HERFS

2015-10-22 12.52.07

Ek is mos ‘n sonskynmens. Ja, ek probeer wel ‘n bietjie sonskyn in ander mense se lewens bring, maar dis nie wat ek met my dubbelsinnige stelling bedoel nie. Ek hou van sonskyn. Somer.

Hier by ons is die horlosies verlede naweek teruggedraai en is ons nou twee ure agter Suid-Afrika. Herfs, met mening en fluks op pad winter toe.

Vanoggend, tydens kopskoonmaaktyd in die voëlpark hier naby ons, kon ek sien hoe die natuur voorberei vir die naderkruipende winter. Daar was ‘n byt in die lug, die meeste trekvoëls het al opgepak en swerms Kanadese ganse maak gereed vir die winter. Dagligtyd is heelwat korter as gedurende die somermaande en sonskyn verflou teen ‘n grou lug. Die laaste van die veldbessies is soet en vlek my vingers. Die wind roer die digte bos biesies langs die stroom. Ek hou daarvan. Dit roep herinneringe op van kindertyd op my oom se plaas langs die Modderrivier naby Bloemfontein.

Sonskyn en somer. Ja ek verkies dit, maar tog is daar ietsie aan winter wat my nie ‘n totale afkeer daarvan gee nie. ‘n Stuk van my hou van winter. Veral hier in die noordelike halfrond.

Gesellige kaggelvure en warm sjokolade of glűwein gee wintersaande ‘n karakter, ‘n atmosfeer van knusheid. Sop en bredies en kaneelsouskluitjies. Hierdie jaar word ‘n wit Kersfees vir Brittanje voorspel. Daar is iets sereen aan ‘n  laataand-stap met ‘n wolserp en handskoene aan deur ‘n dik laag sneeu, krakend onder sneeustewels. Dis gewoonlik doodstil, want min mense trotseer die sneeu daardie tyd van die aand. Dis net jy met jou witwolkasem en die sneeuvlokkies met die lig se weerkaatsing van ‘n sneeuwit bedekking.

Ja wat, winter kan maar kom. Ons Suid-Afrikaners pas mos by alles aan (selfs ‘n verloorslag teen die All Blacks).

2015-10-22 12.41.372015-10-22 12.43.572015-10-22 12.44.442015-10-22 12.53.332015-10-22 13.02.582015-10-22 13.10.332015-10-22 13.14.44

SEWE DAE IN DIE WOESTYN (DEEL 5)

Ons staan in die woonstelgebou se voorportaal vir die bussie na die middestad en wag. Daar is verskillende bussies vir die personeel – een wat middestad toe gaan, een wat hoofkantoor toe gaan en een wat lughawe toe gaan. Saam met ons wag ‘n jong meisie vir die bussie wat lughawe toe gaan, netjies opgedollie en ingekleur met haar tas en leerhandsak. Ons raak aan’t geselse. Sy sê sy kom van Australië af en haar naam is Leonie van Heerden en ja, sy is in Suid-Afrika gebore, maar was ‘n baba toe hulle daar weg is. Dít is die rede hoekom sy nie Afrikaans kan praat nie en haar van so snaaks uitspreek.

Die bussie laai ons voor ‘n supermark af waar ons gou inhop om padkos vir die dag te kry. En daar koop ek toe nou nie wat ek verwag het om te koop nie. ‘n Pakkie heerlike biltong! Op die rakke let ek braaipap op, en Ouma-beskuit, Pro Nutro, Ceres vrugtesap en klomp ander Suid-Afrikaanse produkte. Ons loop selfs ‘n Afrikaanse gesin tussen die rakke raak. Hulle vertel vir ons dat daar ‘n groot (Suid-)Afrikaanse gemeenskap in Dubai en omgewing is.

Met ‘n pakkie biltong in die hand sien ek vir enige dag kans. Ons deel die dag in twee – een halfte vir ‘n trippie op ‘n oop toerbus en die tweede helfte vir ‘n bootvaart.

Die oop toerbus is gelukkig toe nie so oop nie. Die boonste dek is halfpad sonder dak, maar ons gaan kry sitplek in die onderdak voorste gedeelte wat lugverkoel is – elkeen met ‘n komplimentêre bottel koue water in die hand.

Die palm-eiland is toe ook, soos alles, heelwat groter as wat ek gedink het. Die sesbaan-snelweg loop al op die stam van die palm langs met imposante geboue weerskante. As ‘n verwelkominggeskenk  ontvang huiskopers op die Palm ‘n splinternuwe motor in die garage – ‘n Mini Cooper, of ‘n BMW of nog duurder tot ‘n Lamborghini (afhangend van hoe duur die huis is). Elke blaar van die palm is ‘n mini-woonbuurt. Die Hollanders het die Dubaiers kom wys hoe om ‘n stad in die see met miljoene ton sand en klip te bou. Die bus neem ons deur ‘n tonnel onderdeur die see om by die buitenste rant van die Palm te kom. Ons stop by nog eens ‘n verstommende stuk argitektoniese en ingenieursvernuf – die Atlantis Hotel en oord.

Terug op die vasteland,  sluit ons die dag af met ‘n Dhow-vaart op die Dubai Creek. ‘n Dhow is tradisioneel ‘n seilboot wat vrag vervoer. Mettertyd is die seile egter met enjins vervang en die toerismemark het nuwe moontlikhede gebring. Vandag is daar ‘n verskeidenheid dhows, kunstig versier, wat toeriste waterlangs op ‘n besigtigingstoer neem. Saans word smaaklike etes bedien met musiek en buikdansers om tot die betowerende atmosfeer by te dra.

Ons laaste aand in Dhubai seil ten einde.

IMG_0581

Die Palm: Op pad na die tonnel en Atlantis (in die verte)

Die Palm: Op pad na die tonnel en Atlantis (in die verte)

Atlantis

Atlantis

'n Paar van die klippe waarop die Palm gebou is

‘n Paar van die klippe waarop die Palm gebou is

IMG_0462

Lugfoto van die Palm met Atlantis in die voorgrond (nie my eie foto nie),

Lugfoto van die Palm met Atlantis in die voorgrond (nie my eie foto nie),

Dhow-vaart

Dhow-vaart

IMG_0541IMG_0536IMG_0531IMG_0522

SEWE DAE IN DIE WOESTYN (DEEL 4)

Ná die vorige dag se prag en praal, besluit ons om te sien hoe die ouer Dubai lyk.

Ons eerste stop is egter nog in nuwe Dubai, by die Emirates Mall – kleiner as die Dubai  Mall, maar staan nie ‘n tree terug wanneer dit by vertoon en verrassings kom nie. Weelde en glans, van die parkeerterrein tot die toilette. Normaalweg voel ek ongemaklik in so ‘n omgewing – dit is net nie ek nie, ek pas nie lekker nie. Ek sit lekkerder langs ‘n vuurtjie met ‘n klompie vriende iets en drink. Maar, vreemd genoeg, ek voel nie ongemaklik nie. Ek verstom my aan alles met dieselfde verwondering as die dag in Buckingham Paleis of die keer in Louis XIV se Versailles. Dis mooi en alles, maar ek kyk maar so van ‘n afstand af. Dalk omdat ek ook maar weet wat in my bankrekening is.  Ek let ‘n klompie baie duur voertuie in die reuseparkeerterrein op, voertuie met klein registrasienommers – ‘n statussimbool. Hoe  kleiner jou nommer is, hoe meer kan jy spog. Ek sien ‘n Bentley met ‘n 87. Klein genoeg, maar hy het nog ‘n paar trappies om te klim om naby die sjeik se nommer 1 te kom.

Teen hierdie tyd het my verstomming nou al begin aanvaar dat alles hier groter en beter is – dat selfs die Amerikaners hier kan kom kyk en leer. Maar ek het werklikwaar nie ‘n ski-oord verwag nie. Op een van die verdiepings van die sentrum is daar ‘n ski-baan, kompleet met hysstoele waarmee skiërs boontoe geneem word om teen die helling af te ski. Die termometer wys dit is -1 graad daarbinne en almal is aangetrek asof hulle by St Anton in Oostenryk is. Die kinders bou sneeumanne en doen plankry teen ‘n kronkelheuwel af terwyl die waaghalsiges meer uitdagende aktiwiteite aandurf. Ander sit en eet by tafeltjies van restourante so reg uit die Alpe – kompleet met ‘n kaggelvuur.

Die drywerlose trein neem ons na die ouer deel. Ons mikpunt is die souks (tradisionele mark), meer spesifiek die spesery-souk en die goud-souk (laasgenoemde beslis nie omdat ek iets daar wil of kan koop nie). Die atmosfeer is dadelik anders. Weg is al die moderne glans. Die markte is ‘n bedrywige energieke mengelmoes van nasionaliteite wat koop of verkoop en ons het ons hande vol om die ywerige handelaars te oortuig dat ons “net rondkyk”. Uiteindelik is ons daar weg met ‘n kasmier-serp en ‘n kameeltjie (darem net ‘n ornament!).

Laatmiddag kry ons die abra (watertaxi) wat al vir eeue mense oor die Dubai Creek neem. Aan die oorkant dwaal ons deur ou strate en verkyk ons aan ‘n kultuur wat so verskil van ons s’n. Ons sluit ons dag af met ‘n smulete in ‘n Arabiese restourant – ‘n ete wat goed met ‘n wit wyntjie sou afgaan. Maar nouja, enige alkoholiese verversings is nie op die spyskaarte nie.

Die volgende oggend is ons weer Dubai Mall toe om die enorme akwarium en onderwater dieretuin te besoek. Die video wys net ‘n klein stukkie in die tonnel op pad na die akwarium.

https://www.youtube.com/watch?v=U-Lwu0_a4KYIMG_0617IMG_0502

'n Gedeelte van die ski-oord

‘n Gedeelte van die ski-oord

Straattoneel in ou Dubai

Straattoneel in ou Dubai

IMG_0443IMG_0446IMG_0438

Met die abra oor die Dubai Creek

Met die abra oor die Dubai Creek

Binnekant die souk

Binnekant die souk

IMG_0464IMG_0397

Waar woorde teen die muur van die onderwater dieretuin

Waar woorde teen die muur van die onderwater dieretuin

SEWE DAE IN DIE WOESTYN (DEEL 3)

Ek het baie goed nie geweet nie. Ek het nie geweet mens kan in die woestyn so meegevoer raak nie. Ook nie dat Dubai so groot is nie. En ek het nie geweet dat daar so baie Suid-Afrikaners is nie. Maar laat dinge nou nie vooruit geloop word nie.

Die bussie laai ons by ‘n enorme winkelsentrum af – die Emirates Mall. Maar ons vertoef nie daar nie – dáár haal ons die metro-trein  wat ons na ‘n nog groter sentrum toe neem. Die Dubai Mall.

Wat eerste opval is hoe skoon die stasies en treine is. Op die trein en, sou ek later uitvind, op die busse ook, is daar ‘n gereserveerde area waar slegs vrouens, indien hulle dit sou verkies,  en kinders kan sit. Die vrouens kan natuurlik in die ope area ook sit, maar mans word beboet as hulle die “slegs vrouegebied” betree. Die trein word deur ‘n rekenaar beheer en ons staan heel voor by die venster met ‘n wye uitsig op alles. Ek moet konsentreer om my mond toe te hou. Sowat van ontwikkeling en bedrywighede het ek in my wildste drome nie verwag nie. Destyds toe Sol Kerzner Sun City en later Lost City daar noord van Rustenburg op die vlaktes gebou het, het ek gedink dat dit ‘n waagstuk en uiters ambisieus van hom was. En hier, waar nie baie lank gelede nog net woestynsand en kamele was nie, ry ek nou op ‘n moderne trein tussen geboue en ontwikkelings deur  wat ou Sol se projek na ‘n bekostigbare behuisingskema laat lyk!

Die trein gly die stasie by die Dubai Mall aan die voet van die Burj Khalifa binne. Deur die vensters van die gange kan ek slegs die onderste paar verdiepings van die reusagtige gebou sien (Burj beteken toring en Khalifa is die naam van die Verenigde Arabiese Emirate se president). Daai naam wat ek nooit kon onthou nie, is nou ingegraveer.

‘n Mens het baie langer as ‘n dag nodig om die enorme winkelsentrum te besigtig. Winkels van baie lande is daar verteenwoordig en al die eksklusiewe handelsmerke pryk in glansletters. In een hoekie van die sentrum is ‘n enorme akwarium en onderwater-dieretuin (maar later meer hieroor). Die teëls, die afwerking, die hele kompleks is van hoogstaande gehalte en, ten spyte van die menigte mense daar, is die plek blinkskoon – nie ‘n papiertjie op die blink vloere nie.

Vroegaand, toe dit begin skemer, word, begin ons na die uitgang beweeg. Buite kyk ek op en op en op en beland byna op my sitvlak soos ek agtertoe buig om die punt van die hoogste gebou ter wêreld te sien. Melissa jaag ons aan, want die skouspel gaan begin. Ons kry plek op die groot buitestoep van ‘n restourant en plaas ons bestelling. Terwyl ons vir die kos wag, word die skare groter. Afwagtend met kameras in die hand.

En toe gaan die musiekfonteine skouspelagtig aan vir die eerste van die aand se vertonings (die video moet probeer wys wat ek moeilik verwoord).

Amper daar.

Amper daar.

In die parkeerterrein

In die parkeerterrein

IMG_0411IMG_0409IMG_0404

Voorkant van die akwarium

Voorkant van die akwarium

Grootoog

Grootoog

IMG_0393IMG_0419IMG_0422IMG_0573