Een Dinsdagoggend in Julie

Enkele jare gelede het het ek sulke buitengewone belewenisse gehad, dat ek dit nie vir myself kon hou nie. Dis iets wat mens graag met ander wil deel. So, laat ek sommer met die deur by die huis inval.

In 1998 was ons in Duitsland, meer spesifiek die Bodensee-area waar Duitsland, Switserland en Oostenryk by die grote meer, die Bodensee, of soos die Engelse sê, Lake Constance, bymekaarkom. Ek het my hart daar verloor. Vir my is dit steeds, van al die plekke wat ek al besoek het, een van die heel mooistes. Gedurende daardie tyd het ek met ‘n paar persoonlike dinge gestoei, dinge waarop ek nie nou sal uitbrei nie. Die kern van die probleem was dat ek hierdie gewig van onvergenoegdheid met my saamgesleep het. Wat my skuldig laat voel het, want, het ek gedink, as ek my lewe met meer as negentig persent van die mense op aarde se lewens moes vergelyk, was ek na regte in die pound seats gewees. Ek het geen rede gehad om onvergenoegd te voel nie. Ek het met ‘n witbrood onder die arm loop en kla. Maar tog, ek het gevoel soos ek voel, want ek het leemtes beleef. Daar was klippe op my pad, krapperighede, dinge wat ek anders wou gehad het.

So, op ‘n pragtige Dinsdagoggend in Julie van 1998, neem my voete my op ‘n bergpaadjie wat ek nog nooit geloop het nie. Daar in Duitsland. ‘n Helder sonnige somersdag. En ek dink toe by myself dat hierdie wandeling die ideale geleentheid gaan wees om te bid, om te gesels, om die gewig af te laai. Ek wou sommer bietjie reguit praat, sonder doekies omdraai. God moes uit my mond uit hoor van hierdie dinge wat my pla, van die gewigte wat ek saamsleep.

Maar, het ek gedink, dalk moet ek net eers bietjie nadink oor dit waaroor ek dankbaar moet wees. My seëninge tel, so half inleidend tot die eintlike gesprek wat kom. God moes darem weet dat ek nou nie ondankbaar wil klink nie, maar…

Ek het gedink om dalk so drie, vier dingetjies waaroor ek nou regtig dankbaar is uit te sonder en dan kan ek nou maar begin kom met die gewigte, die eintlike rede vir hierdie gesprek. Ek het dankie gesê vir die wonderlike voorreg om te kan loop op hierdie kronkelpaadjie met die uitsig, die voëlgesang, die rustigheid. Ek was dankbaar vir my gesondheid, vir my vrou en kinders. Dat húlle gesond is.

En so, terwyl ek loop en dankie sê, gebeur dit toe dat ek beheer oor my woorde verloor. My brein hardloop toe op auto-pilot. Wat so drie of vier dankies moes gewees het, bloot die inleiding tot die éíntlike gesprek, raak toe ‘n loflied. Vir vier kilometer loop ek terwyl die een seëning op die ander soos ‘n string pêrels oor my lippe val. Ek kry nie kans vir kla nie. Ek kom nie uit by dit wat ek eintlik wou sê nie. Heuwel op, kronkelpaadjie af, tussen wingerde en vrugtebome deur. En ewe onverwags bevind ek my voor ‘n kruis. Nie regtig ‘n monument nie. Sommer net ‘n eenvoudige hoë houtkruis binne-in ‘n ronde klipmuurtjie vol blomme geplant, so langs die pad. En op ‘n bordjie teen die klipmuurtjie staan daar in Duits:

Ek wil die Here loof en geeneen van Sy weldade vergeet nie!

Ek was stomgeslaan. Is dít hoe God met mens praat? Duideliker kon dit nie wees nie. Langs die kruis is daar toe so ‘n paaltjie met ‘n houtboksie vas. ‘n Kennisgewing nooi mense uit om die dekseltjie op te lig en vir jou van die inhoud te neem: so ‘n mooi versierde traktaatjie. Ek vat toe sommer die voorste een, maar die wind waai hom uit my hand uit, oor die heining, teen die berghang af. Toe neem ek die volgende een. En daar staan toe, natuurlik weer in Duits, die volgende woorde:

God is altyd gereed vir jou. Hy wag dat jy met Hom moet praat, want hy het so baie dinge wat hy met jóú wil deel.

Ek het die ander traktaatjies bekyk en gesien dat elkeen ‘n ander boodskap gehad het. Nie een het so direk met my gepraat soos die een in my hand nie. Ek was totaal oorweldig. Die wind het deur my hare gevryf, die lug was helder blou. Ver onder my kon ek die skepe op die meer sien. Oorkant die meer in Switserland was die Alpe se sneeutoppe (in die somer!) sigbaar. Die blare in die eeue-oue bome rondom my het geritsel en die hordes voëls het elkeen sy eie lied gesing. Op daardie oomblik het God só naby gevoel, ek was oortuig gewees dat, as ek my oë sou toemaak en my hand uitsteek, ek aan Hom sou kon raak. Alles het vir my nuwe betekenis gekry. Die uitsig, die blou lug, die voels, die wind….

Terwyl ons, ek en Christine, ‘n paar aande later met ‘n roomys in die hand deur die cobble strate van ‘n klein dorpie, Lindau, loop, sê ek toe vir haar dat ek baie graag, as ons gespaar bly, met ons silwerbruilof weer hierheen wil kom.

Tien jaar later.

Sommer die tweede dag ná ons aankoms daar het ek mý paadjie gaan opsoek. En ek het wéér geloop en praat. En nabetragting gehou. Gedink oor die afgelope tien jaar. Al die veranderinge – en was daar baie! My pa is nie meer by ons nie. Ek moes noodgedwonge ander werk soek. ‘n Klomp van my hare het om die een of ander rede besluit om my te verlaat (en die paar wat agtergebly het, het hulleself gaan staan en grys vermom). My klein dogtertjie is op universiteit. My klein seuntjie gaan binnekort universiteit toe en my babaseun is amper klaar met hoërskool. My klere het mislik geraak en sommer oornag besluit om te krimp. Ons het Engeland toe verhuis. En nog baie ander veranderinge. Maar, het ek tot die besef gekom, alles het tog uiteindelik uitgewerk soos ek tien jaar gelede gevra het. Nou nie regtig op die manier wat ek destyds gedink het nie, nie met die pad wat ek gevisualiseer het nie. God het ander planne gehad om my gewigte van destyds weg te vat. Tien jaar gelede het ek, byvoorbeeld, nie eers kon droom dat ek op Haar Majesteit se Eiland gaan sit en skryf nie. My nabetragting het my gewys dat God werklik luister.

Ek het wéér loop en dankie sê. En ek het ook nuwe versoeke gehad. Ek het gevra dat Hy my land, Suid-Afrika, in Sy hand moet neem. Ek het elkeen van julle (onthou, ek het vier kilometer gehad om dit te doen en ek loop nie meer so flink soos tien jaar gelede nie) in God se sorg geplaas. Ek weet nou mos Hy luister. Uit die boksie by die kruis het ek weer vir my ‘n blaadjie gekry. Hierdie keer was daar net een oor. God het vir my (in Duits, nogal – natuurlik) gesê wat, as dit vry vertaal word, beteken:

Ons het ‘n Vader wat almagtig is in die hemel. Vertrou op Hom en jy sal wonderwerke beleef.

Terwyl die vliegtuig die aanloopbaan bestorm op pad terug huis toe, was ons goed op spoed en ek in my sitplek vasgedruk. So halfpad met die aanloop word daar toe skerp gerem, baie skerp. Sommige van ons skrik en ander is sommer vies oor die moontlikheid dat ons dalk nie vandag gaan opstyg nie. Maar die loods draai om en begin ‘n tweede aanloop. Hierdie keer suksesvol. Ek dink toe dat dit dalk nou so goed soos enige ander tyd is om vir ‘n bewarende Hand te vra. Ek doen dit toe sommer dadelik en raak toe weer aan die gesels met God, sommer so in my gedagtes daar in die vliegtuig.

Terwyl ek so met my gedagtes besig is, sien ek toe in die klein venstertjie van die vliegtuig ‘n weerkaatsing. Ek is bewus daarvan, maar steur my nie daaraan nie. Dis maar die son of ‘n lig wat so weerkaats, dink ek. Ons breek later deur die wolke en vlieg oor ‘n spierwit mat, ‘n mat gemaak van wolke-watte. Ek besef toe dat die lig nog steeds hier buite die venster langs die vliegtuig is. ‘n Vreemde lig wat lyk of dit half in sy eie wolkie gehul is. Dit was nie ‘n weerkaatsing van iets gewees nie. Die lig het langs die vliegtuig gebly. Ek het vir Christine gevra of sy dit ook sien. Sy het dit ook gesien en ons kon geen verklaring daarvoor kry nie. Die lig het later vorentoe beweeg en nog later onder die vliegtuig in. Dit was beslis iets ongewoon. (Ag, een van julle slimmes moet nou nie my bubble met ‘n wetenskaplike, rasionele verklaring kom probeer bars nie. Dit sal nie werk nie. Ek weet wat ek gesien het en ek kan glo wat ek wil…)

God praat met ons. Hy openbaar Hom aan ons. Vertrou op Hom en jy sál wonderwerke beleef…

Advertisements

2 thoughts on “Een Dinsdagoggend in Julie

  1. André, baie dankie dat jy hierdie herinneringe en waarhede met ons gedeel het. Daardie kapelletjies langs die paaie in Duitsland is vir my pragtig. Terwyl ons daar gewoon het en ek die platteland te voet verken het, het ek ook dikwels by so ‘n kapelletjie vertoef. God is oral, nie net by die kapelletjies nie, maar dit is asof ‘n mens dáár ekstra spesiaal van sy teenwoordigheid bewus is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s