AL DIE VELD IS VROLIK!

AL DIE VELD IS VROLIK!

IMG_2098

LENTE LANGS DIE PAD

Talle woordkunstenaars het al liries geraak oor die lente.

Kyk hoe beskryf Kenneth Grahame die invloed van lente op selfs die eensaamste mens:

Spring was moving in the air above and in the earth below and around him, penetrating even his dark and lowly little house with its spirit of divine discontent and longing.

Of die bruisende vreugde wat lente bring, soos beskryf deur CS Lewis:

It was the noise of running water. All round them though out of sight, there were streams, chattering, murmuring, bubbling, splashing and even (in the distance) roaring. And his heart gave a great leap (though he hardly knew why) when he realized that the frost was over.

Ook in ons eie pragtige taal het skrywers en digters oor die jare heen hierdie pragseisoen besing:

Dit is die maand Oktober, die mooiste mooiste maand…  (Leipoldt)

Dis heerlike lente, die winter’s verby…(Theo Jandrell)

Elke seisoen het sy eie bekoring en , natuurlik, sy nadele. Maar bitter min mense het al ooit oor die lente gekla.

Die winter is snoesig en  vars, maar kan ook te koud en te lank raak. Die somer bring sonskyn, braaivleis en seevakansies, maar kan weer te warm en, weer eens, te lank wees. Die herfs is pragtig met sy bonte kleure, maar al daardie blare wat opgevee moet word en die dae wat so korter word, kan die herfs ʼn slegte nasmakie gee.

Maar lente! Nie te lank nie, nie te koud of te warm nie en alles is nuut. Nuwe blare en blomme, nuwe lewe in die diereryk, die sonskyndae word langer en alles voel sommer nuut en vars. Geen wonder daar word van “spring cleaning” gepraat nie, want mens voel sommer lus om van al die winterstof en spinnerakke ontslae te raak. Om die nuwe lentelug in te asem.

Ek het al gewonder as Nuwejaarsdag in die lente was – natuurlik sou dit dan nie oral dieselfde gewees het nie! Maar nogtans, dink net, ‘n nuwe jaar, nuwe seisoen, al die nuwe lewe en skoon, bloeiselgegeurde vars lug. ‘n Mens sou sommer meer gemotiveerd wees om by jou nuwejaarsvoorneme te bly.

Hoekom skryf ek nou, hierdie tyd van die jaar oor die lente?

Want hier by ons, in die noordelike halfrond, is dit nou lente. Ek dink die kontras tussen winter en lente is hier selfs groter as in Suid-Afrika. Hierdie tyd van die jaar is die velde, sypaadjies, parke en tuine oortrek met plate affodille en krokusse. – dan weet ons: lente is hier.

Ons het onlangs na ‘n nuwe omgewing in Engeland getrek en die afgelope naweek, met die heerlike lentesonskyn, ons omgewing bietjie gaan verken. En op watter skatte het ons nie afgekom nie! Ek deel graag ‘n paar met julle. (Dalk, net dalk bring die lente in ‘n verre land bietjie vreugde in die suidelike halfrond.)

(Al die foto’s is sommer met my selfoon geneem en nie die beste kwaliteit nie.)

IMG_2078

BLACK ROCK. Hierdie yslike rots staan in ‘n park wat jare gelede ‘n steengroef was. In die verte kan nog ‘n steengroef gesien word. Die gebied is bekend vir die klippe wat uit rots gekap word om huise en die pragmure (waaroor ek so gaande is!) mee te bou .

 

IMG_2051

Die bome het wel nog nie blare nie, maar die groenigheid is besig om deur te slaan.

IMG_2053IMG_2058IMG_2062

IMG_2069

Ons buurdorpie, Cromford, in die verte.

IMG_2070IMG_2073IMG_2077IMG_2080IMG_2081IMG_2087IMG_2090IMG_2092IMG_2093IMG_2094IMG_2099IMG_2101IMG_2103IMG_2104

CALAMINE LOTION OF ‘N MASERATI?

CALAMINE LOTION OF ‘N MASERATI?

Daar word mos gesê dat ons manne die ewige jeukerasies kry wanneer ons ‘n nuwe kar sien.

Die heel eerste kar wat my laat jeuk het, was destyds, toe ek nog ‘n skoollaaitie was en ‘n ou kom by die verkeerslig langs ons intrek met ‘n Datsun SSS. Een met so ‘n knorrige uitlaatpyp, spot lights, louvre en al. DATSUNNie baie lank daarna nie, loop ek die dag deur die vertoonsale op die Bloemfonteinse Landbouskou en steek vas by die mooiste kar wat ek nog ooit gesien het – tot op daardie stadium. Hy is toe pas bekendgestel en draai so in die rondte onder spreiligte. Die nuwe Dodge Colt, so ‘n Gunston-kleur (vir die meisies en die jonger manne wat nie weet nie, vra ‘n man met myle op watse kleur dit is). ColtAgterna was dit die Volkswagen SP (ja, my drome het perke gehad!), die luikrug V8 Rover Vanden Plas (met al sy foute) en so aan.

Ek en my bankbestuurder het egter oor die jare heen tot ‘n ooreenkoms gekom dat, wanneer ‘n jeukerigheid ontstaan, dan krap ek maar eerder. Ja, ek kan eerlik sê dat my gejeuk onder beheer is, nou al vir baie lank.

Of so het ek gedink.

Vanoggend ry ek ewe rustig op die snelweg toe ‘n swart gevaarte verby my skuif. Ek het hom in die truspieëltjie sien aankom en aanvanklik gedink dat my oë my bedrieg toe ek die drie-tandvurk op die sierrooster sien. Selfs toe hy langs my ry, toe dink ek dat dit seker maar ‘n Cayenne of iets moet wees. Maar toe hy voor my ingly, kon ek vir ‘n baie vlugtige oomblik die letters Maserati lees voordat hy op die horison verdwyn het (en ek het ‘n heel skaflike 140 km/h gedoen).maserati-levante (1)

Maar wat, nadat ek bietjie oor hom gaan oplees het en gesien het dat ‘n ou nie veel kleingeld vir £55 000 kry nie (so in die orde van R900 000 – dalk meer in Suid-Afrika met invoerbelasting en al die ander ekstras), het ek maar op ‘n botteltjie Calamine lotion besluit.

Of wat smeer ‘n ou deesdae vir jeukerigheid aan?

NS. Die foto’s van die ouer motors is meestal van Amerikaanse modelle en lyk nie presies soos die Suid-Afrikaanse weergawes nie.

DIE OUE EN DIE NUWE

DIE OUE EN DIE NUWE

7870142

Twee keer per maand hou ons Suid-Afrikaners kerk in Birmingham, waar een van die agt bedieningspunte van die SA Gemeente hier in Brittanje is. Vir my en Christine neem die rit daarheen die beste deel van ‘n uur-en-‘n-half. Ná die diens word daar gekuier en tee gedrink – heel dikwels ook saam gebraai. As gevolg van die afstand, heen en weer, maak ons gewoonlik sommer ‘n uitstappie van die geleentheid en besoek interessante plekke terwyl ons daar is.

Die afgelope Sondag het ons die Bullring besoek. (Ja, glo dit nou of nie, maar daar was groot ontsteltenis toe die woord, net ‘n paar jaar gelede, een woord geword het, nadat dit vir letterlik honderde jare as twee woord gespel is).

St-Martins-Church-5

ST MARTINS CHURCH, WAT DESTYDS DIE MIDDELPUNT VAN DIE BULL RING WAS, GEDURENDE DIE 1950’S (LET OP DIE STANDBEELD, DOFWEG SIGBAAR IN DIE MIDDEL VAN DIE FOTO)

Die Bull Ring (twee woorde!) het aanvanklik as Corn Cheaping bekendgestaan – die markplein, net so langs die kerk. Die kerk, St Martins in the Bull Ring, is in 1263 gebou en oor die eeue heen vergroot tot sy huidige vorm. Op 10 April 1941, tydens die Blitz, het ‘n bom net so langs die kerk ontplof en groot skade aangerig.

St-Martins-Church-2

DIE BOMBESKADIGDE KERK. BAIE VAN DIE OORSPRONKLIKE LOODGLASVENSTERS IS VOOR DIE OORLOG UITGEHAAL EN BEWAAR. MAAR DIE WAT NIE UITGEHAAL IS NIE, IS ALMAL BESKADIG OF VERWOES TYDENS DIE OORLOG

Die markplein het eeue gelede reg rondom die kerk ontwikkel met huise wat in ‘n sirkel daaromheen gebou is. Beeste is ook natuurlik hier verkoop en in later jare is gevegte tussen bulle en honde hier gereël – daar is geglo dat die beesvleis sagter is wanneer die bees onder stres geplaas is. So het die Bull Ring gestalte gekry. Gelukkig is hierdie praktyk gestop, maar die naam het vasgesteek.

St-Martins-Church-7

DIE BULL RING-GEBIED GEDURENDE DIE VROEE 1960’S

IMG_2005

‘n Nuwe, ultramoderne winkelsentrum, die Bullring – geopen in 2003 – staan vandag op die plek waar daar oor die eeue heen soveel dramas afgespeel het.

birmingham-bullring

IMG_2009

DIE STANDBEELD VAN HORATIO NELSON, WAT SEDERT 1809 DAAR STAAN EN BESLIS BAIE LIEF EN LEED EN VERANDERINGE AANSKOU HET.

Bullring-Shopping-Centre-Shop-Front-Installation