GALOP KINDERS NOG?

Galop kinders nog? So wonder ek anderdag toe ek die drietjies, gehul in ‘n selfoonkokon, sien loop.

Lank terug was ek ook vyftien met splinternuwe hormone. Die meisies het oornag anders gelyk.

Die laaste Vrydagaand van die maand was debat. Ek glo daar is wel kinders wat vir die debat ook gekom het. Mense soos Hannes en Gerda wie se rapporte altyd onder die eerste lot was wat uitgedeel is – van goed na swak na myne na nog swakker. Dis egter nie vir die debat dat ek en my vriende die skoolsaal saam met ander opgewonde tieners volgepak het nie. Die meerderheid van ons het skoolsaal toe opgeruk vir die nagereg aan die einde van die debat wanneer die seuns stoele uitgedra het en die swart vleuelklavier na die middel van die verhoog geskuif is.

Die meisies het begin terugkom van die kleedkamers af in vars parfuumwolke en op die stoele teen die muur stelling gaan inneem. Nie almal het sitplek gehad nie. Teen die oorkantse muur het ons manne senuweeagtig met ons dasse gevroetel en kuiwe platgedruk.

“Stink my asem?” Gert het ‘n Mint Imperial-walm in my gesig geblaas.

My volle aandag was egter nie by sy asem nie. My blik was op Santie teen die oorkantse muur.

Meneer Viljoen was op die verhoog. “Nou ja toe, kry vir julle elkeen ‘n maat. En onthou meisies, die manne is maar skaam, moenie wag dat hy jóú kom vra nie. Ons maak dit sommer ‘n skrikkeljaar.” Giggelrimpels deur die saal.

Ek het my asem vir moed bymekaarkry ingetrek, vir Santie geloer en gesien hoe sy vinnig wegkyk… en weer kyk. Met die uitblaasslag het ek net-net genoeg selfvertroue bymekaar geskraap om na haar toe te stap. Vinnig, voordat iemand anders haar vra.

Halfpad het Dina-met-die-simpel-lag  my aan die arm gegryp: “Jy’s mý maat vanaand.” Sy het daai simpel lag met ‘n kreukelneus gelag.

Dina, Dina. Dina-verdomp! Sy het stewig tussen my en die oorkantse muur gestaan. Oor haar skouers kon ek sien hoe Tommy op Santie toesak. Sy het vinnig na my geloer en toe Tommy se hand gevat.

Juffrou Cilliers was reeds agter die klavier. Die opgewonde paartjies – met een nou-nie-meer-so-opgewonde-seun – het in ‘n groot kring gestaan. Een of twee manne wat nie genoeg moed bymekaar kon skraap nie, het op die stoele bly sit. Teen die oorkantse muur het altyd baie meisies agtergebly. Die twee manne het opgestaan en huis toe gegaan. Party van die meisies teen die muur het hande gevat en in die kring kom staan. Ander het die twee manne se voorbeeld gevolg.

Die eerste klaviernote van Jan Pierewiet het die kring in beweging gebring. Die nagereg waarvoor die meeste maar eintlik gekom het, is bedien – volkspele het begin. Sommer met skooldrag. Niks veelkleurige rokke en geborduurde onderbaadjies nie.

Selfs die skaamste manne het ‘n verskoning gehad om ‘n meisie te vra. Die nuwe hormone kon vir ‘n test drive  gevat word. Wals, tiekiedraai en polka. Draai en swaai met haar meisielyf teen joune. Maats word omgeruil. Santie, waar is jy? “Daar kom die wa, die vier perdewa…” Die klavier gee my nie kans om te soek nie.

Die laaste dans. Nee. ‘n Malse verspottigheid. Plesierigheid met agtergrondmusiek. Die temamusiek van my hormoonontwaking.

Santie se hand was sag. Haar gesig was rooi gedans. ‘n Haarsliert het teen haar voorkop geplak. Blosend, pragtig. Aan my sy.

Suikerbos ek wil jou hê…

Die Galop! Juffrou Cilliers het Suikerbos so half Russ Conway-styl gespeel, met ekstra ritme.

Twee-twee, seun-meisie het ons deur die saal galop, al in die rondte, vinniger, vinniger totdat die saal te klein was. By die sydeur uit, al met die stoep langs by die ander sydeur in. Uitbundig.

Dan loop ons so onderdeur die maan… Onderdeur die boog hande.

Op pad huis toe het haar parfuumgeur vaag aan my skoolhemp gehang. Ma het die hemp Maandagoggend kom soek om te was, maar ek het hom weer aangehad.

Galop vandag se kinders nog?