DIE SESDE BOKS (EINTLIK ‘N HOK)

matryoshka_doll

Wat maak jy wanneer die lewe vir jou ‘n suurlemoen gee?

  1. Jy kyk hom so en dink by jouself: Wat op aarde…?
  2. Jy prakseer ‘n lekker tert met suurlemoen in en nooi jou vriende vir tee.
  3. Jy maak limonade en verkoop dit. En dan gaan koop jy nog suurlemoene met die geld en maak nog limonade.
  4. Jy bekyk hom, druk hom en wonder hoe lank hy gebêre kan word?

Almal van ons is heeltemal uniek in alle opsigte. Tog is dit verbasend maklik om ons almal, soort vir soort, sommer so in slegs vier of vyf verskillende krale te ja. Volgens ons persoonlikheidstipe.

Ek was al op verskeie seminare en kursusse waar daar probeer is om my in ‘n boksie te pas. Twee van die seminare spring nou vinnig in my geheue op. Een was waar die persoonlikheidstipes met vier Bybelse figure vergelyk word. Daar was ‘n Abraham en ‘n Paulus en so aan. En dan was daar die een met vier voëls. Die Arend (ambisieus en doelgerig); Die Uil (sistematies, berekenend en voorbereid); Die Duif (vredeliewend, liefdevol, vermy konflik) en Die Pou (flambojant en spoggerig). Die groep kursusgangers het die voëls gou herdoop na Hardegat, Banggat, Slapgat en Windgat.

Ek sal myself nou nie gaan slim hou met Sielkunde en Sosiologie nie, dis nie my vakgebied nie en ek is glad nie op hoogte met die nuutste verwikkelinge op hierdie terreine nie. Ek het egter ‘n geweldige belangstelling in mense se geite en goete. Op ‘n funksie, onthaal of enige geleentheid waar ‘n groep mense bymekaar is, is ek heel gelukkig om die spulletjie net te sit en betrag. Te kyk hoe hulle op gesprekke, opmerkings en interaksie reageer. Dit is waarskynlik ook die rede hoekom mense se reaksie op ‘n grap of poets vir my heel dikwels komieser is as die grap self.

Nou anderdag lees ek ‘n interessante artikel oor hierdie onderwerp. Dis nou hierdie boksies waarin ons geplaas word. Vir my as leek is dit toe heel nuut, al is die artikel gebaseer op navorsing wat al in die laat negentiende eeu gedoen is. Volgens die skrywer groepeer sielkundiges ons menslike gedrag nou in die Groot Vyf karaktertrekke. Dit bepaal hoe ons die wêreld beskou en hoe ons met ander mense omgaan en het niks met Afrika se bekende diere te doen nie. Die meeste van ons het eienskappe van al vyf die karaktertrekke en dan kry jy punte daarvoor. Daar waar  jy die meeste punte kry, dis waar jou boksie is.

 

So, met watter van die Groot Vyf identifiseer jy die meeste?

  1. PLIGSGETROUHEID

Hierdie eienskap hou meer verband met jou werksetiek en organisatoriese vaardighede. Mense met ‘n hoë telling vir hierdie eienskap beplan vooruit, mik hoog en is geneig om intensiewer op een onderwerp te konsentreer as oppervlakkig op meer onderwerpe.

Diegene wat ‘n lae telling hier kry, sien die pligsgetroues gewoonlik as obsessief en hardkoppig.

 2. TOEGEEFLIKHEID

Vriendelikheid en deernis is onder meer eienskappe van toegeeflike persone. Hulle is ook meer betroubaar. Toegeeflikheid word gebruik om te bepaal hoe gelykmatig iemand is.

Mense wat lae punte hier kry, is gewoonlik twissoekerig, uitdagend en baie mededingend. 

  1. UITBUNDIGHEID

As jy ‘n hoë telling hier kry, floreer jy op interaksie met mense. Jy is besonder spraaksaam, energiek, selfgeldend en het geen probleem om die middelpunt van belangstelling te wees nie.

In teenstelling hiermee beskou mense wat min punte hier kry, die uitbundiges as aandagsoekers en oordominerend. 

  1. NEUROTIESHEID

Mense met ‘n hoë telling vir neurotiesheid, reageer gewoonlik negatief op ‘n situasie of potensiële scenario. Hulle voel angstiger, kwesbaarder en selfs meer bedreigd as ander mense.

Hierdie tipe gedrag kan geïnterpreteer word as ‘n teken van onsekerheid of onbestendigheid deur diegene wat ‘n lae telling in hierdie kategorie kry.

  1. WEETGIERIGHEID

As jy in hierdie kategorie val, is jy gretig om nuwe dinge te leer, intellektueel nuuskierig, hoogs kreatief en verbeeldingryk. Jy hou van ‘n spontane lewenswyse eerder as onbuigsaamheid en gryp na intense oomblikke.

Diegene op die ander punt is meer pragmaties en kry inligting uit gevestigde bronne eerder as om self te eksperimenteer.

Nou wonder ek,  hoe beïnvloed eksterne faktore die toets? Neem nou vir my as voorbeeld. Op dae wanneer ‘n Zupta-wolk voor die Suid-Afrikaanse son inskuif of die Cheetahs word weer deur die skeidsregter gekroek (met die helfte van hulle spelers wat vir die opponente speel), of wanneer ek nuus ontvang soos dat my vriend se pragdogter gisteraand gekaap is, dan voel ek nie besonder uitbundig of toegeeflik nie.

Hierbo is nie ‘n boksie vir die persoon wat ek dan is nie. Ek en die Incredible Hulk en nog so ‘n paar ander mense sit dan hygend in die boks met die tralies om – knus in ons straightjackets vasgevoel.  Personality-Test-Cartoon-LOL-personality-test-25440766-378-400

Advertisements

KAN EK WERKLIK ‘N VERSKIL IN SUID-AFRIKA MAAK?

Rainbow Nation

Gedurende ons leeftyd kom ons voor keuses te staan, om dinge beter te maak, of slegter. Of om dit soos skape maar te verduur. Ek kies om dinge beter te maak, sover ek kan.”

― Mercedes Lackey

Ek sit die dinge in Suid-Afrika hier van ʼn afstand af in Engeland en beskou (en beleef!) en my hart bloei. Dit krap my om en my gedagtes bly daarheen beweeg. Gewoonlik kan ek gaan sit en dinge rasioneel uitpluis. Ek is ʼn emosie-gedrewe mens en daarom hou ek van drama – dramatiese musiek, dramatiese stories en dramatiese flieks. Verder is ek ’n geweldige sentimentele mens wat waarde heg aan al die goed wat my lewe gebeitel het. En dan het ek ook nog hierdie geweldige lojale streep wat soms ʼn ergernis kan wees. Almal wat my ken weet wat my gevoel oor Afrikaans, Suid-Afrika, die Vrystaat, Bloemfontein en Kovsies is. En natuurlik my span, die Cheetahs! Dis waar my sentiment en lojaliteit lê.

Wanneer besluite geneem moet word, dan kry ek dit nogal reg om die emosies opsy te skuif. Dan skop my rasionele denke in wat my verstand die oorhand gee.

Maar die gebeure in Suid-Afrika laat  my sukkel. My kop beduie my dié kant toe en my hart trek ander kant toe. Ek is van nature ʼn optimis en probeer positiewe gedagtes en boodskappe plant. Maar ek is ook ʼn realis en dis waar die stryd tussen my hart en verstand vandaan kom.

My verstand vertel vir my dat ʼn klappery erg is, maar die groot moeilikheid gaan begin wanneer daar oor en weer begin geklap word. My verstand vertel ook vir my van die talle positiewe gebare wat uit die chaos voortspruit van wit en swart wat saam bid en mekaar ondersteun. En my verstand onthou ook van ʼn bende AWB-manne wat destyds vol testosteroon gepomp met bakkies en ʼn ou Mercedes na Bophuthatswana opgeruk het met tragiese gevolge. My verstand herinner my ook aan waarhede in die Bybel. Soos die keer toe Jesus gevange geneem is en Malgus se oor deur Petrus afgekap het. Toe ruk Jesus mos los en begin Malgus te skop en slaan en die ander dissipels spring ook in en gou was daar een helse fight waar die oormag Romeinse soldate omtrent al die dissipels doodgemaak het. En so sneuwel Christendom toe sommer voor dit nog kon begin het. Of onthou ek nou verkeerd?

Maar dan kom my hart en vertel vir my van die vernietiging van so baie goed wat vir my dierbaar is. En van barbaarse skobbejakke wat net ontwrig, plunder en leed saai. En dat ons mos nie stilswyend kan toekyk dat dit gebeur nie. Kriminele soos hulle word wêreldwyd gestraf, vir eeue al, maar die Suid-Afrikaanse regering laat oënskynlik hierdie dinge ongestraf toe. Wie moet dan die strafwerk doen?

Hoe maak mens?

Destyds, met die referendum, toe ons moes ja of nee stem, het my emosionele kant my gewaarsku dat dinge kan verander as ons ja stem. En dat die veranderings dalk nie altyd gunstig uit ʼn blanke oogpunt sal wees nie. Daai emosies het my ook vertel van bloed, sweet en trane op die grens waar talle van my vriende dood of gewond is ter verdediging van juis dit wat ons toe wou deel met die “vyand”.

My rasionele kant het egter geredeneer dat dat dit nie reg is dat die oorgrote meerderheid inwoners uitgesluit word van so baie voordele wat deur die minderheid in ons pragland geniet word nie. En nie net is dit verkeerd nie, maar dit is ’n tydbom waarvan die lont een of ander tyd tot by die bom gaan brand. En as daai bom ontplof, gaan dit die grensoorlog na ʼn cowboys en kroeks-speletjie in die agterplaas laat lyk. Dit was dus nie vir my moeilik om ja te stem nie.

Nou sukkel ek egter. ʼn Gedeelte van my voel byna of ek verraai is. In die tande geskop is. Ek sien hoe word die goed waaraan ek waarde heg vernietig en verbrand. Ek luister hoe minagtend daar met my taal omgegaan word. Ek sien hoe die standbeeld van ʼn waardige, geliefde staatspresident deur skobbejakke vernietig word. En ek wil huil daaroor.

Maar dan sien ek ook die foto’s en video’s waar jongmense van alle kleure hand om die lyf staan en bid. Ek sien swart jongmense wat in afgryse saam met hul wit vriende toekyk hoe barbaarse groepe alles wil verwoes en skeurings veroorsaak. Ek sien jong mense van al die bevolkingsgroepe wat skouer aan skouer opruim waar die molesmakers vernietig en gemors het. En ek weet ook dat daar miljoene swart mense soos Johannes is, Johannes wat nou al vir meer as twintig jaar na ons tuin daar in Pretoria omsien. Johannes wat ek met my lewe sal vertrou.

Ek dink by myself, as iemand by my huis inbreek en my gesin en eiendom bedreig, gaan ek hom nie nooi om ’n dop saam met my te drink en dan gesels ons oor alles voordat ek hom die sleutels van my kar en ander goed gee nie. Nee, ek gaan beslis optree.

Nou worstel ek met die vraag: Hoe tree mens teen hierdie barbare op sonder om ’n bloedbad te ontketen?

My hart bal vuis en wil net donder en bliksem, maar my verstand vra: En dan? Hoe gaan 4 miljoen wittes hulself teen 40 miljoen swartes verdedig? Wat gaan gebeur as die geweld en onluste na die woonbuurte oorspoel? Waar begin jy jou frustrasies uitpak – by mense soos Johannes en die vrou agter die kasregister by Checkers?

My opportunistiese, positiewe aard glo daar sal ’n oplossing wees. En die oplossing, na my mening, lê in die gesindheid van daardie (meerderheid!) swart mense wat saam met ons wittes in afgryse kyk hoe die afbrekers verwoes. Die Johannese en die baie swart studente soos die wat in die foto’s op Facebook is. Maar dan moet ons hulle nie verder vervreem nie. Ons moet ʼn eenheid met hulle vorm. Eendrag maak mag sodat die “ons” en “hulle” nie meer swart en wit is nie, maar ʼn eendragtige Suid-Afrika teen die verwoesters wat ʼn enkele gifdruppel in ʼn glas helderskoon water is. Saam bied ons dan weerstand teen die mense wat die meerderheid landsburgers se geluk wil steel.

Kan jy dit doen? Deins jy terug voor die uitdaging? Luister dan weer na die bekende storie van ʼn ou man wat elke oggend vroeg op die strand gaan stap het.

Een oggend tydens sy strandstappie sien hy ʼn vreemde figuur wat lyk of hy danspassies uitvoer so ʼn ent voor hom. Die ou man glimlag by die gedagte aan iemand wat die dag so indans en loop vinniger om by die persoon te kom. Soos wat hy nader kom, besef hy dat dit ʼn jong man is en dat hy eintlik nie dans nie. Die jong man buk kort-kort af, tel goed van die strand af op en gooi dit dan in die see.

Toe die ou man naby genoeg is, groet hy vriendelik met “Goeiemore, mag ek vra waarmee jy besig is?”

Die jong man stop en kyk op: “More, nee ek gooi sommer die seesterre terug in die see.”

“Ooo,” antwoord die ou man half verbaas. “Nou’s ek nuuskierig, hoekom doen jy dit?”

“Die son is uit en die gety trek terug,” antwoord die jong man. “As ek dit nie doen nie, sal almal van hulle doodgaan”.

Die ou man frons. “Maar jongman, besef jy hoe ver hierdie strand sterk en dat die seesterre kilometers ver op die strand uitgespoel lê! Jy gaan werklik geen verskil maak nie.”

Die jong man buk af, tel nog ʼn seester op en gooi dit in die see. Terwyl die seester in die water wegsak, antwoord die jongman:

“Ek het ʼn verskil in daai een se lewe gemaak, het ek nie?”

Herhaaldelik sien ons hoe God die mees onwaarskynlikste, mees onvoorbereide individue (insluitend onsself) gebruik om die diepste impak op die wêreld te maak.” ― Dillon Burroughs

O almagtige God, seën Suid-Afrika!

Opruim

STUDENTE RUIM OP (FOTO: Chanelle Robbetze, NWU-PUKKE)

WINDE VAN VERANDERING?

 

SA unitedOoeee, maar onse president het hierdie keer ‘n groot kat tussen die duiwe gaan ingooi. Die duiwe  gaan nog lank vat om al die vere weer plat te kry. Kyk, teen hierdie tyd behoort ons al gewoond te wees aan die verrassings wat hy op ons loslaat, maar steeds vang hy ons en sommer die hele wêreld onkant met nuwe stommiteite.

Sommer met die wegspring moet ek verduidelik dat ek dalk net op ‘n toon of twee kan trap en dat my beskeie (sommige mag dink naïewe) mening van joune mag verskil.

Hier, baie kilometers van Suid-Afrika af, is ek aangewese op die media om my in te lig oor die stand van sake in my geliefde land. Ek lees hoofsaaklik Suid-Afrikaanse koerante om nuus uit daardie kontrei te kry en dit is dan ook daar waar ek gebombardeer word met die lief, maar merendeels die leed van my ou volkie. En dis ook daar, in die kommentare onderaan die berigte, waar ek sien hoe my volksgenote mekaar aan die keel gryp, in tale op mekaar skreeu, en vriende mekaar goed toesnou  wat normaalweg vir vyande uitgepak word. Wat my laat wonder het of ons nie ons eie grootste vyand is nie. As ons mekaar, mense wat dieselfde taal as ons praat, so wil verrinneweer, hoe kan ons ooit hoop om saam te trek met karperde wat anders as ons geteel is. Ek wou egter weet hoe dit werklik gaan en het onlangs vir ‘n groep Suid-Afrikaanse vriende gevra om vir my te vertel.

Baie respondente het vir my gevra watter beeld word van Suid-Afrika in die buiteland geskilder. Dit is wel so dat die ekonomiese markte heftig gereageer het, maar verder het die opskudding in Suid-Afrika nie werklik noemenswaardige rimpels buite die landsgrense gemaak nie. Oscar Pistorius het baie meer aandag in die media gekry. Baie mense weet nie eers waar Suid-Afrika is nie (glo dit nou of nie!). Maar dink nou so bietjie, in die tye waarin ons leef waar elke ou maar vir homself veg vir ‘n sonkol, hoeveel weet jy van wat in ander lande aangaan? Weet jy van Brasilië se politieke probleme en uitdagings en dat hulle pas ‘n nuwe president gekry het? Die verontwaardiging word met groot fanfare in Brasilië uitgebasuin dat die uittredende president geweier het om die inhuldiging van die nuwe man, Maricio Marci (ken jy die naam?) by te woon. Die res van die wêreld gee nie werklik om nie – elke ou keer net vir sy eie kolletjie onder die son. Suid-Afrika moet dus nie wag vir een of ander internasionale helpende hand om te kom red nie. Die inwoners sal dit self moet doen.

Daar is egter hoop. En nou wonder ek of dit dalk nog te vroeg is om dit te voorspel (nie dat ek en Nostradamus enige iets in gemeen het nie) maar ek glo vas dat Zuma se nuutste manewales dalk net moontlik ‘n keerpunt was, ‘n bedekte seën. Die laaste strooihalm op die kameel se rug. ‘n Wind wat verandering gaan bring  is besig om op te steek (en dan wag ons nou net vir nog ‘n wind om ‘n einde aan die droogte te maak!)

Vier dinge is egter nodig om die winde van verandering momentum te gee.

Ons vertrekpunt moet wees, geloof – dieselfde geloof (nie noodwendig dieselfde taktiek nie) waarmee ons voorvaders die talle uitdagings van die verlede die hoof gebied het. Geloof in jouself (jy kán – moenie vir iemand anders wag nie), geloof in God (Hy kán – en Hy het al) en geloof in jou land – ons kán – en het al erger uitdagings oorkom).

Tweedens moet ons aanvaar dat ons in Afrika bly. Dinge in Afrika word totaal anders gedoen as in Duitsland, Amerika of Japan. Die kulture verskil heeltemal van die tradisies en gewoontes van Europa, Asië en Hawaii. Is dit PW Botha wat dit gesê het? “Adapt or die.”

Die derde ding wat moet gebeur, is dat die massas ingelig moet word. Die oorgrote meerderheid van die mense in Suid-Afrika – mense met stemreg – het nie die vaagste benul van wat die afgelope week (of enige ander tyd) gebeur het nie. Die hoofrede hiervoor is dat hulle nie toegang tot sosiale media of enige ander media het nie. Hulle kry verdraaide inligting so via die bostelegram. Die regering gaan hulle nie inlig nie, hulle bure kan nie en dus stem hulle volgende keer weer vir “Madiba se party” al is die meeste van die huidige lot nie werd om Madiba se skoenveters vas te maak nie. Ons, ek en jy, moet hulle dus inlig. Ons moet uit ons gemaksones kom en planne maak om die massas wat nie toegang tot moderne kommunikasie het nie, te vertel wat in die land aangaan. Op ‘n rasionele, kalm manier wat hulle nie gaan laat voel dat die enigste keuse die ANC of oorheersing deur die blankes is nie.

Wat my by die vierde voorvereiste bring – die regering. Oor die wêreld heen is daar baie min uitsonderings waar die inwoners tevrede is met die politieke party aan bewind. Politiek op sy beste is ‘n morsige ding. Dit maak dus nie saak wie aan bewind is nie, daar sal altyd probleme wees. Wat wel saak maak, is die gesindheid van die regeerders en hoe hulle op die probleme reageer. Dit was een van die ligpunte die afgelope tyd – die wyse waarop die lede (nou wel net ‘n klein groepie wat nie deur die hele opskudding geslaap het nie) gereageer het op hul leier se absurde besluite. In die agtergrond huiwer daar egter steeds, ala Mugabe en talle ander Afrikaleiers se styl – die magneet wat Zuma se trop bymekaar hou. En dis beslis nie lojaliteit nie. Almal weet dat dit die heuningpot is, die soustrein, beloftes van tenders en duur karre. (Ek het al gewonder of ek self nie ook ‘n Zuma-aanhanger sal word as hy my in die heuning en sous en dinge sal laat deel nie.) Suid-Afrika sal dus ‘n leier met integriteit, ‘n leier wat die belang van die hele land en al sy mense op die hart dra, moet identifiseer en vorentoe stoot. In Suid-Afrika skiet die moderne media by verre te kort om so ‘n leier se deugde onder die aandag van die bevolking te bring nie. Daar sal dus deur intelligente mense, soos jy, maniere gevind moet word om doeltreffend met die massas te kommunikeer.

Ons moet saamblaas en hard blaas om ‘n sterk wind te laat waai, ‘n wind van verandering. Die Zuma-asem moet weggeblaas word – tensy hy sy streke verander en sy asem agter die hele Suid-Afrika gooi.

Is dit wensdenkery? Ek dink nie so nie. Nie as ek kyk na die reaksie wat ek van vriende in Suid-Afrika gekry het juis op ‘n tyd toe ‘n Zuma-bom die land getref het nie. Die realiteite word in die oë gestaar, die vrese word erken. Maar daar is ‘n borrelende optimisme en geloof – dieselfde eienskappe wat ons in die verlede deur diep waters gehelp het. Hou in gedagte dat persoonlike omstandighede en situasies van persoon tot persoon verskil en dat dit die huidige uitkyk van individue op sake mag beïnvloed. Kom ons kyk na sommige reaksies:

(Elke kolletjie is een persoon se reaksie.)

  • “Ek kan vir jou vertel dat dit wat jy in die koerant lees die waarheid is, maar ek kan ook vir jou vertel dat God se genade steeds baie groot is”.
  • “Ek is ‘n Suid-Afrikaner in murg en been. My wortels is diep geplant in ons land, my siel sal nooit oorleef as die ou boom verplant moet word uit die Afrika-son nie. Maar, ons land het ‘n hartseerland geraak. Jy leef elke dag met ‘n bangheid en hartseer in jou hart, in die land waarvoor jy so lief is. Is ek ‘n pessimis? Nee, was nog nooit, maar op die oomblik is daar nie juis iets in ons land wat ‘n mens kan optimisties maak nie”.
  • “Ons gewone mense wat nie heeldag met die vrot politiek omgaan nie, neem soms kennis van wat aangaan in die land. Ons koop nie meer koerante nie, want dis net bloed en derms en bedrog en diefstal en korrupsie en lieg en bedrieg en onmin en al die gemors van die aarde.wat daarin geskryf staan. Dis al die goed waaraan ons individue niks aan kan doen nie. Ons kan net daaroor bid…en dis wat ons doen.”
  • “Om te sê dat die situasie nie kommerwekkend is nie, sal ‘n leuen wees. Ekonomies is dit natuurlik ‘n groot issue en sal dit op ons gewone mense impakteer. Geen kwessie daaroor nie. Vir my en Jan Alleman om nou na pille te gryp is nie ‘n opsie nie. Ek glo ons moet onsself eenvoudig omring deur al die positiewe dinge wat daar nog is en dit “misbruik”. Ek het ‘n keuse en my keuse is dat daar waar ek nog ‘n verskil kan maak, dit doen ek. Die sirkus kan ons op hierdie stadium niks aan doen nie.”
  • “Dan hoor ‘n ou dat by ‘n plek soos Mr Price Home, een tak R800 000 per dag maak… skrikwekkend. Mense dink die winkels gaan nooit weer oopmaak nie.”
  • “Maar ons moet positief bly en dit afvryf op ons mede-landsburgers.”
  • “Verder gaan dit goed, ons besigheid maak wins en betaal bonusse uit, mense koop Kersgeskenke asof geld volop is, ek draf 6 dae ‘n week, voel veilig in my woongebied (ons het nie ekstremiste wat rondloop en mense skiet nie) Die gewone huisbrake en diefstalle vind steeds plaas, maar mens neem maar nodige voorsorg. Xxxx sal egter nou die land verlaat as dit moontlik was.”
  • “Hier gaan die lewe voort, Kersfees gaan voort, die binnelanders ry strande toe en daar word gebraai en gerumoer.

Die ouens wat toi-toi, brand daagliks hul klompie buitebande in die townships en treiter ’n burgemeester of twee vir die lekkerte.”

  • “Ek vermoed my gevoel en die meeste van RSA s’n is dalk iets wat tussen neerslagtigheid en paniek bly wissel. Ek glo dat dit eers baie slegter sal gaan, voor dit verbeter, maar mens is bekommerd…

Mense soos Xxxx noem gister dat sy bekommerd raak oor haarself, want mens begin jouself isoleer van alles en raak “dood” van binne.  Die hoop vir ‘n toekoms vir jouself vervaag en mens is paniekerig oor die toekoms van jou kinders.”

  • “Jy lees die atmosfeer van ver af reg, maar daar is meer…

Dit gesê, kom die ou Afrikanergees na die oppervlakte. Ons gaan oorleef. Ons moet. Ons twee, Xxxx en ek, beweeg ook in die geselskap en ondernemings van jong Bloemfonteinse kunstenaar-volwassenes.  GEEN wanhoop nie, net planne, a-politiese saamwerk, netwerk, na die maan met die magte wat roekeloos voortgaan.

Die groter prentjie, die een van die wêreld, Europa, VSA, Australië ens., is nog erger as die prentjie in Suid-Afrika.  Ons hou die prentjie al maande lank dop.”

  • “As ek jonk was sou ek sekerlik emigrasie oorweeg het.

Die Afrikaners oor die algemeen het nie meer ‘n sterk nasionale stem nie en dit verg aanpassing. In die Vrystaat sal jy gou agterkom dat mense vasgevang is in tyd. Die toekoms beweeg by baie verby sonder dat hulle enige poging aanwend om te verander. Vasgevang in ‘n bedorwe lewenstyl wat nie meer geregverdig kan word nie. Ek vind dit hartseer as ek jong mense hoor en sien wat die rassisme en vrese van hulle ouers voortdra soos ‘n vaandel van geregtigheid. Ek wil so graag vir hulle skree: “Gooi af daai bagasie en pas aan by jou nuwe omstandighede. Wys ‘n vinger na elke wit rassistiese tannie wat haar neus tussen haar oë vastrek omdat jy ‘n swart meisie aan jou sy het wat verder gekwalifiseerd is as wat meeste van jou familielede is maar wat deur ‘n wit menigte verag word op grond van haar velkleur.”

My buurman aan die linkerkant is Sotho. My buurman aan die regterkant is Zulu. My buurman oorkant die straat is Engels. Die homogene bewustheid van ons jonkwees-dae verdwyn vinnig. In my erf is ek ‘n Afrikaner in murg en been maar as ek my hek oopmaak word ek ‘n Suid-Afrikaner wat almal se regte respekteer soos in enige internasionale situasie. My interaksie met al die mense is gemaklik.”

  • “Daar word elke dag witmense vermoor en dit haal nie eers meer die nuus nie – een van die redes dat ek Van 2007 af nie meer nuus op TV kyk nie. Ek lees gladnie koerante nie, want ek word te woedend kwaad en weet ek is magteloos! Ek kan jou sê hoe voel ek – ek is baie bang – ons witmense word gehaat met ‘n passie en die lot wat so huil en ander opsweep.”
  • “Dus glo ek dat alles wel sal regkom soos Jan Brand gesê het. Ons moet net van die kriminele en onwettige buitelanders ontslae raak. Die res gee nog ’n lied vir die lewe.”
  • “Daar was al rowwer  tye in ons geskiedenis (Boereoorlog, donker dae van apartheid – Kerkstraat- bom). Die huidige regering is vinnig besig om n groot gat vir homself te grawe. Ek is positief dat volgende jaar se plaaslike verkiesings ‘n draaipunt gaan wees.

Ons bly positief – die een-op-een-verhoudinge is S.A. is nog baie goed. Lekker gesellige mense – wit, swart en bruin (meeste van ons het mos so bietjie van alles – ons voorvaders moes deel in die begin, daar was min Europese vrouens en die slawe was geredelik beskikbaar).”Lewe!

‘N SPIES OF ‘N DOLK?

Met ‘n eerste oogopslag het ek gedog ek kyk na ‘n plakkaat van ‘n nuwe Cowboy-fliek. Maar toe besef ek daai wapen sit nie op die heup nie.

Goed, ek weet my rekenaar was op batterykrag en die skerm was nie baie helder nie. Die houding van die cowboy het my egter baie herinner aan ‘n ander bekende plakkaat, maar die ou op dáárdie plakkaat was nie ‘n cowboy nie. Sover ek kan onthou het hy nie ‘n holster gedra nie.

Hy was die magtige Rus, Lenin. Nee, dink ek by myself, hier’s ‘n slang in die gras. Laat ek eerder my bril kry.

Met my bifocals gekalibreer en die rekenaar ingeprop, word die prent in al sy glorie vir my op die skerm ge-flash. My oë begin my nie parte speel nie. Die naakte waarheid tref my vol in die gesig.

Onse Prez Jakob, regop staan hy daar, baadjiepante punt in die wind. Dis toe nie John Wayne met ‘n rewolwer nie. Dis eerder ‘n W of M d (nee, nee! Nie ‘n Weapon of Mass Destruction nie) maar eerder Wonder of Malema dalk… So dink ek toe aanvanklik. Kon Malema dit dalk uit wraak gedoen het? Ek is dadelik opgewen. Dis juis die wortel van alle kwaad: Mense het nie meer respek vir hulle leiers nie. Kyk nou hoe word die draak gesteek met die president van Suid-Afrika. Ja nee, o vet, die knuppel is behoorlik tussen die hoenders ingegooi.


Maar hy’s darem in goeie geselskap, troos ek myself. Kyk nou maar daai skildery van Dan Lacy wat hy van President Obama gemaak het waar hy op een van daardie eenhoringperde ry. Margaret Sutherland het meer as net wenkbroue laat lig met haar skildery van Kanada se Eerste Minister, Stephen Harper – Emperor Haute Couture. ‘n Spitsvondige skildery van ‘n naakte George Bush op die bed, waar hy deur Dick Cheney (ja, ek weet – dis nie ek wat die naam gekies het nie) bedien word, het ook die mense net hulle koppe laat skud.

Maar alle grappies nou op ‘n stok. (Skuus, stokkie.)

Wat wou die skilder werklik met hierdie skildery bereik? In ‘n land soos Suid-Afrika met sy brose  menseverhoudinge sou mens mos eerder iets wou doen om die ou nasie nader aan mekaar te bring, of hoe? Hoekom nog verder skeuring bring? Ek is nie ‘n aanhanger van Zuma nie, inteendeel, maar glo dat daar beter metodes is om ‘n stelling te maak as om vulgariteit in te span.

Talle gewone swartmense – en soos Barend la Grange bewys het, ook blankes – het aanstoot geneem. Daar is gesê dat die skildery onsensitiwiteit vir die Afrika-kultuur demonstreer en ‘n gebrek aan begrip vir gevoelens van mense wat onder apartheid en kolonialisme verneder is.

Zuma is geen engeltjie nie. Hy word gekritiseer vir sy besluiteloosheid as leier terwyl sy “kleurvolle” persoonlike lewe die onderwerp van talle gesprekke is. Sy vier vroue en 20 kinders, sy vigs-uitsprake en die aanklagte van verkragting teen hom wat laat vaar is, maak hom die teiken van bespotting. Die wyse waarop die ANC met boelie-taktiek gereageer het op die publisiteit wat die skildery ontvang het, maak mens ook onrustig. Dit het duidelik na vore gekom dat kritiek net nie geduld sal word nie.

I think The Spear was a godsend for the ANC because for a few days we were not focusing on its failures and weaknesses, so it was allowed to engage in an exercise in displacement by focusing the attention of its members on the president’s dignity, het Aubrey Matshiqi van die Helen Suzman- stigting gesê.

Met die naderende verkiesing het ondersteuners van die President egter nou laer om hul leier getrek en kan Zuma groot voordeel trek uit The Spear deurdat hy nou as die slagoffer voorgehou word.

Desmond Tutu het in 2008 gesê:

One of the sayings in our country is Ubuntu – the essence of being human. Ubuntu speaks particularly about the fact that you can’t exist as a human being in isolation. It speaks about our interconnectedness. You can’t be human all by yourself, and when you have this quality – Ubuntu – you are known for your generosity. We think of ourselves far too frequently as just individuals, separated from one another, whereas you are connected and what you do affects the whole world. When you do well, it spreads out; it is for the whole of humanity.

Of jy dan nou ’n kunstenaar of ’n skrywer is, moenie jou talent gebruik om te beledig nie. Geniet die vryheid van uitdrukking, maar hou by die konsep van ubuntu

Ek stem saam met Paul Mashatile, minister van kuns en kuktuur (baie raar, want ek stem nie dikwels met ‘n ANC-woordvoerder saam nie). Hy het gesê:

Ons as regering is nie gekant teen kreatiwiteit nie. Dit is nie ons bedoeling om enigiemand te sensor nie. Kunstenaars moet hul werk doen en kreatief wees, maar dit moet in die raamwerk van respek vir ander gebeur.

Nie noodwendig respek vir Zuma nie, maar respek vir gevoelens, vir mekaar, vir ons land. En sy presidensiële amp.

Respek en waardes. Is dit besig om te verdwyn?