LUISTER TOG NA DAAI TWEE NOTE!

Shark

Daai twee basnote van die musiek uit Jaws laat altyd my hartklop versnel. Nie omdat ek noodwendig so bang vir haaie is nie, Nee. Wanneer ek daardie twee note hoor, dan sien ek gevaar naderkom. Mos eers so stadig (doem-doem),  maar niemand steur hulle aan die musiek nie. Dan nog ‘n keer (effens dringender – DOEM-DOEM!)  Iemand kyk vlugtig op en gaan dan maar weer aan met dit waarmee hy besig was. Nou begin die musiek al hoe harder en vinniger speel tot die groot klimaks waar die haai die meisie vang. Het sy dan nie die musiek gehoor nie? Verdomp! Sy kon mos hoor hoe die gevaar haar bekruip. Maar nee, sy gil eers toe dit heeltemal te laat is en daar net ‘n bloedkol van haar op die water dryf.

In ‘n ander toneel baljaar almal op die strand en in die branders. Die twee note speel weer, maar luister iemand? Hoor iemand die musiek? Slaan iemand ag op daardie twee waarskuwingsnote? Nee! Eers toe ‘n kind gevang word, is daar pandemonium.

Te laat!

Europa kan verskoon word dat hulle, destyds toe Hitler aan bewind gekom het, nie na die musiek geluister het nie. Kyk, Jaws was toe nog 44 jaar die toekoms in (waar is Micheal J Fox  wanneer jy hom nodig het?). In 1936 toe hou die hele wêreld paartie saam met die Nazi’s tydens die Olimpiese Spele in Berlyn (luister nie na die musiek nie!).  ‘n Raps minder as drie jaar later toe klap die eerste skote van ‘n oorlog teen die einste Nazi’s wat uiteindelik meer as 70 miljoen lewens eis. Dieselfde met die Russe. Voordat hulle hul oë kon uitvee, het Marx en Lenin hulle so gemesmeraais , dat Stalin toegelaat is om miljoene mense na hul dood te stuur in strafkampe. So ook met die Chinese en Mao Tse- tung  – ag daar is talle voorbeelde waar die mense nie betyds gereageer het nie. Daardie twee note het op dowe ore geval.

Baie soos die bekende storie van die padda in kookwater. Daar word mos vertel dat, wanneer jy ‘n padda in kookwater gooi, hy blitsvinnig daar sal uitspring en redelik ongeskonde daarvan sal afkom. Wanneer jy egter daardie einste padda in koel water sit en die hitte stadig verhoog, hy heel gelukkig daar sal rond swem. Soos die water warmer word, sal hy in saligheid wegsak (jy ken mos daai gevoel in ‘n lekker warm bad?) en met ‘n glimlag op sy gesig toelaat dat hy dood gekook word.

Kyk, al my vriende sal getuig dat ek ‘n aartsoptimis is – as jy die Cheetahs (en deesdae die Springbokke) ondersteun, is dit jou behoud. Positiwiteit is my tweede naam. Maar, sonder om nou soos ‘n doemprofeet te klink…

Ek hoor daardie twee note vandag. Ek hoor hulle in Suid-Afrika en ek hoor hulle hier in Europa. Al hoe dringender.

Soos ‘n Trojaanse perd sak miljoene vlugtelinge op Europa toe en bied, wetend of onwetend, ‘n dekmantel vir mense met obskure motiewe. Terwyl die musiek dringender speel, word die tsunami  van vlugtelinge uit oorwegend Moslem-lande met ope arms, kos, klere en bottels water in Europa verwelkom. Waar gaan al hierdie mense bly? Waar gaan hulle werk? En as hulle nie werk nie, het hulle nie geld nie – en nie kos nie. En dan? Hopelik is dit die minste van Europa se probleme. Want as ek sien hoe hierdie tsunami alles in sy pad ontsier, vernietig en plunder  en ek luister na die eise en dreigemente wat deur sosiale media versprei word, dan versnel my hartklop weer. Sien Merkel, Cameron, Juncker, Obama en ander wêreldleiers dan nie die dinge raak nie? Hoor hulle nie die musiek nie?  Hoor hulle nie hoe jong mans spog hoe hulle Europese meisies gaan verkrag nie? “We will breed children with them! Your daughters will wear Muslim head scarves and marry a bearded man.”

Hoor ons leiers nie die dreunsange nie? Dreigemente van “May Allah make orphans of your children, may Allah make it difficult for your women. Allah gives victory to Islam everywhere”.

Is ons leiers doof vir uitsprake soos: “With time Europe will become a single Islamic state which will know nothing but ‘There is no god but Allah and Mohammed is his messenger’ “?

As die huidige leiers doof bly vir hierdie gevaarnote, hoeveel Duitsers, Franse en Engelse gaan oor 5, 10 of 15 jaar in die onderskeie lande oor wees?

En in Suid-Afrika? Ag nee wat, genoeg onheil en somberheid vir een dag. Geen hart kan dit hou nie. Kom ons praat anderdag oor Malema en Zuma en Afrikaans en plaasmoorde en so aan.

Kan ons iets doen?

Ja!

Moenie soos ‘n springhaas in ‘n skietlamp se straal vir die haai wag om jou te vang nie. As jy hier kan lees, het jy ‘n gesonde verstand. Gebruik hom. Praat met mense. Maak planne. Eendrag maak mag! Gewone ouens soos ek en jy het destyds met die Franse Revolusie die hele politieke toneel van Frankryk vir altyd verander. Vandag is daar baie meer opsies, soos Anonymous, die internasionale groep kuberkrakers (hackers) nou bewys. Dit hoef nie (noodwendig) met onnodige verdere bloedvergieting gepaard te gaan nie. Die mense in Sirië en Europa (en ook in Suid-Afrika) volg soos skape omdat  hulle oningelig is en mislei word – hulle word gebreinspoel. Daarom moet hulle ingelig word en die vyand se breinspoelmasjien vernietig word. Verneder die tropleiers deur hulle onderduimsheid aan die kaak te stel. Moenie wag tot Europa (en Suid-Afrika!) se kulturele landskap onomkeerbaar deur ander mense verander is nie.

En bid. Groot dinge gebeur wanneer jy en God voor ‘n berg van ‘n probleem te staan kom.

As iets vir jou belangrik genoeg is om te verdedig, sal jy alles in jou vermoë doen om dit te bewerkstellig. Wat is vir jou belangrik? Hoe belangrik is dit vir jou?

DOEM-DOEM!

JA SWAER, SO GAAN DIT HIER IN ENGELAND

pall mall

Onlangs ontvang ek ‘n e-pos met ‘n lys wat ‘n Amerikaner opgestel het oor sy observasies van die Engelse (in Engeland). Dit het my laat dink dat ek mos ook my eie lys kan maak. Ná dertien jaar op haar majesteit se eiland, het ek die Ingelse al goed dopgehou.

  • Aandete word “tea” genoem – redelik vroegaand. Kort nadat ons hier aangeland het, word jongste (toe ses jaar oud) genooi om ná skool by ‘n maat te gaan kuier. Maat se ma wil by my weet wat hy vir “tea” sal geniet. Wetende dat die Engelse nie van beskuit weet nie, stel ek voor dat sy hom sommer ‘n koekie gee. Dis wat ons teetyd eet wanneer hulle peuselrig ná skool (so vieruur se koers) tuis kom – aandete by ons is heelwat later wanneer almal van die werk af is. Die uitdrukking op die ma se gesig het my in my spore gestuit. “A what?”. Afgesien daarvan dat die Engelse ‘n “cookie” ‘n “biscuit” noem, kon ek kindermishandeling agter die vraagtekens in haar oë lees.
  • Ertjies, baked beans, visvingers en varkworsies is stapelvoedsel tydens “tea”.
  • Die Engelse het verleer hoe om met ‘n mes en vurk te eet. Die vurk word altyd onderstebo gehou en die mes vroetel lomp tussen die kos op die bord deur.
  • Bouers smul graag soggens aan ‘n “bacon butty” – ‘n rolletjie met spek in.
  • Ná vis en chips is kerrie die gewildste wegneemete.
  • Die Engelse ken net een soort pap – hawermout. Dit is onmoontlik om aan hulle te verduidelik wat mieliepap, krummelpap of stywepap is.
  • Soetpatats, soetwortels, enige iets soets vir ete, behalwe nagereg, is “revolting”. Maar hulle hou van ons manier van groenboontjies kook.
  • “Tart” roep beelde van sedelose meisies op. ‘n Melktert of appeltert is dus ‘n “pie”.
  • Hier is ‘n groot geveg aan: Sê jy skon of skoun vir “scone”?
  • Ons huis hier is die helfte kleiner as die een in Suid-Afrika – en drie keer duurder.
  • Alles is oor die algemeen ouer, kleiner en korter.
  • ‘n Tuimeldroër is ‘n noodsaaklikheid.
  • Ek moes hier leer van ‘n “boiler”, “central heating”, “double glazing” en ‘n “airing cupboard”.
  • Die badkamer se ligskakelaar is ‘n toutjie.
  • Enkele huise het alarms, maar geen huis het diefwering of veiligheidshekke nie.
  • Garages is meestal stoorkamers vir allerhande gemors terwyl ‘n duur kar in die oprit of straat staan.
  • Baie deurknoppe, geboue en gereedskap is ouer as Suid-Afrika.
  • Wanneer daar op die bordjie staan “Built in 824” is die een voor die agt nie gesteel nie.
  • Badkamers het handdoekverwarmers in.
  • Kinders mag NOOIT alleen gelaat word nie
  • Jy mag nie ‘n knipmes by jou hê nie
  • Niemand het ‘n vuurwapen nie – behalwe jagters en enkele kroeks.
  • Polisie loop in pare rond – meestal ‘n man en ‘n vrou en hulle glimlag gewoonlik (wat weet hulle wat ek nie weet nie?).
  • Swartes en Moslems kla dat daar teen hulle gediskrimineer word omdat hulle altyd eerste gestop en ondervra word (hoekom sou dit wees?).
  • Messtekery begin toeneem in die buitewyke van Londen en ek gaan nie sê wie is ALTYD daarby betrokke nie.
  • Alle voertuie ouer as drie jaar moet jaarliks vir padwaardigheid getoets word.
  • Pubs is nie kroeë nie – dit is gemeenskaplike sitkamers. Die Engelse weet nie wat ‘n bar is nie.
  • In Suid-Afrika word net gestap as jy nie ‘n kar het nie. Stap is die Engelse se nasionale tydverdryf. Saans met ‘n hond in sonskyn, sneeu of reën. Oumense stap, jongmense stap. Almal stap (as jy nie ‘n “mobility scooter” van “welfare” af kry nie).
  • Honde is goedgemanierd en sommige restourante het selfs bakkies kos en water vir die vierpootvriende.
  • ‘n Kat is die buurt se troeteldier en kuier van huis tot huis.
  • Bedel word nie toegelaat nie, maar as jy bedel met ‘n hond by jou, verdubbel jou kanse om simpatie te ontlok.
  • Saans word oorskietkos vir die jakkalse en “badgers” (ek noem hulle sommer ratels) uitgesit.
  • Sokker, ekskuus – “football” – is ‘n godsdiens.
  • Daar word gefrons wanneer jy oor jou godsdienstige of politieke voorkeur praat.
  • Niemand praat oor godsdiens nie, ten spyte daarvan dat al die seremonies wat op TV uitgesaai word ‘n godsdienstige grondslag het.
  • Christene kan afgedank word oor ‘n kruisie om die nek, maar enige ander godsdiensgroep mag met kopdoeke, of sluiers of maskers werk toe gaan.
  • Die gesondheidstelsel (NHS) is uitstekend, maar almal kla daaroor.
  • Tydens die winterseisoen sien jy selde jou bure – ná hibernasie in Maart, wanneer die velde geel vol affodille staan, gesels julle weer oor alles en die weer.
  • Sommige skole laat meisies toe om met grimering en juwele skool toe te gaan, met los hare by hul skooluniform se nou, kort rompies en dit het al gebeur dat ek nie seker was of dit ‘n “school girl” of ‘n “call girl” is nie.
  • Die weer is altyd ‘n aanknopingspunt.
  • Na honderde jare van reënweer, word die meeste Engelse steeds sonder sambrele deur die reën betrap.
  • Die meeste mense wat in Londen werk, trek swart aan.
  • In die somer sien jy baie witborsmans sonder hemp in die strate, op die stasie, in die winkels, oral.
  • Enige iets oor 15 grade word as matige hitte beskou. Van 25 grade af begin die koerante teen hittegolwe waarsku waar oumense en troeteldiere dopgehou moet word.
  • Meisies sal op wintersaande bibberend in ‘n bandjiesrok en hoëhakskoene uitgaan.
  • ‘n Broek is “trousers”, nie “pants” nie! “Pants” is onderklere en ‘n sweetpak is ‘n “jumper”.
  • Die Engelse weet nie wat ‘n “jersey” is nie. Glo my. Toe ek destyds vir die kinders skooltruie moes gaan koop het, is ek vraend aangekyk totdat die lig aangegaan het toe ek beduie het waarna ek soek. “Oh, you mean cardigan” – met knope vir die meisies en ‘n “jumper” sonder knope vir die seuns.
  • My Engelsonderwyser sal in sy graf rondspin as hy die Engelse hier in hul vaderland moet hoor praat. “We was” en “them yobs” en “you should of been” is algemeen.
  • Dit lyk soos ‘n gesigtrekkompetisie wanneer (baie van) die Engelse ‘n R moet uitspreek en wanneer ‘n TH voor die R kom (soos in three) is daar moeilikheid – hulle kan nie THem, en THink sê nie en “Three drinks” klink soos gratis drankies.
  • Met “Cheers” word jy gegroet of bedank.
  • Hier is meer Engelse aksente as wat Zuma vrouens het. En dan frons hulle vir my aksent!
  • Baie van die strate is nouer as die sypaadjies in Suid-Afrika.
  • Met die huidige wisselkoers, kos petrol so R23 per liter, wat darem goedkoper is as verlede jaar.
  • Wanneer jy te vinnig ry, SAL jy beboet word. Spoedkameras is heldergeel op ‘n paal en borde gewaarsku jou betyds dat jy afgeneem kan word.
  • Jy kan in Engeland op ‘n bus klim en kafee toe, of na die volgende dorp, of Duitsland toe ry.
  • Die treine werk en mense raak geïrriteerd as ‘n trein drie minute laat is.
  • Mense oor sestig kry ‘n gratis bus- en treinkaartjie.
  • Hier is meer “mobility scooters” en stootkarretjies as taxi’s in Suid-Afrika.
  • Die “white van drivers” se nakom van padreëls is oor die algemeen net so ‘n klein trappie beter as die taxidrywers in Suid-Afrika s’n. (Terloops, hulle is die ouens wat met Ford Transits, of Mercedes Vivo’s – sulke tipe voertuie – bouwerk of aflewerings of tuindienste doen.)
  • So 5,000 jaar gelede het iemand ‘n klomp klippe hier kom rangskik en tot vandag toe is niemand nog seker hoekom nie.
  • Onthou tog, Skotland, Engeland, Wallis en Ierland is verskillende lande. En Engeland is nie net Londen nie.
  • Brittanje, Die Britse Eilande, die Verenigde Koninkryk en Engeland is verskillende goed.
  • Die Engelse se kennis van geskiedenis is nie sleg nie, maar hulle weet niks van aardrykskunde af nie.
  • Niemand weet egter iets van die Boereoorlog af nie, maar hulle ken al die koning Henry’s en Charlese en Edwards se vrouens en kinders en dié se geboortedatums.
  • Engeland mag so groot soos die Vrystaat wees, maar om die een of ander onverklaarbare rede is dit veilig om maar vir slaapplek en genoeg padkos vir ‘n rit verder as 200 kilometer te reël.
  • My Engelse buurvrou is in 1932 in ons dorpie gebore en woon nog al die jare hier. Baie Engelse was nog nooit in Londen nie, wat nog te sê in Skotland.
  • Die Engelse is nie baie gewild in Europa nie.
  • Die Pond is ‘n indrukwekkende geldeenheid en die geld hier laat die Suid-Afrikaanse banknote en munte na Monopoly-geld lyk.
  • Baie van die paaie se toestand is nie veel beter as paaie in Suid-Afrika nie. Is dit omdat die Engelse saam met die Amerikaners so baie op oorlog in ander lande bestee en biljoene aan mense wat nie wil werk nie uitbetaal?
  • Die Engelse stort miljoene Ponde in die bodemlose put van Afrika, Indië, en ander lande al weet hulle van Nkandla, Zumajet en Indië se duur ruimteprogram.

PRETBEDERWERS OF SEDEBEWAKERS?

halloween

Nou met halloween (ja, ek weet daar is ‘n erkende Afrikaanse woord) in die lug, hol my gedagtes terug na doerie jare toe ek nog op hoërskool was. ‘n Jongman het ons eendag in die skoolsaal kom toespreek. Hy het oor klomp goed gepraat en ons gewaarsku teen allerhande gevare en verskuilde boodskappe in popmusiek en demoniese boodskappe wanneer jy musiek op jou platespeler in trurat gooi. Natuurlik ook die gewraakte vredesteken wat almal op hulle tasse geteken het (it was the groovy thing to do!).

Wat niemand van ons egter geweet het nie, is hoe goddeloos dit vir ‘n meisie is om enige iets met ‘n skoenlapper op te dra. ‘n Rok met skoenlappermotiewe op, of skoenlapperoorbelletjies, of  ‘n hangertjie – enige iets met ‘n skoenlapper op – verkondig die boodskap van vrye liefde. Dat jy ‘n los meisie is wat soos ‘n skoenlapper van blom na blom vlieg. “Die Bybel,” so het hy destyds swaaiend met die Bybel in die lug geskreeu, “die Bybel noem sulke meisies hoere!”  Ek onthou die skuldige stilte wat oor die meisies toegesak het en hoe Gerda tranerig die volgende dag vertel het dat sy haar gunstelinghangertjie, die goue skoenlappertjie wat sy vir haar sestiende verjaarsdag by haar ouers gekry het, met ‘n hamer stukkend gekap het en in die asblik gegooi het.

Anderdag sien ek vir die eerste keer hoe ‘n onskuldige duif baie verskillende betekenisse  in verskeie (veral antieke) kulture kan hê. Wat vir Christene die simbool van vrede en die Heilige Gees is, is vir ander kulture, onder andere, die simbool van die godin Tanit wat onder meer gekoppel word aan rituele waar kinders geoffer is.

Paasfees (Easter) word deur Christene wêreldwyd gevier. In die noordelike halfrond val Paastyd in die lente.  Baie mense glo dat die woord “Easter” afgelei is van Ēostre , die naam van ‘n Germaanse paganistiese godin van vrugbaarheid. Lentefeeste is ter ere van hierdie godin gehou waar hase en eiers as simbole van vrugbaarheid sentraal was.

Baie kulture en gelowe het hul eie tradisies, rituele en feeste, soos die Christene se Paasfees (afkomstig van pasga). Die meeste Christene wat ek ken weet dat Jesus nie regtig op 25 Desember gebore is nie en dat hase en eiers en paasbolletjies (hot cross buns) so min iets met pasga te doen het as wat Kersvader, geskenke en Kerskouse iets met Jesus se geboorte te doen het. Maar hulle gee nie om nie, want hulle weet dat godsdiens nie stagnant is nie. Dit groei en ontwikkel en verander en dit is goed, nie sleg nie. Die feit dat alles ontwikkel en groei , verander egter nie ‘n enkele druppel van hulle geloof nie, want geloof gaan nie oor sin en redenasie nie. Geloof gaan oor vertroue in ‘n standhoudende, ewige God – ‘n God van liefde, genade en vergifnis.

Ons het nie werklik iets van halloween af geweet in Suid-Afrika nie. Die kinders was nog klein toe ons Engeland toe gekom het. By die skool was daar groot opgewondenheid oor die groot aand en die jongste twee het aangesteek. Daardie aand het hulle saam met ‘n groot groep maatjies, almal met opgemaakte gesigte en uitspattige kostuums onder toesig van ouers die strate ingevaar. Die blink kinderogies en prettige atmosfeer was so in kontras met die boodskappe en preke wat waarsku teen satanistiese gebruike en duiwelsaanbidding. Oor die jare heen het ek vir baie kinders gevra wat halloween vir hulle beteken. Ek moet nog ‘n antwoord kry wat enigsins in die rigting neig waarteen hulle van preekstoele af gewaarsku word.

Nou, as volwassenes, ken my kinders die verskil tussen pret en satanistiese gebruike. Hulle weet ook dat die paashaas en Kersvader niks met die kern van hul geloof te doen het nie. Hulle eet paasbolletjies en gee Kersgeskenke met ‘n oortuiging in hul harte: ‘n Geloof in die ewige God. ‘n Onveranderlike God in ‘n veranderlike wêreld. ‘n God van liefde.

Wanneer mense beuselagtige onderwerpe onder hulle neuse kom vryf, tree hulle waardig en respekvol toe tot die debat en verdedig hul geloof  soos ‘n moderne Christen – rasioneel, oopkop sonder om  tot ‘n vlak van persoonlike aanvalle te daal.

Soms met ‘n uitspattige kostuum aan, of ‘n Paaseier in die hand, of rondom ‘n feesmaal met die geknal van krismisklappers.

Ek sou tog so teleurgesteld gewees het as ‘n koue pampoen (met ‘n kersie in) hulle van stryk af gebring het op die pad waarop ek hulle geplaas het.

Die pad met nog ‘n simbool – die kruis op Golgota.