AANHOUER WEN!

JOHN LOGIE BAIRD

As iemand darem destyds toe ek in die 1970’s nog op skool was, vir my sou vertel het dat ek eendag ‘n alles-in-een-toestel sou hê waarmee ek kan bel, foto’s neem, films maak (daar was nog nie videos nie), flieks kyk, speletjies speel, briewe, foto’s en films oor die wêreld heen stuur, inkopies kan doen, boeke kan lees, al die inligting wat in die biblioteek is kan opkyk en nog baie meer, sou my tweede vraag seker gewees het: Hoeveel wiele het hy? My eerste vraag sou natuurlik gewees het: “Het jy weer vergeet om vanoggend jou pille te drink?”

Ek en my seun-wat-altyd-die baie-vrae-gevra-het, dink vandag steeds goed uit wat vandag nie bestaan nie, maar wat oor 5, 10 of twintig jaar huishoudelike items gaan wees. Ons is baie lankal verby die onderwerp van vlieënde karre (wat ons, so terloops, dink nie baie gou gaan gebeur nie). Ons dink meer in die rigting van satellietbeheerde konvooi-karre vir die nabye toekoms.

Vandag presies negentig jaar gelede het die mense ook gefrons toe John Logie Baird sy kontrepsie wou demonsteer. Op 26 Januarie 1926 het hy in Soho, Londen voor lede van die Royal Institute en ‘n joernalis van The Times daarin geslaag om ‘n flikkerende beeld van ‘n vrouegesig oor  ‘n paar meter heen te sein. Hy het sy toestel die “televisor” genoem.

Sy entoesiasme is nie gedeel nie en sy demonstrasie is maar met louerige reaksie ontvang. Die koerant het berig: “It has yet to be seen to what extent further developments will carry Mr Baird’s system towards practical use.”

Die ander koerante het geen belangstelling getoon nie. Baird wou sy televisor gaan demonstreer, toe een redakteur opdrag gee: “For God’s sake, go down to reception and get rid of a lunatic who’s down there. He says he’s got a machine for seeing by wireless!

Hy het hom egter nie daardeur laat afskrik nie. Om ‘n lang storie kort te maak – ‘n raps minder as 11 jaar later, op 2 November 1936 het die BBC met gereelde televisie-uitsendings begin. Ons ken almal die pad verder.

Heel dikwels knak ons onder terugslae en kritiek. Dink net hoe anders dinge sou gewees het as mense soos Baird, Bell, Ford, Curie en so baie ander in ‘n selfbejammerende  bondel gaan opkrul het na elke terugslag.

My liewe ma het baie waarhede op my lewe gestempel. Een van hulle was:

“Never say die, get up and try!”

En ek traai…

‘N LEWE BUITE SUID-AFRIKA

vlag

Na aanleiding van twee Engelse artikels (ja, hierdie Vrystater kan darem “the language” so effens uitmaak) hier in ons koerant, het ek gedink om my eie Afrikaanse weergawe te doen en my stempel daarop te plaas. Die artikels in The South African hier in Engeland, was onder die opskrifte, “Five hard truths I’m learning living overseas” en “Five culture shocks every South African experiences when living in the UK”.

Die skrywer van eersgenoemde artikel, begin deur te sê dat “Living life between two worlds leads to some learning curves and hard, hard truths”.

Om in ‘n oorsese land huis op te sit, is ‘n avontuur – om die minste te sê. Jou lewe is gevul met ontdekkings, persoonlike groei en opwindende besluite oor jou en jou gesin se lewens, Dit is egter ook met eensaamheid en verwarring gelaai. En baie, baie deursettingsvermoë en aanpasbaarheid.

Verlangdae so saam met die gemis van bekende geure, klanke en die Afrika-son op jou vel dwing jou dikwels om hardop ‘n gesprek met jouself te hê. Dan vertel jy vir jouself dat elke negatiewe gevoel nie noodwendig die teken is dat jy moet oppak en terug huis toe gaan nie. Daardie gevoelens raak maar deel van die avontuur.

  1. JY LEER OM DIE LEWE EN DIE WÊRELD SONDER HULP TE NAVIGEER

Jou hele ondersteuningraamwerk het in Suid-Afrika agtergebly. Hier is nie ‘n ouma of gawe buurvrou om na die kinders te kyk as julle die aand wil uitgaan nie. Jonas en Mieta is ook by die huis – hier werk jy self in die tuin, was die kar en doen al die huiswerk. By ons is Saterdagaande voor die TV strykaand. Saans loop jy alleen in die reën van die stasie af huis toe en wens tog so om gou vir ‘n koffietjie by ‘n broer of suster of ou skoolvriend in te glip om te kla of om vreugdes te deel. Later aanvaar jy dat dit nie moontlik is nie en nog later raak jy gewoond daaraan.

  1. JY BESEF DAT JY NIE ‘N GESKIEDENIS HIER HET NIE

My jongste het dit lank gelede goed gestel. Hy het sy lewe in Suid-Afrika as ‘n lyn gesien. Toe stop daardie lyn en begin hy noodgedwonge ‘n nuwe lyn in Engeland. Wanneer hy weer terug Suid-Afrika toe gaan, sal hy weer ‘n nuwe lyn moet begin, want daar het teveel op sy Engelse lyn gebeur om die twee Suid-Afrikaanse lyne sommer weer te kan verbind.  Daar gaan dus ‘n gaping tussen die twee lyne wees. Aan die ander kant het sy Engelse lyn sommer so in die lug ontspring. Daar is ‘n groot deel van sy lewe wat nie op hierdie lyn verteenwoordig word nie. Toe die ander seuns ‘n oupa-en oumadag by die skool gehad het, was sy grootouers baie myle vêr. Hy het ook nie in dieselfde omgewing as sy Engelse skoolmaats tot hier gekom nie. Sy hele verwysingsraamwerk was anders. En dit gaan weer anders wees as hy terug Suid-Afrika toe gaan.

Ons mis die familietroues en neefs se mondigwording. Ons kan nie lewenslange vriende se begrafnis bywoon nie. ‘n Vinnige braai saam met ou Swaer bly ‘n wens.

Maar jy kry ander dinge om hierdie leemtes te vul en ‘n pak Oumabeskuit of ‘n braai saam met mede-verlangharte kry dieper betekenis.

  1. AANVAAR DAT MENSE IN EN UIT JOU LEWE GLIP

Jy gaan heel waarskynlik kontak met baie van jou vriende verloor. Aanvaar dit, dit is die verloop van die lewe al het jy in Suid-Afrika gebly. Gelukkig vir Skype en Facebook kan mense steeds deel van jou lewe bly. Ek het juis deur die sosiale media met ou skoolvriende bande opgetel met wie ek waarskynlik nooit kontak sou gemaak het as ek in Suid-Afrika gebly het nie. Jou verlanghart dryf jou dikwels om te kyk en te wil weet wat in jou ou buurt aangaan.

  1. TYD SAAM MET GELIEFDES IS NOOIT GENOEG NIE

Of jy nou huis toe gaan vir die Kersvakansie en of familie en vriende vir jou kom kuier, die tyd vlieg gou verby en baie vinnig wens jy dat jy dit weer oor kan hê. Daar gaan beslis blydkskap-trane van hereniging wees, maar wees ook voorbereid op die gewone familietwispunte. En die opmerkings (wat in baie gevalle niks anders as verskuilde afguns is nie) – “Julle het mos landuit gevlug”, of “Julle los ons toe mos om die probleme uit te sorteer”.

Jy besef gou hoe baie dinge maar nog is soos jy dit onthou, nie veel het verander nie. Tyd het in baie opsigte stil gaan staan. Maar dan let jy die subtiele veranderings op. En die grotes. Kleuters word tieners. Tieners staan nou op trou. Jou ma loop krommer. Die tuine in die buurt van jou kinderjare lyk nou verwaarloos.

En dan besef jy hoe die tyd verbygaan het en die lewe nie stilstaan nie. En hoe baie veranderings en aanpassings daar in jou eie lewe was.

  1. ONTHOU JOU REDE

Elkeen van ons het ‘n rede hoekom ons nie in Suid-Afrika woon nie. Mag dit nooit wees om van probleme af weg te kom nie, want dit gebeur nooit! Probleme is oral – die aard daarvan verskil slegs.

Daar kom dae wanneer verlange plek maak vir ander emosies. Skuldgevoelens is dalk een van die grootstes, veral wanneer ek die hunkering in my ma se stem hoor om die kinders te sien, te hoor, te druk. Ook wanneer ek sien hoe uitbundig die kinders saamkuier wanneer ons in Suid-Afrika gaan kuier. Dit is sulke tye wanneer ek myself moet herinner aan die rede vir ons opofferings. Ja, elkeen het ‘n rede. Ons wou ons kinders se horisonne verbreed en hulle ‘n beter kans gee om (met twee paspoorte) ‘n groter verskeidenheid geleenthede te hê.

passports-original

Vandag pluk ons reeds die vrugte van ons opofferings, maar daar sal altyd die “gewonder” wees – wonder hoe sou dit gewees het as ons in Suid-Afrika gebly het. Met twee paspoorte kan ons darem enige tyd weer huis toe gaan. ‘n Naweekwegbreek na ‘n Frankryk of Holland of enige Europese land is darem ook soveel makliker sonder die rompslomp van visum-aansoeke. Selfs lande soos Amerika en Australie hou die hekke vir jou oop wanneer jy die rooi paspoort waai.

In Engeland moes ons vinnig ‘n paar kultuurskokke oorbrug. Ek noem vinnig die vyf wat in die tweede artikel van “The South African” beskryf is.

  1. RUIMTE IS ‘N LUUKSE

Dit is ‘n groot pluspunt wanneer jy parkeerplek vir jou kar in die oprit het. Baie karre staan snags op straat en saans en oor naweke kan dit tot gevegte lei vir ‘n gesogte parkeerplek. Die huise is gemiddeld baie kleiner as in Suid-Afrika en die tuine (gelukkig ook maar, so sonder ‘n Jonas) is nie veel groter as ‘n blombedding in Suid-Afrika nie. Jou bestuursvernuf word tot die uiterste toe beproef in die nou strate waar daar heel dikwels net vir een kar plek is in ‘n tweerigtingstraat. In die platteland waar ons woon, kan ons darem bene rek (maar die huise is steeds kleiner).

  1. KRY SUID-AFRIKA ‘N BIETJIE UIT JOU KOP

Hoe swaar ook al, jy moet jou Suid-Afrikaansheid soms opsy skuif. Jy wil outomaties vergelykings tref met alles in Suid-Afrika totdat jy almal begin irriteer met “..in Suid-Afrika doen ons…”. Ons Afrikaners is ‘n trotse lot en dit is soms maar moeilik om te weet wanneer die Britse manier ingespan moet word en of jy maar moet vasklou aan jou eie gewoontetjies. Sodra jy die regte mengsel van die twee kan baasraak, begin jy die oorhand oor die situasie kry. Kersfees in die winter werk nog steeds nie vir my nie.

  1. SUID-AFRIKAANSE TYD IS UIT

Niemand hier verstaan “nou-nou” nie. Jou tydsbestuurvernuf word tot die uiterste toe getoets, veral wanneer jy drie verskillende treine werk toe vat. Normaalweg loop die openbare vervoer soos ‘n duur horlosie, maar soms kan ‘n stok in die spreekwoordelike wiele ‘n dag sleg omkrap.

  1. MIN MENSE HIER ROND KNOOP GESELSIES AAN

Ons Suid-Afrikaners hou nogal daarvan om te klets. Behalwe vir die ouer (eensame?) garde, doen die Engelse dit nie. Om ‘n gesprek met ‘n vreemdeling aan te knoop, is so stram soos flinke diens op ‘n Vrydagmiddag in ‘n Kroonstadse munisipale kantoor. Veral as jy met ‘n aksent praat.

  1. JY’S SUID-AFRIKAANS – EN ANDERS

In openbare plekke mag jy dalk sukkel om ‘n gesprek aan die gang te kry, maar by sosiale geleenthede vind jy jouself heel dikwels omring van mense wat graag luister hoe jy ‘n leeu uit jou sitkamer in Suid-Afrika verdryf het en (na al die jare) steeds verstom is dat ons toilette in Suid-Afrika het. (Tell me, where is South Africa? Duh, jy moet ‘n clue sien in South en in Africa!). Onthou, jy kom van ‘n ver plek af en mense wil weet hoe jy selfs tot in Engeland kon kom. As die plaaslike Suid-Afrika-kenner, voel jy verplig om die mense in te lig oor jou geliefde land.

En selfs al was jy nie eers so baie lief vir jou land nie, besef jy vinnig, na al die stories wat jy vertel, hoe jy die land – jou ware tuiste – mis.

NUWEJAARSVOORNEME SE GAT!

Daar’s mos die ou wat op ‘n groot skat gesit het. Die enigste probleem was, die skat was so drie meter onder harde grond. Elke dag het hy daar gaan sit en droom van die dag wat hy die skat uitgegrawe het. Hy het al twee notaboeke vol planne geskryf – planne hoe om presies deur die harde grond te breek, hoe hy die grond wat uitgegrawe gaan word wegwerk en hoe om die groot skat uit die grond te lig. Natuurlik is groot dele in hierdie notaboeke volgeskryf oor wat presies hy met die skat gaan doen. Vir jarre sit hy nou al so en dink en beplan.

So sit hy met sy graaf en notaboeke daar tot iemand op ‘n dag van hom wil weet wanneer hy begin grawe. Antwoord hy met sy oë na bo: “Jong, hierie son is niemand se speelmaat nie. Ek wag net lat hy so effens afkoel”.

Laatmiddag stap hy met die graaf oor die skouer huis toe. Selle ou wat die eerste vraag gevra het, wil toe weet hoe ver hy gevorder het. Hy hoor toe: “Ag jong, ek besef toe dis nou al so laat in die dag, miskien moet ek eerder vroegdag begin met die hele dag voor my”.

Naant vra iemand op ‘n dag weer vir hom hoe vorder hy. Kom sy antwoord: “ Man kyk, ek besef toe dat vir hierie werk, jong, ‘n graaf gaan nie daar werk nie. Nee lat’ek jou vertel, daai grond is hard, hoor. Jy kort spesiale toerusting.”

Op die vraag wat sy plan dan is, het hy ook ‘n antwoord. “Ja kyk, saak is nou so: Sodra ek genoeg geld het, dan koop ek daai toerusting en dan beginne ek te grou. Sommer eerste ding”

Later wonder iemand hoe sy spaarplanne vorder om genoeg geld op te pot vir die spesiale toerusting.

“Swarrie ja kyk, ek en geld was mos nou nog nooooit beste pelle nie. Maar ek werk aan daai plan. Ek wag nou net vir ‘n los gelukkie. Hier’s my tieket, koop elke week ‘n lotterie-tieket en as ek daai jackpot slaat, is ek weg voor. Weg voor, seg ek jou.”

So stap die jare aan tot op ‘n dag…

Neeee, hy slaat toe nie die jackpot nie. Hy slaat dood neer. Daar op sy skat wat net ‘n paar meter onder hom begrawe is, kry hulle hom met ‘n ongebruikte graaf net so langs hom.

Spit broer, spit.

Nuwejaarsvoorneme se gat! Moenie jou voorneem om ‘n ding te doen nie.

Doen hom!

(Ooo, ek sien jy wag vir… sê net gou weer waarvoor.)