‘N TYD VIR ALLES
Ek wou darem in Rotterdam op die water ook kom. Dit was ‘n bewolkte, reënerige dag en net reg vir ‘n “havenrondvaart” op die Marco Polo in een van die grootste hawens ter wêreld.
Ons het sommer hawe toe gestap en ek kon my weer eens verlustig in die avontuurlike argitektuur van hierdie besondere stad waarvan ‘n baie groot gedeelte tydens die Tweede Wêreldoorlog verwoes is.
Toe reën ons later van die buitedek af binnetoe dryf, was foto’s deur die reënspatsels op die vensters nie so maklik nie. Die vars appelgebak en ‘n warm Douwe Egberts-koffetjie het egter meer as opgemaak daarvoor.
Ons weet mos nou al van die vroegste tye af dat daar vir alles op aarde ‘n tyd is; en so breek ons tyd vir huiswaarts keer ook aan.
Die pad terug deur drie van die vier lande tot in Calais verloop nie sonder voorval nie na ‘n amperse onderonsie met ‘n groot vragmotor wat sy eie padreëls volg. Maar alles is mos goed wat goed eindig en ons ry vir oulaas, ongeskonde, aan die regterkant van die pad op die veerboot by Calais.
Engeland, huis, hier kom ons.