PRETORIA WAS GOED VIR MY

11226051_10206786952410922_759259504811044360_nDSC_4051DSC_4107DSC_4101DSC_4067DSC_4115DSC_4111

Wie sou nou kon dink dat Land van die Blou Bul ‘n Cheetah-man so hartlik kan ontvang!
Na die euforiese belewenis in Bloemfontein het ek nie kon dink dat dit beter kon gaan nie. Ek was verkeerd – gedeeltelik. Pretoria het die Rosestad geëwenaar.
In die knus lapa van Krygkor, net so naby die veelbesproke Erusmuskasteel (waar dit glo spook!) het ons gekuier rondom Monochroom Reënboog. Familie, skoolvriende, weermagvriende en nuwe vriende het glasies kom klink op… MY! Wat ‘n eer! Die pragtige tweeling, Martinique en Clariece, het boekverkope woema gegee en neef Johan het sy aktrise-vrou aan my kom voorstel. Uiteindelik kon ek vir Karen ontmoet. Thys, ou skool- en weermagvriend wat ek in 1983 laas gesien het, was ook daar om sy vrou aan my voor te stel. Ek kon skrywersvriende en Facebook-vriende in lewende lywe ontmoet.
As Christine en die kinders nie in Engeland agtergebly het nie, sou Engeland my heel waarskynlik nie weer gesien het nie.
Dankie Suid-Afrika!
(En ‘n baie groot dankie aan almal wat dit vir my moontlik gemaak het. Ek wil graag vir Desiré en Jacolien uitsonder.)

MONOCHROOM REËNBOOG TE KOOP

Nee, ek verkoop nie ‘n reënboog nie! Ek reageer net op talle versoeke van mense wat navraag doen oor waar die boek gekoop kan word.
INTERNASIONAAL: Beskikbaar as e-boek en slapband by Amazon, Smashwords en Createspace
SUID-AFRIKA: Doen navraag by enige boekhandel en vra dat die boek bestel word as dit nie in voorraad is nie. Dit is tans beskikbaar by Protea en Exclusive Books. Ook as e-boek beskikbaar by Leserskring (onthou om die deelteken op Reënboog te sit of tik net Monochroom), Kwarts Uitgewers, en (binnekort) by On the Dot en Takealot (Kalahari.com).
http://www.leserskring.com/Product/ProductDetail/1148251

KONTAK DESIRÉ HURST AS JY NIE REGKOM NIE. Sy kan vir jou ‘n boek na ‘n adres in Suid-Afrika pos (R200 insluitend posgeld). Sel: 082 871 8028. Tel: (012) 345-5541. E-pos: mikedes@mweb.co.za
Ek kan ook gekontak word by: fourieaj@hotmail.com
DSC_4120

VRYSTAAT KUNSTEFEES 2015

Terug op moeder aarde na ‘n loop op die wolke. Ek sou in my wildste drome nie kon dink dat my eerste bywoning van ‘n kunstefees sommer my deelname sou behels nie. Weke van interkontinentale kommunikasie en reëlings kulmineer toe uiteindelik in die aand van 15 Julie.
Die Kovsiekampus in Bloemfontein is ‘n kaleidoskoop van kleur, geur en atmosfeer. Mense dwaal, eetding in die hand, van stalletjie na stalletjie. Ek baan my weg oop na die H van der Merwe Scholtzsaal waar ek baie jare gelede my finale eksamen geskryf het. Ek het weer daai gevoel op my maag, maar hierdie keer is dit nie eksamenkoors nie. Dis verhoogvrees. By die sysaal, waar my boekbespreking gaan plaasvind, word ek deur oud-skoolvriende, familie ou en splinternuwe vriende ontvang. Ek sien die omslag van Monochroom Reënboog in baie hande.
Saam met Maretha Maartens en die bekende dramaturg, Nico Luwes, skuif ons agter die mikrofone in. My mond is droog en ek is dankbaar vir die bottel water voor my. Maretha lei die bespreking met haar kenmerkende kalm, professionele styl en vee al my stramheid weg . Nico is briljant en gee met sy voorlesing lewe en stemme aan die karakters wat ek die afgelope jaar of wat geskep het. Die gehoor neem deel en gee waardevolle terugvoer.
Wat ‘n onvergeetlike aand!
Ag ja, die lewe gaan voort – maar nou vir ‘n nuwe avontuur!
20150715_174654_resizedIMG_8389IMG_0961IMG_8385

LOUWRENS

Eendag was daar ‘n seun. Kom ons noem hom Louwrens…

Die dag toe Louwrens gebore is, was sy pa by – taamlik onwillig, bygesê. Op ‘n stoeltjie by sy ma se voetenent het sy pa gesit en toekyk hoe die dokters hom deur die snit in sy ma se maag trek. Nog vol bloed, in ‘n doek toegedraai, het die suster die kleine Louwrens in sy pa se arms kom sit. Op dáárdie oomblik is dit gesmee – ‘n band wat geen krag ooit sou breek nie.

Louwrens was ‘n buitengewoon woelige kleuter met ‘n sterk persoonlikheid en wil van sy eie. Die blondekopseuntjie met die helderblou oë kon speel dat die sweet sy haartjies deurskynend maak. Sy lag was musiek, maar sy opstand teen enige iets waarmee hy nie saamgestem het nie, was bliksemstrale. Met ogies wat vonkel van ondeundheid, was hy altyd vol planne vir ‘n nuwe uitdaging. En meestal het hierdie planne nie ingepas by die beskermende omgewing waarin sy ma hom wou grootmaak nie. Saans, wanneer sy na die slapende engelgesiggie gekyk het, kon sy nie glo dat dit dieselfde seuntjie is wat enkele ure tevore streepsuiker by sy pa gekry het nie. Met ‘n oopgevalde oogbank of ‘n kopwond nadat toertjies op die swaai skeefgeloop het, het die personeel by Ongevalle later bekendes geword.

Hy was nege toe sy pa vroeg een Sondagoggend ‘n oproep kry wat vir altyd voor in die geheuekamers sou bly. Sy ma was nie tuis toe die oproep deurgekom het nie, want sy het werkverpligtinge in ‘n ander land gehad.
Louwrens was by ‘n maatjie se verjaarsdag en het die vorige aand oorgeslaap. Vroegoggend, ná ontbyt, het die twee seuns, Louwrens en Gerrie, in die agterplaas op die klimraam gespeel. Gerrie-hulle se twee groot honde het so al rondom die seuns gespeel. Met die afglyslag van die glyplank af, het Louwrens teen die een hond gebots. Dit het ‘n kettingreaksie aan die gang gesit wat lewens sou verander. Die hond het geskrik, vir Louwrens gegryp en hom begin rondsleep.

Louwrens het op ‘n hoë bed in die ondersoekkamer gelê toe sy pa instap. Sy pa kon nie glo dat ‘n kind so baie bloed in hom kan hê nie. Alles was rooi deurdrenk. Louwrens was bewusteloos, doodsbleek. Vir ‘n hartstoppende oomblik het sy kleur en die baie bloed sy pa laat glo dat hy dood is, maar daar was so af en toe ‘n rukbeweging. Sy kopvel en een oor was afgeskeur. Sy bo-arm was vol gate gebyt. Sy rug het skeure en tandmerke gehad. Die dokter het verduidelik dat die ontbyt wat Louwrens kort tevore gehad het, hom verhoed om dadelik te opereer. Louwrens se pa het na sy seun se bebloede, ontblote kopbeen gestaar. Die seuntjie was besmeer van bloed, hondespoeg en modder. ‘n Verpleegster het vir sy pa verduidelik dat sy seun skoongemaak moet word voordat hy teater toe geneem kan word. Sonder aarseling het Louwrens se pa gesê dat hy dit self sal doen. Die verpleegster het water met ontsmetmiddel in ‘n bad getap en gehelp om Louwrens se slap lyfie in die bad te tel. Louwrens se pa het met opgerolde broekspype op die bad se rant gaan sit met sy voete in die water. So sag as moontlik het hy sy seun se verminkte liggaam afgespoel.

En toe maak Louwrens sy oë oop. Die blou oë se blik het sy pa s’n vasgevang. Woordeloos, geluidloos, gehul in ‘n serene oomblik het hy gelê terwyl die lou water oor hom spoel. Die verpleegster het later teruggekom en gehelp om hom uit die rooibruin water te tel. Sy oë, dáárdie oë, was vasgenael op sy pa.

Die operasie was suksesvol en die wonde het genees. Louwrens het floreer by die skool. Skaak, Bulletjie-rugby en krieket. Sy karateteenstanders het nie ‘n teenvoeter vir sy unieke styl gehad nie.

Louwrens het op sy tiende verjaarsdag saam met sy ouers ‘n nuwe avontuur in ‘n nuwe land begin. In die nuwe land begin hoërskool op elfjarige ouderdom. Hy, Afrikaanse seun, begin sy Engelse skoolopleiding in die finale laerskooljaar. Hy moet “multiply” en “devide” terwyl hy skaars die betekenis van die woorde ken. “History” dek onderwerpe van Engelse konings en veldslae waarvan hy nog nooit gehoor het. Sy klasmaats is al ver gevorder met die leerplan vir Frans. Om dinge te vererger, skryf hulle eksamen in hierdie finale laerskooljaar, een wat bepaal op watter vlak hy hoërskool toe gaan. Nodeloos om te sê, Louwrens is in die “bottom set” vir al sy vakke in die hoërskool geplaas. Sy klasmaats is meestal kinders vir wie skoolwerk heel onder op die prioriteitslys is. Hy sukkel om homself in die klas verbaal uit te druk en teen boelies te verdedig. Hy word as dom geëtiketteer. Sy pa raak keelvol om by oueraande dieselfde afgesaagde storie te hoor van hoe agter die kind in die skool is, hoe hy nie oplet in die klas nie en hoe hy sy sokkies sal moet optrek. Sy pa glo egter vas in sy seun se vermoë en een sneeudag word sy geloof in sy seun verder versterk.
Die paaie is toegesneeu. Geen busse nie. Oor die radio kom berigte van talle skole wat gesluit is. Geen berig, egter, van Louwrens se skool nie. Lourens het die weer deur die venster dopgehou en angstig na die horlosie gekyk. Toe trek hy sy dik klere aan en durf die vyf kilometer skool toe te voet aan deur die dik sneeu. Hy kan nie skool mis nie, dalk is die skool nie gesluit nie.

Net voor middagete is hy terug by die huis. Die skool was gesluit. Sy pa het vir hom warm sjokolade gemaak en baie lank vasgehou. Sy pa was so trots op hom. Hy was ook trots toe Louwrens as flink en regop vyftienjarige weermagkadet op “Remembrance Day” in sy uniform aan ‘n parade deelgeneem het. Want, het sy pa skielik besef, Louwrens verteenwoordig vandag al die manne wat saam met sy pa destyds op die grens geveg en gesterf het. En sy oupa wat in die Tweede Wêreldoorlog was. Een Afrikaanse seuns tussen die Engelse.

By die skool het dit egter nie goed gegaan nie. Die boelies en die aftakeling van party onderwysers het Louwrens se selfvertroue getap. Hy het teruggetrokke en afgesonder begin lewe en dikwels met geskeurde hemp of baadjie by die huis gekom. Selfs eendag met taai besmeerde hare en klere nadat iemand ‘n bottel Coke oor hom uitgekeer het. Op ‘n dag het Louwrens genoeg van die boelies gehad en die voorbok met een hou bo van die laboratoriumstoeltjie af geslaan. Nadat die onderwyser hulle al twee uit die klas gejaag het, merk voorbok op: “Respect mate. No-one has ever hit me that hard”. Die twee het vriende geraak, maar sy skoolwerk het nie verbeter nie. Die dokter het gesê dat hy aan Aandagafleibaarheidsindroom lei en wou medikasie voorskryf. Sy pa het gekeer en besluit om ‘n ander plan te maak.

Op sestien het sy pa hom uit die skool gehaal en by ‘n kollege ingeskryf. ‘n Nuwe begin op ‘n nuwe blaadjie. Met baie liefde en baie aanmoediging het hy sy kursus voltooi en vir ‘n graadkursus ingeskryf.

Louwrens se pa was so trots toe hy Honneurs B Sc in Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Essex verwerf het. Hy was twee-en-twintig, die Afrikaanse outjie wat enkele jare tevore nie geweet het wat “multiply” beteken het nie. Sy selfvertroue is terug. En die ondeundheid flikker weer in sy oë.

Dáárdie oë.

JY IS MY HELE HART

Enkele jare gelede, vyftien om presies te wees, moes ons ‘n baie moeilike besluit neem. Christine het ‘n werksaanbod uit Duitsland van die Daimler-Benz Aerospace-maatskappy gekry. Ek was heel gelukkig in my werk ingegrawe en omdat die kontrak in Duitsland net vir ses maande was, was dit buite die kwessie dat ek my werk bedank en ons as gesin Duitsland toe gaan. Dit was egter so ‘n gulde geleentheid en finansieel gunstig, dat dit werklik dwaas sou wees om dit nie aan te gryp nie. Familie en vriende het grootoog gewaarsku teen die moontlike gevare wat dit vir ons huwelik en gesinslewe kon inhou, maar ons het biddend die besluit geneem dat sy moes gaan. Op ’n koelerige herfsaand is sy toe alleen Duitsland toe met drie jong kindertjies – die jongste twee jaar oud –  in hul pa se sorg.

Duitsland is ver van Pretoria af en ons sien mekaar net so een keer per maand. Ek kry, as bonus, egter ook die geleentheid om ‘n keer of wat in Duitsland te kom. Die kinders gaan met een kuier saam, maar bly by Oupa en Ouma tydens my ander besoeke.

Een heerlike soel somersaand drentel ons, ewige verliefdes, by mekaar ingehaak deur die steenstraatjies van ‘n eeue-oue dorpie, Lindau, toe Franz Lehár se musiek na ons toe aangesweef kom. Op een van die hotelle se groot buitelugstoepe is ‘n groep musikante en sangers besig om ‘n waarderende gehoor na Glimlagland weg te voer. Ons kry nogal sitplek en met haar sagtheid teen my aangenestel, is ons weer die wittebroodspaar van ouds, met geluk in die harte en sterre in die oë. Die groep sluit heel gepas af met een van my groot gunstelinge – Dein ist mein ganzes Hertz (Jy is my hele hart) uit Land des Lächelns.

Die laaste dag van my besoek breek aan en ek loop die plek plat agter ‘n kaartjie aan vir haar. Ek soek ‘n kaartjie met baie spesifieke woorde  –  woorde wat ek, so glo ek toe, net dáár sal kry. Uiteindelik kry ek dit. Met ‘n bos blomme. Ek steek dit weg in haar huis met die asemrowende uitsig oor die Bodensee en die Switserse Alpe in die verte.

Met haar linkerstuur-motor ry ons in stilte lughawe toe. Afskeid is nooit lekker nie.

Laataand, alleen terug in haar kamer, ontdek sy die blomme en kaartjie.

Christine, Dein ist mein ganzes Herz – für immer!

MADIBA

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

NELSON MANDELA EN BETSIE VERWOERD

Die Breaking News op Sky het my aandag getrek toe ek in my Engelandse bed besig was met e-posse en ander wat-nog-allesse op die rekenaar: Nelson Mandela dies.

Ek is ‘n trotse Suid-Afrikaner, meer spesifiek Afrikaner  – daardie groep mense wat so deur die internasionale media verguis en in dieselfde asem as Hitler en Amin en ander verskrikkers genoem word. Uitvaagsels.

Soms, as ek kyk hoe mede-(Suid-)Afrikaners optree en ek sien videogrepe van ‘n vergange Suid-Afrika, dan krimp my hart ineen. Wanneer ek die taalgebruik sien as mede-Suid-Afrikaners mekaar uitskel en beledig, dan wil ek huil. En dan kan ek verstaan hoekom die media ons voorstel soos hulle doen.

Maar dis dan wanneer ek wil uitroep: Ons is en was nie almal so nie!

Soos die Duitsers letsels het van ‘n Nazi-verlede waaraan hulle nie herinner wil word nie, dra ons Afrikaners swaar aan bagasie uit ons Apartheidsverlede. Uit ‘n tyd toe waardige mense onwaardig by agterdeure van besighede moes ingaan (of gladnie kon ingaan nie) en pasboeke moes hê om soos indringers in hulle eie land te kon woon en leef en werk. ‘n Tyd toe hulle Afrikaner-kerke kon skoonmaak, maar nie daar kon aanbid nie. Bloot omdat hulle velkleur anders was.

Ek dink ek is skaamkwaad wanneer die internasionale media ons Afrikaners uitbeeld as skurke. ‘n Deel van my is skaam omdat dit ‘n waarheidsnaar tokkel. ‘n Ander deel van my is kwaad, want dis nie hoe alle Afrikaners is nie, hoe ek as Afrikaner in my hart voel nie.

Nelson Mandela het die volle impak van die Afrikaner-beheerde Nasionale Party se wette gevoel. Hy wou iets doen om daardie deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, sý mense, wat nie kon deel in alles wat ons pragtige land bied nie, ten minste ‘n regverdige happie van die koek te gee. En hiervoor het hy ‘n dure prys betaal. Hy is gelukkig dat hy darem met ‘n gedeelte van sy lewe daarvan afgekom het toe ‘n derde daarvan  van hom weggeneem is. Sewe-en-twintig jaar!

Ná die aankondiging dat hy vrygelaat gaan word, het baie mense geskarrel om voorbereid te wees  op die hel wat gaan losbars wanneer ons die skerpkant van sy wraak en woede gaan voel. Ek glo baie van hierdie mense het geredeneer dat dít is hoe húlle sou optree as hulle in sy posisie was. En toe gebeur daar niks. Alles verloop vreedsaam, behalwe vir ‘n groep Regse Afrikaners wat hulle naam krater gemaak het toe hulle die KODESA-samesprekings wou ontspoor het.  Mandela stel ‘n Afrikaanse blanke vrou as sy persoonlike assistent aan en verskyn voor die hele wêreld in die Groen-en-Goud, die einste gesogte kleure wat vir so baie jare net vir blankes gereserveer  was. Kort hierna besoek hy Orania om ‘n hand van versoening aan Mev. Betsie Verwoerd te bied. Betsie Verwoerd! Die eggenote van die man wat aan bewind was toe sy beste jare van hom weggeneem is. En hy woon ‘n Sinode-sitting van die NG-kerk by – die einste kerk wat sy mense nie wou toelaat om saam met Afrikaners te aanbid nie.

Vandag wonder ek hoe Suid-Afrika sou gelyk as hy vroeër die leisels kon gevat het. Sê nou maar net voor die Soweto-onluste. Sou daar nou ‘n geslag gewees het wat minder  onverdraagsaam teenoor ander bevolkingsgroepe in ons wonderlike land is?

Ons sal nooit weet nie. Daardie kans het ons Afrikaners deur ons vingers laat glip. Madiba het probeer, maar sy tyd was te min. Sy beste jare lê tussen die fyngekapte kalkklippe op Robbeneiland.

Mag sy gees voortlewe en saad van versoening oor ons wonderlike land strooi.

‘N DAG VIR ONTHOU

 

 

Remenbrance Day

 

 

 

 

 

 

Hierdie tyd van die jaar, hier in Engeland, hol my emosies mos met my in rigtings in waar ek nie wil wees nie. En dit nogal heel dikwels voor die kinders. Toe Etienne nou anderdag my waterige oë sien, het hy heel begripvol (nogal vir ‘n jongman van sy ouderdom) stilgebly en my lomp aan die arm en later om die lyf gevat.

 

Hier in Engeland maak hulle ‘n groot ophef van Remembrance Day (11 November) waar hulde gebring word aan soldate. Emosiebelaaide geleenthede word op TV gewys, by skole aangebied en in die koerante vertel in aanloop tot die dag.

 

My Oupa Chris was ‘n bombardier in die Tweede Wêreldoorlog en as kind het ek aan sy lippe gehang wanneer hy van sy tyd in Noord-Afrika vertel het. Ek was baie trots op dié oupa van my. Van kleins af het my seun, Etienne ‘n geweldig fassinasie vir alles wat met soldate te make het. Rolprente, foto’s, militêre musiek, wapens en vliegtuie. En so besluit hy destyds as dertienjarige om by die plaaslike tak van die Army Cadets aan te sluit. Ook in daardie jaar by kleinboet Stephan se skool is ‘n week afgestaan om die kinders bewus te maak van hoe lewe tydens die oorlog was en is die kinders aangemoedig om enige iets van die huis af saam te bring wat uit daardie era dateer. Hulle moes ‘n opstel skryf waar die storie vertel word uit die oogpunt van ‘n kind uit die negentienveertigs en die Vrydag het hulle toe ‘n ope dag gehou waar al hierdie dinge uitgestal word en die kinders aangetrek is soos destydse kindertjies. Die Sondag is Etienne deel van ‘n gedenkparade, kompleet met militêre orkes, uitgedos in sy uniform. En toe tref dit my, so saam met die knop in die keel en die waterigheid by die oëlangs: Hierdie twee Suid-Afrikaanse boeties neem in hierdie dae hier in die verre vreemde ‘n groot ding op hulle skouers. Hulle verteenwoordig nie net hulle soldaat-oupagrootjie nie, maar al die Suid-Afrikaanse soldate wat oor die jare heen opofferings gemaak en die hoogste prys betaal het. Ek wou ontplof van trots!

 

Op TV was daar so ‘n aangrypende reeks. Hulle het gepraat met (nou al ou) mense wat kinders was tydens die Eerste  Wêreldoorlog. Daar het stories uitgekom wat die hartsnare gepluk het. Maar ook een van die wonderlikste stories wat ek ooit gehoor het.

 

Die ou tannie vertel dat sy so sewe en haar boetie vyf was. Haar pa, die broodwinner, is kort tevore op die slagveld doodgeskiet en  hulle het werklik swaar getrek. Haar ma het wasgoed vir mense gewas om die karige weermagpensioen wat haar pa nagelaat het, aan te vul. Die aand voor kersfees het haar ma nog gewerk en sy en haar boetie het in die dorpie se sneeubedekte hoofstraat na die versierings in die winkelvensters gaan kyk. Hulle was baie opgewonde oor die volgende dag, want hulle ma het gesê dat hulle “bacon and egg for christmas dinner” kan kry. Terwyl hulle van die een winkelvenster na die volgende gedrentel het, het hulle by ‘n speelgoedwinkel vasgesteek en hulle verstom aan die pragtige speelgoed wat uitgestal is. ‘n Vrou het langs hulle kom staan en gevra hoekom hulle nie ingaan nie, want dit is snerpend koud buite (kersfees in die noordelike halfrond!). Hulle was huiwerig, want, omdat hulle nie geld gehad het nie, was die winkeliers altyd kwaai met kinders wat in die winkels rondgedrentel het. Hulle het vir die vrou gesê dat hulle nie mag ingaan nie.

 

“Maar natuurlik mag julle. Kinders is altyd welkom in ‘n speelgoedwinkel”. En met dié neem sy hulle aan die hand en lei hulle die speelgoedwinkel binne.  Dit was vir hulle ‘n wonderlike oomblik en hulle kon  nie genoeg kyk nie. Hier het hulle ‘n ding bewonderend opgetel en daar verlangend oor iets gestreel, min wetende dat hulle fyn dopgehou word. Toe hulle wou loop, keer die vrou hulle en sê hulle moet net ‘n rukkie wag. En daar koop sy vir hulle elke ding waaraan hulle in die winkel geraak het. Hulle wou dit eers nie neem nie, want hulle ma sou wonder.

 

Maar die vrou sê toe vir hulle: “Take these presents from me and tell your mother that tonight you have met Mother Christmas”.

 

En dan was daar ook die vertelling van die ou oom wat na al die jare steeds in trane uitgebars het toe hy vertel van sy ma wat nooit weer getrou het nadat sy pa doodgeskiet is nie. Sy was te lief vir haar man gewees en het tot met haar dood swart gedra. Elke keer wanneer sy vir haar ‘n nuwe rok gemaak het, het sy die ou rok se knope afgesny en aan die nuwe rok gewerk.

 

Want dit was die swart knope van sy pa se uniform.

 

En ook die ou tannie, Gertrude, wat vertel hoe haar pa, na maande se oorlewing in die loopgrawe, met verlof huis toe gestuur is. Haar pa het gely aan, wat vandag bekend staan as posttroumatiese stres as gevolg van sy ontberinge. Vandag kry soldate behandeling, maar destyds was dit onbekend.

 

Gedurende sy hele verlof het hy meestal in die kamer gebly, baie gehuil, selfs snags in sy slaap, en byna niks geëet nie. Volgens foto’s was hy ‘n baie aantreklike, forse man. Aan die einde van sy verlof wou hy nie weer terug slagveld toe gaan nie en het soos ‘n bang kind in die kamer gehuil en weggekruip. Na vele dreigemente van sy bevelvoerders, is ‘n sersant met ‘n groep soldate gestuur om hom te gaan haal. Die tannie vertel hoe sy as dogtertjie in die bure se tuin gaan wegkruip het om nie te aanskou hoe haar pa skoppend en skreeuend deur die soldate daar weggesleep is nie. Wat haar tot vandag toe bybly, is die gevloek van die sersant wat elke sin met die f-woord gelaai het. Die laaste wat sy kan onthou, is toe haar pa toegesnou is: “I’ll shoot your f****n head off!”

 

Dieselfde middag het hy voor ‘n krygsraad verskyn en is skuldig bevind aan lafhartigheid. Die volgende oggend teen dagbreek is hy deur ‘n vuurpeleton tereggestel. En daar bly sy en haar ma toe agter met die vernederende geskinder en kyke en gefluister van die gemeenskap. Haar pa is as lafaard tereggestel, en dit staan ook so op sy graf. Sy weermagpensioen, hulle enigste inkomste, is twee maande later gestop en toe die landlady, by wie hulle die huis huur, dit hoor, het sy hulle beveel om die huis dadelik te ontruim. Hulle was platgeslaan en verneder. ‘n Ruk later het ‘n ryk plattelandse gesin haar ma werk aangebied en hulle het by hierdie gesin ingetrek. Die mense was geweldig goed vir hulle gewees en die klein Gertrude is soos een van die gesin se kinders grootgemaak. Haar ma het tot haar dood toe geveg om haar pa se naam skoon te kry en ná haar dood het Gertrude daarmee aangehou.

 

Onlangs (Gertrude, destydse klein dogtertjie, is nou in haar laat negentigs) het hulle na ‘n lang hofsaak, ‘n sertifikaat gekry waarin haar pa en meer as 300 ander soldate wat dieselfde lot gehad het, se name in ere herstel is. Haar pa het nou ‘n ander grafsteen.

 

Ná Remembrance Sunday se landswye parades en herdenkingsdienste is elke oorlogsmonument in elke dorpie getooi in kranse van rooi poppies. Een van die monumente het ‘n nuwe inskripsie: Private Henry Farr. Sy trotse dogter, Gertrude, het  broos en kromgetrek vir die eerste keer ‘n krans by hierdie monument gelê. Haar pa was haar held en uiteindelik saam met miljoene ander soldate, ‘n held in die groter geheel.

 

Ek glo dis belangrik om alle aspekte van die geskiedenis te onthou. Party om oor jubel en ander om ons te herinner aan foute wat gemaak is.