MUSIEK BRING ONTHOU, SOOS DIE DAG IN 1964

MUSIEK BRING ONTHOU, SOOS DIE DAG IN 1964

DAGBREEK

Musiek staan soos bakens op my lewenspad. Dit reflekteer herinneringe aan mense, gebeure en plekke elke keer wanneer ek ‘n bepaalde lied hoor. Hier en daar bring ‘n lied selfs meer as een herinnering op.

MUSIC MEMORIES

Soos Rachmaninoff se Rapsodie op ‘n tema van Paganini wat my aan een van my gunstelingrolprente, Somewhere in Time, laat dink en die mense saam met wie ek dit gekyk het. Maar die lied herinner my ook aan die aandstories oor die radio uit my kinderjare. Ek glo vas die lied was die temalied van Briewe van Tant Mathilda, maar ander stry en sê dit was Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Dan is daar I Wanna Live van Tommy Oliver (my eerste “close” dans), Seasons in the Sun van my matriekjaar en Sugar Baby Love wat my wegvoer na … , oeee… sy was mooi.

MUSIEK

So kan ek ‘n heel lange lys opstel.

Ek was ‘n klein seuntjie in die laerskool – 3 Augustus 1964. My ma het ons soggens, net na die oordenking oor die radio, vir skool wakker gemaak. Dan het ek my radio aangeskakel, op Radio Suid-Afrika, waar Fanus se Penniefluitjiekwêla en kwinkslae my in die regte stemming vir die dag gebring het. Maar eers was dit die nuus om kwart voor sewe en daardie wintersoggend was dit hartverskeurende nuus.

Die rede hoekom die nuus my persoonlik so aan die hart gegryp het, was waarskynlik omdat die seuntjie so oud soos ek was. En sy pa en ma was min of meer my ouers se ouderdom. En hy’t ook twee sussies gehad, soos ek. Dit was ook nie net ek wat verslae na na die nuus geluister het nie. Die hele land is aangegryp deur die lot van die Oosthuizen-gesin en hul huishoudster wat daardie nag, met huis en al, deur ‘n reusesinkgat by Carletonville ingesluk is.

Marthinus, sy vrou Hester en hul drie kinders, Jacoba, Johannes en Marianne het die vorige dag van ‘n gesinsvakansie by Amanzimtoti af teruggekeer.

‘n Buurman vertel dat hy tweeuur daardie nag opgestaan het om ‘n hoofpynpil te kry, toe hy ‘n vreemde geluid gehoor het, baie soos wawiele op ‘n rowwe pad. Hy het probeer kyk wat die oorsprong van die eienaardige geluid was, maar kon niks ongewoons sien nie. Deur die venster kon hy sien die Oosthuizens se lig was aan, maar verder niks vreemds nie.

Sekondes later was die wawiele-geluid weer daar, maar hierdie keer heelwat harder. Verbysterd en in ongeloof moes hy toekyk hoe sy bure se huis verkrummel en deur die aarde ingesluk word. Hester se gille kon bo die gerammel gehoor word.

Die gesin is nooit weer gesien nie.

Daardie aand was daar ‘n huldeblyk oor die radio aan die gesin.

OOSTHUIZENGESIN

Wat my bring by die rede vir hierdie skrywe.

Musiek bring baie herinneringe terug. Vanoggend luister ek na Classic FM toe Edvard Grieg se Oggendstemming my dadelik na daardie hartverskeurende dag teruggevoer het.

Die lied is gespeel aan die einde van die huldeblyk oor die radio.

LUISTER HIER NA: EDVARD GRIEG: OGGENDSTEMMING