SAAI OM TE OES?

SAAI OM TE OES?

STADSAAL10

Woensdagaand, met die foto’s van ’n brandende Bloemfonteinse stadsaal wat soos ’n veldbrand deur die internet versprei is, het iets diep binnekant in my meegegee.

Ons skoolleuse was, SAAI OM TE OES. Die aand met my matriekafskeid, was die tema vir die aand deur ons skoolwapen geïnspireer en die skoolhoof het ʼn aangrypende toespraak gelewer aan die vooraand van ons groep jongmense se volwasse lewens. Sy boodskap was gebaseer op die skoolleuse: Saai om te oes. Wat jy vandag saai, maai jy in die toekoms. Ons matriekafskeid was, ironies genoeg, in die Bloemfonteinse stadsaal.STADSAAL 1

As laerskoolseun het ek baie ure in daardie gebou deurgebring. Dis daar waar kleinsus Elmarie ‘n A-Plus vir voordrag gekry het. Dis ook daar waar ek elke jaar albei my sussies met balletkompetisies gaan ondersteun het, nie altyd noodwendig besonder vrywillig nie. In die hoërskool was dit minder teësinnig, so met die klompie tienerballerinas wat ontluikende hormone op aandag laat spring het (nè Santie?). Een Saterdagaand, egter, het ek en Pa genoeg ballet vir die jaar gesien en besluit toe om eerder inry toe te gaan – net ons twee. ʼn Regte manne-aand met cowboy-fliek, hamburgers, tjips en al.

In daardie saal het ek en Willie, as skoolseuns, talle optredes gaan kyk. Met ons kerkpakke aan, want Pa het gesê as ʼn man in die aand uitgaan, dan trek hy ordentlik aan – en buitendien, dis die stadsaal. Al Debbo, Joe Dolan en nog vele ander. Later jare die Claxons en andere. Die laaste keer wat ek in hierdie besondere saal was, was met ʼn matriekreünie toe jarelange vriendin, Alice en haar kroos die gehoor met hul musiektalent vermaak het.STADSAAL 9

ʼn Onthaal of enige funksie in die stadsaal was ʼn deftige affêre. Daar is vertel dat die dansvloer een van die bestes in land was. STADSAAL 7Destyds, toe die stadsaal net so na die depressiejare gebou is, is kiaat uit Birma en marmer uit Italië vir die afwerking ingevoer. Sandsteen is gebruik vir die buitekant om aan te pas by die ander historiese geboue in President Brandstraat. Die Raadsaal waar die indrukwekkende standbeeld van generaal De Wet op sy perd, Fleur, net so oorkant die stadsaal aandag trek. Die Appèlhof, van waar heelwat internasionale uitsendings van opspraakwekkende hofsake al gebeeldsend is, net so langs die stadsaal.STADSAAL 10

In 1947 is die Britse koninklikes hier onthaal.stadsaal12

Nou is daar ‘n uitgebrande ruïne in ‘n spogstraat. ‘n Swartverbrande karkas van goeie herinneringe.STADSAAL 11

Al hierdie dinge flits toe deur my kop toe ek die foto’s van die saal in ligte laaie sien. En daar knak toe iets. Wat dit presies was, weet ek nie. Skielik het ek kwaad geword vir die ewige baklei in Suid-Afrika. Tot in my murg hartseer om te sien hoe so baie dinge wat vir my waarde het, verwoes word.  Siek en sat en moeg om my velkleur te verdedig en heeltyd die ander wang te draai – ter wille van politieke korrektheid, vrede en welwillendheid.

En ek het gewens daardie oproeriges (ek kan ander woorde ook hier gebruik) kon na die toespraak luister wat ons skoolhoof destyds met die matriekafskeid gelewer het.

Saai om te oes.

Want Woensdagaand is daar niks behalwe verwoesting gesaai nie.

Daar kan mos nie ‘n oes wees nie!

(EK WIL BENADRUK DAT GEEN VAN DIE FOTO’S IN HIERDIE ARTIKEL MYNE IS NIE – DIT IS VAN ORAL GELEEN)