SAAI OM TE OES?

SAAI OM TE OES?

STADSAAL10

Woensdagaand, met die foto’s van ’n brandende Bloemfonteinse stadsaal wat soos ’n veldbrand deur die internet versprei is, het iets diep binnekant in my meegegee.

Ons skoolleuse was, SAAI OM TE OES. Die aand met my matriekafskeid, was die tema vir die aand deur ons skoolwapen geïnspireer en die skoolhoof het ʼn aangrypende toespraak gelewer aan die vooraand van ons groep jongmense se volwasse lewens. Sy boodskap was gebaseer op die skoolleuse: Saai om te oes. Wat jy vandag saai, maai jy in die toekoms. Ons matriekafskeid was, ironies genoeg, in die Bloemfonteinse stadsaal.STADSAAL 1

As laerskoolseun het ek baie ure in daardie gebou deurgebring. Dis daar waar kleinsus Elmarie ‘n A-Plus vir voordrag gekry het. Dis ook daar waar ek elke jaar albei my sussies met balletkompetisies gaan ondersteun het, nie altyd noodwendig besonder vrywillig nie. In die hoërskool was dit minder teësinnig, so met die klompie tienerballerinas wat ontluikende hormone op aandag laat spring het (nè Santie?). Een Saterdagaand, egter, het ek en Pa genoeg ballet vir die jaar gesien en besluit toe om eerder inry toe te gaan – net ons twee. ʼn Regte manne-aand met cowboy-fliek, hamburgers, tjips en al.

In daardie saal het ek en Willie, as skoolseuns, talle optredes gaan kyk. Met ons kerkpakke aan, want Pa het gesê as ʼn man in die aand uitgaan, dan trek hy ordentlik aan – en buitendien, dis die stadsaal. Al Debbo, Joe Dolan en nog vele ander. Later jare die Claxons en andere. Die laaste keer wat ek in hierdie besondere saal was, was met ʼn matriekreünie toe jarelange vriendin, Alice en haar kroos die gehoor met hul musiektalent vermaak het.STADSAAL 9

ʼn Onthaal of enige funksie in die stadsaal was ʼn deftige affêre. Daar is vertel dat die dansvloer een van die bestes in land was. STADSAAL 7

 

Destyds, toe die stadsaal net so na die depressiejare gebou is, is kiaat uit Birma en marmer uit Italië vir die afwerking ingevoer. Sandsteen is gebruik vir die buitekant om aan te pas by die ander historiese geboue in President Brandstraat. Die Raadsaal waar die indrukwekkende standbeeld van generaal De Wet op sy perd, Fleur, net so oorkant die stadsaal aandag trek. Die Appèlhof, van waar heelwat internasionale uitsendings van opspraakwekkende hofsake al gebeeldsend is, net so langs die stadsaal.STADSAAL 10

In 1947 is die Britse koninklikes hier onthaal.STADSAAL 8

Nou is daar ‘n uitgebrande ruïne in ‘n spogstraat. ‘n Swartverbrande karkas van goeie herinneringe.STADSAAL 11

Al hierdie dinge flits toe deur my kop toe ek die foto’s van die saal in ligte laaie sien. En daar knak toe iets. Wat dit presies was, weet ek nie. Skielik het ek kwaad geword vir die ewige baklei in Suid-Afrika. Tot in my murg hartseer om te sien hoe so baie dinge wat vir my waarde het, verwoes word.  Siek en sat en moeg om my velkleur te verdedig en heeltyd die ander wang te draai – ter wille van politieke korrektheid, vrede en welwillendheid.

En ek het gewens daardie oproeriges (ek kan ander woorde ook hier gebruik) kon na die toespraak luister wat ons skoolhoof destyds met die matriekafskeid gelewer het.

Saai om te oes.

Want Woensdagaand is daar niks behalwe verwoesting gesaai nie.

Daar kan mos nie ‘n oes wees nie!

(EK WIL BENADRUK DAT GEEN VAN DIE FOTO’S IN HIERDIE ARTIKEL MYNE IS NIE – DIT IS VAN ORAL GELEEN)

KONDENSMELK VIR ‘N KRAALOOG-SEUNTJIE

KONDENSMELK VIR ‘N KRAALOOG-SEUNTJIE

(ALLE FOTO’S SLEGS TER ILLUSTRASIE)

BOSKRAAL

Met dagbreek vertrek ‘n peloton agterop Bedfords uit die basis. ‘n Sein is ontvang dat die groep insurgente met kinders gewaar is. Die Bedfords sal die groep soldate so ongemerk moontlik aflaai naby die plek waar die vlugtende groep laaste gewaar is, want die choppers sal hulle teenwoordigheid met teveel van ‘n gedruis aankondig.BEDFORD

Benecke sit oorkant Abrie. Die atmosfeer is byna soos die dag in die Dak[1]  voor hulle eerste sprong. Dit voel so lank terug. Wat die atmosfeer vandag anders maak, is ‘n vreemde opgewondenheid, byna soos die rit Hartenbos toe vir ‘n langverwagte seevakansie. Die Bedford se seile is af en die oggendson steek. Langs die pad wei donkies en bokke. PB’s[2] steek wonderend vas en staar die voertuie agterna. Groepies stowwerige kinders met verslete klere waai huiwerig met klein handjies vir die soldate. Party is heeltemal kaal.

KRAAL

Daar is geen teken van die insurgente toe hulle by die kraal opdaag nie. Die intelligensie wat ontvang is, is foutief – gedeeltelik, minstens. Die hoofman vertel vir hulle dat die insurgente met die ontvoerde kinders drie dae gelede op ‘n nabygeleë kraal toegeslaan het vir kos en water. Dáárdie kraal se hoofman het besef wat die lot van die groepie verskrikte kinders saam met die insurgente was en het ‘n kind van sý kraal gestuur om alarm te maak. Hiervoor het hy met sy lewe geboet en die kraal is geplunder. ‘n Groep inwoners het na die kraal waar hulle nou is, gevlug. Alles hier is op die oog af vreedsaam.

‘n Seuntjie van so drie of vier jaar oud klou skaambang aan sy ma se been. Groot bruin oë volg wantrouig Abrie se bewegings.OWAMBO KINDERS

Die vrou het net ‘n bont romp aan met ‘n string heldergeel krale om haar nek. ‘n Tipiese poskaartprentjie. Abrie wil die seuntjie en sy ma gerusstel, maar kan nie hulle taal praat nie.

Saam met hulle ratpacks[3] kry die troepe ‘n buisie kosbare kondensmelk. Dit is eintlik vir die tee bedoel, maar Abrie druk syne altyd op die dog biscuits uit. Hy besluit dat hy darem ‘n dag daarsonder kan klaarkom en hou hurkend die buisie na die seuntjie uit. Nie eers onder aanmoediging van sy ma wil die kind dit neem nie. Toe gee Abrie dit vir haar. Met albei hande en ‘n glimlag wat die mooiste wit tande wys, neem sy dit. Op haar voorarm is ‘n vars brandmerk wat begin ontsteek. Abrie roep die mediese ordonnans nader en beduie vir die kralevrou dat die man na haar wond sal omsien.GEE LEKKER

Terwyl hy haar wond behandel, staan twee mans ook nader. Die een, met ‘n blinkgeswelde wang, is tevrede met ‘n handvol pynpille vir sy mondontsteking . Die ander man se linkerhand is af. Morsaf, net bokant die pols en die wond lyk erg septies. Hy is van die nabygeleë kraal. Die dag toe Swapo hulle hoofman vermoor het, wou hy ingryp en was gelukkig om net sy hand te verloor het. Met die wond skoongemaak en verbind, ekstra verbande en medisyne onder die blad vasgeknyp, skud hy eers die medic se hand dankbaar  en draai toe na Abrie. Sy handdruk is innig, sy Afrikaans opreg: “Dankie, my baas.”

Op pad Bedfords toe, draai Abrie om en kyk terug. Die seuntjie staan langs sy ma uitbundig en waai. Sy waai ook en wys weer daardie glimlag.

Abrie waai terug.OWAMBOVROU

Die insurgente het hulle bly ontwyk. Die gevolge sou talle lewens omkeer.

[1] Dakota (Douglas DC-3)

[2] Plaaslike bevolking (dikwels Ovambo’s’)

[3] Rantsoenpakkies met kos wat op patrollies saamgeneem is.

LEES GERUS MEER OOR DIE BOEK: MONOCHROOM REENBOOG

Poster (foto)

PASNAWEEK

PASNAWEEK

volstruise

(ALLE FOTO’S SLEGS TER ILLUSTRASIE)

Laat Oktober breek die eerste pasnaweek aan. Abrie se planne is lankal gereed om Somerset-Wes toe te ryloop. Annelien toe.

Vroeg Saterdagoggend kry hy ‘n geleentheid met die Bedford wat ontbyt van die hoofbasis op Oudtshoorn na die tentdorp op Kansas bring. Een van die kokke uit die basis, ‘n ouman, het hom beduie hoe hy moet maak.

“Kry ‘n lift met die kostrok terug Oudtshoorn toe en laat hy jou by die Hartenbospad aflaai. Daar sal jy gou opgelaai word, want dis ‘n besige pad. Vra die mense om jou net ‘n ent te vat tot by die pad wat De Hoop toe gaan. Daai pad vat jou reguit Kaap toe. Jy sal middagete al daar wees.”

Agterna was Abrie nie seker of die kok hom ‘n streep wou trek en of daar werklik goeie bedoelings agter die advies was nie.

karoopad

Die Bedford laai hom langs die pad na Hartenbos af waar hy nie lank wag voordat ‘n melkboer hom oplaai nie. Net soos die ouman gesê het. By die kruising met die “pad reguit Kaap toe” word Abrie afgelaai. En daar staan hy, sonder kos en water, vir twee ure. Nie ‘n kar in sig nie. Hy besluit dat hy nie dáár kan staan en wag vir ‘n geleentheid nie. Vorentoe is daar dalk besiger kruisings. Swetend in sy step-outs takel hy die roete, verby landerye, plaaswerkerhuise, beeste, skape, maar niks besige kruisings nie. Die son het sy visier op hom.son

Heelwat kilometers later hoor hy iets. Eers dink hy dis sy verbeelding, die hitte laat hom nou al stemme hoor. Weer hoor hy dit, vaagweg kom dit op die Karoo-windjie aangesweef:

“Boetieee, boetieee…!” So ‘n hoë stemmetjie, amper soos ‘n voël se roep.

Honderd meter of wat van hom af sien hy die figuurtjie, ‘n ou kleurlingvroutjie met ‘n wit kappie op die kop. Sy staan in die middel van haar groentetuin, hande rustend op ‘n tuinvurk.

karoo

“Boetie, ko’hier jong, die son gaat vi’jou doodbrand,” skreeu sy.

Abrie dink, Tannie, ek het nog ‘n ver pad, ek kan nie nou afdraaipaaie loop nie. Die vroutjie sien sy huiwerigheid.

“Ko lat’k eers vi’ jou ‘n ou koeligeitjie gee.”

Die koeligeitjie oorreed hom. Hy klim sommer deur die doringdraad en kies kortpad deur die kniehoogte bossies na waar sy haar tuinvurk in die grond gesteek het.

“Môre, Tannie.” Die “tannie” kom verstommend maklik oor sy lippe.

“Dja, môre jong. Julle army-outjies wat so hitchhike, jong julle moe ve’sigtig wees. Ek sie’julle mannetjies hie verbykom en ’an din’ ek by my selwers, wieet daarie kjind se ma-goed wa loep hy.”

“Ja-nee, ek sal versigtig wees,” antwoord Abrie.

“Waa’s jy ô’pad’een?”

“Somerset toe… Tannie.”

“Hoooe, jinne maa jy’t nogge vêr pad om te gan. Wag, lat’k daai koeldrienk gang kry. Ko’sit hier op die bankie lat jou se biene ka rus.”

Sy beduie vir Abrie na so ‘n afgeskilferde houtbankie op die agterstoep onder die sinkafdakkie, net so langs die agterdeur, voordat sy in die effens donkerige kombuisie gaan “koeldrienk” kry. Hy hou sy oog op die pad, gespitste ore vir aankomende verkeer. Niks. ‘n Rukkie later kom sy met twee glase rooi koeldrank by die agterdeur uit.

“Ek’t nou wragtag nie eerse ou koekdingetjie om jou aan te biede nie. Is jy honger?”

Met die “vêr pad om te gan” in sy agterkop, antwoord hy dat hy darem op die brekfistrok homself aan ‘n klompie snye brood en hardgekookte eiers gehelp het. “Ek’s orraait, dankie Tannie.”

En so sit hy en die kleurlingtannie saam op die bankie, op haar agterstoepie en koeldrienk drink.

“Lat’k jou nou mooi beduie. Sie’ jy daai boom net so annekant’ie hek, daai hoge een annekant’ie pad? Jy ga loop staa’nou daa by hom en lat’k jou nou vertel, dáá gat jy’e lift kry. Somme nou-nou”

Abrie dink, Tannie, ek loop nou al hóé lank. Hier kom nie eers ‘n kar verby nie, wat nog te sê iemand wat my gaan oplaai.

Met die groetslag stop sy hom twee varsgeplukte somerrooi tamaties in die hand.

Die plan is om maar vir so ‘n rukkie by die boom te gaan staan totdat sy weer in die huisie gaan. Hy wil haar darem nou nie in die gesig vat nie, nie ná haar gasvryheid nie. Ja, hy sal so ‘n rukkie staan en dan maar weer aanstap. Hoe op aarde sal dit nou ‘n verskil maak of hy nou hier onder die boom staan of… of…

Die bande wat oor die teer aangerol kom, die wind wat voor die sierrooster uitgestoot word… onmiskenbaar die verblydende geluid van ‘n naderende kar. Abrie staan vinnig vorentoe, onder die koelte uit in die helder sonlig. En toe verdoesel hy ‘n ding wat hulle nie mag doen nie. Hulle mag nie duimgooi nie.

Maar hulle mag klippies skiet.

Abrie tel ‘n klippie op en knyp hom tussen sy duimnael en die kant van sy wysvinger vas. Die kar is so tweehonderd meter van hom af toe hy sy arm met die klippie op sy duimnael reguit voor hom uithou. En toe hy nou dink dat hy sigbaar genoeg vir die bestuurder is, skiet hy sy duim reguit sodat die klippie so links voor hom verby spat. Abrie hoor hoe die klippie oor die teerpad hop, gevolg deur die mooiste geluid van die dag. Die geluid van ‘n enjin wat revolusies verminder, spoed verminder, remme wat aangeslaan word. ‘n Student in ‘n klein Renault 5 stop reg langs hom.

Abrie loer oor die dak en sien die tannie regop in haar tuintjie staan. Uitbundig waai sy vir hom. Sy skreeu iets, maar hy kan nie hoor wat dit was nie.

Sy engel langs die Karoopad.

“Waantoe is jy op pad?”

“Somerset toe.”

“Mooi man, hop in. Ek’s op pad Gordonsbaai toe.” Hy steek sy hand uit. “Leon.”

“Ek’s Abrie. Dankie ou, jy’s a life-saver.”

Laatmiddag laai Leon hom in Somerset-Wes se hoofstraat af. Annelien weet van niks. Hy wou nie verwagtinge skep en dan realiseer dit nie. Soos amper wel gebeur het, was dit nie vir Leon en sy Karoo-engel nie.

Voor ‘n klein supermarkie is ‘n telefoonhokkie. Sê nou hulle is nie hier nie. Hy het nooit daaraan gedink nie.

Toe sy antwoord, stoot hy die muntstuk in.

Die lang pad was die moeite werd. Annelien se ouers ontvang hom gul  en dra hom op die hande.

Annelien is soos ‘n kind op kersoggend. Haar ma leen haar geel Escortjie vir hulle om die aand mee uit te gaan.

Abrie is niks moeg nie.

Vroeg soggens, donkertyd, word die soldate deur die korporaal se fluitjie en geskreeu uit die slaap geruk. In die kakie tent, omring deur ander kakietente tussen die vaal Karoobossies van Oudtshoorn en ongeskeerde, deur-die-mik-geslaapte troepe word die manne nooit wakker nie. Hulle skrik wakker.

Dáárdie Sondag by Annelien is egter anders.

Abrie ontwaak in die hemel. ‘n Beweging in die kamer laat hom sy oë oopmaak. Die son skyn reeds deur die wit kantgordyne en hul die kamer in wasigheid. Annelien het die nag by haar suster geslaap sodat Abrie in háár kamer kon slaap. Sy staan in ‘n wit rok langs die bed met ontbyt op ‘n skinkbord. En haar glimlag en goeiemôre-soen is ligjare verwyder van korporaal Kriel se fluitjie.

Korporaal Kriel ruik ook nie so lekker soos sy nie.

Kamer

LEES GERUS VERDER OMTRENT DIE BOEK: MONOCHROOM REENBEEG

Poster (foto)

OP ‘N NOSTALGIETOER

OP ‘N NOSTALGIETOER

Een van my gunstelingrolprente, is Somewhere in Time, waar Christopher Reeve ‘n foto van ‘n beeldskone jong aktrise, wat byna sewentig jaar tevore die wêreld aan haar voete gehad het, sien. Hy raak dan absoluut obsessief-verlief op haar en word gehipnotiseer om terug in tyd te gaan – om haar te ontmoet.

Ek het al so baie gewens dat so iets wel moontlik was – om terug in tyd te kan gaan. Nie om iets te gaan verander of ander paaie te kies nie. Nee, ek wil sommer net goeie herinneringe weer beleef of die gevoel kry van hoe dit was – in die “goeie ou dae” (nie dat die ou dae altyd noodwendig so goed was nie, of hoe?).

Gister het ek wel baie naby aan so ‘n belewenis gekom.

In een van ons buurdorpe, Newark, het die Retrofestival my teruggeneem na die 1920’s en, soos ons deur die terrein beweeg het, het ons in die 1970’s geëindig.IMG_2461[1]

Oral was feesgangers te sien in modes van hul gunstelingtydperk en daar was selfs ‘n haarkapper waar die dames hul hare kon laat doen om te pas by hul uitrustings.

IMG_2490[1]

Uitstallings van motors’s motorfietse en karavane het my onmiddellik teruggevoer na my kinderjare. Meer as 200 stalletjies het ware te koop aangebied uit vergange eras.IMG_2491[1]

Die hoogtepunt was waarskynlik die drie verhoë waar musiek die regte atmosfeer geskep het. By een verhoog is musiek uit die 1920’s tot vroeë 1950’s gespeel wat weer lewe gegee aan die Andrews Sisters, Ella Fitzgerald, Glen Miller en ander groot name uit daardie tydperk. Nog ‘n verhoog het op die rock ‘n roll musiek van die 1950’s en 1960’ gekonsentreer terwyl ‘n derde verhoog  aanhangers van die Beatles, Bread, Bee Gees en andere se musiek gelok het.

Klein dingetjies het my  totaal aangegryp. Soos die drie sussies met hul eenderse rokkies – mens sien dit mos nie meer deesdae nie. En die Morris Minor, my liewe ma se getroue ryding toe ek in die laerskool was.

IMG_2482[1]

O ja, en die radio wat my pa in die garage gehad het – die een waaroor Gerhard Viviers vir ons Pierre Fourie se geveg teen Bob Foster beskryf het.

Ag jaaa… en vandag is ek weer terug.