MUSIEK BRING ONTHOU, SOOS DIE DAG – 3 AUGUSTUS 1964

MUSIEK BRING ONTHOU, SOOS DIE DAG – 3 AUGUSTUS 1964

DAGBREEK

Musiek staan soos bakens op my lewenspad. Dit reflekteer herinneringe aan mense, gebeure en plekke elke keer wanneer ek ‘n bepaalde lied hoor. Hier en daar bring ‘n lied selfs meer as een herinnering op.

MUSIC MEMORIES

Soos Rachmaninoff se Rapsodie op ‘n tema van Paganini wat my aan een van my gunstelingrolprente, Somewhere in Time, laat dink en die mense saam met wie ek dit gekyk het. Maar die lied herinner my ook aan die aandstories oor die radio uit my kinderjare. Ek glo vas die lied was die temalied van Briewe van Tant Magrieta, maar ander stry en sê dit was Die Du Plooys van Soetmelksvlei. Dan is daar I Wanna Live van Tommy Oliver (my eerste “close” dans), Seasons in the Sun van my matriekjaar en Sugar Baby Love wat my wegvoer na … , oeee… sy was mooi.

MUSIEK

So kan ek ‘n heel lange lys opstel.

Ek was ‘n klein seuntjie in die laerskool – 3 Augustus 1964. My ma het ons soggens, net na die oordenking oor die radio, vir skool wakker gemaak. Dan het ek my radio aangeskakel, op Radio Suid-Afrika, waar Fanus se Penniefluitjiekwêla en kwinkslae my in die regte stemming vir die dag gebring het. Maar eers was dit die nuus om kwart voor sewe en daardie wintersoggend was dit hartverskeurende nuus.

Die rede hoekom die nuus my persoonlik so aan die hart gegryp het, was waarskynlik omdat die seuntjie so oud soos ek was. En sy pa en ma was min of meer my ouers se ouderdom. En hy’t ook twee sussies gehad, soos ek. Dit was ook nie net ek wat verslae na na die nuus geluister het nie. Die hele land is aangegryp deur die lot van die Oosthuizen-gesin en hul huishoudster wat daardie nag, met huis en al, deur ‘n reusesinkgat by Carletonville ingesluk is.

Marthinus, sy vrou Hester en hul drie kinders, Jacoba, Johannes en Marianne het die vorige dag van ‘n gesinsvakansie by Amanzimtoti af teruggekeer.

‘n Buurman vertel dat hy tweeuur daardie nag opgestaan het om ‘n hoofpynpil te kry, toe hy ‘n vreemde geluid gehoor het, baie soos wawiele op ‘n rowwe pad. Hy het probeer kyk wat die oorsprong van die eienaardige geluid was, maar kon niks ongewoons sien nie. Deur die venster kon hy sien die Oosthuizens se lig was aan, maar verder niks vreemds nie.

Sekondes later was die wawiele-geluid weer daar, maar hierdie keer heelwat harder. Verbysterd en in ongeloof moes hy toekyk hoe sy bure se huis verkrummel en deur die aarde ingesluk word. Hester se gille kon bo die gerammel gehoor word.

Die gesin is nooit weer gesien nie.

Daardie aand was daar ‘n huldeblyk oor die radio aan die gesin.

OOSTHUIZENGESIN

Wat my bring by die rede vir hierdie skrywe.

Musiek bring baie herinneringe terug. Vanoggend luister ek na Classic FM toe Edvard Grieg se Oggendstemming my dadelik na daardie hartverskeurende dag teruggevoer het.

Die lied is gespeel aan die einde van die huldeblyk aan die Oosthuizen-gesin oor die radio.

LUISTER HIER NA: EDVARD GRIEG: OGGENDSTEMMING

DAAI NAAKTE BOLIP

DAAI NAAKTE BOLIP

Tydens die tweede helfte van my dienspligtyd het die meeste van ons snorre gegroei – droopies, maar dit mag nie verby die mondhoeke gekom het nie. Eers nadat ons uitgeklaar het, kon ons regte droopies langs die mondhoeke laat afloop het. Dit moes die een of ander akteur gewees het wat die hele ding begin het, die droopy ding, dié kan ek nou nie meer onthou nie.andre

Oor die jare heen was daar manne waaraan ek gewoond geraak het met hulle snorre. Ook manne van die silwerdoek. Manne soos Tom Selleck en een van my gunstelinge, Sam Elloit.

Talle van my vriende het oor die jare heen van die hare op die bolip ontslae geraak; ander het halsstarrig daaraan geklou. Wat mý egter huiwerig gelaat het om die skoongesigvoorkoms aan te neem, was toe ek bogenoemde twee akteurs sonder hulle snorre gesien het. Ja, ek weet sommige mans se harige voorkoms slaan jou tussen die oë soos ‘n enorme spinnerak waarin jy vasloop. Maar dan is daar manne soos Tom en Sam wat gebore is vir ‘n snor. Sonder daai bykomstigheid wil-wil die snawel van papegaai voor my opdoem. En dis vir daardie een waarvoor ek bang was – ek wou darem nou nie lyk of ek ‘n snawel het nie.

Maar, die afgelope week toe besef ek mos dat hier niemand is wat my lank genoeg ken om enige verskil dadelik agter te kom nie. En daar waai die snor toe. Vir die eerste keer in veertig jaar.andre 2

Vriende wat daarvan te hore gekom het, wil ‘n foto sien. Maar ek skrik self nog wanneer ek skielik voor ‘n spieël te staan kom. Glo my, die mensdom is nog nie gereed daarvoor dat my gesig die kubergange ingestuur word nie.

Kyk, niemand het my nog ooit aanmoedig om myself as manlike model beskikbaar te stel nie. Met goeie rede ook. Maar, nadese gaan my foto gebruik word om kinders bang te maak. Soos daai video’s op Youtube  waar jy nog so lekker intens kyk en dan skielik doem ‘n afskuwelike gesig voor jou op wat kinders gillend van stoele laat afval en by deure uit laat skarrel.

Wees gewaarsku.

ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

ROBIN HOOD SE SLAAPPLEK

 

IMG_2139

Soos ‘n bejaarde dame met ‘n Zimmerraam staan sy daar met haar swaar takke gestut. Daar is talle ouer dinge op aarde, dit gee ek toe. Maar bitter min van hulle lewe vandag nog.

 

Die inligting op ‘n bord by die boom dui die ouderdom aan as ongeveer 1150 jaar. Dit is oud!

IMG_2143

Toe Jan van Riebeeck voet aan wal in Suid-Afrika gesit het, was die boom reeds 800 jaar oud. Daar word vertel dat Robin Hood en sy manne skuiling onder hierdie boom gesoek het – daar in die bekende Sherwood Forest.

IMG_0580

Volgens oorlewering was Robin Hood ‘n vrygewige misdadiger, vernuftige swaardvegter en boogskutter wat met sy “Merry Men” in Sherwood Forest gebly het. Die term “merry men” was aanvanklik ‘n algemene omskrywing vir volgelinge van ‘n misdadiger, ‘n ridder of soortgelyke leiers.

IMG_0579

Daar is talle weergawes van Robin Hood se verhaal en oor die eeue heen is baie kinkels en stertjies bygevoeg. Hollywood het ook ‘n swaar hand gehad met die byvoeg van ekstra kleur en geur en dramas. Daar word, byvoorbeeld, in geen historiese bron melding gemaak van die skone “Maid Marion” nie en Errol Flynn, geklee in ‘n pikante groen kostuum, het ‘n bepaalde beeld geskep van die held wat van die rykes gebuit het om vir die armes te gee.

IMG_0581

Die eerste verwysing na Robin Hood en sy manskappe, was in 1377 en die Sloane manuskrip beskryf bepaalde gebeure wat aandui dat Robin in 1160 gebore is.

Hoe dit ook al sy, die man met sy boog en pyle het oor die eeue heen talle mense se verbeelding op sleeptou geneem.

IMG_0575

Hy en sy bende het in die Sherwood Forest geskuil – ‘n enorme, boomryke area.

IMG_2159

Bewyse van flintgereedskap verklap dat die woud deur prehistoriese jagters gebruik is. Later, tydens die laat Ystertydperk en Romeinse bewind, was die woud bewoon en boerdery was algemeen. Teen die negende eeu het die boerderygemeenskap hulle merk op die Sherwood-landskap begin maak en talle van daardie gemeenskappe bestaan vandag nog. Plekname wat met “by” eindig, soos Thoresby, het ‘n Skandinawiese oorsprong, “thorp”, soos in Gleadthorpe is Deens en “feld” (“field”), soos Mansfield is Romeins.

IMG_2155

Die naam, Sherwood, is die eerste keer in 958 aangeteken toe dit “Sciryuda” (“die woud behoort aan die landheer – “shire”) genoem is. Na die Normandiese inval in 1066, is die woud as koninklike jagveld gebruik. Die ruïnes van Koning Johannes se jaghuis kan vandag nog naby die dorpie, King Clipstone gesien word.

IMG_2152

Ons besoek die afgelope naweek was in die vroeë lente met die bome wat nog relatief blaarloos staan. Maar die atmosfeer van duisende jare was nogtans teenwoordig.

IMG_2158

As daar nou ooit ‘n tyd was dat ek gewens het om iemand se lewensverhaal te hoor, dan was dit gister by dáárdie boom – Major Oak, soos hy bekend staan. Dink net as jy ‘n toestel aan hierdie pragboom kon koppel om grepe uit sy millennium-oue bestaan op ‘n skerm te kon sien!IMG_2148

DIE MERKWAARDIGE VERHAAL VAN TIP, DIE SKAAPHOND

DIE MERKWAARDIGE VERHAAL VAN TIP, DIE SKAAPHOND

TIP, DIE GETROUE SKAAPHOND

Die Upper Derwent Valley vorm deel van die Peak District Nasionale Park in die Oostelike Middellande van Engeland – nie ver van die dorpie waar ons woon nie. Die natuurskoon is asemrowend.

derwent-dam-tower

Buiten die natuurskoon, is die gebied ‘n onuitputbare bron van stories en geskiedenis. Op besoek aan die Derwent-opgaardam, kom ek toe op een so ‘n storie af.

Die Derwent-dam is ‘n indrukwekkende konstruksie in die Neogotiese boustyl, gebou met klippe waarvoor die omgewing baie bekend is. 1021272Verlede jaar, 2016, is die honderdjarige bestaan van die dam gevier. Derbyshire, Suid-Yorkshire en so ver suid as Nottingham en Leicester word van water uit hierdie dam voorsien.IMG_1501

‘n Interessante brokkie oor die dam, is dat 617 Eskader tydens die Tweede Wêreldoorlog die dam gebruik het om hulle vlugte op lae hoogte te oefen vir die bekende “Dam Buster” aanvalle in Duitsland. Die dam se konstruksie is baie dieselfde as wat die Duitse damme was. Vandag nog word verbyvlugte oor die dam gehou om gebeure tydens die oorlog te herdenk. In September 2014 het ‘n unieke verbyvlug (wat nooit weer herhaal sal kan word nie) plaasgevind toe die enigste twee oorblywende Lancasters – een van die Battle of Britain Memorial Flight en een van Kanada – oor die dam gevlieg het.

Canadian Lancaster V-RA at the Derwent Dam

This is a Flight Artworks visualisation of the Canadian Warplane Heritage Museum’s Mynarski Memorial Lancaster FM213, flying in the markings of KB726 VR-A of RCAF No 419 (Moose) Squadron,at the Derwent Dam, where 617 Squadron did some of their practice runs before the attacks in the Ruhr.

Met voetpaaie wat kruis en dwars oor die gebied strek, is die Peak District baie gewild onder stappers en avontuursoekers. IMG_1502Die heuwels in die Peak District word vir skaapweiding gebruik en word aan plaaslike boere verhuur.

En dit is hier waar Tip se storie begin.

Prominent, met ‘n wye uitsig oor die dam, het die monumentjie my aandag getrek. ‘n Doodeenvoudige steen, met ‘n baie besondere verhaal.IMG_1505

Joseph Tagg is in 1868 in Noord-Derbyshire gebore en het vir baie jare as skaapwagter vir die XV’de Hertog van Norfolk gewerk. “Old Joe”, soos hy in die omgewing bekendgestaan het, was alombekend as teler van skaaphonde en was ook ‘n stigterslid van die plaaslike skaaphondkampioenskap in 1905.

Selfs op gevorderde ouderdom was Joe baie aktief. Daardie ysige Saterdag, 12 Desember 1953, toe hy en Tip, sy skaaphond, te voet by die huis weg is om na skape om te sien, was hy reeds 86 jaar oud. Tip, sy getroue metgesel – deur hom geteel en afgerig – was 11 jaar oud.

Die volgende oggend, toe Joe en Tip nog nie terug by die huis Is nie, het die Royal Air Force se bergreddingspan, veldwagters en boere ‘n uitgebreide soektog na die twee van stapel gestuur. Oor naweke het honderde wandelaars die familie en vriende in hul soektog gehelp, maar daar was geen teken van die twee nie. Die soekgeselskappe moes kort-kort die aftog blaas as gevolg van sneeuval wat besonder swaar daardie winter was.

Op 27 Maart 1954 het twee plaaslike herders ‘n ou jas in ‘n sloot opgemerk terwyl hulle na skape gaan omsien het. By nadere ondersoek besef hulle toe dat dit Tip is. Presies vyftien weke sedert hulle verdwyn het, is die hardgevriesde liggaam van Old Joe in ‘n sloot gekry, net ‘n paar treë van ‘n uitgeteerde Tip af.

Tip was baie swak en brandmaer en wou om die dood nie van Joe se liggaam af padgee nie. Vir 105 dae het sy by haar baas se liggaam gewaak en een van ergste winters in daardie streek oorleef deur waarskynlik hase en voëls te vang.

Sy is huis toe geneem en deur Joe se niggie versorg tot sy gesond en sterk was. Die Bronze Medal of the Canine Defence League, gelykstaande aan die Victoria Cross, is aan haar toegeken.

Na haar ontbering, het Tip vir minder as ‘n jaar geleef en is op 16 Februarie 1955 dood. Oor haar merkwaardige optrede is wyd berig en ‘n veldtog is begin vir fondse om ‘n monument in haar gedagtenis op te rig.IMG_1503

Haar finale rusplek is op die Derwent Edge, wat oor die pragtige vallei, waar sy eens saam met haar baas skape aangejaag het, uitkyk.IMG_1506