ENKELE KOMMENTARE OP MONOCHROOM REËNBOOG

11226051_10206786952410922_759259504811044360_n

ENKELE KOMMENTARE OP MONOCHROOM REËNBOOG

(SOOS VERSKYN IN LITNET  )

Annette le Grange

‘n Moet lees boek. Skitterende skryfstyl, eerlik, openhartig. Die storie tref mens fel,veral vir ons wat in daardie era groot geraak het. Die boek lewer ‘n intense genot en mens is half jammer daar is nie nog hoofstukke oor nie, veral as jy lees en besef dit is die laaste bladsy. Baie geluk mnr Fourie, jou boek is beslis aan te beveel vir jonk en oud. Stukkie ware geskiedenis van ons brose land en sy mense.

  • Gert Burger

    Een boek wat ek sonder twyfel sal aanbeveel. Veral die mense wat die tyd van die bosoorlog intens belewe het, kan dalk uitvind hoe naby hierdie verhaal aan hul eie belewenisse is.

  • Alice Hendriks-Boshoff

    Monochroom Reënboog is ‘n boeiende boek. Die taalgebruik en skryftrant pas treffend aan by die verskillende lewensfases van Abrie, die hoofkarakter. Fourie skilder omgewing, omstandighede en situasies só helder en lewensgetrou, dat ‘n mens sterk daarmee kan identifiseer – veral as jy self ‘n oud-Bloemfonteiner is. Hierdie boek leen hom m.i. nie tot ‘n opvolg van enige aard nie, maar ook ander skeppingswerk van Fourie sal ‘n aanwins wees vir die Afrikaanse boekrak. Ons sien uit daarna.

  • Dr G M Augustyn

    Ons wat bevoorreg is om Andre in persoonlike verskyning te ken, hier in Engeland, weet dat die man sy woorde weeg en kies, en dat hy versigtig omgaan met mense omdat hy broosheid diep ken. Sy verhaalkuns in Monochroom Reënboog bring lekkerte in vele opsigte, want ook daar is ontwerp en fyn kies van woord en gedagte volop vir die genietleser en die ontledingsleser. Knap gedaan, Andre!

  • Andre De Wet

    As ‘n seun van ‘n soldaat wat self in die 70’s groot geword het was dit ‘n ongelooflike grypende boek. Ek kon myself inleef in heelwat van die situasies. Ek bly ook nou in Engeland en die boek het erg aan my hartsnare getrek.

  • Willie Brits

    Ek was weer teruggevoer na my kinderdae op ‘n wyse wat my ‘n knop in die keel gegee het. André jou eerlike, gemaklike skryfstyl gee geloofwaardigheid aan jou boek. Wel gedaan my vriend. Ek kan nie wag vir die opvolg nie.

  • Andre Eloff

    Toe ek die boek lees het my eie lewe en grootwordwêreld voor my afgespeel. Ek is deeglik herinner aan die ou dae. Die boek is briljant geskryf … vol hartseer, verlange, nostalgie, vreugde en letterkunde met ‘n sterk geskiedkundige inslag.
    Ek het dit geniet … dankie Andre. Maak weer so!

  • Colleen Potgieter

    Ek het so pas ‘n boek klaar gelees … dit was fantasties … kry dit, koop dit of leen dit, maar lees dit. Die boek: Monochroom Reënboog geskryf deur André Fourie.

  • Herman du Plessis

    Baie geluk met ‘n uitstekende boek. Ek het elke bladsy geniet, en lekker gelag, gehuil, en opgewonde geraak saam met jou karakters. Dit het my soveel nostalgiese genot verskaf om te lees van ons herkoms in hierdie monochroom reënboogland. Ek lees al Jeffrey Archer, Sidney Sheldon, Stigg Larson, Jo Nesbo, Deon Meyer en Wilbur Smith se boeke, en kan nou die naam van Andre Fourie daarby voeg.

    Welgedaan, en mag daar nog baie uit jou pen vloei. Jy mag maar!

  • Johan Noordman

    Nooit so geboei deur ‘n boek nie – wens dit het nog 20 addisionele hoofstukke gehad. Kan nie wag vir ‘n volgende treffer nie.

    LEES HIER MEER OOR MONOCHROOM REËNBOOG

 

Advertisements

UIT: DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (NO. 3)

3 : GOEDGELOWIGE LESERS

Twee dinge is veral opvallend in hierdie 82-jarige Huisgenoot: Die hoeveelheid advertensies (ook geklassifiseerd) en die heerlike bederf van ‘n verskeidenheid kortverhale. Ek staan egter verstom as ek sien hoe adverteerders die goedgelowigheid van die lesers uitbuit (of was die lesers werklik so oningelig?). Neem byvoorbeeld die geklassifiseerde advertensie onder die hofie, “Belangrik vir Dames”.

“Dames: Waarom sou u aan ‘n plat bors ly? Vermeerder u buustemaat van 3 tot 6 duim deur “Cream of Charms” Bust Beautifier, 5/6 per bottel te gebruik. As u buuste te veel ontwikkel is, gebruik dan “Cream of Charms” Bust Reducer, 7/7 per potjie. By alle apteke of regstreeks van mev. Jenkinson, p/a Gibson se Apteek, h/v Bree- en Kruisstraat, Johannesburg.”

Nou kyk, nooit in my wildste drome het ek kon dink julle meisies “ly” aan plat bors nie. Gelukkig hoef destyds se meisies nie te ge-suffer het nie. Nee, jy smeer net van hierdie Cream Of Charms kunsmis aan en siedaar, verlos van die lyding. En ek kan nou ook nie help om te wonder wat gebeur as hierdie wonderlike pousjin op enige ander liggaamsdeel sou beland nie. Soos byvoorbeeld, sê nou maar, die boude (nou wat het jý nou weer gedink is my gedagtes mee besig?).

Nou moet die slimmer mense help. Ter wille van die jonger geslag, is 5/6 ongeveer 55 sent en 7/7 so 75 sent (rofweg) of praat ek nonsens? En nou moet onthou word dat jy baie, baie meer vir 55c se waarde kon kry as vandag. ‘n Tenk petrol  vir ‘n 8-slinder Ford dalk?

UIT: DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (No.4)

4 : MOENIE AAN ONS AFRIKANERS RAAK NIE!

Kom ons beweeg eers bietjie weg van die advertensies af.

Hierdie uitgawe van die Huisgenoot, onder redaksie van J. M. H. Viljoen het verskyn ʼn jaar nadat die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans verskyn het. Die redaksie was hewig ontsteld oor ʼn brief wat ʼn Hollandse Afrikaner oor Afrikaners aan ʼn Nederlandse blad, De Standaard, geskryf het en wou die saak eers daar laat. Maar is “daartoe verplig” om die saak verder te voer toe daar al hoe meer klagtes van ontevrede lesers begin instroom het.

Die verontwaardiging is aangevuur deurdat “De Standaard die orgaan van die Geref. Kerke in Nederland is – dus van ʼn groep van wie ʼn mens eerder simpatieke houding teenoor die Afrikaner sou verwag as die teendeel”.

Nou wat skryf hierdie Hollandse Afrikaner toe wat die volk so omkrap? Kom ons kyk.

“Die beskuldigings teen die Afrikaners kan as volg saamgevat word: Hulle hou nie veel van die Hollanders nie en sal hulle by die eerste die beste geleentheid uitsmyt. Die geestelike lewe van die Afrikaner is oppervlakkig; almal speel kaart, dans, drink, en Sondag is ʼn uitgangsdag. Die sedelike lewe staan op ʼn laer pyl as in Nederland. ʼn Verlowing vind net voor die huwelik plaas, maar voor die tyd kan enige jong man by ʼn meisie kom kuier ‘en bij een kaars tot ‘s nachts drie uur opzitten… De gevolgen blijven niet uit…’ Hieroor wei die Hollander breed uit, terwyl hy ook melding maak van ʼn “naaktkamp” wat naby Johannesburg opgerig is.”

De Standaard haal ook blykbaar koerantuitknipsels, wat die Hollander aan sy brief geheg het, aan en maak ondermeer melding van “mense wat beswaar maak teen die vertaling van die Bybel in Afrikaans”.

My maskas!

Die Huisgenoot voel toe dat die saak nie daar gelaat kan word nie en kap ter verdediging van die Afrikaners terug.

Hulle erken tog:  “Dat daar by ʼn paar van die ouer mense beswaar was teen die oorsetting van die Bybel in Afrikaans , spreek vanself. Maar wat nie genoem word nie, is dat daar gedurende die afgelope twaalf maande sowat 250 000 Afrikaanse Bybels deur die drukkers afgelewer is, en byna almal verkoop is.”

Verder erken hulle ook dat “…die Hollander haat, waarvan die korrespondent melding maak, het op een tydstip wel in Transvaal bestaan. Dit was te wyte aan die feit dat dat die Hollanders uit hoofde van hul beter geleerdheid, feitlik ʼn monopolie van al die vernaamste betrekkings in die staatsdiens gehad het. Baie van hulle wou van die Suid-Afrikaanse Republiek “ (nogal!) “…’n klein Holland maak en het neergesien op die ou baanbrekers. Dit spreek vanself dat daar in sulke omstandighede wrywing moes ontstaan.

En wat van die ander beskuldigings? Die Huisgenoot verdedig (ook maar nie baie oortuigend nie!) hulle lesers:

“ Daar bestaan byvoorbeeld ʼn vereniging” (klink darem beter as ‘n naaktkamp”) “… in Johannesburg wat die s.g. naakt-kultuur” (weer eens beter) “… beoefen, maar ons betwyfel dit sterk of ʼn enkele Afrikaner lid daarvan is.” (NOOOOIT!!) “Hier word wel gedrink, kaart gespeel en gedans, maar onder die Afrikaners seker minder as onder enige ander rassegroep in die land” (Maar natuurlik! Wonder nou net hoe weet hulle dat daar wel gedrink en ander sondes gepleeg word?).

Verder: “ ’n Neiging tot oppervlakkigheid is daar seker, maar waar word dit nie vandag in hierdie dae van na-oorlogse verwildering en vervlakking van die geestelike lewe aangetref nie? Dat ʼn aantal Suid-Afrikaanse geleerdes egter tydens die onlangse wêreldkonferensie van onderwysdeskundiges in Suid-Afrika op gelyke voet kon optree met die afgevaardigdes van oorsee, skyn te bewys dat ons, ondanks ons oordrewe sportliefde en ʼn klimaat wat nie juis bevorderlik is vir ernstige studie nie, nie so oppervlakkig is as wat sommige mense meen nie”.

Ai man, wens ek het hierdie artikel destyds gehad sodat ek vir my ma kon wys dat ons klimaat nie juis bevorderlik vir ernstige studie is nie. My pleidooie het op dowe oor geval toe ek haar bly vertel het, daardie somer van my matriekeindeksamen, dat dit hopeloos te warm is om agter die boeke te sit.

UIT: DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (N0.2)

2 : LYDENDE VROUENS EN NAARHEID IN DIE KOP

‘n Advertensie wat mens laat wonder wat die sonde was vir hierdie “natuurlike straf” (en wie die vertaalwerk gedoen het).

Bring u u beste jare in ellendige siekte deur terwyl u al die tyd deur middel van ʼn kort gespesialiseerde behandeling met SEKERHEID herstel kan word?

 Tientalle vroue getroos hulself gewis so ʼn onnodige opoffering. Waarom? Niemand weet beslis nie. In die ou tye het vrouens geglo dat liggaamlike lyding die natuurlike straf vir die vroulikegeslag was. Maar daardie dae was dae toe die geneeskundige wetenskap nog ondoeltreffend was en daardie geloof was soos ʼn berg voor vrouens.

 Het u rede om te vermoed dat die funksionele gestel nie heeltemal gesond is en gereeld werk nie?

 Ons beveel FELUNA sonder aarseling aan. Eenvoudig omdat FELUNA ‘n skitterende suksesvolle geskiedenis het en ons, om die beurt, het vertroue wat tereg op sy oorsprong uit daardie geskiedenis het

Huh?

Geen wonder Johnson’s Powder het op dieselfde bladsy ʼn advertensiewedstryd van stapel gestuur nie (was daar dan nog nie reklameagentskappe nie?).

£105 AAN PRYSE!

En nou wil ons ʼn goeie idee van ʼn advertensie hê. Sommige mense besit die gawe om advertensies uit te skryf en te ontwerp – of om goeie advertensie-idees uit te dink. Miskien is u een van hulle!

Aspro het ʼn byna volbladadvertensie en gebruik getuigskrifte van gebruikers om die lof van hierdie wondertabletjies te adverteer. So skryf Mej. S D van Staden van Hoogestraat, Dewetsdorp, O.V.S. :

Waarde Here, – Baie hartlik dank vir die ontvangs van die waardevolle tablette. Ek het nog nie iets beter vir hoofpyn gebruik nie. Daar ek erg lydende was aan ʼn vreeslike naarheid in my kop en gevoel het of ek wou mal word, voel ek nou sommer weer ʼn mens.

 Phil Medley & Kie. gebruik ʼn skitterende woord wat ek nog nooit voorheen gehoor het nie.

 

 Wie ken die woord suigbesem vir ʼn stofsuier? Ek sien dit kom wel in woordeboeke voor.

DIE HUISGENOOT, 21 SEPTEMBER 1934 (No. 1)

1 : PARTON-PILLE

IMG_0956

Iemand stop my gister ʼn Huisgenoot van 1934 in die hand en ek kan die ding nie neersit nie. Daar is talle verhale in deur PJ Schoeman, PJ Nienaber en selfs PW Botha (wonder of dit die toekomstige Groot Krokodil is). Ek gaan die volgende paar dae interessanthede wat ek raaklees met julle deel.

Daar gaan geen spesifieke orde of tema wees wees, bloot gedagtes soos ek deur die tydskrif blaai. Let op dat dit “Die Huisgenoot” is en nie net Huisgenoot soos dit deesdae is nie. Die formaat is A3 (2 X A4) en slegs die voorblad het ʼn kleurfoto op (geneem deur ene A van R van Oudthoorn) Die prys is 4d. Die res van die inhoud is swart, of blou of bruin (ook die foto’s).

Om af te skop, goeie raad vir moedelose skrywers uit “Korsies” op die laaste bladsy van hierdie ou Huisgenoot (let op die taalgebruik):

Aspirant-skrywer: “Dit is hopeloos! Telkens stuur die uitgewers my manuskripte terug. Dit ontneem my die moed om nuwe werk te begin.”

Vriend: “Weet jy wat jy moet doen? Moenie jou adres insluit in die toekoms nie.”

Sommer op die eerste bladsy vang iets my oog: Aanvanklik gedink dis ʼn spotprent, maar dis eintlik ʼn advertensie vir “Parton’s Purifying Pille”. Die prentjie wys hoe die hele gesin met die ma baklei en vra:

“Wat! Jy het vergeet om Parton-pille te bestel ?!?.x!!?.x.”

IMG_0957

Continue reading