk maar so van ‘n afstand af. Dalk omdat ek ook maar weet wat in my bankrekening is.  Ek let ‘n klompie baie duur voertuie in die reuseparkeerterrein op, voertuie met klein registrasienommers – ‘n statussimbool. Hoe  kleiner jou nommer is, hoe meer kan jy spog. Ek sien ‘n Bentley met ‘n 87. Klein genoeg, maar hy het nog ‘n paar trappies om te klim om naby die sjeik se nommer 1 te kom.

Teen hierdie tyd het my verstomming nou al begin aanvaar dat alles hier groter en beter is – dat selfs die Amerikaners hier kan kom kyk en leer. Maar ek het werklikwaar nie ‘n ski-oord verwag nie. Op een van die verdiepings van die sentrum is daar ‘n ski-baan, kompleet met hysstoele waarmee skiërs boontoe geneem word om teen die helling af te ski. Die termometer wys dit is -1 graad daarbinne en almal is aangetrek asof hulle by St Anton in Oostenryk is. Die kinders bou sneeumanne en doen plankry teen ‘n kronkelheuwel af terwyl die waaghalsiges meer uitdagende aktiwiteite aandurf. Ander sit en eet by tafeltjies van restourante so reg uit die Alpe – kompleet met ‘n kaggelvuur.

Die drywerlose trein neem ons na die ouer deel. Ons mikpunt is die souks (tradisionele mark), meer spesifiek die spesery-souk en die goud-souk (laasgenoemde beslis nie omdat ek iets daar wil of kan koop nie). Die atmosfeer is dadelik anders. Weg is al die moderne glans. Die markte is ‘n bedrywige energieke mengelmoes van nasionaliteite wat koop of verkoop en ons het ons hande vol om die ywerige handelaars te oortuig dat ons “net rondkyk”. Uiteindelik is ons daar weg met ‘n kasmier-serp en ‘n kameeltjie (darem net ‘n ornament!).

Laatmiddag kry ons die abra (watertaxi) wat al vir eeue mense oor die Dubai Creek neem. Aan die oorkant dwaal ons deur ou strate en verkyk ons aan ‘n kultuur wat so verskil van ons s’n. Ons sluit ons dag af met ‘n smulete in ‘n Arabiese restourant – ‘n ete wat goed met ‘n wit wyntjie sou afgaan. Maar nouja, enige alkoholiese verversings is nie op die spyskaarte nie.

Die volgende oggend is ons weer Dubai Mall toe om die enorme akwarium en onderwater dieretuin te besoek. Die video wys net ‘n klein stukkie in die tonnel op pad na die akwarium.

https://www.youtube.com/watch?v=U-Lwu0_a4KYIMG_0617IMG_0502

'n Gedeelte van die ski-oord

‘n Gedeelte van die ski-oord

Straattoneel in ou Dubai

Straattoneel in ou Dubai

IMG_0443IMG_0446IMG_0438

Met die abra oor die Dubai Creek

Met die abra oor die Dubai Creek

Binnekant die souk

Binnekant die souk

IMG_0464IMG_0397

Waar woorde teen die muur van die onderwater dieretuin

Waar woorde teen die muur van die onderwater dieretuin

Advertisements

SEWE DAE IN DIE WOESTYN

DEEL 1

IMG_0646

Verlede maand val ‘n gelukkie my mos te beurt. Melissa is lugwaardin in Dubai en sy sê sy verlang na haar pa en ma. Ons moet kom kuier. Nou moet ek uit die staanspoor sê dat ek baie ander plekke op aarde eerder sou wou besoek as ‘n land in die Midde-Ooste. Pa-se-enigste-dogter is egter die groot trekpleister en dan wou ek nog altyd daai hoë gebou waarvan ek die naam nooit kon onthou nie, gesien het.

Met die daalslag sien ek net wit sand by die vliegtuig se klein venstertjie uit – so ver as wat die oog kan sien. Die lug is ‘n dynserige beige.

Vir so ‘n yslike vliegtuig land die grote Airbus nogal heel grasieus in Abu Dhabi. In die aankomsaal is ek effens ongemaklik, dalk gespanne, want ek het nou al baie dinge gehoor en gelees van goed wat jy in hiérdie lande moet of maar liewers nie moet doen nie. Ek kyk die manne met hulle lang wit rokke agterdogtig aan. Christine haak by my in, maar ek woel my vinnig los – nie seker of dit een van die goed is wat taboe is nie. By doeanebeheer vra die jong Arabier  sy vrae en sit sy tjap in ons paspoort.

Hoe dit werk, sal ek nooit weet nie, maar die bagasie wat éérste op die carroussel verbykom, se eienaars daag altyd laaste op. So ‘n rooi tas met ‘n blou strik is al heel  dronk gedraai toe óns  tasse verbykom.

Uiteindelik kry ek en vroulief ons sit tussen ‘n magdom nasionaliteite in ‘n lugversorgde bus na Dubai. Ons bagasie is vooruit in ‘n kleiner bus en met tipiese Suid-Afrikaanse bekommernis wonder ek of ons ooit weer ons bagasie gaan sien. Buite is dit 43 grade met geen boom in sig nie. Die bus beur tussen stofwolke voort en halfpad Dubai toe kry elke passasier ‘n bottel koue water. Ek sit aan die skadukant van die bus en waag dit om die gordyntjie oop te skuif. Die hittegolwe kom soos branders aangerol. Buite skuif platdakhuise in netjiese rye en imposante moskees verby ons.

Moskee op pad Dubai toe

Moskee op pad Dubai toe

Die pad is in ‘n uitstekende toestand.

‘n Uur of so later is ons in Dubai se buitewyke.

ONS RY DUBAI BINNE

ONS RY DUBAI BINNE

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Nou, om die een of ander rede het ek Dubai voorgestel as ‘n groterige oase, ‘n plek so groot soos, sê nou maar, Brandfort met so ‘n klompie hoë geboue en die mensgemaakte Palm-eilande waarop jy half versigtig ‘n ent die see in kan loop.

EN TOE WAS DAAR STOF...

EN TOE WAS DAAR STOF…

En dan dáárdie gebou wat soos ‘n kers op ‘n verjaarsdagkoek bo alles uittroon.

DAAI GEBOU!

DAAI GEBOU!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

O ja, en ook daardie nou al ikoniese skipgebou waar Roger Federer en André Agassi meer as 200 meter hoog op die helipad ‘n potjie tennis gespeel het. Verder net woestyn.

Mense, was ek verkeerd!