PADDAVELLE EN LANGHAAR-LIETJIES

PADDAVELLE EN LANGHAAR-LIETJIES

As kind, in Bloemfontein, het ons ‘n klein boompie in die voortuin gehad. Elke jaar het hierdie boompie die heerlikste vrugte gedra wat ek agterna nog net een keer geëet het – feijoa’s. Baie mense noem dit die vrugteslaaivrug. Ek kry nog die smaak in my mond as ek onthou hoe ons die vrug middeldeur gesny en met ‘n lepeltjie geëet het.

Sedert ons in 2002 in Engeland aangekom het, het ek nou al ‘n hele verskeidenheid vrugte geëet wat ek nie in Suid-Afrika geken het nie. Dit kan ook wees dat ek dit net nie so opgelet het in Suid-Afrika nie. En om daardie rede ken ek die meeste van hulle se Afrikaanse name nie (dit sal darem baie gaaf wees iemand vir my die Afrikaanse name kan gee). Talle vrugte het ook sedertdien hul weg Suid-Afrika toe gevind. Ek het, byvoorbeeld,  vir die eerste keer ‘n sharon fruit hier in Engeland geëet en toe ek weer sien, is dit volop beskikbaar in my geboorteland.

Die Engelse begin nou eers stadigaan hul fiemies los, maar het tot nou toe my nog nie as avontuurlustige eters opgeval nie. So het die bure in ons vorige huis ‘n banana passionfruit in die tuin gehad wat hulle nog nooit van geëet het nie. Die helder rooi kleur van die sappige binnekant het hulle laat vermoed dat die vrug dalk giftig kan wees. Ek wou dit nie glo nie en die buurvrou het byna ‘n hartaanval gekry toe ek op ‘n dag ‘n vrug pluk en voor haar eet. Heerlik! Agterna het die hele buurt by hulle kom vrugte pluk.

Engeland voer baie groente en vrugte in en so het ek al vrugte hier gekry wat ek nog nie voorheen gesien het nie. Om ‘n paar te noem: ‘n Rambutan van Indonesie –  so ‘n lietjierige vrug met lang hare. ‘n Tamarillo, uit Suid-Amerika, lyk soos ‘n kruising tussen ‘n tamatie en ‘n grenadella. Die dragon fruit, wat ek weet, almal in SA nou al ken.  Die jackfruit is ‘n yslike en, waarskynlik, die mees buitengewone vrug van Indië af en word selfs as plaasvervanger vir vleis gebruik. Nog ‘n vrug wat baie soos ‘n lietjie is, is die longan van Sjina af. ‘n Mangosteen  lyk soos ‘n grenadella met ‘n heel knoffel aan die binnekant – ‘n heel unieke smaak. My gunsteling is egter die cherimoya of custard apple, wat heel anders is as dié wat ek in Natal geëet het.

Gister het ons egter weer ‘n piel de sapo geëet, ‘n tipe spanspek van Spanje af. Wanneer ek so na die skil kyk, kan ek verstaan waar die naam vandaan kom – paddavel. In Suid-Afrika het ek destyds hoofsaaklik net die valerige spanspek met die growwe skil en pienkerige binnekant gesien (ja, toemaar, my vrou vertel my altyd dat ek nie baie goed met kleurbeskrywing is nie). Hier het ek egter al heelwat ander soorte geëet waarvan die honey dew melon met sy wit vleis en suikersoet smaak my gunsteling is. Hier is ander ook met gladde skille, growwe skille, wit skille, groen skille en baie ander. Ek weet nooit watter kleur die spanspek aan die binnekant is nie totdat ek hom oopsny.

Die nadeel van hierdie ingevoerde vrugte (behalwe vir die impak wat dit op die omgewing het) is dat ons dit te ete kry lank nadat dit nog groenerig gepluk is.

Maar wat, so leer ons.

Feijoa

FEIJOA

Banana passionfruit

RAMBUTAN

TAMARILLO

Dragonfruit

JACKFRUIT

LONGAN

Mangosteen

Cherimoya

 

 

 

APPELKOOS EN JULUKA

APPELKOOS EN JULUKA

Die eerste keer toe ek hom gesien en sy naam gevra het, het hy met daardie ondeunde oë van hom geglimlag en gesê: “Appelkoos, Meneer”.

Hoekom juis Appelkoos, weet ek nie; dalk was dit die eerste oulike Afrikaanse woord wat in sy kop gekom het. Hoe dit ook al sy, ek was die enigste een wat hom Appelkoos genoem het. Al die ander het hom as Johannes geken – die bode waar ek lank gelede gewerk het. (My pa se naam was, terloops, Koos en my ma het graag vertel hoe ek as kleuter – dalk uit respek? – nie die betrokke vrug appelkoos wou noem nie, maar altyd van ‘n appelpappa gepraat het.)

‘n Baie besondere verhouding en ongewone vriendskap het tussen my en Appelkoos ontstaan. Mense kom en gaan mos in en uit ons lewens. Die meeste mense se herinneringe vervaag of raak totaal vergete. Daar is egter mense wat onuitwisbare spore deur jou hart trap. Appelkoos,  met sy skerp humorsin, was een van hulle. Ons kon lekker lag, oor alles.

So sit ons eendag en gesels toe hy my vra of ek “darrie lied van die oriebama ken”.

“Oriebama?” vra ek.

“Ja,” antwoord hy en val weg met: “Daaaar kom ooriebama, die ooriebama hy kom oorie see…”

Ek lag.

Hy vra: “Jy ken hom? Watse deng is darrie ooriebama?”

“Dis Alibama,” antwoord ek hom. “Daar kom die Alibama. Dis ‘n skip”.

“Ôô, ‘n skip.”

“Ja, dit was ‘n skip, eintlik die Alabama, daar van Amerika af. Lank terug.”

Ek kan tot vandag toe nie die lied se woorde reg sing nie.

“Daar kom ooriebama…”

Kleinsus het destyds met ‘n outjie, Danny, uitgegaan. Danny was ‘n uitstekende sokkerspeler en het vir Bloemfontein Celtic gespeel. Hy het Suid-Afrika ook op die Makkabese Spele in Israel verteenwoordig en was baie gewild onder die swart sokkerondersteuners. Elke keer wanneer Danny aan die bal geraak het, het “Juluuuuka” deur die stadion gedreun. Selfs in sportberigte is daar na Danny in aanhalingstekens as “Juluka” verwys. Ek was nuuskierig oor hierdie naam, aangesien ek nog nie kennis geneem het van die nuwe sanger met sy groep wat op die toneel verskyn het nie. Bloemfontein se swart bevolking het egter kennis geneem van die wit outjie wat brûe tussen kultuurgroepe bou.

Dit was dan ook die einste Appelkoos wat my kon antwoord toe ek eendag in die kar, op pad sokker toe, vir hom vra hoekom hulle vir Danny Juluka noem. Daardie Maandag toe bring hy vir my ‘n foto van Johnny Clegg saam met sy groep, Juluka.

Met hul eenderse haarstyle kon ek duidelik die ooreenkoms tussen Johnny en Danny sien. En ek het kennis van Johnny Clegg geneem.

Die afgelope week, met Johnny se dood, toe dink ek weer aan Appelkoos.

Ek wonder of hy my ook nog onthou.

Daaaar kom ooriebama …