IS ALLE MA’S SO?

hande

Sondae laat my aan Ma dink.  En ook nie net omdat Ma die sedebewaker in ons huis was nie.

Sondae vroeg is ons, anders as gedurende die week, met koffie in die bed wakker gemaak. Op ‘n skinkbord met lekker lang stukke tuisgebakte anysbeskuit of die vorige dag se vetkoek of iets om saam met die koffie te eet. Daar gaan nie later tyd vir ontbyt wees nie, want daar moes betyds  klaargekry word. ‘n Halfuur vóór die kerkdiens begin, het ons op ons gereelde plek gesit, tweede ry van agter, links.

Die skaapboud of braaihoender is vóór kerk al op lae hitte in die oond gesteek. Ná kerk is die groente, wat ook al vóór kerk geskil is, op die stoof gesit en is met die poeding begin. Die huis was gevul met geure – ’n Sondagreuk – en Ma se musiek uit die radio op die yskas. Die Afrikaanse stasie se Klassiekekeur – In ‘n Kloostertuin van Albert Ketelbey, Mario Lanza met I’ll Walk with God… Ma se musiek.

Chris Kristofferson voel ook so ietsie hiervan as hy sing:

Then I crossed the empty street,

‘n caught the Sunday smell of someone fryin’ chicken.

And it took me back to somethin’,

That I’d lost somehow, somewhere along the way.

Wanneer ek Ma se musiek hoor, begin my mond ook soos Pavlov se hond  s’n water.

Soos die oggend aangestap het, het die geure die huis begin vul en teen die tyd wat Ma die tafel begin dek het en Pa die vleis begin sny het, het sy hom van agter om die lyf gevat, op haar tone gestaan en hom in die nek gesoen. Pa se gesig het dan in ‘n glimlag geblom en aan tafel het hy Ma se hand styf vasgehou.

“Segen Vader, laat ons nimmer u Naam vergeten, Amen”.

MERKE EN SPORE

‘n Tydjie gelede het ek die voorreg gehad om Winchester toe te gaan. Ek ken die plek net van die bekende sixties song wat die New Vaudiville Band gesing het: “Winchester Cathedral….”

Winchester Cathedral

Indrukwekkende geskiedenis wat die plek het. Een ding wat egter by my vasgesteek het, was die sleutelfigure deur die eeue heen. Mense wie se gesag, inspirasie en naletenskap vandag nog daar te siene is. Maar meer nog, die verganklikheid van daardie eens indrukwekkende persoon. Die persoon self. Stof tot stof. Daai klomp ou grafte wys dat almal maar uiteindelik dieselfde geëindig het of hy nou ‘n man van aansien was of ‘n bedelaar.

Vandag trap ons voetspore en maak ons ons merk en veg ons ons gevegte en môre  is ons, saam met Koning Alfred (wat ‘n merkwaardige man!) en Dingaan en Tsar Alexander  ‘n hopie stof (laasgenoemde twee natuurlik nie van Winchester nie).

King Alfred the Great

Wat agterbly, is die merke wat ons gemaak het.

Party van daai ouens (en meisies) daar by Winchester se merke is afskuwelik, ander weer bewonderingswaardig. Soos die skryfster Jane Austen wat in die katedraal begrawe is. En die duiker William Walker wat vanaf 1906 tot 1912 elke dag onder die watervlak gewerk het om die katedraal se fondasies te red. Vandag word hy onthou as die man wat die bekende katedraal van ineenstorting gered het.

Ja, so maak ons daagliks ons merk. En ek wonder hoe ons onthou gaan word…