SEWE DAE IN DIE WOESTYN – DEEL 2

OU DUBAI

OU DUBAI

Ons bagasie staan netjies in rye vir ons en wag toe die bus voor Etihad se kantore in Dubai stop. Ek klim uit die bus en loop in die hitte vas soos teen ‘n toe glasdeur. My bril, wat net gewoond geraak het aan die bus se lugversorging, is dadelik toegewasem. Dis moeilik om die hitte te beskryf. Kyk, ek ken hitte. Ek het in Bloemfontein grootgeword, ek was in Angola en Caprivi. Alle Suid-Afrikaners ken hitte. Maar dáárdie hitte, selfs so aan die einde van hulle somer, is in ‘n ander liga.

THE GATE

THE GATE

Melissa bly in die buitewyke van Dubai in een van Emirates se woonkwartiere en die taximeter  staan op 60 dirhams (rofweg R240 of £12) toe ons voor die netjiese nuwe woonstelgebou stilhou. Ek het op die passasiersitplek gesit en ‘n idee gekry van hoe ‘n navigator langs die bestuurder in ‘n tydrenmotor moet voel. Dáár waar ek gesit het, het ek vir hom twee sulke netjiese duike getrap soos ek hom help briek het. Die sitplek was darem skoon toe ons uitklim. Die term opportunistiese bestuursvernuf is ‘n eufemistiese beskrywing van die Indiese taxibestuurder se vermoë. Dit is steeds vir my onduidelik hoe hy so vinnig kan rem en in ‘n gaping, wat te klein vir my grassnyer is, kan vleg. My oë het laatmiddag eers na normale grootte teruggekeer en toe kon my briekspiere en kringspier en enkele ander spiere ontspan.

IMG_0639

Melissa het opgewonde by die woonstelgebou se voorportaal uitgeborrel toe ons uitklim. Haar woonstel is ruim en modern en die meubels en toerusting goeie gehalte. Emirates kyk goed na sy mense.

Ná ‘n koppie koffie en ‘n kort ruskansie het ons Emirates se gratis busdiens middestad toe geneem.

Ja, min het ek geweet…IMG_0508

SEWE DAE IN DIE WOESTYN

DEEL 1

IMG_0646

Verlede maand val ‘n gelukkie my mos te beurt. Melissa is lugwaardin in Dubai en sy sê sy verlang na haar pa en ma. Ons moet kom kuier. Nou moet ek uit die staanspoor sê dat ek baie ander plekke op aarde eerder sou wou besoek as ‘n land in die Midde-Ooste. Pa-se-enigste-dogter is egter die groot trekpleister en dan wou ek nog altyd daai hoë gebou waarvan ek die naam nooit kon onthou nie, gesien het.

Met die daalslag sien ek net wit sand by die vliegtuig se klein venstertjie uit – so ver as wat die oog kan sien. Die lug is ‘n dynserige beige.

Vir so ‘n yslike vliegtuig land die grote Airbus nogal heel grasieus in Abu Dhabi. In die aankomsaal is ek effens ongemaklik, dalk gespanne, want ek het nou al baie dinge gehoor en gelees van goed wat jy in hiérdie lande moet of maar liewers nie moet doen nie. Ek kyk die manne met hulle lang wit rokke agterdogtig aan. Christine haak by my in, maar ek woel my vinnig los – nie seker of dit een van die goed is wat taboe is nie. By doeanebeheer vra die jong Arabier  sy vrae en sit sy tjap in ons paspoort.

Hoe dit werk, sal ek nooit weet nie, maar die bagasie wat éérste op die carroussel verbykom, se eienaars daag altyd laaste op. So ‘n rooi tas met ‘n blou strik is al heel  dronk gedraai toe óns  tasse verbykom.

Uiteindelik kry ek en vroulief ons sit tussen ‘n magdom nasionaliteite in ‘n lugversorgde bus na Dubai. Ons bagasie is vooruit in ‘n kleiner bus en met tipiese Suid-Afrikaanse bekommernis wonder ek of ons ooit weer ons bagasie gaan sien. Buite is dit 43 grade met geen boom in sig nie. Die bus beur tussen stofwolke voort en halfpad Dubai toe kry elke passasier ‘n bottel koue water. Ek sit aan die skadukant van die bus en waag dit om die gordyntjie oop te skuif. Die hittegolwe kom soos branders aangerol. Buite skuif platdakhuise in netjiese rye en imposante moskees verby ons.

Moskee op pad Dubai toe

Moskee op pad Dubai toe

Die pad is in ‘n uitstekende toestand.

‘n Uur of so later is ons in Dubai se buitewyke.

ONS RY DUBAI BINNE

ONS RY DUBAI BINNE

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Nou, om die een of ander rede het ek Dubai voorgestel as ‘n groterige oase, ‘n plek so groot soos, sê nou maar, Brandfort met so ‘n klompie hoë geboue en die mensgemaakte Palm-eilande waarop jy half versigtig ‘n ent die see in kan loop.

EN TOE WAS DAAR STOF...

EN TOE WAS DAAR STOF…

En dan dáárdie gebou wat soos ‘n kers op ‘n verjaarsdagkoek bo alles uittroon.

DAAI GEBOU!

DAAI GEBOU!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

O ja, en ook daardie nou al ikoniese skipgebou waar Roger Federer en André Agassi meer as 200 meter hoog op die helipad ‘n potjie tennis gespeel het. Verder net woestyn.

Mense, was ek verkeerd!