KERSFEES BRING ONTHOU … EN DANKBAARHEID

KERSFEES BRING ONTHOU … EN DANKBAARHEID

KERSFEES

Ek is mal oor Kersfees. My hele wese is in sinchronisasie met hierdie tyd wat gereserveer is vir veronderstelde vrede, liefde en welwillendheid. Daar is egter iets wat my nekspiere hier van November af laat styf trek. Die rede vir hierdie styftrekkery kort egter bietjie agtergrond.

Dis nou al ʼn hele klompie winters gelede. Saambou en sy filiale het in duie gestort en honderde van ons sonder inkomste gelaat. Regstellende aksie het soos ʼn groot uitsmyter voor my kom staan – ten spyte van die nodige ervaring en kwalifikasies, het ek nie aan die vereistes voldoen vir die poste waarvoor ek aansoek gedoen het nie.

Min of meer dieselfde tyd kry Christine ʼn aanbod om in Engeland te gaan werk en op die ingewing van die oomblik besluit ons om dit ʼn familie-avontuur te maak. Net vir ʼn jaar … of so.

Reëlings word inderhaas getref en twee weke later vertrek Christine. Ek finaliseer die laaste rompslomp en stap haar majesteit se koninkryk enkele weke later binne. Die kinders – toe onderskeidelik 13, 10 en 6 jaar oud  –  sal volg sodra ek die kat uit die boom bekyk en die nodige reëlings getref het. Christine is die hoofbroodwinner en terwyl sy bedags werk, vind ek uit van skole en medies en verblyf en werksmoontlikhede en wat nog alles.

Die kinders daag uiteindelik op, dis somer en hulle geniet die uitgerekte skoolvakansie. Dis egter ʼn groot aanpassing en ons besef dit terdeë toe die skole aan die begin van herfs open. Die kinders leer lesse nou in Engels. Siende dat Christine heeldag werk is ek die aangewese persoon om na die kinders en huishouding om te sien. Ek leer kook, sny gras en maak huis skoon. Besorg die kinders by die skool en agtermiddae loop ek (ons het toe nie ʼn voertuig gehad nie) om hulle by die skool te gaan kry (laerskoolkinders mag nie alleen van die skool af loop nie). Dit begin kouer raak, maar ons geniet ons eerste koue Kersfees met Oupa en Ouma wat kom kuier. Min weet ek dat dit die laaste keer is dat ek my pa sou sien.

Na my pa se dood, begin my gemoed my opkeil. Dit was gevoelig genoeg nadat ek my werk verloor het, maar nou mis ek ook my land, my mense, my taal. En my pa. My gebondenheid aan die huis terwille van die kinders (is dit nie ʼn grillerige woord wat die Engelse hier het nie – house husband!) druk my ego en trots planke toe en die swart hond kom soek slaapplek. Om hom te verjaag, begin ek doen wat die hand vind om te doen. Ek werk onder andere nagskofte by die poskantoor se sorteerafdeling – sodat ek bedags daar vir die kinders kan wees. Ek voel beter toe ek my eie geld weer begin verdien – min, maar darem. Om ons tweede koue Kersfees – alleen, sonder familie – bietjie op te kikker, besluit ek dat ons iewers ‘n lekker Kersmaal sal gaan eet. Ek het mos nou ‘n geldjie. Ek weet toe nou nie hoe die Kersetes werk nie en vind tot my skok, Kersoggend, uit dat ek laaank voor die tyd moes bespreek het. Al die plekke is òf toe òf volbespreek. Geen winkels is oop op Kersdag nie. Daardie Kersfees eet ons ‘n pak winkel-paella  wat ek in die vrieskas ontdek en kyk TV. Net ons vyf. Buite is dit ‘n grou, trietsige dag.

Die aanloop tot Kersfees by die poskantoor is besig. My skof is van 10-uur saans tot 6-uur soggens – net betyds om Christine en die kinders se ontbyt te begin, saam met Christine stasie toe te loop en die kinders later by die skool te besorg. Terwyl hulle by die skool is, slaap ek ‘n paar uur. Maar nie te lank nie, want daar is ander werk bedags om te doen. Om 3.30 word die kinders by die skool gekry en dan is dit voorbereiding vir aandete en hulp met die kinders se huiswerk. Christine strompel soms eers 8-uur saans, opgewerk, by die voordeur in. Snags werk ek soos ‘n zombie en drink energiedrankies en baie koffie om wakker te bly.

Deur die nag speel ‘n radiostasie Kersliedjies wat die hele yslike lokaal waar ons werk, vul. Ek is moeg verby. En geïrriteerd. En ek verlang. Ek verlang na my mense, my land, my pa. En ‘n warm Kersfees. In my verbeelding ruik ek die braaivleis en proe die koue skaapboud en Ma se koperpennieslaai.

Terwyl ek deur newels van moegheid en verlange toesien dat die pos in die regte rigting gestuur word, kerm Maria Carey oor wat sy vir Kersfees wil hê. Wham huil nog oor die vorige Kersfees en Band Aid wonder of die kindertjies ooit weet dis Kersfees. Ek wens ek kan die luidsprekers sien sodat ek hulle met iemand se pakkie kan stilmaak!

Baie waters het intussen see toe gevloei en vandag is ons ingeburger. Ons het vasgebyt tussen koue Kersfeeste en verlange deur. Ek sien selfs uit na Kersfees, nogal  ʼn koue een, met die (nou volwasse) kinders en hul metgeselle wat kom kuier en goeie vriende. Ons eet warm skaapboud en gebakte aartappels met soetpatats en groenboontjies. Ja , en soms selfs Yorkshirepoeding  met sous. Dan rond ons die Kersmaal af met eg Suid-Afrikaanse doekpoeding of souskluitjies. En ons dank Hom, wie se geboorte ons herdenk, vir Sy liefde en leiding.

Vanoggend, egter, toe Maria weer so oor die radio begin kerm, begin my nekspiere styf trek en drogbeelde van lank gelede se uitmergelende nagte met berge Kersfeespos doem voor my op. En ook daai alleen-Kersfees met ‘n pak gevriesde kos.

Gelukkig kon ek die radio afskakel en my keuse van Kersmusiek speel.

“Oh Holy Night …”

HET JY NOG ‘N PLEKKIE IN JOU HERBERG?

HET JY NOG ‘N PLEKKIE IN JOU HERBERG?

love

Daar is darem net iets omtrent hierdie tyd van die jaar wat dit totaal anders as die res van die jaar maak. Sommige haat dit, ander sien met oorgawe daarna uit. Hier in die noordelike halfrond is die atmosfeer mos totaal anders as in Suid-Afrika. Kersfees is koud, binnenshuis en… dalk meer knus? Hoe dit ook al sy, Kersfees gaan nie sommer ongesiens verby nie.

Een jaar, as jonggetroudes, het ek en Christine ‘n aangrypende Kersdag beleef.

Ek het iewers gelees dat daar baie teorieë oor die ontstaan van tweede Kersdag (Boxing Day) is. Een daarvan is, dat huisknegte hulle werkgewers op Kersdag moes bedien en daarom kon hulle die volgende dag afkry om na hulle families te gaan. Die werkgewer het dan  gewoonlik ‘n boks met geskenke en kos wat van die vorige dag se feesmaal oorgebly het, saamgestuur. So het Boxing Day dan, volgens een teorie, gestalte gekry. Ek en Christine het besef dat daar heelwat arm gesinne is wat nie Kersdag kon eet soos ons daardie dag saam met die familie sou feesvier nie. Ons wou egter nie die volgende dag vir hulle ons oorskietkos in ‘n boks neem nie en het spesiale toestemming by een of ander welsynorganisasie in Bloemfontein gekry om twee gesinne op Kersdag te bederf. Die dag voor Kersfees is gekook, voorberei en verpak. Net na kerk op Kersoggend is ons met die slaaie, kouevleis, nagereg en geskenkies na die twee huise toe. Ons het tot ‘n pak Kersklappers en bypassende servette ingepak. Nodeloos om te sê dat die reaksie – die dankbaarheid, die trane en die blink ogies van die kinders – my tot die dag van my dood sal bybly. Tog so jammer dat ons daardie dag net twee gesinne kon help.boetie

Ek hoor anderdag die pragtige storie van die kindertjies wat by hulle kerk ‘n Kersspel opgevoer het. (Ek wens ek weet wie se storie dit is, sodat ek erkenning kan gee.) Die juffrou het egter gesukkel met die outjie wat die herbergier gespeel het, want die seuntjie kon dit om die dood nie oor sy hart kry om vir Josef en Maria te sê dat die herberg vol is en dat daar nie vir hulle plek is nie. Dis tog immers Jesus se pa en ma! Die juffrou het hom eenkant geneem en vir hom verduidelik dat hy dit eenvoudig net móét doen want dit is hoe die storie verloop.

maria

Die aand met die opvoering, toe Josef en Maria by die herberg aanklop, het hy verstar gestaan. Van agter die gordyn het die juffrou aangepor en gedreig. Toe maak hy sy mond mompelend oop:

“Die herberg is ongelukkig vol, hier is nie slaapplek nie…”

Toe Josef en Maria omdraai en bedremmeld begin wegstap, roep hy hulle terug:

“… maar wag, julle kan vanaand in my kamer slaap en dan slaap ek by my pa en ma op die mat!”

Die konsert moes vir ‘n ruk gestop word sodat almal tot bedaring kon kom, maar dit was die beste konsert ooit! Want hierdie seuntjie het die ware boodskap van Kersfees in sy hart gedra.

Kersfees is soveel meer as die blink versierings, liggies, geskenke en kreunende feestafels – klatergoud wat sy glans sommer op Boxing Day al begin verloor. Kersfees bring ‘n boodskap van hoop, liefde, vrede en omgee – opregte omgee. Omgee wat beteken dat jy, soos die Christuskind, jouself – of dan ten minste iets van jouself – gee.

Young Caregiver Holding Senior's Hand Outside

Young Caregiver Holding Senior’s Hand Outside